Wat is sonde?

Grant unto us the ability to do what you command – Augustinus.

Wat is sonde?

Die Skrif gebruik baie beelde om sonde mee te beskrywe. Kom ons kyk na ‘n paar:

  • Wetteloosheid.

Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God (1 Johannes 3:4). Sonde is die doelbewuste verontagsaming van die wet van God; sonde is ongehoorsaamheid aan God se eise.

  • Oortreding

Waar daar nie ‘n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie (Romeine 4:15). Dit beteken daar is ‘n grens of perk wat ons oorsteek.

  • Opstand en ongehoorsaamheid

Hierdie is ‘n doelbewuste verwerping van dit wat God van ons verwag; dit is ‘n doelbewuste wegloop van God; dit is om ons paadjie los van God te loop. Dit is wat ons sien as Israel vir hulle ‘n goue kalf  om te aanbid maak.

  • Ontaard

Hierdie is ‘n beeld van iets wat gebuig en verwring is. Sorg dat julle bo verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense (Filippense 2:15).

  • Die teiken mis

As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde (Jakobus 4:17). Ons mis die teiken/standaard wat God vir ons gestel het.

Sonde in die Nuwe Testament aanvaar drie basies leerstellings:

  • Die wêreld is inherent sondig. Daar word ‘n organiese verband tussen Adam se sonde en die sonde van die mens aanvaar.
  • Sonde is die mens se opstandige gesindheid teenoor God se wil.
  • Verlossing bestaan uit vergifnis van sonde, versoening met God, loskom van die mag van sonde deur die werk van Jesus Christus.

Sonde is ‘n werklikheid




Henri Nouwen

“The less money you spend on other things, the more you have to spend on things eternal.” Michael Oh

Henri Nouwen

Henri Nouwen was ‘n professor aan die teologiese fakulteit aan Harvard Universiteit. Hy skryf baie boeke; hy word uitgenooi as gasspreker na baie universiteite en konferensies. Hy word toenemend ongelukkig met sy lewe. Eendag ontmoet hy vir Jean Vanier, die sigter van die L’Arche gemeenskappe. Hierdie L’Arche gemeenskappe was gemeenskappe bestaande uit mense wat fisies en verstandelik gestremd was. 

Hy sluit aan by die groep in Toronto. Ja, hy skuif van Harvard wat ons sou beskou as die beste en intelligentste gemeenskap in ons samelewing na ‘n gemeenskap waar verstandelik vertraagde mense en hulle assistente as ‘n familie probeer saamleef. In elke huis is daar vier assistente wat ses fisies en verstandelik vertraagde mense versorg. Ons verstaan dit moeilik, maar Henri Nouwen sien die anders.

 

Hy sien dit as ‘n familie waarin hulle geleidelik vergeet wie gestremd en wie nie gestremd is nie. Hulle is eenvoudig John, Bill, Trevor, Raymond, Rose, Steve, Jane, Naomi, Henri en Adam. Dan vertel hy Adam se verhaal: Elke aand dra hy hom bad toe en maak golfies in die water en vertel vir hom allerhande stories. Na ‘n maand gebeur iets met hom wat nog nooit vantevore met hom gebeur het nie. Hierdie gestremde man wat buitestanders  dikwels met woorde wat seermaak beskryf, word sy vriend. As Adam bad is hulle twee vriende wat met mekaar kommunikeer.

Voor hy by L’Arche aangekom het, het hy geglo dat dit wat mense maak hulle denke is. Adam wys vir hom dat wat mense maak hulle harte is. Die hart is die middelpunt van ons lewe; dit is die plek waar God vertroue, hoop en liefde weggesteek het. Die samelewing sien vir Adam as ‘n las, maar Adam is ten volle in staat om liefde te ontvang en te gee. Hy is nie ‘n halwe mens nie … hy is volledig mens, want hy is volledig hart.

The longer I stay with Adam, the more clearly I see him as a gentle teacher, teaching me what no book or professor ever could.

Amen is al wat ek kan sê.




Chris Baker

He who despairs of the human condition is a coward, but ge who has hope for it is a fool – Albert Camus (Sjoe dit is darem bitter. Gelukkig is gelowiges, want hulle het hoop)

Chris Baker

Nog nooit van hom gehoor nie? Ek het pas van hom geleer. Hy was ‘n tatoeerkunstenaar. As volwassene kom hu tot bekering. Maar wat kan hy as tatoeerkunstenaar vir Jesus Christus doen?

Lede van bendes het dikwels tatoeëermerke om hulle lidmaatskap van ‘n spesifieke bende te bevestig. Dit maak dit baie moeilik vir hulle om sommer hulle lidmaatskap van ‘n bende te beëindig. Chris het aangebied om hierdie merke te bedek of te verander sodat dit onherkenbaar is.

 

‘n Ander groep wat dikwels getatoeëer is, is slagoffers van die handel in mense – veral vir seks. Hierdie mense het dikwels tatoeëermerke in hulle nek of op hulle rug – soms selfs ‘n stafiekode (barcode). Chris ontwerp mooi blomme om die merke te bedek. Die aaklige merke van ‘n seksslaaf word vervang met ‘n blom – die beeld van skoonheid en kleur. Dit is ‘n simbool van ‘n nuwe lewe – ‘n lewe vry van die verlede.

Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Korintiërs 5:17).

Hoe dikwels hoor ons nie die ou verskoning nie: “Ek kan niks vir Jesus Christus doen nie, want ek het nie nodige vaardighede wat Hy verlang nie. Sy standaarde is so hoog ek sal net ‘n gemors maak.” Chris is ‘n goeie voorbeeld: God kan almal gebruik.




Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (1)

Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (1) – Adrio König

4 Vorms van terugkeer na die Ou Tesatment: Galasiërs en Hebreërs

4.1 Galasiërs

In hoofstukke 2 en 3 van hierdie boek het ons gekyk na die oortuigings van Christene wat wil terugkeer na die Ou Testament. Daar is verskillende vorms van terugkeer, en elkeen moet op sy eie beoordeel word.

Daarom kan dit verhelderend wees om te kyk na twee voorbeelde van terugkeer in die Nuwe Testament. In Galasiërs het ons (maar net skynbaar!) ‘n “sagter” vorm van terugkeer, en in Hebreërs ‘n radikale vorm.

In die gemeentes in Galasië was daar Joodse Christene (Judaïste) wat geëis het dat die Christene uit die heidene die wet moet hou, besny moet word, en die feeste moet vier. Hierdie heidene moes dus eintlik Jode word om gered te word.

4.1.1 Die Judaïste se argument

Die Judaïste het natuurlik nie alles verwerp wat Paulus gepreek het nie. Hulle het veral glad nie vir Jesus en sy verlossing verwerp nie. Maar hulle het beweer dat Paulus die heidene net halfpad geneem en toe gelos het. Daar moes nog iets by Paulus se boodskap bykom. Geloof in Jesus was natuurlik onontbeerlik, maar dit was nie genoeg nie. Die besnydenis en die wet moes bykom. Volgens hulle moes die heidene eintlik, nadat hulle Jesus aangeneem het, net die volgende “logiese” stap ook geneem het: Om hulle te laat besny en die feeste te begin vier, en só die wet te hou.

Dit was ook volkome logies in terme van die godsdiens in die Ou Testament. Abraham was self ‘n heiden wat deur God geroep is, in God geglo het, en toe besny is. Alle heidene wat in die tyd van die Ou Testament in Israel se God begin glo het, moes dus ook besny word en die wet begin hou. Dit het heeltemal logies geklink dat die heidene wat nou tot geloof in Jesus gekom het, dieselfde pad sou loop.

Dit was skynbaar so ongeveer wat die Judaïste gepreek het. Hulle was oortuig Paulus het reg begin om heidene op te roep om in Jesus te glo, maar hy het net nie die volle pad geloop nie.

4.1.2 Paulus se reaksie

Wat is Paulus se reaksie hierop? Hy kon dit nie aanvaar nie. Hy het dit gesien as ‘n terugkeer na die Ou Testament. Alles moet bly soos dit was. Dis net Jesus wat bykom. Die wet plus Jesus.

Dit is opvallend dat hy, net soos die Judaïste, in sy verdediging ook by Abraham begin, en trouens Abraham die hoofpersoon in sy argument maak.

Eintlik pas Abraham sy argument soos ‘n handskoen. Immers Abraham het in God begin glo nog voor daar ‘n wet was. Die wet het nog nie eens bestaan in Abraham se tyd nie, dit het eers 430 jaar later gekom (3:17). Dan kan daar mos nie sprake daarvan wees dat ‘n mens by die geloof ook nog die wet moet byvoeg om gered te word nie. Ons sien mos by Abraham hoe ‘n mens gered word. Hy is gered sonder die wet.

Maar Paulus hou nie hier op nie. Hy moet nog aandui hoe die heidene aan die verbond en die heil deel kry. Hulle is mos nie die nageslag van Abraham nie. Israel is mos.

Of is dit? Wie is “kinders van Abraham? Die Jode? Die wat die wet hou? Nee. “Julle sien dus dat die wat glo, kinders van Abraham is” – of hulle nou Jode of heidene is (3:7).

Hoe kan hy dit skryf? “Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo” (3:9). Waar kry hy dit? Presies in die oorspronklike beloftes aan Abraham wat eindig met: “In jou sal al die volke van die aarde geseën word” (Gen 12:3: Gal 3:9). Dit was dus van die begin af in die vooruitsig gestel dat die heidene deel sal kry aan die seën wat God in die verbond aan Abraham toegesê het. En dit alles sonder enige verwysing na die wet.

En hoe is dit nou gerealiseer? Deur die kruis “kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het” (3:14). Deur sy kruisdood bewerk Jesus dit wat al aan die begin in die vooruitsig gestel is: Die heidene wat tot geloof kom, word deel van die Abrahamverbond.

Is die saak van die Galasiërs hiermee afgehandel: Dis nie nodig om die wet te hou en besny te word om gered te word nie?

Nee. Nog lank nie.

Die eintlike, ernstige kant kom nou eers.

Die Judaïste is oortuig dat hulle die betekenis van Christus ten volle erken. Hulle wil net die pad enduit loop. Die besnydenis en die wet moet net bykom.

Jy kan nie by Hom iets byvoeg en dink jy behou Hom nie.

  • Dis net Christus.
  • Of nie Christus nie.

Waarom? Omdat jy Hom nie net misverstaan as jy dink Hy is nie genoeg nie, maar omdat jy Hom onteer. “As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het” (2:21). Volgens Paulus ontken jy die betekenis van Christus as jy die wet wil bybring. Dis óf Christus, óf die wet.

Hoe het dit betrekking op die rigting wat ons in hierdie boek behandel, op Christene wat wil terug na die Ou Testament? Eenvoudig net dit: Oppas om allerlei dinge uit die Ou Testament te wil bybring asof dit net ‘n verryking van jou geloof sal wees. Dit kan wees dat ‘n mens dit ten koste van Christus self doen.

 

Skrywer: Prof Adrio König