Die dissipline van dank

We must never think of our salvation as a kind of transaction between God and us in which He contributes grace and we contribute faith – John Stott

 

Die dissipline van dank

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend (Filippense 4:6).

Dit maak tog nie sin nie.

Paulus vra dat ek God se soewereine heerskappy in die geskiedenis en in my lewe moet erken – ek moet God vertrou. Hiermee erken ek dat my lewe in sy hande is en dat Hy in beheer is – ook oor my. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28); Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goeddoen (Genesis 50:20). Romeine 8 sê nie dat elke slegte ding ’n silwer randjie het nie of dat elke slegte ding eintlik ’n goeie ding is as ek reg daarna kyk nie. Paulus sê dat alle dinge – ook die slegte dinge – sal eendag saam deur God kragteloos gemaak word – die bedoelde euwel sal presies die teenoorgestelde bereik.

Net God het tans ’n ewigheidsperspektief om te sien dat alles vir ons ten goede en vir sy heerlikheid uitwerk. God is soewerein en daarom moet ons Hom vertrou. Paulus gaan vêrder: omdat God soewerein is, moet ek Hom bedank selfs nog voor ek my versoek rig. Ek moet Hom dank vir alles wat Hy vir my gee al verstaan ek dit nie.

God gee altyd vir sy kinders wat hulle sou gevra het as hulle geweet het wat Hy weet.




Hoekom is ek nou hier op aarde?

 

 To the question “Dont we contribute anything to our salvation?” Scripture answers, “Yes, our sin.” – Rod Rosenbladt

 

Hoekom is ek nou hier op aarde?

Mense is ontnugter met die wetenskap – dit belowe meer as wat dit kan voorsien. Die wetenskap kan sekere vrae baie beter behandel as enige ander dissipline. Dit is die wetenskap – nie teologie nie – wat vir ons gaan sê hoe oud die aarde is. Tog is dit ‘n belangrike en redelike vraag, maar die Bybel gee nie vir ons daardie inligting nie. Ons moet aanvaar dat daar baie belangrike vrae is waarop die Bybel nie vir ons antwoorde gee nie.

 

 Die wetenskap kan vir ons sê wanneer die mens hier op aarde gekom het. Daar is vrae wat die wetenskap net nie kan beantwoord nie: Wie is ek? Hoekom is ek hier op hierdie spesifieke tyd en op hierdie spesifieke plek? Wat gebeur na die dood?

 Maar hoekom is ons hier? Is ons hier vir God of is God hier vir ons? U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep. Daar is die see, groot en wyd, wat wemel van die diere, klein en groot …U gee, en hulle eet, U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg. Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle, as U hulle asem wegneem, is hulle dood en word hulle weer stof. U gee die lewensasem en daar is lewe; ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit. Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie! Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf (Psalm 104:24 – 25 en 28 – 31). Lees weer hierdie laaste vers. Die doel van die skepping was om vreugde aan die Here te verskaf.




Ons leef in ‘n demokratiese wêreld … of nie?

 

 Vraag aan ‘n Ortodokse priester: “Father, do you believe we are saved by faith or by works. Hy antwoord: “Neither, but by the mercy of God.”

Ons leef in ‘n demokratiese wêreld … of nie?

Elke vyf jaar kies ons ons leiers. Ons leef immers in ‘n demokratiese wêreld. Dit is nie hoe dit met ons verlossing werk nie. Ons kies nie ons Verlosser(s) nie. Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies (Johannes 15:16).

 Ons kies ons leiers op grond van hulle prestasies in die verlede; God kies ons ten spyte van ons prestasies. Die mense verdien God se ewige straf, maar uit hierdie opstandige mensdom kies God mense: U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie (Openbaring 5:9).

 God maak vir Hom ‘n nuwe volk bymekaar. Lede van hierdie volk is steeds lede van die menseras, maar word ook aangeneem as lede van God se familie. Aan die kop van die familietafel sit die Vader en Hy herinner ons aan hierdie groot waarheid: Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig (1 Petrus 2:9).

 

 Hoe kan ons God se kinders word? So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees (Efesiërs 1:4 – 5).

 God help nie vir my en jou om onsself te verlos nie. Jona het dit eers agtergekom toe hy deur ‘n groot vis ingesluk is. Doodsbenoud bid hy. Luister hoe sluit hy sy gebed af: Hulp kom net van die Here af (Jona 2:9). Die New King James Version vertaal dit met: Salvation is of the Lord. Die NIV: Salvation comes from the Lord. Die NLV: Net die Here bring verlossing.

 Ek kies nie my Verlosser nie, want net die Here kan verlos. Daar is geen keuse nie, want daar is geen ander Verlosser nie.

 




Kan ek my integriteit verdiep?

We are saved by faith alone, but not by a faith that is alone –  Martin Luther

 

Kan ek my integriteit verdiep?

‘n Paar jaar gelede het James Patterson en Peter Kim (The Day America told the Truth) die vraag gevra: Wat is jy bereid om vir $10 miljoen te doen? Die antwoorde was skokkend:

  • Ek is bereid om my hele gesin net so te los – 25%
  • Ek is bereid om my kerk te los – 25%
  • Ek is bereid om vir een week ‘n prostituut te word – 23%
  • Ek is bereid om my Amerikaanse burgerskap prys te gee – 16%
  • Ek is bereid om my man/vrou te verlaat – 16%
  • Ek is bereid om vals getuienis af te lê sodat ‘n moordenaar kan loskom – 10%
  • Ek is bereid om my kinders vir aanneming te gee – 3%

Ontstellend. Sal so ‘n opname in Suid-Afrika beduidend ander resultate gee? Ek is nie so seker nie.

 Daniël en sy drie vriende wys vir ons hoe ons ons integriteit kan verdiep in ‘n wêreld wat oënskynlik integriteit ontmoedig.

  • Wees bereid om moeilike keuses te maak. Daniël moes by verskeie geleenthede moeilike keuses maak. Sommer net na hulle aankoms in Babilon vra hulle die hoofpaleisbeampte  vir vergunning om nie die koning se wyn en kos te eet nie. Hulle weier om die beeld van die koning te aanbid. In beide gevalle was die doodsvonnis ‘n besliste moontlikheid.
  • Hanteer jou teenstanders met respek. Toe koning Nebukadnesar bevel gee dat sy sterrekykers doodgemaak moes word omdat hulle nie sy droom kon uitlê nie, pleit Daniël met takt en wysheid by die koning. Sy optrede verhoed dat die sterrekykers tereggestel word.
  • Bou jou morele kompas om God. Jesus het sy toewyding aan God behou ten spyte daarvan dat hy in ‘n heidense wêreld geleef het.
  • Wees vasberade in die klein dingetjies. Die koning vereis dat geen ander gode aanbid mag word nie – net hy. Enigeen wat weier sou doodgemaak word. Daniël het elke dag drie maal gebid. Hy kon dit maklik vir 30 dae onderbreek het, maar hy doen dit nie.
  • Besef dat mense wat met integriteit leef of beter of bitter sal word. Van die sleutel amptenare het vir Daniël gerespekteer en ondersteun toe hulle sien dat hy met integriteit optree.  Terselfdertyd was daar ander wat jaloers was op hom – sy integriteit het hulle afgestoot.

Integriteit is die gevolg van baie jare  se goeie en goddelike keuses. Watter keuses maak ek en jy wat ons integriteit sal verdiep?