Vergifnis noodsaaklik – Hermie van Zyl

In hierdie aanbieding sal jy leer:

  • Wat die verhouding tussen vergifnis en die ander groot sake van die heilsweg is;
  • Dat vergifnis altyd in twee rigtings werk: God teenoor mense, en mense teenoor mekaar;
  • Hoekom vergifnis noodsaaklik is
  1. Die verhouding tussen vergifnis en die ander groot sake van die heilsweg

Vergifnis veronderstel skuld, veral teenoor God. In hierdie geval is dit ‘n onbetaalbare skuld. Op geen manier kan ons self ons skuld minder maak of daarvoor betaal nie. Daar is net een manier waarop ons in die reine kan kom by God, en dit is wanneer Hy van sy kant af ons skuld vergewe en so die verhouding herstel, dit wil sê, wanneer Hy Homself versoen met ons. En dis presies wat hy in Christus gedoen het, volgens 2 Korintiërs 5:18.

Met hierdie paar woorde het daar ten minste twee sake na vore gekom wat verband hou met mekaar, naamlik vergifnis en versoening. Eintlik is hulle vervleg, maar hulle kan tog onderskei word. Hulle vorm deel van die sogenaamde heilsweg, die manier waarop God aan ons sy heil of genesing skenk. Maar daar is ook ander sake wat deel uitmaak van die heilsweg, soos uitverkiesing, wedergeboorte, regverdigmaking, redding, aanneming tot kinders, geloof, bekering, berou, belydenis van sonde, om Jesus aan te neem, heiligmaking, om nie meer te noem nie. Voordat spesifiek oor vergifnis gehandel word, sal dit goed wees om vir ‘n oomblik aandag te gee aan hoe hierdie verskillende aspekte van die heilsweg met mekaar verband hou.

Die heilsorde

Vroeër is daar gepraat van die heilsorde. Daarmee is bedoel dat die sake wat hierbo genoem word, in ‘n sekere volgorde in die gelowige se lewe gebeur, amper soos stasies wat mekaar een na die ander opvolg tydens ‘n lang treinrit. En daar is nogal lang debatte gevoer oor wat presies hierdie volgorde is. So is daar gesê dat uitverkiesing heel eerste kom, want God moet ons eers uitverkies voordat daar van enige heil sprake kan wees. En dan volg die wedergeboorte, omdat mens nie tot belydenis van sonde of geloof kan kom as God jou nie eers van binne nuut gemaak het nie. En daarop volg sondevergifnis en regverdigmaking, waardeur God jou tot sy kind aanneem. Eers dan kan jy tot geloof kom, waarop dan logies volg dat jy jou bekeer van ‘n sondige lewe en tot God keer. En hierop volg dan ‘n lewe van heiligmaking totdat ons by Christus se wederkoms tot ‘n staat van verheerliking oorgaan.

Probleem met heilsorde

Ek dink jy voel aan dat genoemde volgorde ietwat geforseerd aandoen. Uitverkiesing en wedergeboorte as eerstes maak nogal sin, maar wie sê dat regverdigmaking voor geloof kom? Is dit nie dalk andersom nie? En so kan ons voortkibbel. Die probleem met so ‘n heilsorde is drieërlei: Eerstens die voor die hand liggende – die volgorde van die opeenvolgende “stasies” is nie altyd so logies nie. Mens kan verskil oor wat eerste kom en wat daarna op mekaar volg. Tweedens, indien dit as opeenvolgende stasies verstaan word, beteken dit dat as mens by ‘n stasie verby is, dit agtergelaat word en dan later vergete raak en nie meer as so belangrik beskou word nie. Jy het dan “gepromoveer”. En dit is beslis nie die bedoeling van die heilsorde nie. Elkeen van die sake is mens se hele lewe lank belangrik; niks word ooit agtergelaat nie. Derdens, so ‘n orde is nie Bybels begrond nie, want nie twee Bybelskrywers noem alle “stasies” van die heilsorde nie, of noem dit in dieselfde volgorde nie. ‘n Mens kry eerder die gevoel dat sekere skrywers ‘n voorkeur het vir sekere terme, terwyl ander weer ander terme verkies, sonder dat hulle die terme met mekaar in verband bring of in ‘n bepaalde orde plaas. Dit wil dus lyk dat ons die terme nie as opeenvolgende stasies moet sien nie maar eerder soos die verskillende vlakke van ‘n diamant wat telkens ‘n bepaalde faset van die heil belig, afhangende van watter aspek ter sprake is, en ongeag enige volgorde. So is Paulus baie lief daarvoor om die heil in terme van regverdigmaking te beskryf. Hy lê klem daarop dat ons almal skuldig staan voor God en dat ons slegs regverdig verklaar of vrygespreek kan word wanneer ons glo dat sy Seun in ons plek die straf op ons sonde gedra het. Dan vergewe God ons sonde op grond van Christus se kruisdood, en Hy stel ons vry in ‘n nuwe lewe. Johannes praat weer meer van geloof, wedergeboorte en vergifnis, maar glad nie van regverdigmaking nie. Lukas weer is lief vir die begrip redding, maar praat nooit van om “in Christus” te wees nie, laasgenoemde wat so dikwels by Paulus voorkom. En so kan ons die voorbeelde van verskille vermenigvuldig.

