Jesus die Goeie Herder en die Seun van God (10:1-42)
Jesus die Goeie Herder en die Seun van God (10:1-42) – Francois Malan
(10:1-6)
10:1 Dit is die enigste keer in hierdie Evangelie dat ‘n gesprek begin met ‘n plegtige formule: ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle’. Gewoonlik volg dié formule nadat die gesprek al aan die gang gekom het. Dit wek die vermoede dat die hoofstuk aansluit by die vorige gesprek met die Fariseërs oor die Goeie Herder, hoewel Jesus Hom hier tot sy volgelinge rig. Hulle is die skape wat in Jesus se kraal beskut en versorg word. Die ‘dief en rower’ word eerste genoem. Na die gesprek met die godsdienstige leiers in 9:40-41, is dit waarskynlik ‘n verwysing na hulle as valse herders waaraan die volk van God blootgestel is, en wat sy skape weglei van God af, en dit met geweld doen (vgl. Esegiël 34:1-6).
10:4-5 In die Ooste was dit gebruik dat die herder voor sy klein troppie skape loop en hulle hom en sy stem volg. Maar ‘n vreemde praat verniet met hulle. Hulle ken nie sy stem nie. Die slagter jaag die skape aan, maar die herder loop voor.
10:6 Johannes noem die prentjie wat Jesus hier van die herder en die skape geskets het beeldspraak (die drie ander Evangelies ‘gelykenis’). Die toneel van die skaapkraal verbeeld iets van die gebeure in hoofstuk 9. Die behandeling wat die blinde deur die ‘siende’ Jode, wat hom uitban uit die sinagoge, kwalifiseer hulle as diewe en rowers, vreemdes, terwyl die blinde vir Jesus herken en Hom volg. Jesus se volgelinge verstaan ook nie die beeldspraak nie, daarom verduidelik Hy die beeldspraak in die volgende gedeeltes oor die poortwagter (7-10) en die herder (11-18).
(10:7-10)
10:7-8 Met beklemtoning bevestig Jesus ‘voorwaar, voorwaar, sê Ek vir julle: Ek is die poort vir die skape (vgl. Ps 118:19,20 die tempelpoort na die Here toe waardeur die regverdiges, mense wie se verhouding met God reggemaak is, mag deurgaan). Hy is die ‘weg…niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie’ (Jn 14:6). Die valse messiasse in die Jodedom, die verlosser-gode van die heidene, die Fariseërs wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle die sleutels van die koninkryk van God het (Mat.23:13), van almal wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle middelaars van verlossing is, sê Jesus dat hulle diewe en rowers is. Hulle belas die volk en verryk hulleself (vgl. Lk 16:14 oor die Fariseërs se liefde vir geld; Mat 7:15 oor die valse profete as verskeurende wolwe).