Die karakter van die gelowige

The Lord dislikes the yawning mouth and folded arms, the signs of sleep, which commonly follow the careless man, who doth neglect the state and condition of his house and family – Henry Bullinger

Die karakter van die gelowige

God se karakter word gekenmerk daardeur dat Hy Homself gegee en verneder het. Daarom moet gelowiges verwag dat hulle eie reis Jesus Christus se karakter moet weerspieël – hulle moet hulleself gee en vrygewig wees. In sy Brief aan die Filippense vra Paulus dat Jesus se volgeling nie net aan die nou en hier moet dink nie, maar ‘n ewigheidsiening moet hê.

Paulus praat nie van voorspoed en sukses nie, maar oor vennootskappe in die stryd en lyding wat die lewe van ons Verlosser gekenmerk het. Paulus se nadenke oor sy eie lewe help die Filippense om sin te maak van hulle eie situasie.

Ons het die ware besnydenis, ons wat God deur sy Gees dien, ons wat ons op Christus Jesus beroem, en nie op uiterlike dinge vertrou nie (3:3). Paulus is vas oortuig dat Jesus se opstanding ‘n nuwe, veranderde lewe vir sy volgelinge beloof.

Jesus se storie vorm ons storie. Gelowiges se verlede, hede en toekoms kry nuwe betekenis soos Jesus se storie ons storie vul. Ons storie kry nou ‘n ewigheidsbetekenis, want Jesus se storie neem ons storie in sy storie van verlossingsliefde op. Jesus se verheerliking beteken dat die gelowige se verlede nie sy toekoms hoef te definieer nie. Ons is van ons sonde verlos en ons verhouding met God is herstel. Jesus se storie van gehoorsaamheid en lyding beteken dat ons ons huidige storie van stryd, pyn en hartseer moet herïnterpreteer. 

Jesus se storie herinner ons dat die finale oorwinning oor sonde en dood in die toekoms lê – al weet ons nou reeds wat die uitslag gaan wees. Jesus Christus se storie eindig nie by die kruis nie, maar by sy opstanding en verheerliking.




Wees teenwoordig

The art of progress is to preserve order amid change, and to preserve change amid order. -Alfred North Whitehead, wiskundige en filosoof (1861-1947)

Wees teenwoordig

Hoe kan ek mense wat swaarkry en hartseer is vertroos? David Brooks (The Art of Presence) noem ‘n paar lesse wat hy geleer het:

  • Wees teenwoordig. Moenie aanvaar dat die persoon wat swaarkry ruimte nodig het  om sy pyn te hanteer nie.
  • Moenie vergelyk nie; moet nooit sê: “Ek weet hoe jy voel nie.”
  • Klein, stil geskenkies word nooit vergeet nie.
  • Moet nooit probeer interpreteer of probeer sin maak uit wat gebeur nie.

Christene sukkel met hierdie laaste punt. Die versoeking is daar om te verduidelik hoe hierdie tragedie sin maak – of sal sin maak of in die groter prentjie inpas. Job se vriende was wonderlik toe hulle doodstil by hom gesit het. Maar toe hulle begin interpreteer oor wat nou aangaan, raak hulle die spoor byster.

Ons is dikwels geneig om te oorinterpreteer – om dit wat nie verduidelik kan word nie, te verduidelik. Die Bybel is nie ‘n boek met ‘n formule om elke denkbare situasie te hanteer nie. In ons kultuur wil ons probleme oplos en dit wat stukkend is regmaak. Wat egter nodig is, is die kuns van teenwoordig wees – moenie probeer om die onderliggende situasie te beheer nie. Laat die natuur sy gang gaan; laat dié wat swaarkry in waardigheid hulle eie proses hanteer; laat hulle hulle betekenis definieer. Wees net daar as die persoon pyn het en as alles donker lyk. Wees prakties, eenvoudig en direk.

 




Die aard van ons verlossing

 . —David Shepherd

Die aard van ons verlossing

Ek is tans besig om na Paulus se brief aan die Filippense te kyk. Paulus dink na oor die menswording van Jesus Christus – die feit fat Hy waarlik mens geword het. Hoekom? Om die mens te verlos. Dit vereis vernedering, gehoorsaamheid, lyding en die dood aan die kruis. Maar die dood is nie die finale woord nie. Christus oorwin die dood en word verheerlik. Sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie wou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader (2:10 – 11).

 

Paulus gaan verder en praat van die dag van die Here. Dit is die dag van sy wederkoms. Maar Paulus is nie swaarmoedig oor hierdie dag nie:  Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom (1:6). Hierdie dag word gretig deur al Jesus se volgelinge afgewag.

Paulus beskryf God se verlossingsplan: van menswording tot sy finale verheerliking met sy tweede koms. En dan beskryf hy die wonder: Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees (3:21). Die uiteinde van sy verlossingsplan is dat ons as sy volgelinge altyd die lewe saam met ons Verlosser sal geniet.




Die tweede Raad/Konsilie van Konstantinopel

We must all suffer one of two things: the pain of discipline or the pain of regret or disappointment – Jim Rohn

Die tweede Raad/Konsilie van Konstantinopel

Hierdie konsilie vergader in wat vandag Istanbul is. Hulle vergader van 5 Mei tot 2 Junie 553. Keiser Justinianus I het die vergadering byeengeroep om te kyk of hy die twee groepe wat ‘n honderd jaar vantevore by Chalcedoon van mekaar verskil het, kan versoen. Tussen 151 en 168 biskoppe woon die vergadering by. Eutychius, die patriarg van Konstantinopel, was die voorsitter. Die belangrikste rolspelers was Keiser Justinianus en die pous, Vigilius.

 

Justinianus was ‘n vroom keiser en hy sien dat die noodsaaklik was om die eenheid van die Christelike geloof te behou. Hy en die pous kon egter nie ooreenkom wie na die vergadering genooi moet word nie. Die pous wou meer biskoppe uit die westelike gedeelte van die Ryk gehad het. Daarom weier hy om die eerste drie weke van die vergadering by te woon.

Die Raad aanvaar die besluite van die eerste vier rade. Op 24 Mei kom die pous daar aan met ‘n nuwe dokument, wat die keiser verwerp. Die keiser beskuldig die pous van ‘n gebrek aan integriteit en ‘n onwilligheid om saam te werk. Die Raad besluit om alle bande met die pous te verbreek – nie met die kerk in Rome nie.

Die vergadering vaardig veertien anatemas (vervloekings) uit oor Christus se aard – wat reeds by vorige vergaderings aanvaar is. ‘n Verdere vyftien anatemas oor die leer van Origenes word ook met die vergadering verbind, maar dit is onseker of dit deel van die amptelike verslag was.

Die pous vra verlof om na Rome terug te keer, maar die keiser weier die versoek – hy moes hom eers aan die besluite van die vergadering onderwerp. Ses maande later gee die pous bes en sê dat slegte raad van sy raadgewers verantwoordelik was vir sy siening. Hy sterf egter voor hy Rome bereik het. Sy opvolger, Pelagius I, aanvaar ook die besluite van die vergadering.