Die koninkryk van God in die Nuwe Testament (4)

 —J.I. Packer

 

Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Die koninkryk vandag (3)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

Wat moet God se mense doen in die koninkryk om die aansprake van Christus oral in die skepping te bevorder?

Ondergeskiktheid en die samelewing

As ons in gemeenskappe saamleef, vereis dit samewerking en koördinering.

Bydraes van individue  en instelling wat goed is vir die samelewing moet na die beste van ons vermoë gerangskik word.  ‘n Koninkryksbenadering oortref politieke ideologieë. Natuurlik is instellings ook deur God gemaak en kry hulle gesag by God en hulle is daar tot voordeel van die samelewing

 

Kom ons kyk na weeskinders. Die Bybel maak dit baie duidelik dat die versorging van weeskinders die taak van die gelowiges is: Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan (Jakobus 1:27). Nêrens sê die Bybel dat die versorging van weeskinders die staat se verantwoordelikheid is nie. As dit dan die kerk se verantwoordelikheid is om weeskinders te versorg, moet ons onsself afvra hoekom dit nie gebeur nie. Die staat kan in hulle materiële behoeftes voorsien, maar kan nie toesien dat hierdie kinders ook geestelik versorg word nie – dit is nie hulle verantwoordelikheid nie.

 

Vraag: Watter instellings het God daargestel om aan die behoeftes van die samelewing op die beste manier te voldoen en wat kan gedoen word om te sien dat hulle floreer deur hulle respektiewelike rolle te vervul in die lig van die mens se waardigheid?

 

Wat verdien mense?

Wie of wat bepaal wat die minderbevoorregtes werklik verdien? Wat mense verdien hang af van hoe ons omgee vir diegene wat swaar kry; wat ons van hulle as mense dink. As ons mense liefhet en die beste vir hulle soek, is wat hierdie mense nodig het geleenthede om hulle roeping as mense uit te leef – die vryheid om dit te doen waarvoor mense gemaak is. God se genade, soos ons dit in sy voorsiening sien, is nou uiters belangrik.

 

 

As ons die raamwerk wat gebeur nadat jy iets ontvang het gebruik, dan beteken verdien wat ons doen met wat ons materieel ontvang het. Dit gaan nie meer of daar iets intrinsiek in die mens is wat beteken hy sekere dinge verdien nie. Kyk na die gelykenis van die muntstukke (Matteus 25:14 – 30). Ons lees hierdie gelykenis soos volg: die twee slawe wat gewoeker het met wat hulle gekry het, verdien dit. Die een wat die muntstuk begrawe het, het verdien dat sy muntstuk weggeneem word – ons moet ons geleenthede gebruik anders verloor ons hulle.

 

Wat mense verdien, het meer met geleenthede en vryhede te doen. Wat jy betaal word, het met jou werk te doen. In die koninkryk word diegene wat met sekere voordele gebore word nie meer as ander geëer nie. Die vraag is of ons aan genoeg mense geleenthede gee of te doen wat hulle kan om te verdien wat hulle gegee word.




Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Die koninkryk vandag (3)

—C.H. Spurgeon

Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Die koninkryk vandag (3)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

Wat moet God se mense doen in die koninkryk om die aansprake van Christus oral in die skepping te bevorder?

Menswaardigheid

In die koninkryk van God word dit van my vereis om, as ek my naaste liefhet, hom te sien as gemaak na die beeld van God.. Maar wat beteken dit om na die beeld van God gemaak te wees?

 

  • Mense is vry om besluite te neem in samewerking met en in harmonie met God.
  • Geestelik is ons gemaak vir ‘n lewenslange proses van verandering om God beter te leer ken en lief te hê – en ons naaste.
  • Elke mens is toegerus met ‘n koninklike waardigheid. Die mens beoefen sy status deur oor die skepping te heers en dit te ontwikkel.
  • Dit sluit in praktiese rede en praktiese kreatiwiteit. Dit stel mense in staat om te ontwikkel en sy gawes te gebruik.

 

Om enige mense te behandel asof hy nie hierdie eienskappe het nie, is onregverdig en ondermyn menswaardigheid. Liefde in die koninkryk van God weier om enige mens as minder as die beeld van God te sien. Menswaardigheid is die basis vir ware gemeenskap.

