Hoor die blye eng’lelied

 

The old Adam must literally be drowned anew every day. –  Emil Brunner

 Hoor die blye eng’lelied

Hierdie bekende Kerslied is deur Charles Wesley geskryf. Ons kry dit reeds in 1739 opgeneem in ‘n versameling van liedere. Wesley wou gehad het dat hierdie lied met swaar, somber musiek gesing word. Wesley se medewerker, vriend en teologiese nemesis het die lied in die hande gekry en van die lirieke verander.

 ‘n Honderd jaar later skryf Felix Menselssohn ‘n cantata om Johann Gutenberg se uitvinding van die drukpers te vier. Die Engelse musikus, William H. Cummings, neem die  cantata en pas dit by die lierieke van Wesley en Whitefield aan. Dit is die die gewilde vorm van die lied wat ons vandag liefhet en hoor.

 Teologiese nadenke

Ons kan diep teologies nadink oor die lirieke. Feitlik elke veld van sistematiese teologie word in die lied gedek. Die eerste vers herinner ons aan die opgewonde deelname van die engele toe hulle sien God en sondaars word versoen. Ons vergeet soms dat God nie ‘n engel geword het om gevalle engele te red nie – Hy het mens geword om mense te verlos. Die engele sing van hierdie versoening wat begin is met die aankoms van Jesus. Dit is net die eerste vers.

 Hierdie is ‘n lied wat die vermoë het om ons deur die diep teologiese aspekte van Kersfees te neem. Daarom: lees stadig deur die verse; dink diep na oor wat elke vers vir jou van die diepte van Kersfees sê.

 

Lirieke:

 Hierdie is die bewoording van die ou Halleluja-boek waarmee ek grootgeword het:

1. HOOR DIE BLYE ENG’LELIED,

   AAN DIE KONINGSEUN GEBIED:

   VREDE OPAARD, AAN GOD DIE EER!

   “GOD DAAL TOT DIE SONDAAR NEER!”

   WIL MET ELKE HEMELING

   OOK AAN GOD U LOFLIED BRING;

   VOEG BY ENG’LEKOOR U STEM:

   GOD VERSKYN IN BETHLEHEM!

   HOOR DIE SKONE ENG’LELIED

   AAN DIE KONINGSEUN GEBIED

2. CHRISTUS, DAAR OMHOOG VEREER-

   CHRISTUS, EWIG GOD EN HEER-

   IS DEUR GODD’LIK’ RAADSBESLUIT

   UIT REINE SKOOT GESPRUIT.

   IN DIE VLEES SY NEEDRIG’ LOT-

   VLEESGEWORDE WOORD VAN GOD!

   MENS, MET MENSE SAAMGETEL,

   JESUS, ONS IMMANUEL!

3. HY,DIE HEMELVORS VAN VREE,

   DEEL GEREGTIGHEID ONS MEE,

   LIG EN LEWE IN ELK’LAND,

   EN GENESING DEUR SY HAND.

   DIEP HET HY HIER NEERGEDAAL

   OM ONS UIT DIE DOOD TE HAAL;

   DEUR SY KOMS WORD ADAMSKIND

   EWIG WEER MET GOD VERBIND.

 

 




Wees altyd bly in die Here en moenie bekommer nie?

Wees altyd bly in die Here en moenie bekommer nie? – Kobus Kok

Willie vra:

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Wees altyd bly in die Here en moenie bekommer nie?

Prof. Kobus Kok

Op die plattelandse dorpie waar ek grootgeword het, en op die plaas waar ons destyds kinderkrans gehou het, eggo die kinderlike deuntjie van die bekende liedjie:

Filippense 4:4 sê verbly jul in die Heer…

Filippense 4:4 sê verbly jul in die Heer…

Verbly jul, verbly jul, verbly jul in die Heer….

Liedjies soos hierdie het as kunstige draers van die implisiete waardes van die Christendom gefunksioneer. Toe ons jonk was, het ons besef dat hierdie abstrakte begrippe waarde het, maar ons het dit nie altyd verstaan nie. In ons gedagtes het ons gedink dat dit beteken dat Christene altyd bly en vriendelik moet wees. Min het ons geweet wat die ware diepte van hierdie tekste in werklikheid behels.