Eerder heilsweg

Wat moet ons hieruit aflei? Net dit: Wanneer Bybelskrywers sekere terme vir God se heil gebruik, beskryf hulle daarmee telkens die hele heil, nie net ‘n bepaalde “stasie” in die heilsorde nie. Die hele heil, die volle spektrum van God se heilshandelinge met die mens is telkens aan die orde, en elke term belig ‘n faset van of bied ‘n bepaalde perspektief op hierdie hele heil. Dit gaan dus nie oor “stasies” wat mekaar die een na die ander opvolg en dan agtergelaat word nie, of dat ons promoveer van een stasie na die volgende nie. Daarom word deesdae eerder van die heilsweg gepraat as die heilsorde. Toegegee, die term heilsweg mag steeds die gedagte van ‘n liniêre ontwikkeling inhou, maar ten minste is die gedagte van ‘n bepaalde volgorde minder in fokus. Met heilsweg word eerder bedoel die manier waarop ons deel kry aan die heil wat God skenk. Ons kry as gelowiges dadelik deel aan die hele heil, en elkeen van die heilsterme belig slegs ‘n bepaalde faset van daardie heil, net soos wat ‘n mens ‘n diamant wat in verskillende vlakke geslyp is, om en om na die lig kan draai en telkens verwonderd staan oor die skoonheid daarvan. Verskillende vlakke, ja, maar telkens dieselfde en die hele diamant, sonder dat die een vlak belangriker is as die ander of in ‘n bepaalde volgorde staan tot die ander.

Beide God en mens betrokke in heilsweg

Wat ons wel kan sê is dat die terme wat gebruik word om die heilsweg te beskryf, verteenwoordigend is van wat beide God en mens se “aandeel” aan die heil is. So kan ons sê dat uitverkiesing, wedergeboorte, redding, regverdigmaking en vergifnis veral die klem laat val op wat God doen, terwyl om te glo, berou te hê, jou sonde te bely, Jesus aan te neem, tot bekering te kom weer meer die menslike aktiwiteit beklemtoon. En sommige terme kan beide God en mens se werksaamheid belig, soos vergifnis en heiligmaking. So gesien is die heilsweg te verstaan as Goddelike inisiatief én menslike verantwoordelikheid, sonder om die twee teen mekaar af te speel of te sê waar die een eindig en die ander begin. Dit gaan om die hele en volledige heil waar beide God en mens verweef teenwoordig is. En dit is presies wat die verbond wat God met die mens aangaan, wil sê: Ek sal vir jou ‘n God wees, en jy sal vir my ‘n kind wees. God én mens is betrokke by die inskakeling in God se heil. Dis één ervaring met verskillende fasette en perspektiewe. Elkeen is in die mens se hele lewe werkend teenwoordig; nie een word gepasseer nie. Trouens, die heilsweg is niks anders nie as ‘n beskrywing van hoe ‘n mens se totale lewenspad met God verloop, en hoe God én mens daarin verweef en aktief teenwoordig is. Dis soos Filippense 2:12-13 sê: “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”

Vergifnis beide deel van die heilsweg en die hele heilsweg

Wat sê bostaande verduideliking in verband met vergifnis? In hierdie stadium is dit net belangrik om te weet dat vergifnis deel is van die heilsweg, dat dit een faset van die totale heil belig, en dat die ander aspekte voortdurend betrokke is. Vergifnis word dus nie verabsoluteer, dit is, losgemaak van die ander aspekte nie. Maar terselfdertyd moet ons sê dat wanneer vergifnis ter sprake is, dit die hele heil beskryf; deur vergifnis verkry ons nie net toegang tot ‘n deel van die heil nie, maar tot die totale heil, soos verteenwoordig deur die perspektief van vergifnis. Die son se lig laat die hele diamant skitter, maar soos dit weerkaats word vanaf hierdie vlak.

