Drie in die vuuroond

In the end, we will remember not the words of our enemies, but the silence of our friends.”

Martin Luther King, Jr.

 

Drie in die vuuroond

In Daniël 3 lees ons van Daniël se drie vriende in die brandende oond. Koning Nebukadnesar maak ‘n enorme goue beeld. Met die inwyding van die beeld is almal daar. Hulle kry ‘n opdrag dat as hulle die geluid van musiekinstrumente hoor hulle voor die beeld moet buig en dit aanbid. Sadrag, Mesag en Abednego doen dit nie. Nebukadnesar is woedend en laat die drie kom. Op sy vraag waarom hulle nie die beeld aanbid nie, antwoord hulle: Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie. Is hier nie ‘n bietjie van ‘n paradoks in hulle antwoord nie?  Aan die een kant is hulle seker dat God hulle sal red; aan die ander kant … as Hy dit nie doen nie.

Hulle vertroue was in God en nie in hulle beperkte verstaan van wat Hy sou doen nie. Hulle weet God is onder geen verpligting om volgens hulle beperkte wysheid op te tree nie. Hulle vertrou vir God – Hy weet beter as hulle wat moet gebeur.

Groot Bybelfigure soos Abraham, Josef en Dawid het nie altyd gekry waarvoor hulle gebid het nie. Ons vestig dikwels ons hoop op ons eie agenda en nie op God alleen nie. Ons hoor dikwels gelowiges sê: Ek weet dat God my sal red. Dit is dikwels ‘n teken van onderliggende angs en onsekerheid.  Vir die drie vriende maak dit nie saak wat gebeur nie, want hulle weet dat God daardeur verheerlik sou word en hulle sal by Hom wees. God sal hulle van of deur die dood verlos. Hulle grootste vreugde was om God te verheerlik en nie om Hom te gebruik om te kry wat hulle graag wou hê nie. Daarom was hulle sonder vrees.

Toe Nebukadnesar die drie vriende van Daniël se reaksie hoor het hy wit geword van woede. Hy gee opdrag dat die oond sewe maal warmer gemaak moet word as gewoonlik.  Hy laat die drie vasbind en kry sterk manne om hulle in die oond te gooi. Die oond was so warm dat die manne wat hulle moes ingooi deur die vlamme doodgebrand is.

Nebukadnesar spring verskrik op: Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos ‘n hemelwese. Hierdie vierde man trek Nebukadnesar se aandag. Die rede waarom die drie vriende in die vuur kon rondloop, is as gevolg van die vierde wese. Ons lees ook dat Hy nie saam met die ander drie by die oond uitkom nie. Nebukadnesar eer die God van die drie vriende: Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het.

In die Ou Testament lees ons op ‘n paar plekke van die engel van God. In Eksodus 3 verskyn die Engel van die Here aan Moses uit die brandende doringbos. In Josua 5 sien Josua die leëraanvoerder van die Here. In Rigter 13 verskyn die Engel van die Here aan Manoag, die vader van Simson. Om hierdie engel te sien is soos om vir God te sien.

Jesus Christus kom as baba na die aarde toe om by ons swakke, sterflike mense te wees. Hier op aarde sterf Hy uiteindelik aan die kruis. Hy word verdoem tot ‘n pynlike dood – in ons plek. Maar anders as met Daniël se drie vriende is Hy alleen: My God, my God, waarom het U My verlaat (Markus 15:34). Jesus ly nie net saam met ons nie, maar ook vir ons.

Omdat Jesus Christus aarde toe gekom het en deur die vuur gegaan het – gestraf is vir wat Hy nie verdien het nie – kan Hy saam met my, onsuiwer mens wat dit nie verdien nie – in die vuur wees.




God se gimnasium

 —C.S. Lewis

God se gimnasium

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through pain and suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Die Bybel gebruik die metafoor dat lyding ‘n smeltkroes is. ‘n Ander metafoor wat die Bybel gebruik is ‘n gimnasium. Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God (Hebreërs 12:11). In die oorspronklike verwys gevorm na gimnasium. Dit verwys letterlik na oefeninge wat doelbewus gedoen word om swak dele van die liggaam te versterk en die sterk dele verder te verbeter.

Wat gebeur by ‘n gimnasium?