Met tyd het die ontblotende realiteit van die lewe ons kinderlike vertroue op die proef gestel. Op skool ervaar mens die gewone mislukkings en teleurstellings – van liefde en ander dergelike verliese. Soos ons groter geword het, het die kwantiteit en intensiteit van die verliese geïntensiveer. Die lewe ontmasker dikwels die naïewe hart en die hoopvolle gees. Ons projekteer drome en verwagtings en beleef dikwels die vernietigende effek van lewensrealiteit. Ons maak ons bed, en moet daarin slaap. Eerste naïwiteit verdwyn soos ons gestroop word van ons jongmensvel.

In die tyd se laaie ontdek ons wie ons is. Soms is die ontdekking goed en mooi, en soms is die ontdekking seer en lelik. Dit laat baie mense met ‘n kliniese realisme wat neig na pessimisme. En dan, op ‘n goeie dag, word die mat onder ons uitgeruk en staan ons gestroop. Wanneer realiteite soos skielike dood, egskeiding of werksverlies ons tref, ruk dit ons fondamente. Dit laat ons voel of ons magteloos is. Ons kyk om ons heen en die lewe gaan net aan, maar vir ons voel dit of die lewe onherroeplik verander het of tot stilstand gekom het. Skielik verdwyn enige hoop, soos mis voor die somerson.

Paulus het ook iets hiervan verwoord as hy in die konteks van die tronk sy Filippense brief skryf. Dit is in die lokval van die lewe, in die sinkgat-ervaring waar hy ontdek dat nie pessimisme nie, maar hoop en blydskap wat in God gewortel is, die enigste antwoord tot sin, betekenis en oorlewing is. Dit is hier waar hy sê dat hy deur dit alles heen geleer het dat die enigste fondasie wat oorbly in tye van vernietiging en pyn, die enigste hoop in lewe en dood, die Here is. Dit was juis daardie konteks wat hom geruk het om te besef hoe dankbaar hy kon wees vir dit wat hy gehad het. Hoe ironies dat ons eers besef hoe gelukkig ons was om gesondheid te hê as ons siek word, of hoe lekker ons kon eet as ons nie meer die geld het om kos te koop nie. Dit is in stil gebed waar God ons beelde kom gee van wie Hy is, hoe Hy wil hê ons moet verander in die betrokke konteks, en waar ons die antwoorde kry wat ons die wysheid skenk om vorentoe te beweeg.

Ons het dit persoonlik ook onlangs opnuut weer beleef nadat my vrou swanger was met ‘n tweeling, ons een kindjie verloor het en my vrou vir drie maande bedlêend was weens komplikasies met die swangerskap, en ons skielik reuse verliese in inkomste moes beleef. Tog was dit in hierdie tyd dat ons God se genade en liefde die sterkste beleef het in ʼn lang tyd. ʼn Vreemde vrede het ons in ons pyn en stryd ontmoet. Prioriteite het geskuif in ʼn beter rigting. Ons het geleer om dankbaar te wees vir gesondheid wat mens vanselfsprekend neem. Ons het geleer om God te vertrou en aan Hom vas te hou in die moeilikste tye. Uit hierdie lewenservaring het dankbaarheid uitgekristalliseer—dankbaarheid vir die kleinste dingetjies wat ons op ʼn goeie dag gewoon net gemis het. Ons het geleer om weer blydskap te ervaar. Blydskap en dankbaarheid lê baie naby aan mekaar. Dit is twee kante van dieselfde munt. Ongelukkig het ons in ons pyn ook ʼn munt in die ander hand. Die munt se twee kante is vrees en erge bekommernis. Met daardie twee munte in die hande moet mens konstruktief kies om nie toe te laat dat die verlammende effek van bekommernis die oorhand kry nie. In sulke tye kort mens kreatiwiteit. Die hand vol vrees en bekommernis inhibeer gesonde kreatiewe denke. Dit bewys die nuutste navorsing in sielkundige studies ook. Daardie hand help ons nie om geleenthede raak te sien nie. Dit sien net doodloopstrate. Aan die ander kant staan ons met die munt van dankbaarheid en blydskap in die hand – daardie hand is vol hoop en soek na kreatiewe geleenthede. Met die munt in daardie hand gaan ons oë oop vir dankbaarheid wat as vrug vrede skenk. Op ʼn goeie dag gaan ons gedagtes in ʼn stryd gewikkel wees tussen hierdie twee simboliese hande. Werk elke dag daaraan om die regte hand die stryd te laat wen. Oefen die regte hand. Maak keuses wat daardie waardes versterk. Rig jou denke, soos Paulus sê, op daardie geestelike en emosionele waardes wat jou energeer.