  1. Vergifnis werk altyd in twee rigtings: God teenoor mense, en mense teenoor mekaar

“Wie Christelik wil lewe, moes beide die vrye vergifnis van God ervaar het én bereid wees om ander te vergewe. Daar is geen plek in die koninkryk van God vir mense wat nooit vergifnis aanvaar het nie.” (Vry vertaal)

Donald Guthrie, Theology of the NT

In die volgende aanbieding (Vergifnis 2) sal ons uitvoeriger stilstaan by die innige band tussen God se vergifnis van mense, en mense se vergifnis van mekaar. Maar nou is dit belangrik om reeds te noem dat hierdie twee aspekte van vergifnis – die vertikale en die horisontale – onskeibaar is. As ons nie bereid is om mekaar te vergewe nie, hang daar ‘n groot vraagteken oor ons begrip en belewing van wat dit beteken dat God ons skuld en sonde vergewe het.

Van die innige verweefdheid tussen hierdie twee is die Skrif vol. Ons kan maar net die Ons Vader-gebed noem. Beide Lukas en Matteus se weergawes beklemtoon dit. Lukas 11:4 sê: “En vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree.” En Matteus 6:12-14: “… en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree … As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

Maar in latere aanbiedings meer oor die besonderhede hiervan.

  1. Hoekom is vergifnis noodsaaklik?

In die twee afdelings hierbo het die noodsaak van vergifnis reeds duidelik na vore getree. In afdeling 1 is gestel dat vergifnis een van die maniere is waarop God sy heil aan ons deurgee. Ons het nodig dat God ons sondeskuld teenoor Hom vergewe, anders het ons geen deel aan sy heil nie. Vergifnis van sonde is die invalspoort na ons hart, so word ons lewe nuut gemaak en raak ons versoen met God. En in afdeling 2 het die ewe belangrike insig na vore getree dat hierdie sondevergifnis deurgegee moet word na ander, anders loop ons gevaar om God se vergifnis te verbeur.

Kom ons voer die “horisontale” aspek van vergifnis vir ‘n oomblik verder om die noodsaak van vergifnis te onderstreep. Afgesien van Lukas 11 en Matteus 6 (kyk afdeling 2), waar die eis om mekaar te vergewe reeds uitgelig is, is daar ook ander gedeeltes wat die ingesteldheid van vergifnis bevat:

  • Matteus 5:38-42: Draai die ander wang / loop die tweede myl / gee ook die bokleed
  • Matteus 5:43-48: Julle moet julle vyande liefhê; wees volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is
  • Romeine 12:20: Oorlaai jou vyand met goedheid; laai so vurige kole op sy hoof

Waarom hierdie eis tot vergifnis?

  • Ter wille van die ander

Vergifnis is die enigste manier waarop verhoudings met die naaste moontlik is. Ons moet ‘n houding ontwikkel van nie hard wees op mekaar nie, want ons sukkel almal met verhoudings. Vergifnis is ‘n manier om ruimte maak vir die ander sodat dié sy of haar vyandskap teenoor my kan aflê.

Die dinge waaroor ek die ander moet vergewe, gaan meestal ook oor klein dingetjies (vgl 1 Korintiërs 6:2 se “geringe sake” waaroor mense mekaar hof toe sleep). In sulke gevalle is dit dikwels beter om onreg te ly as om jou reg af te dwing (1 Korintiërs 6:7). Daar is immers ‘n groter geregtigheid ter sprake as jou eie reg, naamlik dié van die liefde wat die lewe moontlik maak. Hierdie soort ingesteldheid en optrede is die sagte bindweefsel wat die samelewing bymekaar hou.

  • Ter wille van jouself

Vergifnis bring genesing, anders verteer die haat jou later. Efesiërs 4:31-32 // Kolossense 3:8,13-14 sê: “Lê die woede af, vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.” Ook in die verhouding man en vrou is vergifnis noodsaaklik: sodat ons gebede nie verhinder word nie (1 Petrus 3:7). En moenie kwaad met kwaad vergeld nie, sê 1 Petrus 3:9. ‘n Mens kan nie voortdurend met ‘n wrok rondloop nie, jy vergiftig net jouself. Die spreekwoord sê nie verniet nie: “Hy wat ‘n ander jaag, staan nie stil nie”.

