Prys en Kritiek

 You have given so much to me.  Give me one thing more – a grateful heart – George Herbert

Prys en Kritiek

Almal van ons hou daarvan om geprys te word; min van ons hou van kritiek. Moet ons ons aan alle prys en kritiek steur. J. D. Greear stel voor dat ons die volgende matriks moet oorweeg as ons terugvoering aan iemand moet gee. Dit bestaan uit vier kwadrante:

  • Algemeen positief

Hierdie is die sogenaamde algemene komplimente. Hulle is dikwels so generies dat ons hulle nie eers ordentlik hoor nie. “Ek is so dankbaar vir jou bediening.” “Goeie preek.” Ons waardeer dit, maar ons vergeet dit gou. Dit kommunikeer ‘n vae positiewe sentiment – die verbale ekwivalent van ‘n glimlag.

  • Positief spesifiek

Dit fokus op ‘n spesifieke gebeurtenis en die positiewe gevolg daarvan. “Die manier waarop jy materialisme in jou laaste preek hanteer het, het my uitgedaag om meer te gee.” Dit is dié belangrikste kwadrant. As iemand iets spesifiek prys, is jy meer geneig om daardie ding te herhaal.

  • Negatief spesifiek

Soos met positief spesifiek fokus dit op ‘n spesifieke gebeurtenis en die gevolge daarvan. “As jy laat by elke vergadering opdaag, wys dit vir ons dat dit nie vir jou ‘n ernstige saak is nie.” Negatiewe terugvoer het ‘n plek in elke organisasie – ook die kerk. Die probleem is dat ons dikwels positiewe terugvoer aanvaar en negatiewe terugvoer ignoreer. Kritiek moet altyd privaat gelewer word en gepaard gaan met konstruktiewe idees om in die toekoms te verbeter. Negatief spesifieke terugvoer werk net in ‘n omgewing waar mense mekaar respekteer. Ons moet eers ‘n verhouding van wedersydse vertroue skep. As jy iemand respekteer, mag jy sy kritiek verwerp, maar jy gaan altyd na hom luister.

  • Algemeen negatief

Hierdie kritiek is van min waarde. Moenie jou tyd hier mors nie.

As jy terugvoer gee, probeer altyd in die positiewe spesifieke kwadrant bly. As dit egter nodig is, moet jy nie die negatief spesifieke kwadrant vermy nie. Vir baie gelowiges is dit moeilik – ons voel ons gaan nou teen Bybelse beginsels. Wat egter die geval is in meeste gevalle is ‘n gebrek aan vertroue. Vertrou is die belangrikste element is enige organisasie: Bewaar dit; ontwikkel dit; gee dit.0

 




Watter soort leier moet ons kies?

I have nerver met a man I could despair of after discerning what lies in me apart from the grace of God – Oswald Chambers

 Watter soort leier moet ons kies?

1 Samuel 16 beskryf ‘n oorgangsfase – die agteruitgang van Saul as leier en die opkoms van Dawid. Dit is duidelik dat Saul as leier misluk het. Dit beteken nie dat Dawid die ideale leier is nie. Die Bybel skryf baie openlik oor al sy foute en tekortkominge. 

 

 

Hoe moet ons ‘n leier verkies? Die Here kies self die leier: Onder sy seuns sien Ek vir My ‘n koning (16:2). God se oppermag is hier aan die werk – beide in die keuse en voorbereiding van die leier wat Hy roep. Dawid pas sy pa se skape op totaal onbewus daarvan dat hy in God se leerskool vir leiers is. Dan leer Samuel ‘n belangrike les: Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike (16:7). Samuel het na Eliab se voorkoms en buitengewone lengte gekyk en gedink dat hy ‘n geskikte koning sal wees, maar die Here kyk na Dawid.  In Hoofstuk 16 lees ons van ander eienskappe wat Dawid ‘n goeie leier sou maak:

  • Hy was betroubaar – ook as skaapwagter (16:11).
  • Hy het ‘n rooi gelaatskleur gehad, mooi oë en ‘n goeie voorkoms (16:12).
  • Hy was ‘n vaardige musikant (16:18).
  • Hy is ‘n dapper man en goeie vegter
  • Hy kan sy woord goed doen (16:18).
  • Die Here is by hom (16:18).
  • Saul het baie van hom gehou: Laat Dawid tog vir my werk ek hou van hom –  hy inspireer liefde in ander mense (16:22).
  • Hy was gewillig om ander leiers te dien en het nie net op sy eie agenda gefokus nie (16:21).

 Kyk ons ooit na hierdie eienskappe as ons leiers moet aanstel.




Ons kry swaar

Let your last things be all thanks – W. H Auden

Ons kry swaar

Ons kry swaar – finansieel, geweld … Waar gaan alles eindig?  Bob Buford het vir ‘n groep van sy vriende gevra: Hou die huidige ekonomiese onsekerheid enige voordele vir die koninkryk van God in? Hulle identifiseer vier maniere waarop swaarkry ons beter kan maak:

 

  • Swaarkry laat ons weer besef wat werklik belangrik is. Dit is nie dit wat ons op aarde bymekaarmaak wat belangrik is nie, maar die skatte wat ons in die hemel bymekaarmaak wat belangrik is. As jy wil weet wat vir ‘n persoon belangrik is, kyk na sy tjekboek. Jesus was reg toe hy gesê het daar waar jou skat is, sal jou hart ook wees.
  • Nood laat ons op sake van die hart eerder as sake van die kop fokus. Fokus ons genoeg op dit wat ons ongelukkig so dikwels as klein dingetjies beskou – my verhouding met God.
  • Swaarkry herinner ons daaraan dat ons nie in beheer is nie. Dan word ons daaraan herinner dat ons net rentmeesters en nie eienaars is nie. Binnekort sal alles wat ons besit uit ons hande geneem word – ons is net die tydelike eienaars.
    • In oorvloed ly dissipline. As ek swaarkry en my hulpbronne min raak, kry ek nuwe prioriteite en maak nuwe keuses – veral tussen vrees en geloof en tussen sukses en betekenisvolheid. He who dies rich, dies disgraced (Andrew Carnegie).

 

Swaarkry het sy voordele. Ons moenie altyd kla as dinge opdraand loop nie.




Reëls en nogmaals reëls

When Christ calls a man, he bids him come and die – Dietrich Bonhoeffer

Reëls en nogmaals reëls

‘n Man in blou jeans stap die bank in om ‘n transaksie te doen. Die teller sê vir hom dat die persoon vir wie hy moet sien nie daar is nie – hy moet die volgende dag terugkom. Hy is doodtevrede om die volgende dag weer te kom. Hy vra die teller om net sy parkeerkaartjie te stempel. Die teller sê dat hy dit net kan doen as ‘n transaksie voltooi is en daar was geen transaksie nie. Tegnies, volgens die beleid van die bank, het hy nie ‘n transaksie voltooi nie. Hy vra dat hulle ‘n uitsondering moet maak, want hy het gekom vasbeslote om ‘n transaksie te doen. Die teller staan vas: “Jammer dit is ons beleid. Reëls is reëls.”

 

 Hy besluit hy gaan dan wel ‘n besigheidstransaksie doen – hy gaan sy rekening sluit. Die man was John Akers, op daardie stadium die voorsitter van IBM. Daar was $1,5 miljoen in die rekening. Dit was ‘n besigheidstransaksie en die teller kon die parkeerkaartjie stempel.

 Is dit nie wat soms in ons kerke gebeur nie? Vir sommige kerke is reëls belangriker as verhoudings. As onderhoud van die reëls dié fokus van die kerk word, word vrees die primêre motiveerder. Ons sien die muggie raak, maar nie die kameel nie.