Ek cope nie meer nie: Dink reg, doen reg, voel reg – Jan van der Watt

’n Sekere man het vreeslike duiseligheidsaanvalle begin kry. Hy is van dokter na dokter wat hom ondersoek het, maar niks ver­keerd gekry nie. Tog het die aanvalle nie opgehou nie. Dit het hom vreeslik begin pla; hy het gewig begin verloor en kon nie meer in die nag slaap van bekommernis nie. Hy het begin om sy testament reg te kry en seker gemaak dat alles vir sy begrafnis gereël is. Hy het selfs vir hom ’n mooi hemp en pak klere gaan koop om in begrawe te word.

Hy vra toe vir sokkies, ’n grootte 42-pak en ’n hemp met ’n 38 cm-nek.

“Maar, Meneer,” sê die verkoopsman, “jy moet ’n hemp met minstens ’n 44 cm-nek dra, anders gaan hy jou so druk dat jy duiselig gaan begin voel!”

Hierdie man het sommer begin dink hy gaan dood. Sy planne, sy dade, sy slaap, ja alles is deur hierdie denke beïnvloed. Daarom het hy ook begin voel hy gaan dood. Wat in sy kop gebeur het, het die res van sy lewe beduiwel. Maar as hy regtig besef het die probleem lê op ’n ander plek, sou hy heel­temal anders opgetree het en natuurlik ook anders gevoel het. Die essensie van hierdie hoofstuk is dus: “Dink reg en dan sal jy reg doen; as jy reg doen, sal jy reg voel; as jy reg voel, sal jy reg dink … ”

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Ek cope nie meer nie: Fokus reg! Fokus positief – Jan van der Watt

Die fout om te dink een swaeltjie maak ’n somer

Dik boeke is al geskryf oor oorveralgemening. Dit gaan daaroor dat een slegte ervaring verhef word as die enigste en belang­rikste ervaring van iets. Byvoorbeeld: ons hou lekker vakansie. Skielik gebeur daar iets (net een iets!) wat ons die duiwel in maak. Nou is die hele vakansie sommer sleg. Ons ruk die hele gebeurtenis uit verband uit.

So werk dit met verhoudings ook. Ek kan my lewe lank vrien­de met iemand wees en dan raak ons een maal haaks en dan is die hele vriendskap sommer daarmee heen.

Oppas dat enkele gebeure jou hele selfgesprek beheers. As jy negatief voel oor iets, probeer dit in perspektief stel. Vra jou af of dit altyd so was; of jy nie dalk oorreageer nie; of daar nie dalk goeie redes is waarom jy die negatiewe ding nie hoef te glo nie. Miskien is daar positiewe dinge wat wys dat die nega­tiewe eintlik nie regtig so belangrik is nie.

Onthou: één slegte ervaring beteken nie dat dit altyd so gaan wees of dat alles so is nie.

Ek probeer met my hart dink

Ons is nogal soms geneig om met ons hart in plaas van met ons verstand te argumenteer. Jy voel só oor iets en daarom is dit só. Jy voel negatief en daarom is die lewe sommer negatief. Jy voel hopeloos en daarom dink jy ook sommer almal sien jou as hopeloos. As jy met jou hart dink, dink jy nie eintlik nie, maar voel net. Dan kan jy nie na logiese argumente luis­ter nie en dit kan gevaarlik wees. Ons weet mos almal hoe ons gevoelens maar wissel.

Toets maar jouself; dis hoe die lewe loop: as jy die dag nie goed voel nie, is die dag ook sommer donkerder as ander dae. As jy voel iemand hou nie van jou nie, dan lyk alles wat hy doen vir jou soos bewyse dat hy nie van jou hou nie.

Dit is waar dat party van ons meer emosioneel as ander is, maar ons moet oppas dat ons emosies nie ons logiese vermoëns to­taal verduister nie.

