Dissipelskap = roeping

 

A lion in God’s cause must be a lamb in his own. —Matthew Henry

Dissipelskap = roeping

Julle is die sout vir die aarde … Julle is die lig vir die wêreld (Matteus 5:13 – 16)

As Jesus Christus in sy bergrede sê dat ons sout en lig vir die wêreld is, beteken dit dat elke dissipel opgeroep is – ek het ‘n roeping vir God in hierdie wêreld. Sout en lig verwys na die impak wat elke dissipel van Jesus Christus op aarde moet hê.

 

Die kerk en elke individu moet missioneel wees, want deur missioneel te wees het ons ‘n impak op die wêreld. Wat egter belangrik is, is dat ons moet agterkom wat God in Jesus Christus se sending is en dan daarby aansluit. God se sending is duidelik:  om die skepping wat gebroke is as gevolg van sonde en ongehoorsaamheid te verlos en herstel. Dit het Hy deur die lewe, dood, opstanding en verheerliking van Jesus Christus gedoen.

Om ‘n impak in die wêreld te hê moet die grense tussen kerk en samelewing poreus wees. Ons is so geneig om skerp grense te trek om die kerk – dié mense is in, dié mense is uit. Wat egter moet gebeur is dat die plaaslike gemeente die plaaslike omgewing moet bedien – almal.

Die kerk se fundamentele taak is om God se teenwoordigheid in die wêreld te bemiddel. Ons taak is om God – sy goedheid, genade, heiligheid, geregtigheid – te verteenwoordig. Sout en lig word egter nie net beperk tot wat ons doen nie, maar sluit in wat ons is.

 




Kruisiging, dood en begrafnis van Jesus (19:16b-42)

Kruisiging, dood en begrafnis van Jesus (19:16b-42) – Francois Malan

19:18 Johannes sê net dat hulle Jesus gekruisig het, en trek ‘n sluier oor die aakligheid daarvan. Hy beklemtoon Jesus se plek in die middel, as die hooffiguur tussen die drie wat gekruisig is – ‘n straf vir opstandelinge, met Jesus as die ware bevryder, wat as Koning verhoog word om almal na Hom toe te trek, 12:32-33. Johannes sien dit moontlik as ‘n vervulling van Jesaja 53:12.

[Markus beskryf die twee medekruiselinge as lestes, vryheidsvegters, soos Barabbas in Jn 18:40, wie se plek Jesus ingeneem het. Die kruiseling is soms met spykers aan die dwarsbalk vasgeslaan en so opgehys teen die regop paal, Jn 20:20. Ook deur die voete is spykers geslaan.]

Die opskrif aan die kruis

19:19 Dit was die gebruik om ‘n kruiseling se oortreding op ‘n bordjie om sy nek te hang, wat hy deur die strate gedra het, en wat bo-aan sy kruis  vasgemaak is vir almal om te lees. Pilatus laat Jesus se naam en ‘oortreding’ aanbring: ‘Jesus die Nasarener, die koning van die Jode’ – Pilatus se laaste optrede om hom te wreek op die Jode en hulle kwaad te maak deur hulle te verneder en spottend aan die kruiseling te verbind, en homself te red voor die keiser as die man wat ‘n opstandeling kruisig. Die Evangelis sien daarin die verklaring deur die regter en verteenwoordiger van die ryk wat oor die wêreld regeer, dat Jesus aan die kruis die ware Koning is van sy eie mense (11:51-52), ook oor dié wat Hom verwerp (1:11). 

19:20 Baie Jode, wat vir die Paasfees na Jerusalem toe gekom het, lees die opskrif. Daarby is die opskrif geskryf in Hebreeus vir die Jode, in Latyn vir die Romeinse amptenare en soldate, en in Grieks die wêreldtaal van destyds, sodat die hele wêreld kan weet Jesus is die beloofde Koning van die Jode, voor wie almal op aarde moet buig (Ps. 96:9-13) . Vir Johannes is dit die toppunt van ironie: die twee persone wat hoofsaaklik verantwoordelik is vir Jesus se kruisiging word eintlik getuies van Jesus se dood. Kajafas sê dit is die verlossing van Israel en die nasies (11:49-50) en Pilatus sê dit is die kroning van die Koning van Israel en Here van almal.

19:21-22 Die verontwaardiging en woede van die hoëpriesters was onvermydelik. Hulle eis dat Pilatus die opskrif verander deur ‘n klein woordjie in te voeg: eimi ‘ek is’ die koning van die Jode – iets wat Jesus nooit gesê het of wou wees nie (6:15). Johannes stel die hoëpriesters van die Jode teenoor die koning van die Jode. Dit sou wys dat Jesus self sê Hy is die koning van die Jode, maar dat sy aanspraak ‘n leuen is. Maar Pilatus bly hierdie keer onwrikbaar, want hulle kan hom nie by die keiser gaan aankla dat hy nie opgetree het teen die opstandeling nie: ho gegrapsa, gegrapsa wat ek geskryf het, het ek geskryf.Hy weier om die waarheid in ‘n leuen te verander. Die koningskap van Jesus staan vas. Hy sterf as die Messias Koning wat deur sy volk verwerp word.

 

Prof Francois Malan

 




Wat beteken geseënd?

We allow in our minds what we would not allow in our actions, because other people cannot see our thoughts. —Jerry Bridges

Wat beteken geseënd?

