Die vierde Adventskers

There was never a sinner half as big as Christ is as a Savior. —C.H. Spurgeon

Die vierde Adventskers

Ons het reeds drie kerse aangesteek – dié van hoop, vrede en vreugde. Gister het ons die vierde een aangesteek – dié van liefde. Jesus het vir ons gewys wat liefde waarin jy jouself gee, beteken. Hy was die Goeie Herder. Kersfees is ‘n tyd van dink aan ander en deel met ander. Dit is ‘n tyd van liefde net soos God ons liefgehad het toe Hy sy kosbaarste besitting vir ons gegee het. Soos God liefde is, laat ons ook liefde wees.

 

 

Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie. Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere. Jy moet ook die vreemdeling liefhê, want jy was self ‘n vreemdeling in Egipte (Deuteronomium 10:17 – 19).

 Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (Johannes 13:34 – 35).

 

Gebed:

O Here, leer ons om lief te hê. Laat ons U altyd eerste stel soos ons in Christus se voetspore stap; dat ons u liefde mag ken en in ons lewens wys. Soos ons vir Jesus se geboorte voorberei, vul ons harte met liefde vir hierdie wêreld, sodat almal u liefde kan en dié Een wat U gestuur het, u Seun, mag ken. Amen.




Die Raad van Konstantinopel

Truth does not change according to our ability to stomach it. -Flannery O’Connor, skrywer (1925-1964)

Die Raad van Konstantinopel

Daar was sewe ekumeniese vergaderings/konsilies. Die eerste was by Nicea in 325; die laaste een was die tweede Raad van Nicea in 787. Tussen hierdie twee was daar vyf verdere vergaderings. Elkeen het ‘n verenigde Christelike teologie probeer verstaan en vestig. Vandag kyk ons na die eerste Raad van Konstantinopel.

 Hierdie vergadering is in Konstantinopel – die huidige Istanbul in Turkye gehou Dit is deur Theodosius I, Die keiser van die Oostelike Romeinse Ryk, bymekaar geroep. Hulle vergader van Mei tot Julie 381. Die doel was om die kerk te verenig oor die wese van Christus en sy verhouding met die Vader.

Die vraag is reeds by Nicea hanteer, maar dit het ‘n twispunt in die kerk gebly.

 Daar was 150 Oosterse biskoppe teenwoordig. Meletius, die aartsbiskop van Antiogië is as eerste president van die vergadering gekies, maar hy sterf kort na die aanvang van die vergadering. Gregorius van Nazianzus is by die aanvang van die vergadering as biskop van Konstantinopel verkies en hy volg Meletius as president op. Gregorius se verkiesing word uitgedaag omdat biskoppe nie van die een bisdom na ‘n ander oorgeplaas mag word nie. Gregorius was vantevore die biskop van Sasima. Hy bedank as biskop en president van die vergadering. Nectarius, ‘n staatsamptenaar is gou gedoop sodat hy kon oorneem as biskop van Konstantinopel en president van die vergadering.

 Die hoofitem op die agenda was om die leer wat by Nicea bepaal is, te bevestig. Hulle doen dit deur ‘n nuwe belydenisskrif, want van die taal wat in die oorspronklike Belydenis van Nicea gebruik is, was kontroversieel en problematies. Hulle het ook sekere ander punte opgeklaar.

 Een spesifieke gebied waar die leer ontwikkel het, was in verband met die Heilige Gees. Hulle voeg vier dinge aangaande die Heilige Gees by:

  • Die goddelike titel ‘Here.’
  • Goddelike funksies soos die gee van lewe.
  • Oorsprong uit die Vader, nie deur skepping nie.
  • Aanbidding gelyk aan dié wat aan die Vader en Seun gegee word.

 Ses en dertig Masedoniese biskoppe verlaat die vergadering, want hulle was nie bereid om sulke verhewe taal aangaande die Heilige Gees te aanvaar nie. Alhoewel hulle nie bereid was om die Heilige Gees God te noem nie, het hulle aanvaar dat Hy nie ‘n skepsel was nie.

 Die resultaat van die vergadering was die Belydenis van Konstantinopel. Dit stem baie ooreen met die Belydenis van Nicea, behalwe dat die banvloek teen Arianisme verwyder het. Ander sake is ook op die vergadering bevestig. Een daarvan was dat die biskop van Konstantinopel naas die biskop van Rome voorrang sal geniet, want “Konstantinopel was die nuwe Rome.” Hierdie was ‘n bedreiging vir Rome en die mag van sy biskop. Dit is as ‘n belediging gesien, want geen geestelike betekenis kon aan Konstantinopel geheg word nie. Die biskop van Rome het daarop aanspraak gemaak dat hy Petrus opgevolg het. Hierdie klein verandering sou vorentoe nog baie probleme gee.

 Teologies het hierdie vergadering die logika van Nicea voortgesit, en versigtig Nicea se verhouding van die Vader en die Seun ook op die verhouding van die Vader en die Heilige Gees toegepas. Dit het ook die status van Konstantinopel as die Nuwe Rome gevestig.

 Hierdie vergadering was betekenisvol, maar verskeie verdere vergaderings was nodig voordat ons van ‘n eenvormige Christelike leer kon praat.