Elke muggie word ’n aasvoël

Sensasie is lekker; koerante leef daarvan en elkeen van ons ook maar op ons eie manier. Nou bestaan die geneigdheid om die kleinste ou dingetjie aan te gryp en dit tot die grootste probleem op te blaas. ’n Mens is mos dikwels geneig om die negatiewe sy van ’n saak te sien en altyd die slegste te verwag. So kan jy jouself so bang praat dat jy omtrent nie jou kop by die huis wil uitsteek nie.

Oppas vir katastrofering, met ander woorde om dinge heeltemal uit verband te ruk en van elke muggie ’n aasvoël en van elke molshoop ’n berg te maak. Dit gaan nie alleen maak dat jy verkeerd reageer nie, maar ook dat jy hierdie wêreld nooit regtig kan geniet vir wat dit is nie. Probeer om dinge te sien vir wat hulle is. Die maklikste manier om dit te doen is om so ’n bietjie oopoog deur die wêreld te gaan. Kyk hoe ander daaroor dink (nie net een nie) en vergelyk dan waar jy staan. Probeer ’n goeie gemiddeld handhaaf.

Oppas vir ’n visserman-mentaliteit

Visvang doen snaakse dinge aan ’n mens. Jy het eintlik altyd beter gedoen as wat die visse in jou vismandjie sê. Die grotes het almal weggekom. ’n Mens moet nie toelaat dat jy jouself in ’n posisie plaas waar jy nooit eintlik regtig voel dat jy jou doel bereik het nie. Stel vir jouself realistiese doelwitte. Moenie groter visse probeer vang as wat daar in jou lewensdammetjie is nie. As ’n mens vir jouself verkeerde doelwitte stel of doel­witte nastreef wat jy nie eintlik regtig wil bereik nie, gaan jy nie die doelwitte bereik wat jy regtig graag wil nie.

Wees eerlik met jouself. Moenie vir ander leef nie, maar leef vir jouself op so ’n manier dat jy vir ander die meeste be­teken deur net jouself te wees. Jy is dit aan jouself verskuldig om nie heeltyd te voel dat wat jy regtig wou wees eintlik (soos die groot vis) weggekom het nie. As dit is hoe jy voel, het jy net jouself te blameer.

Jy is kleurblind

’n Persoon wat kleurblind is, sien alles net in swart of wit. So sien party mense die lewe. ’n Persoon is óf sleg óf goed; iets is óf lekker óf sleg; jy is óf die voorsitter óf jy neem nie deel nie. Alles is vir hulle óf swart óf wit. In hulle self­gesprek is daar dus net een van twee hokkies waarin hulle alles gooi.

Nou weet ons dat die lewe nie so is nie. Die Oostenrykers het ’n mooi spreuk met ’n interessante teëspraak wat eintlik die aard van die lewe beskryf. Hulle sê: “Die situasie is hope­loos, maar nie ernstig nie.” Daarmee sê hulle dat die ou lewe eint­lik nie net swart of wit is nie, maar altyd ’n mooi gemengde grys. Dit is ’n mengsel van optimisme en pessimisme; van hoop en vertwyfeling; van opgewondenheid en teleurstelling; van sonskyn en skadu. Elke persoon het iets van die son wat in hom skyn, maar ook die skadu wat oor hom val. Elke situasie wat borrel van hoop dreig ook met mislukking.

Daarom moet ’n mens jouself die kuns aanleer om die lewe in sy kleurvolheid te ervaar en te beoordeel. Moenie in jou selfgesprek jou oordele te fel maak nie. Dinge is nie sommer maar net swart of wit nie. Neem maar armoede. Selfs dit kan verskillende kante hê. Die beste ding van armoede is dat dit net beter kan gaan; boonop vat dit nie veel om die situasie te verbeter nie, of anders gestel, om arm te wees is goedkoop.

In die lewe met sy geskakeerdheid is jy jou eie beoordelaar. Maak die regte keuses in jou oordeel van mense en dinge. Niemand is net goed of net sleg nie. Moet dus nie dink dit sal so wees nie en moet dit ook nie so maak nie.