 

Eensgesindheid en Gemeenskap

As die koninkryk van God liefde vir God en die naaste vereis en as elke mens na die beeld van God gemaak is, dan moet mense, per definisie, in eensgesindheid saamleef. Ons is aan mekaar verbind en van mekaar afhanklik. In die koninkryk is daar nie “ons” en “hulle” nie – die verskille tussen mense wat maak dat ek sekere mense sien as anders as ek, val weg. Daarom moet ons vir mekaar sorg. Ongelukkig het die ongelykhede as gevolg van korrupsie, uitbuiting en onderdrukking ‘n negatiewe uitwerking.

 

Hierdie eensgesindheid veroorsaak dat globale probleme (soos die handel in mense) almal se probleem is. Eensgesindheid vereis toewyding vir die goed van almal. As ek mense reg liefhet vir die onthalwe van die koninkryk is ek bereid om ander te dien in plaas daarvan dat ek ander tot my voordeel gebruik. Ek is dankbaar vir die bydrae van almal.

 

Om God en ander lief te hê en die waardigheid van alle mense te erken, beteken dat ek eensgesind met die armes en onderdruktes moet wees. Ek kan nie die behoeftes van die armes ignoreer nie. Ek moet myself gedurig afvra hoe ek diegene wat werklik benadeel is, moet liefhê en help.

 

 




Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Die koninkryk vandag (1)

 —Anthony Thiselton

 Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Die koninkryk vandag (1)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012. Is die koninkryk nog vir ons van belang vandag?

Mense begin meer en meer dink oor die verband tussen ortodoksie (wat Christene glo) en ortopraksie (hoe Christene lewe). Ongelukkig is daar dikwels spanning tussen die twee. Sekere geloofsgemeenskappe beklemtoon die een meer as die ander – en sê dan die ander groep is nie ware Christene nie.

 

Die Bybel is baie duidelik – ons moet mense van geloof en die praktyk wees. Paulus bemoedig vir Timoteus: Let goed op jou lewe en jou leer (1 Timoteus 4:16). Jakobus sê: Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie (Jakobus 2:14). Hier is gelyktydige oproepe  om te glo en te doen. Ongelukkig is dit nie moontlik om altyd te weet wat die beste is nie.

Kom ons kyk na ‘n paar beginsels wat ons in die regte rigting kan lei in ‘n wêreld gekompliseer deur die teenwoordigheid van sonde, afgode, pyn, onderdrukking, globalisering en ‘n hele aantal ander sake. Die basiese vraag wat ons moet antwoord is: Wat moet God se mense doen in die koninkryk om die aansprake van Christus oral in die skepping te bevorder?

Liefde

Die primêre kenmerk van die koninkryk van God is liefde. Die heerskappy van die Drie-eenheid vereis ‘n lewe van liefde. Die persoon en werk van Jesus Christus maak ware liefde moontlik. Hy gee ook vir ons die model oor hoe liefde in die praktyk lyk. Om sy volgelinge te help om dit verstaan, som Hy dit op – die grootste gebod is liefde vir God en jou naaste. Burgers van God se koninkryk is mense wat liefde beoefen. Maar om God lief te hê, is makliker gesê as gedoen. Liefde vir God beteken dat ek onwrikbaar toegewy is om die dinge wat God liefhet ook lief te hê.

 

As ek my naaste reg liefhet, beteken dit dat ek dit soek wat vir hom voordelig is. Om my naaste soos myself lief te hê, beteken dat ek my beste belange najaag. My beste belange moet egter ooreenstem met God se beste belange vir die wêreld. My beste belange mag nooit die waardigheid van ander ondermyn nie.

Die liefde waarvan ons praat, is ‘n gehoorsame liefde wat aan God se gesag  onderdanig is; ‘n liefde wat deur sy onderrig gerig word; ‘n liefde wat vasbeslote is om sy wil te gehoorsaam. Jesus stel dit baie duidelik: As julle my liefhet, sal julle my opdragte uitvoer (Johannes 14:15). Dit is ‘n liefde gekenmerk deur dankbaarheid omdat God ons eerste liefgehad het.