Die noodsaak van vergifnis beteken nie dat dit maklik is nie. Want jou eie ego en eer is altyd in die pad. Verder is die verwonding opgedoen as gevolg van ander se optrede soms diep. Vergifnis is daarom nie vanselfsprekend of goedkoop nie, dit gebeur nie vanself nie. In hierdie verband berig Simon Robinson in TIME, 20/3/2006, p25, oor Rev Julie Nicholson, predikant in Bristol, Engeland, wat bedank het omdat sy nie die persoon kon vergewe wat die oorsaak was van haar dogter, Jenny, se dood nie. Jenny het die vorige jaar in Londen aan die hand van ‘n selfmoordbomaanvaller gesterf. Robinson skryf dan soos volg (vry vertaal):

Vergifnis is uiteraard wonderlik, bevrydend en verlossend. Maar dit het vandag amper die in-ding geword om te doen. Ons het altyd van die kansel af gehoor van die krag van vergifnis, maar nou word dit net ‘n ander woord vir “aanbeweeg” (moving on). Vergifnis is die eindelose refrein van talk shows en selfhelp-boeke. Sielkundiges glo dat vergifnis diep trauma kan genees, maar die konsep het so gemeenplasig geword dat almal dit in die openbaar eis, van Bill Clinton (vir huweliksontrou) tot bekende persoonlikhede (vir ‘n verskeidenheid van verslawings) tot derde wêreld-lande (vir skuld). Ons het so gewoond geraak aan mense wat vergewe dat ons teleurgesteld is wanneer hulle dit nie kan doen nie. Terwyl: Vergifnis is nie maklik nie …. dis nie iets wat soos ‘n kraan oopgedraai kan word nie … dit is in werklikheid ‘n goddelike gawe … dit moet gebalanseer word met ‘n gevoel van geregtigheid.

Dus, vergifnis – noodsaaklik, ja, maar dit bly ‘n stuk genade; dit kom nie vanself nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Ek cope nie meer nie: Glo in jouself – Jan van der Watt

Moenie die hele tyd ander blameer nie

God het jou nie ’n keuse gegee of jy moet lewe of nie. Jy is nou maar eenmaal hier. Jou keuse is egter wat jy met hierdie lewe wil maak en hoe jy dit wil leef. Elkeen van ons leef in ’n wêreld waaraan hy self gebou het. Ons wil dikwels nie aanvaar dat die mislukkings en ons ongelukkigheid baie met onsself en ons eie houding te doen het nie. Min van ons blameer onsself voordat ons alle ander moontlikhede uitgeput het. Die persoon wat die hele tyd ander blameer vir sy probleme het nog nie eers sy opvoeding begin nie; wie bereid is om homself te blameer begin om te leer; wie egter niemand blameer nie, maar eerder na ’n oplossing soek, het geleer.

Kyk op ’n gebalanseerde wyse na jouself en ander

’n Mens ontwikkel nie swak oë as jy na die positiewe sy van die lewe kyk nie. Dit is ook nie verkeerd om na jou eie positiewe punte te kyk, in jouself te glo en daardie punte te ontwikkel nie. Dit is bloot om die talente wat die Here jou gegee het te erken en daarmee te woeker. Die sielkundige, Abraham Mas-low, onderskei tussen vyf vlakke van menslike behoeftes. Dit kan so voorgestel word:

Fisieke behoeftes (kos, water, slaap, suurstof)

Veiligheids-behoeftes (blyplek, stabiele omgewing)

Behoefte aan liefde en om te behoort (ondersteuning en aanvaarding van ander)

Selfbeeld-behoeftes (selfrespek, gevoel dat jy in beheer is)

Behoefte om jouself te aktualiseer (vervulling van jou potensiaal en drome)

Volgens Maslow vloei hierdie dinge inmekaar. Sonder kos kan jy nie jou potensiaal vervul nie, maar al eet jy genoeg en het jy nie drome nie of jy voel dat jy nie in beheer is van jou lewe nie, is jy ook maar in die moeilikheid. Dit help nie jy presteer mooi, maar jy voel jou omgewing is onveilig nie. Om emosioneel stabiel te voel moet al vyf hierdie behoeftes in balans wees.

