Jy kan nie vir twee base werk nie

As the first step heavenward is humility, the first step hellward is pride. —John Mason

Jy kan nie vir twee base werk nie

Jy mag naas My geen ander gode hê nie (Eksodus 20:3)

In Matteus 6:24 praat Jesus van twee base: God en Mammon. Dit gaan oor waar ek my vertroue plaas: Is dit liefde vir God of is dit op die trapmeul van geld en besittings – Mammon. Ek het of vir God of vir Mammon lief. As ek dink ek kan beide liefhê, mislei ek myself.

 

 Jesus roep ons op om ons lewenstyl te vereenvoudig en eerder op sy koninkryk te fokus. Ek moet meer aan God se toekomstige koninkryk dink, want daardie koninkryk bepaal hoe ek nou lewe. Ek moet meer tyd spandeer om te dink oor wat God vir my van die toekoms vertel het. Deur na te dink oor die toekoms hoor ek wat God nou van my verwag – ek sien wat werklik nou saak maak.

 Geld vries my hande en voete; geld verhard my hart. As ons nie versigtig is nie, kan dit maklik iets word waarsonder ons nie kan klaarkom nie.

 Alles begin by God se genadegawes aan ons. Ons sien dit baie duidelik daarin dat Hy sy Seun na die wêreld gestuur het. Daarom moet ons ook aan ander gee – vrywillig, met blydskap, gretig en opofferend. Ek moet volgens my vermoë gee.




Mense moet my sien

We are not necessarily doubting that God will do the best for us; we are wondering how painful the best will turn out to be – C. S. Lewis

Mense moet my sien

Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie (Matteus 6:1)

Jesus sê hier vir die mense hoe jy moet optree as jy die tora wil onderhou. In 6:1 – 18 kry ons drie voorbeelde oor wat dit in die praktyk beteken. Die voorbeelde wat Jesus gebruik is liefdegawes, gebed en vas.  Matteus 6:1 is die basiese riglyn wat in al hierdie geval geld.

 

 Ons kan 6:1 onderverdeel in ‘n paar elemente:

  • Die Vader is direk by jou betrokke en daarom moet jy ook direk by Hom betrokke wees.
  • Die Vader weet wat jy doen – Hy sien dit.
  • Die Vader, en nie die mense nie, is die Regter oor jou optrede.
  • Wat jy doen moet deur die Vader, nie deur mense nie, goedgekeur word..

 Opsommend: Dade van geregtigheid moet ons voor God en nie voor mense doen nie. Die probleem is dat ons so dikwels die goedkeuring van mense soek Jesus gaan nou deur drie voorbeelde vir ons wys dat dit verkeerd is




Heiligheid en blydskap

All their life in this world and all their adventures in Narnia had only been the cover and the title page: now at last they were beginning Chapter One of the Great Story which no one on earth has read: which goes on for ever: in which every chapter is better than the one before – C. S. Lewis

Heiligheid en blydskap

Heiligheid en blydskap is teenoorgesteldes – altans dit is wat die Satan sê. Dit is of heiligheid of blydskap, maat jy kan beslis nie beide hê nie. En as mense die keuse het, kies hulle … blydskap. Is dit waar?

 Hierdie dag word gewy aan die Here. (In die OAV: Want hierdie dag is heilig aan onse Here.) Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm (Nehemia 8:11). Die volk het gehuil oor al hulle sondes toe hulle die wet aangehoor het. Nehemia kom en sê:  Julle het nou lank genoeg getreur. God sê toe deur Nehemia: Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm. Nehemia beklemtoon wat hy gesê het: Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat nie voorberei het nie. Hierdie dag word gewy aan ons Here – dit is ‘n heilige dag.

 

 Maar van watter soort blydskap praat ons hier? Dit is blydskap wat van God af kom en waarvan Hy die middelpunt is. God gee dit en God is dit. Nehemia voeg by: As julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm – Hy is ons krag.

  Heilige blydskap versterk ons; dit beskerm ons teen die bose; dit bemagtig ons om vir die goeie te veg. Staan heiligheid en blydskap teenoor mekaar? Beslis nie by God nie.

 




Ek gee my liefdegawes

There are far, far better things ahead than any we leave behind – C. S. Lewis

 Ek gee my liefdegawes

In Matteus 6:2 – 4 leer Jesus die mense hoe hulle hulle liefdegawes moet gee. Om armes te help, is ‘n konkrete vorm van geregtigheid. Ons  kry dit dwarsdeur die Ou Testament. Julle het die wingerde gestroop; wat van die hulpeloses geroof is, lê in julle huise. Wat besiel julle dat julle my volk vertrap en die hulpeloses verdruk? (Jesaja 3:14 – 15); Luister hierna, julle wat die armes vertrap, julle wat die mense in nood in die land wil uitroei … Julle verkoop arm mense vir geld, , behoeftiges oor ‘n paar sandale, julle verkoop selfs die koringkaf (Amos 8:4 – 6). Na die vernietiging van die tempel het die gee van liefdegawes die bring van offers vervang. Die gee van liefdegawes is gesien as ‘n teken van vroomheid.

 

Jesus kom nou en sê hoe ons ons liefdegawes moet gee:

  • Voorskrif: As jy byvoorbeeld armes help … Dit is iets wat ons moet doen.
  • Verbod: Moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat. Die sinagoges en straat is natuurlik plekke waar ek maklik raakgesien kan word. Hier val die fokus op die gewer en Jesus sê dat dit skynheilig is. Doen ek dit mislei ek myself en ander.
  • Bedoeling: Sodat mense met lof van julle kan praat. Om liefdegawes te gee is reg; om dit in die openbaar te gee, is ook soms geregverdig. Die vraag is: Hoekom gee jy? Is dit om die armes te help of om die aandag op jouself te vestig?
  • Beloning: Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg – reeds hier op aarde.
  • Alternatiewe voorskrif: Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly.  Maat hoe gee ek in die geheim. Jesus maak dit baie duidelik in Matteus 25:31 – 46 – as ek vir die armes gee, gee ek eintlik dit aan die Vader.
  • Jou Vader se beloning: Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. Ons hoef nie iets te doen sodat almal dit kan raaksien nie, want God sien dit wat verborge is.

 

Dit is duidelik dat Jesus se belangstelling in die motivering is: Hoekom gee ek? Die kern van hierdie beginsel is: Voor wie staan ek wanneer ek gee – voor God of voor mense?