Salvation is a threefold act of God, an accomplished fact, an experience continuing in the present, and a consummation still to come – G. B. Caird
Twee vlakke van gelowiges?
In die vroeë kerk was daar soms ‘n onderskeid gemaak tussen martelare en “gewone” gelowiges. Vandag kry ons steeds dieselfde. Baie mense glo dat diegene wat leraars en sendelinge is op ‘n hoër vlak is as ander gelowiges. Dan kom Paulus en hy sê: As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my ‘n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek moet! En wee my as ek dit nie doen nie! (1 Korintiërs 9:16). God het hom geroep en hy was net gehoorsaam in die uitvoering van hierdie roeping. Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het (1 Korintiërs 3:6).
Paulus kon oor niks roem nie. Net so kan ons of ons nou die man is wat die strate skoonmaak, ‘n geneesheer of ‘n huisvrou is, nie roem nie. Al wat van ons verwag word, is om gehoorsaam aan God te wees en om die gawes wat Hy vir ons gegee het in sy koninkryk te gebruik. Die beslissende faktor is gehoorsaamheid.
Hierdie twee-vlak stelsel hanteer die behoeftes van sekere mense:
- Kerkleiers wat voel dat hulle meer bevoorreg is as ander gelowiges; en
- “Gewone” gelowiges wat maar te bly is as ander die moeiliker take verrig – mense wat voel hulle is te besig om nog by die gemeente ook betrokke te raak.
Alle gelowiges het ‘n verantwoordelikheid om in God se koninkryk te leef en te dien. Dit beteken ons moet uit ons gemaksone kom; ons moet God gehoorsaam as Hy ons vra om te werk vir die saak van die evangelie.
Wat ek doen is nie belangrik nie, maar of ek doen wat God my gevra het om te doen, is belangrik.