Dit kan gebeur dat ’n ma vir ’n kind genoeg kos gee, maar sy terroriseer hom op geestelike vlak. Die kind moet by­voor­beeld die hele tyd hoor hy is nie goed genoeg nie, of moet be­ter presteer. Wat die ma nie besef nie, is dat sy besig is om haar kind emosioneel af te breek deur hom nie ook emosio­neel goed te versorg nie. Die kind sal dan nooit regtig gelukkig wees nie en die hele tyd voel daar kom iets kort. Om dan daar­­die gevoel dat hy nie cope nie te probeer wegkry, probeer die kind dikwels allerhande dinge waarvan die ouers baie keer nie hou nie, soos om stout of rebels te wees, te begin rook of selfs dwelms te gebruik. Onthou dat om te voel jy máák dit (ook as kind) en jy word aanvaar, is volgens Maslow ’n basiese behoefte soos kos. Net soos die kind op die yskas toesak as hy hon­ger is, net so gaan soek die kind na dinge wat hy dink hom beter sal laat voel as hy voel dat hy nie cope of aan ver­wagtinge voldoen nie.

En dit gebeur nie net met kinders nie. Grootmense is ook geneig om mekaar af te kraak, veral in die huwelik. Hulle laat mekaar maklik verstaan dat hulle eintlik nie moes trou nie, want die ander een is nie goed genoeg nie. Hy maak haar nie gelukkig nie en sy is ’n swak huisvrou … en so bombardeer hulle mekaar. Sy sit sy ontbyt elke oggend dikmond neer en hy baklei die hele tyd. Om nie geestelik na mekaar te kyk nie is so goed as om mekaar se kos die hele tyd van die tafel af weg te vat. Jy honger daardie persoon uit tot op ’n punt waar die emosionele las te swaar raak.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Ek cope nie meer nie: Laat jou teenwoordigheid tel – Jan van der Watt

Wees jouself

Die Engelse woord “assertiveness” beteken dat ’n mens weet wat jy wil hê, jou gevoelens kan uitdruk en kan vra wat jy wil hê, en word in Afrikaans vertaal met “selfgeldend”. Jy kan jou­self wees soos jy dit graag wil wees. Dit is om te vra vir wat jy die reg het om te vra. Dit is om te keer dat mense jou reg op die lewe en om te lewe van jou af wegvat. Dit is om te keer dat mense jou reg om jouself te wees vir hulle probeer toe-eien deur jou te manipuleer en vir jou te sê hoe jy jou lewe moet lei.

Moet dus nie skaam wees om jou eie gevoelens of opinie te kommunikeer nie. Doen dit op ’n mooi manier, want jy het die reg daartoe. Jy help nie jouself of ander as jy maar net die hele tyd probeer om na ander se pype te dans nie.

Om selfgeldend te wees moet dus nie verwar word met iemand wat sommer hardekoejawel of moeilik is nie. Dit is nie om jou wil op ander te probeer afdwing sodat almal volgens jou pype moet dans nie. Dit het ook niks met aggressie, bakleierigheid of dikbekgeid te doen nie. Nee, om jouself te laat geld is om te sorg dat jy jou eie lewe mag lei en om ander mense te vra om dit te respekteer. Dit laat mense op ’n po­sitiewe wyse weet waar hulle met jou staan. Dit wys dat jy den­­kend in jou eie lewe betrokke is, doelgerig beplan en aktief daar­na streef om te wees wat jy graag wil. Sonder om skuldig te voel of om verskoning te vra dat jy ook ’n wil het, kom­munikeer jy jou gevoelens terwyl jy respek vir ander behou en hulle ook in ag neem. Dit beteken natuurlik nie dat jy altyd alles gaan kry wat jy graag wil hê nie. Die lewe werk net nie so nie. Om selfgeldend te wees beteken ten minste om die kan­se te verbeter om meer beheer oor jou lewe te behou en om die mense rondom jou ook jou sy van die saak te wys.

Jy mag nee sê

Om jou te laat geld sal die grense trek waarbinne jy jou lewe wil lei. Jy moet bewus wees van jou regte as mens en ook van jou gevoelens en behoeftes. Daarom moet om nee te sê deel van jou mondering wees. Dit is die manier waarop jy jou grense trek en jouself op koers hou. Dit is natuurlik nie altyd so maklik nie, juis omdat ons so gou skuldig kan voel of aan die ander kant omdat mense eenvoudig nie wil luister en ’n nee vir ’n ant­woord neem nie. Veral iemand wat graag ander mense tevrede wil stel, sal dit moeilik vind om nee te sê. Hy sal bang wees om ander so van hom te vervreem. Dit is om die guns van ander om verkeerde redes te soek. As hulle net altyd van jou verwag om te doen wat hulle verwag, is jy nie hulle vriend nie, maar hulle pion. As hulle jou regtig respekteer vir wie jy is, sal hulle jou opinie en wil ook respekteer.