Jy en net jy is die kampioen

’n Ander slaggat is om jou selfgesprek so vol van jouself te maak dat daar nie plek vir iemand anders is nie. Dit gaan ook die oordele wat jy moet maak lelik skeef trek. As jy nie die be­-lange en rol van ander in jou selfgesprekke erken nie, moet jy nie verbaas wees as jy uiteindelik agterkom dat jy ook baie al-leen gaan voel op hierdie wêreld nie.

Wees realisties en dink gebalanseerd.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Ek cope nie meer nie: Gee uitdrukking aan jou eie gevoelens – Jan van der Watt

Moenie bang wees vir jou emosies nie. Ons word dikwels wys gemaak dat dit verkeerd is om jou emosies te toon. Tog het ons almal emosies. Iemand het eenmaal gesê dat ons nie kan help dat ons gevoelens het nie, want gevoelens ís.  Ons is wel verantwoordelik vir wat ons met ons gevoelens doen.

Paulus sê in Efesiërs 4:26 (p. 631): As jy vir iemand kwaad word, moet jy niks doen waaroor God skaam sal kry nie. Jy moet ook nie kwaad gaan slaap nie. Die emosie is nie sleg nie, maar die manier waarop jy die emosie hanteer. As jy jou woede op so manier hanteer dat jy ander mense daarmee seermaak of verkleineer, is jy op die verkeerde pad. Oppas om uitdrukking aan jou emosies te gee soos die vrou wat vir haar man wat oorsee is, sê: “Ag, ek voel so terneergedruk. Dit is byna of jy nie weg is nie.”

Druk jou emosies positief uit sonder om aanstoot te gee. Jy hoef regtig nie skaam te wees as jy bly of hartseer of kwaad word nie. Dit is gawes wat God vir ons gegee het om ons gesond te hou. Op dié manier word spanning, geluk en on­ge­luk­kigheid op ’n natuurlike wyse ontlaai anders krop dit net in ons op.

Skep dus vir jou geleentheid om jou emosies positief uit te druk. Om te kan cope is dit belangrik om jou eie emosies te identifiseer en om uitdrukking daaraan te gee. Jy moet dus weet wanneer daar woede en frustrasie binne jou is en jy moet ook ’n kanaal skep sodat jy daarvan ontslae kan raak. Indien emosies soos woede en frustrasie opgekrop en terug­gehou word, kan dit vir jou maar net teenspoed uitspel. Daar is verskillende maniere waarop jy daaraan uitdrukking kan gee:

  • Praat daaroor. Vertel vir mense wat jy vertrou hoe jy voel. Moet net nie maak soos die vrou wie se man gesê het nie: “Weet jy, ek het vir twee weke nie met my vrou gepraat nie; ek wou haar nie onderbreek nie.”

Praat beteken dat jy ook sal luister: luister na jou emosies aan jou binnekant, maar ook hoe mense wat jy vertrou jou probleem sien. Luister na die pad wat hulle dink jy moet neem en dink daaroor na. Dit mag snaaks klink, maar as jy alleen is, gesels met jou plante of diere. Dit sal hulle miskien nie help nie, maar vir jou sal dit. Dit mag lyk of jy met niemand praat nie, maar in werklikheid praat jy met jouself. Jy hoor wat jy dink! Dit as sodanig het al genesende krag vir jou emosio-nele lewe.

  • Skryf dit neer, veral as jou emosies jou kop ’n bietjie deur­mekaar maak. Daar was ’n meisie wat vreeslik baie kon praat. Die studente het gesê sy praat om te hoor wat sy dink. Jy kan ge­rus jou emosies en gedagtes neerskryf om te sien hoe jy voel. Dit sal jou help om te sien wat in jou aangaan en jou pro­bleme te identifiseer.

As jy byvoorbeeld neerskryf dat jy sleg of kwaad voel en vir jouself vertel waarom jy so sleg voel, het jy al ’n goeie wegspringpunt: “Ek is kwaad, want Piet het my in die steek gelaat.” Die logiese pad wat jy dan sal moet volg, is om vir jou­­self neer te skryf wat die oplossing is. Gaan dit help om kwaad te bly? Moet jy jou vriendskap met Piet verbreek? Sou dit die moeite werd wees? So gesels jy eintlik met jouself en kan jy die hele saak uit ’n ander hoek begin sien.

