Die Raad/Konsilie van Efese

Anyone can hold the helm when the sea is calm. —Publilius Syrus

Die Raad/Konsilie van Efese

Daar was sewe ekumeniese rade. Hulle het almal die Christelike teologie probeer verstaan en probeer om ‘n gesamentlike teologie daar te stel. Vandag kyk ons na die Raad van Efese. Hierdie Raad is in 431 deur Teodosius II, die keiser van die oostelike gedeelte van die Romeinse Ryk, bymekaar geroep. Hy doen dit op versoek van Nestorius wie se onderrig oor die aard van Christus spanning in die kerk veroorsaak het. Nestorius wou so probeer om sy teenstanders te oortuig en stil te maak. Teodosius self woon nie die vergadering by nie. Die raad kom in Efese in die huidige Turkye bymekaar. Tussen 200 en 250 biskoppe woon die vergadering by.

 

 Op daardie stadium was daar konflik oor gesag in die kerk. Die eerste vergadering van Konstantinopel het bepaal dat die biskop van Konstantinopel net na die biskop van Rome – bekend as die pous – in die gesagslyn gestaan het. Die biskoppe van Antiogië en Aleksandrië was ook belangrike biskoppe.

 Nestorius was nie self teenwoordig nie. Hy kom oorspronklik van Antiogië. Hy was ‘n begaafde spreker en Teodosius II het hom as biskop van Konstantinopel aangestel. Die tweede belangrike persoon was Cyrillus, die biskop van Aleksandrië. Hulle verteenwoordig die twee kante van die konflik.

Die konflik gaan oor Maria. Een groep noem haar Maria Theotokos (draer van God). Die ander groep verwerp die titel, want ‘n ewige wese kan nie gebore word nie. Nestorius, in ‘n poging om die konflik op te los, stel voor dat hulle haar eerder Christotokos (draer van Christus) moes noem. Hy wou hiermee  bevestig dat die volle menslike aard van Christus erken moet word.

 

Die gevolg was ‘n briewewisseling tussen Cyrillus en Nestorius. Hierdie konflik was deels teologies en deels polities – die tweede hoogste pos hoort eintlik in Antiogië en nie in Konstantinopel nie. Sinodes in Rome en Aleksandrië verwerp Nestorius se lering.

 

Cyrillus was president van die vergadering. Nestorius weier om die vergadering by te woon omdat Cyrillus die president was. Die vergadering begin sonder ‘n hele aantal biskoppe uit die Ooste wat eers later opgedaag het. Die Raad bevestig die belydenis van Nicea en die titel Teotokos.  Hulle verwerp Nestorianisme en almal wat die siening onderskryf word uit die kerk geban.

 

Die kerke wat Nestorius ondersteun het breek weg en staan as die Persiese of die Kerk van die Ooste bekend. Hulle hedendaagse verteenwoordigers is die Assiriese Kerk van die Ooste, die Siriese Kerk, die Antieke Kerk van die Ooste en die Galdeër Katolieke Kerk.

 




Die Brein van die gesonde leier

Between us and heaven or hell there is only life, which is the frailest thing in the world. —Blaise Pascal

 

Die Brein van die gesonde leier

God het aan ons ‘n wonderlike brein gegee. Neuro-wetenskaplikes bestudeer die brein soos nog nooit vantevore nie. Maar hoe kan ons hierdie wonderlike gawe van God gesond hou? David Rock en Daniel Siegal (Healthy Mind Platter) het sewe faktore geïdentifiseer wat mense help om die brein maksimaal te gebruik. Hierdie sewe aktiwiteite maak leiers meer doeltreffend.

  • Maak tyd om te fokus.

Die wetenskap bevind dat as ons diep fokus die brein diep verbindings maak. In Lukas 14:25 – 33 vra Jesus die menigte om diep na te dink oor die eise van dissipelskap.

 

  • Maak tyd vir plesier

Plesier gee aanleiding tot spontaneïteit wat die brein help om nuwe verbindings te maak. Kinders is na Jesus aangetrek. Hulle sien in Hom iemand wat hulle kan benader en vrolik mee kan verkeer.

  • Maak tyd vir familie en vriende

Neuro-wetenskaplikes bevind dat die brein ‘n sosiale orgaan is. As ons verhoudings bou, verdiep dit die bane wat met verhoudings te doen het. Een van die kenmerke van die Christelike geloof is juis om tyd saam met ander in ‘n geloofsgemeenskap deur te bring.