Wat dus ook deel van jou mondering moet wees, is tegnieke om op ’n mooi manier iemand anders te kry om jou wil te respekteer, veral as daardie persoon jou probeer manipuleer of jou skuldig wil laat voel. So kan jy beheer oor jou eie lewe neem en regtig cope.

  • Die rekkertegniek. Mense wat jou probeer manipuleer, raak ge­woonlik in ’n gesprek betrokke en skiet met baie wapens. Hulle probeer jou oortuig met argumente, wil jou skuldig laat voel, kritiseer jou, of doen sommer alles tegelyk. Die beste ma­­nier om dit te hanteer is om soos ’n rekker altyd weer na die­­selfde punt terug te skiet, maak nie saak in watter rigting hulle jou ook al probeer trek of manipuleer nie. ’n Tipiese rekker­-gesprek sal wees:

Hy: “Kom skaats saam.”

Jy: “Nee dankie, ek kan nie vanaand nie.”

Hy: “Ag, maar jy is ’n ou ‘pretbederwer’.” (Manipulasie deur jou uitgesluit te laat voel.)

Jy: “Nee dankie, dit pas my regtig nie vanaand nie.”

Hy: “Ek gaan altyd saam met jou, maar jy wil nooit saam met my gaan nie.” (Manipulasie deur jou skuldig te laat voel.)

Jy: “Nee dankie, jy moet my regtig vanaand verskoon.”

En so aan …

Die rekker spring dus elke keer weer terug en laat sigself nie in argumente verstrengel of intrek nie. Sodra jy begin argu­menteer, loop jy gevaar om op ’n syspoor te land en selfs die argu­­ment te verloor. Los dit maar liewer. Om allerhande ver­skonings of redes te gee is ook nie die antwoord nie. Die ander persoon sal net daarop reageer en nog meer druk op jou plaas.

  • Die toegee, maar nie ingee nie-tegniek. ’n Mens loop soms mense raak wat krities op jou en jou opinie is. Hy wil jou die hele tyd in die beskuldigdebank kry en jou wys hoe verkeerd jy is, en daarom moet jy toegee en doen wat hy wil hê. Moenie met so ’n persoon in ’n tongestryd betrokke raak nie. Dit raak ge­woon­lik persoonlik en loop uit op beskuldiging van die een kant en ontkenning van die ander kant. Deur by­voorbeeld te sê: “Jy mag reg wees, maar … ” of “Miskien is dit so, maar … ” word die angel uit die ander persoon se argument gehaal en verloor hy ook so ’n bietjie van sy vuur. Hoe kan hy dan stry as die ander persoon soort van toegee? Die geheim is om nadat jy die angel uitgetrek het, jou punt te maak. ’n Tipiese gesprek tussen ’n vrou en haar man kan miskien so verloop:

Vrou: “Jy is al weer laat.”

Man: “Dit mag so wees, maar ek moes eers klaarmaak waarmee ek besig was.”

Vrou: “Jou werk is altyd die belangrikste.”

Man: “Jy sê so, maar ek moet my bes probeer; dit is ons brood en botter.”

Vrou: “Jy doen jou bes, maar waarvoor? Die baas sien dit tog nie raak nie.”

Man: “Miskien, maar dis nie al waarom ek dit doen nie.”

En so aan …

Elke keer word negatiewe kommunikasie gestop voordat dit in ’n argument ontaard. So word toegegee, nie ingegee nie.

  • Die ek sien wat jy doen-tegniek. Mense wat ander probeer mani­puleer, gebruik verskillende tegnieke. Hulle sal byvoor­-beeld die ou heuningkwas kwistig gebruik; probeer om ’n grap te maak van wat jy sê; jou versoek kritiseer en bevraag­teken; jou skuldig laat voel oor jou versoek; vreeslik emo­sio­neel rea­geer deur arms in die lug te gooi of te huil. Dit is gewoonlik al­-les deel van die spel om jou oor te haal om van jou punt af te sien sodat jy kan doen wat hulle wil hê.

’n Goeie manier om jouself te beskerm is om die ek sien wat jy doen-tegniek te gebruik. As die persoon die heuning­kwas gebruik, sê byvoorbeeld: “Ek sien jy probeer my heuning­kwas, maar onthou, ek wil dit nie graag doen nie.” Dit sal die per­­soon so ’n bietjie oor sy aanslag laat dink, want sy “geheime” tak­tiek is nie meer geheim nie en sal dus nie meer die verlangde ef­fek hê nie.

