Ek nooi iemand om ‘n erediens by te woon

A healthy church is a church that nourishes itself with constant attention to God’s words in Scripture, in all their glorious detail –  Temper Longman III

Ek nooi iemand om ‘n erediens by te woon

Wat moet jy doen as jy iemand nooi om ‘n erediens by te woon en hy sê hy het nie vir Christus daar ontmoet nie? Ons is veral geneig om mense na die Kersdiens te nooi. Maar dikwels reageer hulle nie op die evangelie nie. Dit laat ons twyfel – het die kerk die vermoë om die wêreld te beïnvloed? Sal die persoon ooit verander?

Perry Noble beveel drie stappe aan as dit gebeur.

  • Moenie tou opgooi nie

Die Here is geduldig met ons. Daarom moet ons geduldig met ander wees. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie (2 Petrus 3:9). God  is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld (Romeine 2:4). Dit is God se goedheid en geduld wat ons na Hom toe gelei het. Daarom sal dit ons goedheid en geduld wees wat ander na Hom toe sal lei. Hulle mag dalk nie vir God tydens die erediens in hulle hart ontvang het nie, maar ons weet nie wat God besig is om in iemand se hart te doen nie. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie (Prediker 3:11). Dus: vra vir God om vir jou geleenthede te gee om met jou vriend te praat; hou aan om hom te nooi om eredienste by te woon; bly sy vriend. Jy weet nooit wat God beplan nie.

  • Vra vir hulle of jy vir hulle kan bid

“Hoe kan ek vir jou bid?” Dit is ‘n baie belangrike vraag om te vra. Mense sal nie sommer weier dat jy vir hulle moet bid nie. Mense is meer geneig om na jou te luister as hulle weet dat jy vir hulle omgee.

  • Vra vir Jesus vir geleenthede om hulle te dien

In Matteus 20:28 sê Jesus vir ons dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense. Soek geleenthede om jou vriend te dien. Die wêreld sal ‘n beter plek wees as mense ophou skreeu op mekaar en mekaar eerder dien.

Drie eenvoudige lesse. Pas dit toe en kyk watter verskil dit maak.




Ontnugtering slaan jou wanneer jy dit nie verwag nie.

The church lives from something toward something that is greater than the church itself –  Miroslav Volf

Ontnugtering slaan jou wanneer jy dit nie verwag nie.

In tye wat rustig is, kom ‘n ongemaklike vraag soms na vore: Is dit regtig my lewe? Ontnugtering kom nie net as dinge nie volgens ons beplanning verloop nie. Ontnugtering is diep teleurstelling in iets of iemand wat slegter verloop het as wat ek verwag het.

Madeline L’engle het by geleentheid gesê: “pain is an angel that tells us something is wrong.” Ontnugtering klink nie na ‘n engel nie, maar tog laat dit ‘n alarm in ons afgaan. Dit is nie noodwendig sleg nie – dit mag ‘n geleentheid wees om weer te fokus en ‘n nuwe perspektief te kry.

 

 

Hier is drie vrae om te vra in tye van ontnugtering:

  • Wat het jy verwag?

Mense met ‘n toekomsvisie is kreatief en inspireer ander. Hulle sien hoe hulle lewens kan lyk en hulle jaag dit na. Die probleem is dikwels dat mense met hoë verwagtings en ideale dikwels voor die werklikheid te staan kom dat die wêreld nie noodwendig is soos hulle hulle dit voorgestel het nie. Ons het verwag dat ons pad makliker sou wees. Ons toekomsdrome vergeet soms van die harde werk en moegheid wat voorlê. Ons ideale is dikwels selfsugtiger as wat ons dink.

 

  • Waar is jou geloof?

Miskien ‘n beter vraag: In wie/wat glo jy? Die skrywer van die Hebreërbrief sê: Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie (11:1). Die skrywer sê dat die dinge wat ons moet glo onsigbare dinge is. Hierdie is ‘n beweging weg van ons selfgesentreerde ideale. God maak dit duidelik dat om in enigiets anders as in Homself te glo, van geen waarde is nie. Wat glo jy sal jou gelukkig maak? Wie glo jy sal vir jou vrede bring? Die logiese volgende vraag is:

 

  • Wie vertrou jy?

Ontnugtering word nie net deur jou omstandighede bepaal nie. Dit gaan ook oor jou hoop en jou geloof. Dit gaan daaroor om eerlik met jouself en met God te wees as die lewe jou verras – soms op maniere waarvan jy niks hou nie. Dan moet jy jouself afvra: Is jy bereid om Jesus Christus te volg al raak die lewe moeilik?

Ontnugtering lê vir ons almal voor. Vra hierdie drie vrae en antwoord hulle eerlik.




Die een ding wat ware vriende doen

 Christ dit not die just to save us from our sins, but to bring us together in community – Gilbert Bilezikian

Die een ding wat ware vriende doen

Anyone can give advice, but real friends know the power of being there – Meredith Kane

Daar is baie hartseer in ons samelewing – mense wat geliefdes verloor, mense wat hulle werk verloor, egskeidings … Om te weet wat om onder hierdie omstandighede te sê, is ‘n uitdaging. Ons woorde voel so leeg.

Wat is die een ding wat ware vriende doen? Hulle is daar. Mense soek nie kaartjies en blomme nie – hulle soek jou teenwoordigheid. (Kaartjies en blomme is nie verkeerd nie.) Hulle soek iemand om by hulle te sit – net saam te wees. Hulle wil weet dat hulle nie alleen is nie, maar dat daar ander is wat nie van hulle vergeet het nie en vir hulle omgee.

 

In Markus 2:1 – 5 lees ons van die genesing van die verlamde man. Vier mans dra hom; hulle breek die dak reg bokant Jesus oop; hulle laat hom tot voor Jesus sak. Jesus was so beïndruk met hulle geloof dat Hy die verlamde man se sondes vergewe. Wat hierdie vier mans gedoen het, was beslis nie ‘n maklike taak nie, want die mense het in en om die huis saamgedrom.

Klein taak wat hulle saam gedoen het – hulle was daar toe ‘n man in groot nood – ‘n fisiese nood – hulle nodig gehad het. Hulle voel sy pyn aan en hanteer hom as een van hulle eie. Hulle bring hom na die plek van genesing. Wat baie interessant van hierdie verhaal is, is dat niemand sê wat die verhouding tussen die verlamde man en die vier wat hom gedra het, is nie. Is hulle vriende/familie/vreemdelinge? Ons weet nie. Hierdie besonderheid is blykbaar nie vir die skrywer belangrik nie.

Al wat saak maak, is dat hulle daar was. Om daar te wees, beteken ek moet uit die bed klim en ‘n doelbewuste poging aanwend om te help. Dit beteken ek moet ander voor myself plaas; dit beteken ek moet my tyd opoffer; dit beteken ongemak vir my. Ons is dit aan mekaar verskuldig om aan te meld as daar ‘n behoefte is of as iemand seerkry. Ek moet doelbewus besluit om in daardie plekke in te gaan – plekke waar daar dwelms of haweloses of mense met VIGS is. Maar ook daar waar mense se drome nie verwesenlik is nie.

Wees daar al is dit moeilik. Hoeveel beter sou ons verhoudings nie gewees het as ons nie altyd weggeskram het van plekke van nood nie. Maak jou hande vuil; wees betrokke; neem mekaar na die dak toe.




Wat moet ek doen, Here?

The Psalms were where Christians have always learned to pray – Eugene Peterson

Wat moet ek doen, Here?  

In 1915 het Benjamin B. Warfield ‘n reeks konferensies by Princeton Seminary gehou. Alhoewel dit amper ‘n eeu gelede was, kan ons steeds baie daaruit leer.

Paulus vertel van sy bekering (Handelinge 22). Hy vra twee baie belangrike vrae aan die Here

  • Wie is U, Here?
  • Wat moet ek doen, Here?

As die die Heilige Gees in ons werk, is dit die twee vrae wat elke gelowige vra.

 

Wat sal ek doen, Here? Dit vang twee noodsaaklike elemente  van ons godsdiens vas: oorgawe en aanbidding. Dit gaan hier oor ‘n volledige oorgawe van myself aan God – ek plaas my volle vertroue vir die toekoms op Hom en sy leiding.

Daar is drie belangrike elemente in hierdie vraag:

  • Nederigheid – hierdie vraag is op die Here en nie op jouself gerig nie. Dit beteken die onderwerping van my hele lewe aan die Here.
  • Waardigheid – ‘n soldaat besef dat hy onder bevel staan en dat hy moet gehoorsaam. Dit gee aan Hom ‘n sin van waarde. ‘n Christen staan ook onder bevel – hy het sy Kaptein gevind en kry sy bevele van Hom af. Ons was eers sondaars, maar nou is ons soldate wat onder die bewind van ons Kaptein staan.
  • Mag – ‘n soldaat kry sy plek in ‘n groot en magtige organisasie; hy word ‘n rat in ‘n magtige masjien. Die Christen se taak is om sy regte plek in die liggaam van Christus – die kerk – te kry. Hoe? Deur te vra:Wat moet ek doen, Here?

Vra ons nog hierdie vraag of besluit ons sommer self wat ons wil doen?