Die Christelike geloof teenoor godsdiens

The old Adam must literally be drowned anew every day. –  Emil Brunner

 Die Christelike geloof teenoor godsdiens

Ken Blanchard bekende skrywer (We are the Beloved) vertel van ‘n ete wat hy en Bill Hybels saam gehad het. Blanchard val weg met die vraag: “Hoekom die oersonde? Dit is te negatief?” Bill  Hybels verduidelik vir hom die verskil tussen die Christelike geloof en godsdiens.

Hybels: “Jy spel godsdiens D-O-E-N. Dit beteken jy moet allerhande dinge doen om die Here se genade te ontvang. Godsdiens beklemtoon wat jy alles moet doen om God se guns te behou. Watter nuwe bladsy jy moet omblaai? Watter nuwe toewyding is nodig om jou saak met God reg te stel? Die probleem met godsdiens en hierdie “doen” filosofie is dat mense tou opgooi, want hulle weet nooit wanneer genoeg genoeg is nie. Sê nou maar jy doen 2500 goeie dinge in jou lewe en die Here sê vir jou: “Nie sleg nie, maar jy het 3000 goeie dinge nodig gehad.”

 Bill Hybels gaan voort:  “Jy spel die Christelike geloof: G-E-D-O-E-N. God het Jesus na die aarde gestuur om jou te versorg. Jy kan nie goed genoeg presteer of genoeg goeie dinge doen om in die hemel te kom nie. Jy kan net toegang kry as jy erken dat jy ‘n sondaar is en om dan vir Jesus Christus as jou Verlosser te aanvaar. Hy is die enigste een wat jou verlede kan skoonmaak. Jy kan dit nie self doen nie … Hy kan jou nie alleen verlos nie, maar Hy kan jou gids en vriend word. Hy kan jou lewe verander.

 Eenvoudig. Soos Blanchard erken het hy vir jare gereeld eredienste bygewoon, maar nooit die boodskap van genade so duidelik gehoor nie. Hybels sê ons geloof gaan nie oor toewyding en opvolg nie, maar oor ontvang en vertrou.

 

 

 




Die oproep vir nederigheid

If man has no personal God, all the more surely he has one or more impersonal gods. — Emil Brunner

Die oproep vir nederigheid

Naäman was ‘n ryk generaal in die Siriese leër. Ons lees sy verhaal in 2 Konings 5. Die man was ‘n dapper soldaat, maar hy het melaats geword. By sy vrou se bediende (ons weet nie eers wat haar naam was nie) hoor hy van die profeet in Samaria wat hom van sy melaatsheid kon genees. Hy gaan na sy koning en kry ‘n brief aan die koning van Israel. Hy reis na Israel met silwer, goud en tien stelle klere – en ‘n brief van sy eie koning. Hy gaan reguit na die koning van Israel en gee vir hom die brief. Dit is eintlik ‘n dreigbrief: Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak – moet.

 

Soos so baie van ons het Naäman geglo dat geld en invloed sy lyding sal genees. Daarom gaan hy na die persoon wat volgens hom die meeste geld en invloed in die Israelse kultuur het – die koning – en verwag ‘n oplossing. Wat doen die koning van Israel? Hy skeur sy klere en sê: Is ek dan God wat mense laat sterwe of hulle die lewe gee. In wese sê hy: Moenie van my verwag om iets te doen wat net God kan doen nie.

Is dit nie tyd dat ons weer na hierdie uitroep van die koning van Israel luister nie. As ons voor  lyding te staan kom, dink ons ons kan dit oplos deur ‘n beleidsverandering van die regering of die kundigheid van sielkundiges en psigiaters of tegnologiese vooruitgang. Dit gaan nie gebeur nie.  Dit is verkeerd om te glo dat ons lyding met ons kennis gaan oorwin en beheer.

Ons moenie passief wees as rampe en tragedies ons tref nie. Natuurlik as ‘n verandering in regeringsbeleid kan verhoed dat ‘n ramp weer gebeur, moet ons dit doen. Maar terselfdertyd moet ons besef dat hierdie maatreëls nooit genoeg is nie. Pyn en die boosheid in hierdie wêreld is diepgaande en het geestelike wortels. J. R. R. Tolkien (The Lord of the Rings) sê: Always after a defeat and respite, evil takes another shape and grows again. Maak nie saak wat ons doen nie, menslike lyding en die bose kan nie uitgewis word nie. As jy lyding en die bose wil hanteer, het jy meer as wêreldse hulpbronne nodig.

Naäman wend hom uiteindelik  nie na geld of  kundiges of tegnologie nie, maar na God self. In plaas daarvan om met trots in sy eie en ander se kundigheid te vertrou, word hy geroep tot … nederigheid. Hy word nie alleen genees nie, maar ontwikkel ‘n nuwe verhouding met God en ‘n siel vol genade en vreugde. Lyding lei tot sy verlossing.

Dit antwoord nog nie ons vrae nie: “Waarom laat God toe dat soveel swaarkry in die wêreld bly voortbestaan?” Dit regverdig ook nie lyding nie. Tog leer ons in die Bybel dat feitlik niemand tot grootheid groei of God vind  sonder lyding nie. Selfs Christus het nie verlossing en genade aan ons gebring sonder lyding aan die kruis nie. Hy het ons lief genoeg gehad om sy lyding met geduld en moed te hanteer. Soos sy swakheid en lyding tot sy opstandingskrag gelei het, kan lyding ook vir ons na krag lei.