  • Huil as dit nodig is. Ons is mos skaam om te huil, veral die manne onder ons. Dit is die teken van ’n “softie”, of so het iemand gesê en nou glo almal hom. Huil is net so deel van jou as wat jou arms of bene deel van jou is. Jy gebruik nie altyd jou bene nie, maar hulle het ’n baie belangrike funksie. As jy wil loop, moet jy hulle gebruik, anders kom jy nêrens. So het die Here ook vir ons die vermoë gegee om te huil. Ons moet nou nie heeltyd oor alles blêr nie, maar as die emosionele druk te kwaai raak en die spanning laai op, is huil die manier waarop ons hierdie druk kan verlig. Daarom is dit baie goeie medisyne om te huil as dit nodig is.
  • Gee fisieke uitdrukking aan jou emosies. Soms is dit nodig om fisiek uitdrukking aan jou spanning, frustrasie en angs te gee. Dit kan op verskillende maniere gedoen word. Neem ’n kussing en slaan dit byvoorbeeld met ’n raket of jou vuiste. As jy dit doen, beteken dit nie dat jy beheer verloor nie, maar dat jy van die emosie ontslae raak wat jou juis hinder om volledig be­­heer te behou oor jou lewe. As jy skaam is om jou kussing te slaan, probeer liewer ’n slaansak (dit is nou nie ’n skuilnaam vir jou man nie). As jy voel dat jy wil gil, gil. So ’n enkele lang gil is ook ’n manier waarop jy van jou frustrasie ontslae kan raak. Dit is jou bondgenote in die stryd teen spanning of druk wat dreig om jou onder te kry.

Hou rekening met die Here

Nou moet dit nie klink of alles net van jou afhang nie. As Christene weet ons dit is nie so nie. Daar is die treffende verhaaltjie van die man wat die pragtigste tuin gemaak het. Die leraar stap toe verby en sê: “Meneer, jy en die Here het darem die mooiste tuin hier gemaak.”

“Ja,” antwoord die man, “maar jy moes die tuin gesien toe die Here alleen hier gewerk het!”

Met die eerste aanhoor mag ’n mens vra of die man nie ’n bietjie vermetel is nie. Maar as jy ’n weer ’n keer daaroor nadink, begin jy die diepte snap van wat hier gesê word. Sonder die Here sou daardie man nie eers daar gewees het nie. Sonder die reën wat val en die saad wat ontkiem, sou daar geen blom gewees het nie, al het die arme man hom doodgewerk. Maar die Here gaan maak nie sy tuin vir hom nie. Die Here gee vir hom wat hy nodig het om sy tuin te maak. Daarom was die leraar reg toe hy gesê het dat die man en die Here se tuin mooi lyk.

Maar die teendeel is ook waar. Die man kon die tuin opge­mors het. Hy het tog ook beheer oor die talente en krag wat die Here vir hom gegee het. Hy kan daarmee mors. ’n Mens mors daarmee as jy toelaat dat dit in negatiwiteit verstrik raak. Dit is soos bossies in jou tuin. Dit teer op die water en grond wat bedoel is vir die blomme. Daarom kan ’n mens eintlik nie sê dat dit nie saakmaak hoe negatief of positief jy dink en leef nie, veral nie as jy ’n Christen is nie. Natuurlik maak dit saak, want dit bepaal hoe jou en die Here se tuin gaan lyk. Daardie tuin is die manier waarop jy leef.

Dit is so ’n vreugde om saam met die Here die tuin van jou lewe te maak. Lees net wat sê mense wat die vreugde daarvan ontdek het:

Daar is een groot wens in my hart: Dit is dat ek my hele le-we lank by die Here mag wees. Sy wonderlike nabyheid wil ek dag en nag beleef … Here, vat my hand. Wys my hoe om reg te lewe … Lei my (vlg. Ps. 27:4, 11, p. 891, 892).

