‘n Nuwe Kategismus: Vraag 47
Vraag:
Voeg die Nagmaal iets by tot God se versoeningswerk?
Antwoord:
Nee, Christus het een maal vir altyd gesterf. Die Nagmaal is ‘n verbondsmaaltyd wat Christus se versoeningswerk vier. Dit is ook ‘n manier om, as ons na Hom kyk, ons geloof te versterk en dit is ‘n voorsmaak van die toekomstige fees. Maar diegene wat deelneem met ‘n hart sonder berou, eet en drink ‘n oordeel oor hulleself. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]
Skrifgedeelte:
Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is (1 Petrus 3:18).
Kommentaar:
Laat ons baie duidelik besef dat die Nagmaal nie as ‘n manier van versoening of bekering gegee is nie. Dit was nooit bedoel om genade te gee waar daar nie al reeds genade is nie of om vryspraak te gee waar vryspraak nie alreeds teenwoordig is nie. Dit kan nie voorsien in dit wat tekortkom as gevolg van ‘n afwesigheid van berou teenoor God en geloof in die Here Jesus Christus nie. Dit is ‘n instelling vir die boetvaardige, nie vir die onboetvaardige nie – vir die gelowige en nie die ongelowige nie – vir die bekeerde en nie die onbekeerde nie. Die onbekeerde mens wat dink dat hy ‘n kortpad na die hemel kan vind deur die Nagmaal te gebruik, sonder om deur die stappe van bekering en geloof te loop, sal eendag tot sy nadeel uitvind dat hy mislei is. Die Nagmaal is bedoel om die genade wat die mens het te vermeerder en te help, maar nie om genade, wat hy nie het nie, te gee. Dit is nooit bedoel om vrede met God, versoening, of bekering te bewerkstellig nie. Om dit eenvoudig te stel: die voordeel wat ‘n gelowige uit die Nagmaal sal kry … is die versterking en verfrissing van ons siele; duideliker sienings van Christus en sy versoeningswerk; duideliker sienings van Christus se ampte as Middelaar en Advokaat; duideliker siening van die volledige verlossing wat Christus vir ons verkry het deur sy plaasvervangende dood aan die kruis; duideliker sienings van ons volle en volmaakte aanvaarding in Christus voor God; vars redes vir diepe berou oor ons sondes; vars redes vir ‘n lewende geloof; vars redes om ‘n heilige, toegewyde lewe en meer en meer soos Christus te leef – hierdie is van die belangrikste gevolge wat ‘n gelowige met vertroue kan verwag met sy deelname aan die Nagmaal. Hy wat in die regte gees die brood eet en die wyn drink, sal vind dat hy in nouer gemeenskap met Christus getrek word. Hy sal voel dat hy Christus beter ken en beter verstaan … met die eet van die brood en die drink van die beker, sal so ‘n mens voel dat sy verlossing verdiep, sy geloof vermeerder, sy kennis uitgebrei , sy heilige leefwyse versterk, word. Hy sal die “ware teenwoordigheid” van Christus in sy hart ondervind. Deur die brood in geloof te eet, sal hy ‘n nouer gemeenskap met die liggaam van Christus ondervind. Deur die wyn in geloof te drink, sal hy ‘n nouer gemeenskap met die bloed van Christus ondervind. Hy sal duideliker sien wat Christus vir hom is en wat hy vir Christus is. Hy sal duideliker verstaan wat dit beteken om “een met Christus en Christus een met hom” te wees. Hy sal ondervind dat die wortels van sy siel se geestelike lewe water kry, en dat die genadewerke in sy hart gevestig, opgebou en vorentoe gedra word. Alles lyk en voel soos dwaasheid vir die natuurlike mense, maar vir die ware Christen is hierdie dinge lig en gesondheid en lewe en vrede.
Hierdie kommentaar is deur John Charles Ryle (1816 – 1900) geskryf. Hy was die eerste Anglikaanse biskop van Liverpool. Sy aanstelling was op aanbeveling van die Eerste Minister Benjamin Disraeli. Ryle was ‘n skrywer en pastor, maar ook ‘n atleet wat vir die Universiteit van Oxford geroei en krieket gespeel het.. Hy was ook verantwoordelik vir die bou van meer as veertig kerke.
Hierdie kommentaar kom uit “Thoughts on the Supper of the Lord” in Principles for Churchmen(London: William Hunt, 1884), 267 – 270.
Verdere leesstof:
“The Lord’s Supper” in A Faith to Live By, deur Donald Macleod.
Gebed:
O, genadige en geseënde God, wat ons vir Uself gemaak het en wat ons deur die bloed van u enigste en geliefde Seun verlos het, aan U behoort ons. Ons is bewus dat ons nie ons eie is nie . Ons is vir ‘n duur prys gekoop en daarom moet ons U met ons liggame en ons gees, wat aan U behoort, verheerlik. Ons wil ons daarom aan U toewy; en wil, in u teenwoordigheid, nie langer vir onsself leef nie, maar vir Hom wat vir ons gesterf het en weer opgestaan het. Mag ons nooit hierdie eed vergeet nie of in teenstelling daarmee optree nie. Ons erken U vandag as ons God; ons gee onsself as U oor as U kinders; ons begeer dat U ons volkome heilig sal maak en dat ons hele gees en siel en liggaam vlekkeloos behoue sal bly totdat ons Here Jesus Christus weer kom.
Hierdie gebed is deur Charles Simeon (1759 – 1836) geskryf. Hy was vir 49 jaar die rektor van Trinity Church in Cambridge. Hy is die leierskap van hierdie kerk aangebied terwyl hy besig was om voor te berei vir sy finale studies. Aanvanklik het die lidmate hulle ongelukkigheid met sy prediking gewys deur gereelde onderbrekings en deur die klein deurtjies na die banke te sluit sodat niemand kon sit nie. Simeon is veral bekend vir sy Horae Homilecticeae – ‘n versameling van uitgebreide raamwerke vir preke uit al 66 boeke van die Bybel. Dit was 21 volumes lank.
Hierdie gebed kom uit “Asa’s Covenant with God” in Horae Homilecticae: or Discourses (Principally in the Form of Skeletons) and Forming a Commentary upon Every Book of the Old and New Testament, Volume IV (London: Holdsworth & Ball, 1832), 111.
Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church
We encourage you to use and share this material freely—but please don’t charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.