 

  • Ek moet my gewone klere uittrek en my oefenklere aantrek. My gewone klere verhoed dat ek die uitputtende bewegings kan doen. Maar my oefenklere maak my tekortkominge duidelik – my maag is te groot. My gewone klere mag dit wegsteek. Dit dien dus as ‘n aanmoediging – ek besef ek moet iets daaraan doen. Dit sê vir my dat as alles goed gaan, kan ek die tekortkominge in my karakter  wegsteek. Sodra probleme en swaarkry kom, is ek in God se gimnasium en my tekortkominge word blootgestel – my humeur, trots, neiging om leuens te vertel, gebrek aan selfdissipline, ens.  Dit wys ook vir my die positiewe eienskappe wat ek nodig het en wat ek nie het nie. Lyding wys vir my wie ek werklik is.
  • Nou doen ek ‘n reeks oefeninge. Die doel van die oefeninge is om druk op sekere liggaamsdele te plaas. Balans is nou belangrik – nie te veel en nie te min nie. Wat nodig is, is net die regte hoeveelheid pyn en ongemak. Hebreërs 12:11 sê dat swaarkry later ‘n goeie vrug lewer.Ons het die volmaakte Afrigter. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hy liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). Lyding is nie ‘n speletjie wat God vanuit die hemel met ons speel nie. Hy was vir hulle nie ‘n vyand nie, Hy self was die engel wat hulle gered het. hy het hulle verlos deur sy liefde en ontferming; Hy het hulle opgetel en hulle altyd gedra (Jesaja 63:9).

My kind moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem (Hebreërs 12:5). Die Here, my afrigter, lei my deur die lewe met balans. Hoe reageer ek op sy tug? Ek kan dit stoïsyns doen – ek byt vas en weier om God se onderrig raak te sien of ek kan vorentoe beweeg deur die oefeninge wat Hy vir my voorskrywe.

Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en die Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie (Hebreërs 12:1 – 3). Deur na Jesus te kyk, weet ek hoe om in God se gimnasium te funksioneer. As ek dink aan wat Hy vir my verduur het sonder om te kla, verdwyn my selfbejammering. Ek moet my hartseer en verlies hanteer wetende dat God agter dit alles besig is om vir my beswil te werk. As ek my oë op Jesus gerig hou, sal ek deur die pyn kom na ‘n dieper vrede.

Daar is nogal gemeenskaplike temas tussen ‘n smeltkroes en ‘n gimnasium:

  • Beide is plekke van gevaar. As ek verkeerd reageer, mag dit ‘n ramp tot gevolg hê; as ek reg reageer lei dit tot skoonheid en krag.
  • Beide kan nie vermy word nie. Ek moet net na Hom kyk wat deur dit alles gegaan het aan die kruis. Hy loop langs my in my lyding.



Hoe gebruik God lyding?

“‘For example’ is not the same as ‘proof.’” ~ Joodse spreekwoord

Hoe gebruik God lyding?

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through pain and suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

God gebruik lyding om my op te bou en my swakhede te verwyder.

  1. Lyding verander my gesindheid teenoor myself. Dit maak my nederig; dit stel my onrealistiese siening van myself reg; dit verwyder my trots; dit wys vir my hoe broos ek is; dit wys vir my hoe min beheer ek oor my eie lewe het; dit wys vir my dat ek nog altyd kwesbaar en afhanklik van God was. Lyding bring hierdie feite na vore en dwing my om daarvolgens te lewe. Lyding laat my myself weer ondersoek en laat my my swakhede raaksien, want lyding bring dikwels die slegste in my uit. In lyding sien ek my swak geloof, my skerp tong, my onsensitiwiteit teenoor ander mense, my bitterheid raak. Dan sien ek dat ek te krities, te ongeduldig, te hardkoppig, te impulsief is. Lyding lê my innerlike swakhede bloot en stel my in staat om aan hulle te begin werk.
  2. Lyding verander my verhouding teenoor die goeie dinge in die lewe. Ek sal sien dat sekere dinge vir my te belangrik geword het. Lyding is ‘n goeie geleentheid om meer hoop op God te stel en meer betekenis by Hom te kry. Lyding bring nuwe bronne van vreugde in my lewe – God, familie, vriende.
  3. Lyding kan my verhouding met God versterk. Lyding toets my verbintenis met God. Lyding kan my so kwaad vir God en die lewe maak dat ek geen begeerte het om te bid nie. Maar lyding kan ook my verhouding met God verdiep. As dinge met my goed gaan, weet ek nie of ek vir God of die dinge wat Hy vir my gee en doen, liefhet nie.as ek swaarkry en ly begin ek vrae vra. Lyding openbaar onsuiwerhede in my geloof. Dit is in lyding dat ek kan weet dat my verhouding met God opreg is.
  4. Lyding dwing my om te bid soos nog nooit vantevore nie. As ons aanhou bid, sal ons sy liefde en vreugde ondervind. Above all, keep close to the throne on grace in prayer. If we seem to get no good by attempting to draw near him, we may be sure we shall get none by keeping away from him (John Newton).
  5. Lyding is amper ‘n voorvereiste vir my as ek vir ander mense van nut gaan wees, veral as hulle deur hulle eie beproewings gaan. Teenspoed maak dat ek meer deernis met ander het. Lyding gee wysheid as ek dit reg hanteer – dit gee vir my insig in ander. Kyk na Paulus: Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat ons in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig, want net soos daar vir ons ‘n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons ‘n oorvloed van bemoediging deur Christus. As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle teen te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur. En wat julle betref het ons ‘n vaste verwagting: ons weet dat net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het (2 Korintiërs 1:3 – 7). Paulus se lyding dryf hom na God vir vertroosting. Daar kry hy nuwe insigte ten opsigte van God se lyding, heerlikheid, liefde. Wat doen hy met hierdie insigte? Hy deel dit met ander wat ook beproef word wat op hulle beurt weer ander help. Nou word die kerk ‘n gemeenskap van vertroosting waar jy in jou lyding ondersteun word. Daar groei ons deur ons probleme en word meer soos God wil dat ek moet wees.