As Jesus praat van die verband tussen liefde en gehoorsaamheid herinner Hy sy dissipels dat die Heilige Gees hulle sal bystaan, vertroos en raadgee: Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak gee om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid (Johannes 14:16 – 17). Hoe ek in die koninkryk van God lewe is totaal afhanklik van die Vader, Seun en Heilige Gees. Dit is die waarborg dat die doelwitte van die koninkryk bereik sal word.

Liefde is die fondament, oriëntering en toepassing van geloof in die praktyk. Liefde is die eerste beginsel in die koninkryk van God en dit bepaal al die ander beginsels. Ongelukkig vertel liefde alleen nie altyd vir ons wat die beste praktyk onder alle omstandighede is nie. Daarvoor het ons die ander beginsels nodig.

 




Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Jesus se gelykenisse (2)

Every saint has a past and every sinner a future. -Oscar Wilde, skrywer (1854-1900)

Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Jesus se gelykenisse (2)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

 

Ons gaan voort om na Jesus se gelykenisse wat met die koninkryk te doen het, te kyk

  • Die gelykenis van die amptenaar wat nie vergewe het nie (18:23 – 35)

Petrus probeer ‘n perk plaas om hoeveel keer jy diegene wat teenoor jou oortree het, moet vergewe. Hier plaas Jesus ‘n koninkryksbeginsel op die tafel. ‘n Amptenaar wat baie geskuld het, word deur die koning vergewe. Onmiddellik daarna gryp hy een van sy medeamptenare  wat hom ‘n paar rand geskuld het, wurg hom en eis dat hy moet betaal.

Die eindresultaat is dat hierdie amptenaar wat nie sy medeamptenaar jammer gekry het nie, gemartel word tot hy al sy skuld betaal het. Jesus se toepassing moes vir Petrus geskud het: So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie. Die beginsel van die koninkryk is duidelik: ons moet ander vergewe soos God diegene wat toegang tot sy koninkryk het, vergewe het.

 

  • Die gelykenis van die arbeiders in die wingerd (20:1 – 16)

Die eienaar van ‘n wingerd gaan op verskillende tye uit om arbeiders vir sy wingerd te huur. Hy betaal almal ‘n volle dagloon – selfs diegene wat heelwat later gehuur is. Jesus sê dit is soos dit met die koninkryk van die hemel gaan. Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is (20:15). Die les: Goed doen met diegene wat aan Hom behoort wat Hy wil. God bepaal die vergoeding – nie verwagtings of gebruike van die mens nie. So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste (20:16).

 

  • Die gelykenis van die twee seuns (21:28 – 32)

Die priesterhoofde en familiehoofde bevraagteken Jesus se gesag. Jesus vra hulle ‘n vraag oor die doop van Johannes die Doper wat hulle nie antwoord nie. Intussen het die wêreld se “sondaars” hulle bekeer. Jesus se antwoord aan sy ondervraers was snydend: Toe sê Jesus vir hulle: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in. Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie (21:31 – 32).

 

Om die koninkryk in te gaan, vra ‘n gewilligheid om weer te dink; om bevraagteken te word, bekering – om selfs weergebore te word. Dit vra geloof.

 Die gelykenis van die boere en wingerd (21:33 – 45)

Hierdie gelykenis vestig die aandag op die Joodse hiërargie wat Jesus teengestaan het: Toe die priesterhoofde en Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy op hulle sinspeel. Die eienaar plant ‘n wingerd; hy gaan op reis en verhuur die wingerd aan boere. As hy mense stuur om die huurgeld in te vorder, mishandel die boere hulle – hulle maak selfs die eienaar se seun dood. Jesus vra vir hulle: As die eienaar van die wingerd terugkom, wat sal hy met daardie boere doen? Hulle antwoord Hom dat die eienaar die boere ‘n vreeslike dood sal laat sterwe en die wingerd aan ander boere sal gee. Hiermee veroordeel sy luisteraars hulleself. Jesus reageer: Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ‘n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer.

 

In terme van die koninkryk kan ons uit hierdie gelykenis ‘n paar dinge aflei: Die Seun staan sentraal as ons die koninkryk wil ingaan; God se koninkrykseën berus op die vrugte wat gedra word; God verskuif die koninkryk van diegene wat dit lank geniet het na ander mense wat berei is om vrugte te dra.