Die bergrede begin met ‘n aantal seënuitsprake. Elkeen begin met: Geseënd is die … Die oorspronklike Griekse woord wat hier met geseënd vertaal word, is moeilik om te vertaal. In die OAV word van salig is die …gepraat. Die Interliniêre Bybel praat van gelukkig is dié. Op hierdie een woord staan hierdie hele gedeelte. Daarom is dit belangrik om dit reg te kry. Ek moet hierdie woord verstaan in die lig van die storie van die Bybel: wie is geseënd en wie nie? Kry ek hierdie storie  reg, kry ek grense en inhoud om die woord in konteks te verstaan. Nou kan ek die geskiedenis van die soeke na “’n goeie lewe” en geluk ondersoek. Daar is ten minste vyf temas aan die werk in hierdie woord:

 

  • Die een wat geseënd is, word deur die God van Israel geseën. Die hele storie van die Bybel gaan oor God wat oor sy verkose mense waak – kom hulle hulle verbondsverpligtings na?
  • Daar is ‘n eindtyd fokus in die woord geseënd. Dit verwys, veral in die Nuwe Testament, na die toekomstige seën van God wat alles gaan regstel. Jesus se fokus in hierdie seënuitsprake is ook op die toekoms. Let op: Hulle sal … Jesus voorsien hier iets wat nog nie vantevore gebeur het nie: die bose van die huidige sal ongedaan gemaak word en die regverdiges sal beloon word. Hierdie seëninge, al is hulle fokus op die toekoms, begin nou reeds.
  • Hierdie uitsprake is voorwaardelik. Diegene wat geseën gaan word het sekere eienskappe; in diegene wat nie geseën gaan word nie is hierdie eienskappe afwesig. Hierdie is egter nie ‘n lys waarmee ek my vooruitgang kan meet nie. Hierdie seëninge is gerig aan groepe wat andersins deur die gemeenskap verwerp word. Ek moet dus nie uitgaan en arm word of seker maak dat ek vervolg word  om geseën te word nie. Jesus beskryf hier ‘n visie sodat sy gehoor sal besef dat dinge nie is wat hulle dink dit is nie. Die luisteraar moet sy siening van wie in die koninkryk is, uitbrei en aanpas.
  • Die seënuitsprake hou verband met verhoudings. Die geseëndes se verhouding met God is reg, maar ook hulle verhouding met hulleself en ander.
  • Hierdie seënuitsprake keer dinge om. Lukas (6:20 – 26) noem nie net dié wat geseënd is nie, maar ook diegene wat vervloek is. Wat Jesus seën, druis teen ons kultuur in.

Die geseënde persoon is iemand wat as gevolg van God se genade, God se guns geniet maak nie saak wat daardie persoon se status is nie. Jesus is die een wat sê wie geseënd is en wie is nie.




Begin die bergrede aan die einde lees

Every matter, if it is to be done well, calls for the attention of the whole person ~ Martin Luther

Begin die bergrede aan die einde lees

Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer en gesê … Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie (Matteus 5:1 – 2 en 7:28 – 29).

 Ek moet my lees van die bergrede by die einde begin – deur na die einde van die rede te luister en dan die einde met die begin te verbind. Maar ek moet ook luister hoe Jesus die konteks  van die bergrede stel.

 

Toe die bergrede geskryf is, was daar geen hoofstukindelings nie. Om oorgange aan te dui het skrywers ‘n verskeidenheid metodes gebruik. Een daarvan was die gebruik van opsommings – dit sluit ‘n afdeling af en ‘n nuwe begin. Jesus se opsomming in 4:23 – 25 word feitlik woordeliks in 9:35 en 10:1 herhaal: 23Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. 24En berigte oor Hom het deur die hele provinsie Sirië versprei. Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak. 25Groot menigtes uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaan af het Hom gevolg. Dit is die einde van Hoofstuk 4 en in Hoofstuk 5 begin die bergrede.

Matteus 4:23 – 25  is die raamwerk wat Matteus gebruik om my van Jesus se bediening – onderrig, prediking en genesing – te vertel. Dit is ‘n skets van Jesus  se sending en bediening: Hy preek en onderrig in Matteus 5 – 7 en Hy genees in Matteus 8 – 9. Die bergrede is ‘n omvattende skets van die onderrig en prediking van Jesus – sy boodskap. Dit is ‘n aanbieding van Jesus se morele visie – sy etiek. Matteus sê vir sy gehoor: “ Hier is Jesus; hier is sy boodskap (5 – 7) en hier is sy optrede (8 – 9). Besluit nou.”

Die einde van die bergrede gee vir my ‘n leidraad oor hoe om die bergrede te lees. Jesus eindig sy rede deur mense op te roep om te doen wat Hy geleer het. Diegene wat nie doen wat Hy leer nie, word beskou as dwaas. Daarom beskryf Augustinus die bergrede as  “die volmaakte standaard van die Christelike lewe.”  Daar is een vraag wat deur die bergrede weerklink:

Sal jy my volg?

Die bergrede dwing my om ‘n besluit oor Jesus te neem. So Jesus confronts us with himself, sets before us the radical choice between obedience and disobedience, and calls us to an unconditional commitment of mind, will and life to his teaching (John Stott eindig so sy kommentaar op die bergrede).

As ek die bergrede wil verstaan, moet ek twee beginsels volg:

  • Begin lees aan die einde en bring dit in verband met die begin van die bergrede.
  • Dit sal my help om die bergrede te verstaan as ek die konteks waarin dit geplaas is, verstaan. Die konteks vir die bergrede kry ek in Matteus 4:23 – 25.