Wat van ons heerlikheid?

We do not receive wisdom, we must discover it for ourselves, after a journey through the wilderness which no one can make for us, which no one can spare us (Marcel Proust)

Wat van ons heerlikheid?

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through pain and suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Ons moet eers leer wat ons vandag as selfverbetering ken. Daarvoor kyk ons na twee Skrifgedeeltes:

  • Matteus 5:6: Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. Geseënd is hulle wat nie blydskap soek nie, maar geregtigheid. Blydskap is ‘n neweproduk van iets wat meer as geluk is; blydskap is die regte verhouding met God en my naaste. As ek God in my lewe soek, kry ek blydskap as ‘n neweproduk. As ek persoonlike geluk in die lewe soek, kry ek niks nie.
  • Matteus 10:39: Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind. As ek gewillig is om my lewe vir God se onthalwe te verloor, as ek bereid is om persoonlike vryheid, gemak en bevrediging opsy te sit om Jesus Christus te gehoorsaam en te volg, sal ek myself vind. Ek sal ontdek wie ek werklik in Jesus Christus is en vrede ondervind. As ek egter persoonlike geluk sonder ‘n lewe in Jesus Christus soek, lei dit tot ‘n innerlike leegheid.

Ons leef in ‘n kultuur van individualisme. Dit beïnvloed hoe ek lyding hanteer. Ek moet God vertrou, want Hy is God – nie my persoonlike assistent nie. Ek moet Hom vertrou nie om iets by Hom te kry nie, maar omdat Hy dit werd is. As ek God liefhet en gehoorsaam omdat Hy God is en nie vir my voordeel nie, verander ek. As ek nie myself soek nie, maar vir God, kry ek beide – God en myself.

Aim at heaven and you get earth “thrown in” – aim at earth and you get neither.

As ek God sien en aanvaar soos Hy werklik is, bring dit my in aanraking met die werklikheid. Sien ek die soewereiniteit, wysheid, geregtigheid, grootheid en liefde van God sal ek nie deur die wêreld in bitterheid, trots, angs en mismoedigheid struikel nie. As ek nie my eie voordeel, maar God se heerlikheid soek, lei dit paradoksaal tot die ontwikkeling van my eie heerlikheid – my eie karakter, nederigheid, hoop, liefde, vreugde en vrede.

Lyding kan lei tot my persoonlike groei en transformasie, maar dan moet ek dit nooit primêr sien as ‘n weg om my te verbeter nie. As ek dink lyding gaan primêr oor my en my groei, sal dit my verwurg. Ek moet na lyding kyk as ‘n manier om God beter te leer ken, ‘n geleentheid om Hom te dien, om nader aan Hom te kom as ooit vantevore.

Net as God se heerlikheid primêr in my lyding is, kry ek my eie heerlikheid.  Hartseer en probleme kan dit doen – deur my swaarkry groei ek in genade en heerlikheid.