Ons hoef dus nie bang te wees of te wonder of ons na God toe mag gaan nie. Ons kan maar gaan, want God sal baie goed wees vir ons. Wanneer ons dit nodig het, sal God vir ons meer gee as wat ons verdien en ons met sy liefde omvou (vgl. Heb. 4:16, p. 726).

Ek is tevrede soos ek is. Ek is soos ’n babatjie wat veilig in ’n ma se arms lê. Die wêreld kan maar vergaan, maar ek voel veilig en tevrede. Dit gebeur as jy op die Here vertrou (vgl. Ps. 131:2, p. 1030).

By Hom lê jou krag, al gaan Hy nie jou lewenstuin vir jou maak nie. Hy gaan jou help waar jy hulp nodig het; Hy gaan jou lei waar jy leiding nodig het; Hy gaan jou wys hoe om reg te lewe.

Systap slaggate

Daar is ’n paar slaggate wat ’n mens op jou pad terug na ’n positiewe selfgesprek moet vermy.

  • Die gekleurde glas-effek. Ruite wat van verskillende kleure glas gemaak word, is mooi, veral as die son daardeur skyn. Maar dit is nie bedoel om die wêreld aan die ander kant mooi te sien nie. Loer jy deur die rooi deel, lyk die hele wêreld vir jou rooi en deur die groen glas is alles weer groen.

Dieselfde is waar van die manier waarop ons na die lewe kyk. Ons kies vooraf die manier (of kleur) waarop ons na die situasie gaan kyk. Piet kom aangestap en ek hou nie van Piet nie, daarom gaan ek in alles wat hy sê of doen fout soek om vir my te bewys dat ek reg is om nie van Piet te hou nie. Jy gaan hom dus deur die glas van kritiek bekyk. Daarom moet Piet later by iemand anders hoor van dit of dat wat hy gesê het wat glo so sleg was. Intussen het hy dit nooit so bedoel nie; jy het daardie woorde deur jou kritiese oog so gesien en ver­draai dat dit sleg klink. Alle ander kleure word geïgnoreer. Piet kan watter ander dinge ook al doen wat mooi is, maar jy sal dit miskyk.

’n Mens moet jouself positief hou. Dit is wat Paulus in 1 Korintiërs 13:7 (p. 554) bedoel het toe hy oor die liefde gepraat het: “ … (L)iefde glo altyd die beste van ander mense … ”  Moenie toelaat dat jy net op die negatiewe fokus nie. Veral Perfeksionis en Skeidsregter is lief om dit te doen, want dit wys vir hulle dat hulle self darem nie so sleg is nie.

Om prakties te raak: Sê bewustelik vir jouself dat jy by negatiewe of moontlike negatiewe dinge verby gaan kyk. Jy gaan op die positiewe konsentreer. En as die negatiewe opduik, moenie daaroor sit en bekommer nie. Vee dit met ’n “En wat daarvan!” weg; dit gaan jou nie ’n slegter mens maak om dit te ignoreer nie – inteendeel.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Ek cope nie meer nie: Help jouself – Jan van der Watt

Ons het gesien dat ons selfgesprekke sonder dat ons dit altyd besef dikwels outomaties plaasvind. As ons geleer het om negatief te dink deur altyd fout te soek of die slegste te dink, sal ons self­gesprekke so negatief lyk. In die sin is ons self­gemaakte ne­gatiewe mense en moet ons self die verant­woordelikheid daarvoor dra. Ons het ook gesien dat mense wat in patrone van negatiewe selfgesprek verval het, moeilik daaruit kom: hul­le moet hulleself stelselmatig help deur positief te begin dink.

Skep ’n positiewe omgewing

Iets wat van baie waarde en hulp kan wees, is om ’n positiewe om­gewing vir jouself te skep. Indien ons nie lekker voel oor ons omgewing nie, kan dit die gevoel aanwakker dat ons nie cope nie. Ons moet dus probeer om in ons omgewing dinge so te verander dat ons welkom, tevrede en rustig daarin voel. Ons moet onsself positief instel en van ons kant af dinge in ’n positiewe rigting stuur.