As die persoon ’n grap van jou versoek maak, sê by­voor­beeld: “Dit help nie jy probeer ’n grap daarvan maak nie. Vir my is dit ’n saak van erns.” Dit sal die ander persoon laat voel jy dink hy som nie die gesprek goed op nie en sal dan huiwerig wees om so voort te gaan.

Evan Esar het eens op ’n tyd gesê: “Jy kan niks aan die lengte van jou lewe doen nie, maar jy kan heelwat aan die breedte en diepte daarvan doen.” Deur jou teenwoordigheid op ’n mooi manier te laat tel en jouself te wees, sal jou lewe nie alleen verbreed nie, maar ook verdiep. Dit sal verdiep omdat jy jouself en jou eie behoeftes al hoe beter leer ken; dit sal verbreed omdat die mense rondom jou ook jou as mens sal hoor en respekteer. Dit is die boustene waarvan coping in hier­die lewe gemaak is.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Ek cope nie meer nie: Gee jou lewe rigting in die régte rigting – Jan van der Watt

In die vorige hoofstuk het ons gesien dat wat jy dink jou eintlik maak wie jy is. Deur positiewe selfgesprek kan ’n mens die lewe vir jouself baie makliker en aangenamer maak. As jy reg dink, doen jy sommer ook reg en as jy reg doen, voel jy ook sommer reg. Wat egter nodig is, is om gemotiveerd te wees om ’n verskil in jou lewe te maak.

Die Italianers het ’n mooi spreuk: “Elkeen moet sy eie sak na die meul toe dra” en dit geld elkeen wat die kwaliteit van sy of haar lewe wil verhoog. Of soos Harry Fosdick gesê het: “Niemand hoef te bly soos hy is nie.” Dis jou keuse.

 Is jy jouself?

Moenie vir “hulle” leef nie

Om jouself persoonlik te ontwikkel en jouself te verbeter maak jou baie meer paraat om jou omgewing asook jou gevoelens van cope of nie cope nie te beheer. Om jouself te ontwikkel moet jy weet wie jy is, maar ook wie jy mag wees. Ons vergeet dik­­wels dat elkeen van ons die reg het om op aarde te wees, meer nog, om net jý te wees. Jy hoef nie te wys dat jy beter is as ander om die reg te verdien om maar net jy te wees nie. Jou waarde as mens lê ook nie in hoe goed jy kan presteer of hoeveel geld jy in die kortste tyd bymekaar kan maak nie. Jou waarde lê daarin dat jy uniek is.

Jy hoef ook nie vir die mense te leef nie. Jy is nie net iets werd as jy ander se goedkeuring en handeklap hoor nie. Ge­lukkig is dit iets wat mense, en veral ons Afrikaanssprekendes, deesdae baie beter besef. Ons is nie meer so onder sosiale druk om net vir “ander mense” te leef nie. Ons kan onsself ook wees; meer nog, ons móét onsself wees. Daardie “húlle sê mos”-monster wat so baie mense se lewe beheer en bepaal het, is besig om ’n stadige dood te sterf. Baie keer is daar mos ge­sê: “Húlle sê ’n mens moet dit of dat doen.” Niemand weet pre­­sies wie die “hulle” is nie en niemand vra ook of die “hulle” reg is of nie. As “hulle” so gesê het, dan moet dit mos reg wees en dan moet ons luister. Wie is jy nou om teen hierdie (onbekende) “hulle” te stry? Hoe gouer ’n mens hierdie “hulle” begrawe, hoe beter. Vervang die “hulle” met “ek”. So kan jy jou­self wees, want jy mag.

Ken jou regte

Hier is ’n voorbeeld van ’n beskrywing (handves) van (mense-)regte wat elkeen van ons het. “Regte” beteken dat jy “reg is” as jy dit doen en dit dus mág doen. Lees dit mooi deur en kyk of jy iemand is wat doen wat jy mag doen.

  • Ek het die reg om myself te wees.
  • Ek het die reg om uiting te gee aan my gevoelens.
  • Ek het die reg om te vra vir dinge wat ek graag wil hê.
  • Ek het die reg om opinies oor dinge te hê.
  • Ek het die reg om nee te sê.
  • Ek het die reg om soms bang te wees en te sê ek is bang.
  • Ek het die reg om soms kwaad te word.
  • Ek het die reg om te wys dat ek bly of opgewonde is.
  • Ek het die reg om te groei en te verander.
  • Ek het die reg om my eie voorkeure te bepaal.
  • Ek het die reg om van besluit te verander.
  • Ek het die reg om foute te maak. Ek is nie perfek nie.
  • Ek het die reg om te sê ek weet nie.
  • Ek het die reg om my eie waardes en standaarde uit te lewe.
  • Ek het die reg om nie altyd my handelinge hoef te ver­duidelik nie.
  • Ek het die reg om nie verantwoordelik te wees vir ander se gedrag, aksies, gevoelens en probleme nie.
  • Ek het die reg om met respek en met waardigheid behandel te word.
  • Ek het die reg op my eie persoonlike ruimte en tyd.
  • Ek het die reg om eerlikheid te verwag van ander.
  • Ek het die reg om vriende te maak.
  • Ek het die reg om gelukkig te wees.