Ons bid dat God in sy rykdom vir u en u gesin sal voorsien.

 

Prof Kobus Kok




Jesus verskyn aan Tomas (20:24-29)

Jesus verskyn aan Tomas (20:24-29) – Francois Malan

‘My Here, en my God!’

20:24-25 Ons het reeds met Tomas kennis gemaak in 11:16 as ‘n lojale maar pessimistiese volgeling van Jesus, wat bereid is om saam met Jesus te sterf; en in 14:5 as iemand wat stadig is om te begryp en vrymoedig om dit te erken. Deur hom te onttrek van die dissipelgroep, waar hy hoort as een van die twaalf, het hy Jesus misgeloop. Sy reaksie op die dissipels se verruklike aankondiging: ‘Ons het die Here gesien!’ prikkel hom tot verset en is meer negatief as hulle spontane reaksie deur graf toe te hardloop op die vroue se aankondiging. Sy onredelike voorwaarde om te kan glo is ‘n voorbeeld van wat Jesus in 4:48 gesê het. Tomas wil eers sien en voel, dan glo, maar dan is dit weet en nie glo nie.

 

Prof Francois Malan

 




Die misleier en die misleide

Do not praise the rich man who has no money to offer the poor, for he is poorer.” ~ Joodse Spreekwoord

 Die misleier en die misleide

In Matteus 7:15 – 23 lees ons van iemand wat ander mislei en van mense wat mislei word.

Die misleier

Jesus beskryf hulle hier as vals profete en waarsku sy dissipels teen hulle: Pas op vir die vals profete. Vals profete staan tussen God en sy mense. Hulle sê dat hulle namens God praat, maar hulle is nie deur God aangestel nie. Hulle volg ook nie vir Jesus Christus nie. Hulle lyk op die oog af soos God se mense, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. Hoe herken ek hulle? Aan die vrugte wat hulle dra. Jesus gebruik hier twee illustrasies om te verduidelik wat Hy daarmee bedoel: Kry ‘n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? Elke goeie boom dra tog goeie vrugte. Die vrugte is die bepalende faktor. Die goeie boom word versorg, maar die slegte boom word uitgekap en in die vuur gegooi – ‘n beeld wat algemeen vir die finale oordeel gebruik word.

 

Maar wat beteken vrugte in hierdie geval? Die doen van God se wil. As iemand daarop aanspraak maak dat hy namens God praat, moet ek na sy lewe kyk. As hy nie God se wil doen nie, is hy ‘n vals profeet.

Wat moet Jesus se volgelinge met vals profete doen? In hierdie gedeelte sê Jesus niks daarvan nie. Jesus se volgelinge moet na die vrugte kyk en as dit nie goeie vrugte is nie, draai weg van hulle.

 

Dié wat mislei word

Hierdie vals profete mislei hulleself omdat hulle dink dat hulle burgers van God se koninkryk is. Hulle verwys dan ook na hulle prediking, uitdrywing van geeste en wonders wat hulle gedoen het. Jesus sê egter dat hulle hulleself mislei, want hulle doen nie God se wil nie. Ware volgelinge van Jesus volg Hom en doen wat Hy hulle geleer het. Ons is nogal beïndruk dat hulle wonders gedoen het. Ons moet onthou dat die farao se towenaars ook sekere kunsies gedoen het (Eksodus 7 – 8). Wat opvallend is, is dat hulle drie maal sê in/deur u Naam.

 Tog sê die Here vir hulle: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree. Wat God verwag is dade van liefde, deernis en barmhartigheid – nie groot charismatiese magsvertonings nie.

 ‘n Vals profeet mag ‘n begaafde leier wees, maar  hy doen nie die wil van die Here nie. Hy doen ook nie die gewone dinge van die lewe nie – gee ‘n beker water vir iemand wat dors is, gee kos aan iemand  wat honger is.