  • Maak tyd om te oefen

Daar is baie navorsing om te bewys dat oefening die funksionering van die brein verbeter. Die Bybel sê vir ons dat ons liggame tempels van die Heilige Gees is (1 Korintiërs 6:19). Dit beteken ons moet ons liggame versorg. Oefening is een manier om dit te doen.

  • Maak tyd vir stilte.

As ons stil word deur byvoorbeeld nadenke, kan ons ons emosies beter reguleer en kan ons helderder dink. Die Bybel sê dikwels dat ons stil moet word voor die Here As ons nadink aan Hom en sy Woord, kom ons nader aan God, maar ons hou ook ons brein gesond.

  • Maak tyd om niks te doen nie

As ek toelaat dat my brein nie fokus nie (deur byvoorbeeld lugkastele te bou) , verhoog ons kreatiwiteit. Ek is seker Jesus en sy dissipels het soms net rustig verkeer en mekaar en God se skepping geniet.

  • Maak tyd vir voldoende slaap

As ek slaap verdiep my geheue en my brein herstel van die dag se spanning. Jesus het self tydens die storm op ‘n bank gelê en slaap (Markus 4:38).

Hier is sewe eenvoudige praktyke wat ek gereeld moet beoefen.




Julle het tog altyd armes by julle

G. W. F. Hegel

 

Julle het tog altyd armes by julle

 

In beide gevalle kry ons ‘n stelling: daar sal altyd armes by hulle wees. In beide gevalle word dit egter met ‘n opdrag opgevolg: doen goed aan hulle, wees vrygewig teenoor hulle. Jesus onthef ons allermins van ons plig om armes en behoeftiges te help. Ons sal nie alle armoede in ons tyd kan uitwis nie, maar dit beteken nie dat ons maar niks kan doen nie.

Daar is mense wat sê dat daar altyd armes sal wees, want daar sal altyd korrupte onderdrukkers wees wat hulle uitbuit. Om armes te help sluit dus in om hierdie korrupte onderdrukkers te weerstaan – hulle vererger net die lot van die armes.

 

 




1 Petrus 1:20

1 Petrus 1:20 – Francois Malan

Willie vra:

My vraag handel oor 1 Petrus 1:20. As n mens die gedeelte vanaf vers 17 lees dan gaan dit hier oor ons lewe van dankbaarheid teenoor God omdat Hy losgekoop het deur Christus se bloed. Christus het dus vir ons verlossing verdien met Sy bloed aan die Kruis. Wat ek graag beter wil verstaan is hoekom God Hom reeds voor die skepping hiervoor bestem het. Het God dan reeds voor die skepping geweet die mens gaan in sonde verval of verwys die vers na iets anders?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Petrus en Paulus sê duidelik, soos Johannes 1:1-3, dat Jesus God is, die ewige Seun van God, wat mens geword het om God se plan met sy skepping en met die mens uit te voer. Dit was egter nie ‘n plan wat uit nood gebore is toe die mens in sonde geval het nie. God se alwyse beplanning was reeds van ewigheid af gereed, ook vir die sondeval van die mens, die mens wat Hy geskep het om vir Hom te lewe. Maar toe die mens besluit om vir homself te lewe – om self soos God te wees (Genesis 3:5-6), het die mens sy rug op God gedraai en op homself vertrou. Daarom het Jesus gekom sodat ons deur Hom weer kan lewe soos God ons gemaak het om vir Hom te lewe (vgl. 1 Kor 8:6). Jesus is God se plan vir die hele skepping, ook vir die mens. Van ewigheid af is Hy die openbaarder van God, die Woord van God (Joh 1:1), sodat ons deur Hom in God kan glo en vir Hom kan lewe.

Sy Gees, wat in ons kom woon, lei ons tot geloof in God as die Vader van Jesus, en tot geloof in Jesus as ons Verlosser, om ons deur geloof aan Jesus se Seunskap te verbind, sodat ons kinders van God word deur ons verbondenheid aan Jesus (vgl. Romeine 8:9-17).

Daarom kan ons met vertroue bely dat God ons voor die skepping van die wêreld reeds bestem het om, in gemeenskap met sy Seun, in liefdesoorgawe vir God en vir sy mensdom te lewe. Jesus se nuwe gebod vir sy volgelinge is om mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet (Johannes 13:34) deur sy lewe vir ons af te lê (Johannes 15:9-17).

 

Prof Francois Malan