Kom ons kyk kortliks wat hier staan. Hier staan dat ander mense nie gedagtelesers is nie. Hulle weet nie wat jy dink en voel nie, tensy jy dit vir hulle sê. Dan moet jy eerlik daaroor wees en nie vir hulle sê wat jy dink hulle wil hoor of wat jou na ’n oulike vrou of ou sal laat lyk nie.

Jy het die reg om te vra wat jy wil hê. Ander het ook die reg om nee vir jou te sê, maar as jy nie gevra het nie, sal jy nie weet nie. Omdat ons dik­wels in ons selfgesprek eintlik self al vooraf besluit wat die an­der persoon gaan sê, vra ons baie keer nie eers nie. So ver­beur ons ’n basiese reg.

Jy mag maar ’n fout maak

As situasies verander, mag jy ook van opinie verander. Dit maak nie van jou ’n slegte mens nie. Natuurlik moet ’n mens beloftes of vaste ondernemings nakom, maar dit is nie wat hier ter sprake is nie. Wat hier ter sprake is, is die reg om nie altyd oor iets te dink soos wat jy aanvanklik daaroor gedink het nie. Jy mag van besluit of opinie verander. Jy mag selfs erken dat jy ’n fout gemaak het. Almal maak maar foute; selfs die mees perfektes onder ons koop ook maar potlode met ’n uitveër aan.

Om jou te laat intimideer deur die vrees om ’n fout te maak is waarskynlik die grootste fout wat jy kan maak. Maar om uiteindelik jou fout te erken en om verskoning te vra dwing gewoonlik respek by ander af en is soos genesende salf op ’n seer. Dit getuig daarvan dat jy jouself ken en weet waarheen jy op pad is.

In Amerika het ’n groot prediker eenmaal op ’n TV-program totaal beheer oor sy humeur verloor. Duisende van sy volgelinge was hewig geskok en het hulle teleurstelling in briewe aan hom verwoord. Hy het nie ander probeer blameer nie, maar het om verskoning gevra vir sy eie menslike gebrokenheid. Hoeveel helderder skyn die genade en liefde van Jesus nie as die grootstes onder ons ook in gebroke afhanklikheid voor Hom kniel nie. Dan kan mense jou vergewe, want God het jou vergewe.

Jy mag maar gevoelens hê

Jy hoef ook nie weg te kruip vir jou gevoelens nie. Om gevoelens te hê is nie sleg nie en maak ook nie van jou ’n slegte mens nie. Dit is een van die belangrikste gawes wat God aan die mens gegee het. Selfs as jy onseker of bang voel, hoef jy dit nie weg te steek nie. Moenie dat die mense jou laat glo “cowboys don’t cry” nie. As jy hartseer is, wys dit. Laat dit uit jou sisteem kom. Jy het selfs die reg om te wys dat jy ontevrede en kwaad is oor iets. Natuurlik moet ’n mens dan nie in die vernietigingsbui oorskakel nie. Moenie ander mense seermaak of beledig nie. So ver strek jou regte nie.

Jy is nie ’n vloerlap nie

Moet ook nie toelaat dat ander jou soos ’n vloerlap behandel nie. Jy is ’n individu en mens en het die reg om so behandel te word. Dit gebeur dikwels dat mense met skewe waardes dink dat iemand minderwaardig is, dit wil sê minder werd is, omdat die mense volgens hulle nou nie so belangrik of ryk is of so ’n belangrike werk het nie. Dan tree hulle ook so op. Dit spreek na­tuurlik meer (negatief) van daardie persoon as van die arm of minder belangrike persoon. Moet jou nie daaraan steur nie en as jy dit regkry om dit op ’n mooi manier te doen, moet dit dan ook nie toelaat nie.

So kan ons voortgaan om na te dink oor wie ons eintlik is en wie ons mag wees. Dit sal die moeite werd wees as jy oor hierdie lys regte nadink, en dit begin toepas.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt