Hebreërs 10 – ‘n oorgang

Child of God, you cost Christ too much for him to forget you. —C.H. Spurgeon

Hebreërs 10 – ‘n oorgang

Hebreërs 10 bring baie van die vroeëre argumente in die boek saam, terwyl dit met nuwe argumente na vore kom. Daar is ook ‘n duidelike oorgang by vers 19.  Die balans tussen verduideliking en vermaning verander – daar is nou meer vermaning en minder verduideliking.

Die opsomming van die vorige onderrig kry ons in vers 1: Die wet van Moses is slegs ‘n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie ‘n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vry maak nie. Die wet van Moses verwys na die volledige wetsverbond insluitend die tabernakel, priesterlike sisteem en offers.

 In teenstelling hiermee lees ons in vers 19 – 20: Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. Dit lei tot vyf baie belangrike stellings:

  • Laat ons tot God nader (vers 22). Omdat so ‘n groot en finale offer vir ons gebring is, moet ons daarvan gebruik maak deur die heilige God met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid te nader.
  • Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely (vers 23). Wat Christus aan die kruis bereik het, is die vervulling van die modelle en voorspellings van die Ou Testament. Die hoogtepunt lê nog voor. Hierdie hoop is verseker, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.
  • Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade (vers 24). Christene leef nie in isolasie nie, maar leef in die geloofsgemeenskap en eendag leef ons in die gemeenskap van die hemelse stad.
  • Dan ‘n negatiewe stelling: Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly nie (vers 25). As ons werklik die omvang van die verlossing waaraan ons deel het, begryp, sal ons ons nie onttrek nie.
  • Samevattend: Laat ons mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom. Almal van ons word soms moeg, maar dan moet ons onderneem om mekaar aan te moedig.

 




Vrees, verlies aan beheer en konflik

Doubt is the refusal to pay the rent to the owner of the vineyard: unwillingness to give up usurped rights over property; the assertion of the autonomy and sovereignty of reason in opposition to the summons to return to dependence on the God who gives and who demands. – Emil Brunner

Vrees, verlies aan beheer en konflik

Vrees vir die verlies aan beheer is dikwels die oorsaak vir teologiese konflik. David G. Brenner, ‘n sielkundige, skryf oor gebeure waar daar verskille oor idees, ideologieë en wat ons van God dink, is. Teologiese verskille is nie noodwendig verkeerd nie – dit moet nie te alle koste vermy word nie. Maar as konflik gesoek, of selfs geskep word, en die verdelings wat volg as die wil van God beskryf word, mag vrees ‘n rol speel. Hierdie vrees is dat jy dalk teologies verkeerd mag wees en dus beheer oor jou persoonlike en groepsverhaal mag verloor.

 

Ons moet egter versigtig wees: die teenwoordigheid van verskille is nie ‘n teken van vrees nie. Dinge soos woede, wen-ten-alle koste, aggressie is wel tekens van vrees. In sy boek, Surrender tot Love: Discovering the Heart of Christian Spirituality, sê Benner onder andere dat een van die dinge wat vryheid van vrees verhoed, is dat mense nie dink hulle is bevrees nie – hulle besef nie die ware aard van hulle innerlike nood nie. Vrees vir eksterne dinge, daarenteen, word maklik herken. Dit is moeilik om hierdie innerlike vrees te identifiseer. Sommige mense vrees intimiteit; ander mense vrees afsondering. Sommige mense vrees verlies aan beheer; ander mense vrees verlies van hulle beeld. Sommige vrees aandag, ander vrees verontagsaming. So kan ons aangaan.

Diegene wat goed is om die bron van hulle vrees te vermy, mag tot die gevolgtrekking kom dat vrees nie deel van hulle storie is nie. Verkeerd. Alhoewel die vrees dalk nie ondervind word nie, is dit steeds teenwoordig en bind ons steeds.

Die voorwerp van vrees is feitlik irrelevant. Mense met vrees stem baie ooreen. Vrees kry ‘n lewe van sy eie. Mense met vrees leef in beperkte grense. Hulle is of baie versigtig en konserwatief of hulle vernou die horisonne van hulle lewens deur vermyding en gedwongenheid.  Hulle is baie waaksaam en sorg dat die lewe nie buite die grense waarbinne hulle gemaklik is, beweeg nie. Daarom lei vrees tot beheer. Mense wat in vrees leef, voel dat hulle in beheer moet bly. Hulle probeer hulleself en die wêreld beheer. Dit spoel dikwels oor na die beheer van ander. Hulle kan hulle nie in ‘n lewe sonder beheer indink nie. Vrees veroorsaak ook dat ons nie teenoor ander reageer nie – vrees onderdruk die impuls vir liefde. Energie nodig om veiligheid en gemak te verseker, put energie benodig vir liefde vir ander uit.

Moenie aanhoudend vrees nie.




Oordeel: waar ons fouteer

No soldiers of Christ are ever lost, missing or left dead on the battlefield. —J.C. Ryle

Oordeel: waar ons fouteer

Die waarheid maak seer. Dit is iets wat ons nogal dikwels hoor. Is dit waar? Die waarheid mag seermaak vir ‘n beperkte tyd, maar uiteindelik genees die waarheid. ‘n Deel van die lewe van ‘n Christen is om die waarheid van sy tekortkominge te hoor, sodat hy dit kan hanteer. As ons meer en meer soos Jesus wil wees, is dit noodsaaklik. Maar ons is weerstandig hierteen.

Een van die wonderlike aspekte van die geloofsgemeenskap is wanneer ander ingeroep word om ons te help met hierdie vorming. Dit is egter ook iets wat baie maklik misbruik kan word.

 

Oordeel. Hierdie is ‘n woord wat dikwels misverstaan word. Mense voel feitlik onmiddellik ongemaklik en wil net verdedig as hulle hierdie woord hoor. Tog as ons die Bybelse betekenis van die woord aanvaar, bring dit eenheid en heiligheid in die kerk.

Ons hou daarvan om ander te oordeel – dikwels op verkeerde maniere – maar ons haat dit as ander ons oordeel. As dit egter op die regte manier gedoen word, is dit ‘n noodsaaklike deel van die proses om meer soos Christus te word. As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is (Matteus 18:5). Dit is nie alleen my plig om my broers en susters wat verkeerd optree, tereg te wys nie, ek moet ook my broers en susters wat my kom teregwys oor iets wat ek verkeerd gedoen het, ontvang en na hulle luister.

Hierdie is ‘n verskriklike gedagte. Ons bou baie vinnig skanse om ons as dit gebeur. Hoekom is dit so verskriklik? Daar is baie verhale waar broers en susters hierdie opdrag teenoor ander broers en susters misbruik het. Let wel: Christene teenoor Christene.

Een van die bekommernisse is wie ek moet nader – wie moet ek teregwys. Kan ek dit doen teenoor iemand met wie ek geen persoonlike verhouding het nie? Nee, ek moet mense wat saam met my deel van die liggaam van Christus is, teregwys. Verhoudings is die konteks waarbinne teregwysing moet geskied.

Hier is twee belangrike vrae waarna ons moet kyk:

  • Wat is die Christen se rol in die teregwysing van ander Christene? Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie (Matteus 7:1). Maklik. Maar in vers 20 sê Jesus dat ons vals profete aan hulle vrugte sal ken. Dit beteken ons sal na ander kyk en sien wat hulle is. Is dit nie ‘n teenstelling nie? Jesus is bekommerd oor die hart en nie soos ons net oor die optrede van mense nie. Christene moet ander Christene teregwys as hulle ‘n verhouding met mekaar het en as die doel is om te herstel en nie te veroordeel nie.
  • Wat is ‘n Christen se reaksie as hy deur ander tereggewys word? Niemand wil hoor dat wat hy doen, verkeerd is nie. Ons sien dit as vernederend en ons word kwaad. Net so dikwels as teregwysing misbruik word, net so dikwels word dit vermy. Kyk weer na Matteus 18:15: As hy na jou luister … Luister is die kernwoord. Moenie onmiddellik begin verdedig as iemand jou teregwys nie … luister. Dit vereis moed om iemand te konfronteer. Baie doen dit met goeie bedoelings. Ons moet luister en nadink oor wat gesê word as ons tereggewys word. Onthou altyd: ek mag verkeerd wees.

Die belangrikste eienskap as ons ander teregwys of self tereggewys word, is nederigheid.

 




Beweeg mense

It must not be expected that the devil will let those rest who are laboring to destroy his kingdom. —Thomas Watson

Beweeg mense

Tydens die Amerikaanse burgeroorlog kom ‘n bewonderaar by Abraham Lincoln en sê: “Almal stem saam dat die welstand van die volk van God en van u afhang.” Dan Lincoln se antwoord:”You are half right.”  Lincoln besef dat die toekoms van die volk in die hande van Iemand wat veel groter as hy was, is. Ja, hy het ‘n belangrike taak gehad om te doen, maar die toekoms van die volk kon hy nie bepaal nie.

 

Lincoln, soos elkeen wat in ‘n bediening werk, besef dat die gang van die mens se gebeure  bepaal word deur ‘n krag wat veel groter as hy is. Geen geestelike oorwinning kan net met menslike pogings behaal word nie. Mense kan nie transformasie van lewens produseer nie. Maak nie saak hoe talentvol of kreatief ons is nie, ons kan dit nie doen nie. Ons kan ‘n deel tot die proses bydra, maar sonder God gebeur daar niks nie.

Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur die Gees, sê die Here die Almagtige (Sagaria 4:6). As ons in die krag van die Gees loop, dra God ons. Maak nie saak wat die omstandighede is nie, maak nie saak hoe swak ons is nie, ‘n krag veel groter as onsself dra ons.

Bediening is om die krag van God te herken en te erken en om ons sterkpunte te erken en te gebruik.