’n Glimlag kan soms soveel beteken. Glimlag meer. As ie­mand nie ’n glimlag het nie, gee hom joune, want niemand het ’n glimlag meer nodig as daardie persoon wat nie een het nie. Onthou: die meeste glimlagte word deur ’n ander glim­lag begin. Groet mense vriendelik. Indien persone kom­plimente verdien, gee dit vir hulle. Doen dit egter met eerlik­heid en opregtheid.

Probeer bewustelik om minder te kla en minder negatiewe dinge te sê. Oordink jou gesprekke wat gevoer word tydens pouses, teetyd of etenstyd. Werk daaraan om positief en opbou­ende gesprekke te voer. Ongelukkig is dit so dat kontak met sekere mense kan lei tot negatiewe gevoelens. Indien mense jou negatief beïnvloed, verkleineer en sleg behandel, vermy daardie mense. Probeer hulle uit jou omgewing verwyder of laat hulle ’n minder belangrike rol speel.

Oordink ook en kyk na jou verhoudings met ander persone. Werk aan opbouende verhoudings. Indien verhoudings ne­gatief op jou inwerk, jou selfbeeld knou en jou angstig laat voel, is dit beter om hierdie verhoudings vroegtydig te beïndig, al voel dit op daardie stadium vir jou hóé moeilik.

Gee aandag aan jou eie gevoelens

Raak ook bewus van jouself en wie jy is. Leer jouself en  jou eie selfgesprekke ken. Om dit te doen moet jy jouself die tyd gun om stil te word en oor jouself en jou eie lewe na te dink. Ons is geneig om heeltyd so met die wêreld daar buite besig te wees dat ons vergeet dat die stryd van hierdie ou lewe in ons afspeel. Ons moet ewe veel aandag gee aan wat hier binne-in ons gebeur. Ralph Emerson het dit mooi ge­stel: “Die wyse man in die storm bid tot God, maar nie vir be-skerming teen die storm nie, maar vir verlossing van die vrees wat hom in die storm lamlê. Die storm wat hom regtig bedreig, is nie die storm daarbuite nie, maar die een wat hier binne-in hom woed.”

Daardie stil oomblikke wat jy vir jouself gun om alleen deur te bring is nie tydmors nie. Dit is die oomblikke wat jy vir jouself gun om jou lewenskip te navigeer. Daar gee jy aan jou lewe koers en rigting. Natuurlik kan ’n mens maar net sonder enige koers op die see van die lewe ronddobber. Dit is egter dan dat storms jou grootste vyand word, want ’n koerslose mens kry die gevoel dat hy net van storm tot storm vaar. Daar is niks positiefs tussenin nie.

Maar ’n mens moet ook onthou dat ’n goeie skeepskaptein nie in vlak of stil waters gemaak word nie. Dit is juis in die storms dat jy die vaardighede van die lewe leer. Die vraag is egter wat die skeepskaptein doen: Gaan sit hy op ’n bondeltjie en vertel vir homself hoe sleg alles is of hoe niks gaan regkom nie, of spandeer hy die energie om planne te maak om deur die storm te kom? Jy is die kaptein van jou lewe; gebruik jou energie reg ook in die storms van die lewe. Aan­vaar ver­ant­woordelikheid, ook vir die manier waarop jy dink. Moenie die hele tyd die storm die skuld gee nie en ook nie vir die an­der om jou nie. Neem die stuur van jou lewe vierkantig vas en stuur jou skip. Neem beheer!

Onthou, jou drome kan alleen bewaarheid word as jy wakker bly; of anders gestel, geen droom word bewaarheid as jy met gevoude arms op die bed bly lê nie. Dink na oor die redes waarom jy oor sekere dinge so negatief voel. Probeer jouself verstaan en vra dan of dit die moeite werd is om so daar­oor te voel. Vra jou af hoe jy positiewer in daardie situ­asies kan optree. Maak erns met jou positiewe drome. Doen iets daaraan en moenie die lewe by jou laat verbygaan nie.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt