Die koninkryk van God (1)

He lay in the crib so that you might stand at the altar – die Heilige Ambrosius

Die koninkryk van God (1)

Die tyd het aangebreek en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15). Wat beteken hierdie koninkryk waarna Jesus hier verwys. Kom ons kyk eers na twee aspekte van terminologie:

  • Koninkryk van God teenoor die koninkryk van die hemel wat ons veral in Matteus kry. Vroom Jode het die gebruik van God se Naam vermy en praat eerder van die hemel. Daar is dus geen verskil tussen die twee nie.
  • Koninkryk verwys altyd na ‘n gemeenskap in een of ander vorm. God se koninkryk is dus die gemeenskap waarin sy mense in vrede lewe. Ons moet nooit hierdie sosiale dimensie miskyk nie. Johannes die Doper stuur van sy dissipels na Jesus met die vraag: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag? (Lukas 7). Jesus antwoord hulle met: Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. Die koninkryk is die plek waar God se genesing elke mens in sy regte plek sal herstel.

Die inwoners van die koninkryk van God is diegene wat Hom volg en hulle hoop op Hom vestig en deur Hom genees word. Hulle word herstelde beelde wat die heerlikheid van God weerspieël deur Hom en ander mense lief te hê. In sy koninkryk heers daar vrede en almal is welkom aan sy tafel.

Maar wanneer kom hierdie koninkryk? Jesus Christus leer vir ons dat sy koninkryk reeds hier is, maar dat dit nog nie volmaak is nie. Volledige vervulling gaan eers gebeur as Hy weer kom.

Opsomming: Die koninkryk van God is ‘n gemeenskap waarin God se wil gedoen word; waarin mense genees word om die mense wat hulle behoort te wees, te wees; waarin mense ‘n gemeenskap van vrede vorm.

Hoe gaan ons in hierdie koninkryk in? Daarna kyk ons volgende keer.




Die Messias het gekom

The living Christ still has two hands, one to point the way, and the other held out to help us along = Thomas Walter Manson

Die Messias het gekom

Johannes die Doper het gesê dat die Messias, vir wie hy die pad voorberei, met die Gees sal doop. Kom ons kyk na Lukas se hantering van hierdie saak.

Jesus Christus is gekruisig, Hy het opgestaan en verskyn aan sy dissipels. Hy wys hulle  hoe om die Skrif te verstaan. Daar staan geskrywe dat die Christus moet ly, dat Hy op die derde dag uit die dood sal opstaan en in sy Naam moet bekering en vergewing van sonde verkondig word van  Jerusalem af en verder. Dan gee Hy aan hulle ‘n belofte en opdrag: En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is (Lukas 24:49). Jesus Christus gaan voorsien wat Johannes die Doper lank gelede geprofeteer het – die Gees van God. Deur die Gees gaan God sy gemeenskap bemagtig om sy pad te loop.

 

Later skryf Lukas: Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word (Handelinge 1:4 – 5) – herinner aan wat Johannes die Doper gesê het.  Die teken van die nuwe tye van God se teenwoordigheid by die mense kry alles in die belofte van die Heilige Gees gestalte.

In Handelinge 2 lees ons eerstens van die uitstorting van die Heilige Gees en daarna Petrus se toespraak. Hierdie toespraak is belangrik, want dit sê vir ons wat hierdie vroeë apostels verkondig het: God se belofte van die Heilige Gees. Op hierdie pinksterfees is die groot besprekingspunt die uitstorting van die Heilige Gees en die aanbreek van ‘n nuwe tyd vir God se kinders op aarde. Die hoogtepunt is vers 36: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak.

Die eerste preek van die vroeë kerk praat van Jesus Christus wat die Heilige Gees gee om die verhouding tussen God en mense te herstel. Nou 2 000 jaar later is ons nie meer verbaas oor hierdie wonder nie. Ons is nie meer verwonderd  oor die Skeppergod wat na opstandige mense afbuig nie. Is dit nie weer tyd om verbaas te staan oor hierdie wonder nie?




Johannes die Doper

We ought to read the Scriptures with the express design of finding Christ in them – Johannes Calvyn

Johannes die Doper

Johannes is in die woestyn. Hy gaan deur die hele Jordaanstreek en verkondig:  Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe (Lukas 3). Die mense kom in groot getalle na hom toe om gedoop te word. Nou begin die mense wonder: Is Johannes nie miskien die Christus nie? Maar Johannes antwoord: Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.

 

Die Jode het geglo dat Johannes dalk die Christus mag wees. Johannes ontken dit. Hoe sal ons dan weet of die nuwe tyd– die tyd van die Messias – aangebreek het? Is daar ‘n teken wat ons kan help?  Na Johannes kom die Messias en ons sal weet dit is Hy, want Hy doop mense met die Heilige Gees. Esegiël het reeds gesê Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom  (36:27). Jesus kom nou om hierdie belofte te vervul.

Ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hierdie is ‘n merkwaardige stelling:

  • Johannes was nie sommer enige mens nie. Jesus sê van hom: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter as Johannes is nie (Lukas 7:28). Selfs Hy kan nie die Messias se skoene losmaak nie.
  • Daar was streng reëls oor Joodse slawe. Die een ding wat ‘n Joodse slaaf nie mag gedoen het nie, was om sy eienaar se skoene uit te trek nie. Dit is gewoonlik die voorloper tot die was van die eienaar se voete. Daarvoor moes ‘n nie-Joodse slaaf gebruik word. Dit wys vir ons dat die verskil tussen Johannes en die Een wat nog moet kom enorm groot was – die kloof tussen Hom en die profeet was wyd en diep.

Die doel van die Heilige Gees is om die verhouding tussen God en die mens weer te herstel. God kom in ons lewens en herstel die verhouding en ons word deel van sy huisgesin. Hierdie belofte – die herstel van ons verhouding met God en God se teenwoordigheid – loop soos ‘n goue draad dwarsdeur die evangelie.




Die kerk en die gemeenskap

This is what we should in short seek in the whole of Scripture: truly to know Jesus Christ, and the infinite riches that are comprised in him and are offered to us by him from God the Father – Johannes Calvyn.

Die kerk en die gemeenskap

Die kerk op aarde is in ‘n stryd gewikkel – ‘n geestelike stryd. Die plaaslike gemeente moet die gemeenskap vir God wen. Vir so ‘n stryd het ons ‘n strategie nodig. Rick Warren beskryf sewe aspekte van hierdie strategie.

  • Daar moet eenheid wees. Die hele liggaam (die gemeente) moet saamgebid wees in visie, doel en waardes. Gemeentes begin dikwels bedienings om spesifieke behoeftes te hanteer, maar dink nie daaraan hoe dit ander bedienings mag beïnvloed nie. Alle bedienings moet op dieselfde bladsy wees – hulle moet dieselfde operasionele plan volg.
  • Die gemeente moet nie rigied in die uitvoering van sy plan wees nie. Moenie elke klein besonderheidjie beplan nie Jy het langtermyn doelwitte nodig, maar nie ‘n langtermyn strategie nie. Hoekom nie? Jy weet nie hoe jou gemeenskap en die kultuur  gaan verander nie. Die gemeente moet kan aanpas.
  • Die gemeente moet mense bemagtig om hulle eie besluite te kan neem – die mense wat die bediening doen, moet hulle eie besluite neem.
  • Die gemeente moet sy mobiliteit behou. Hoe groter die gemeente, hoe meer strukture, hoe stadiger beweeg die gemeente.
  • Die gemeente moet sy kommunikasievaardighede opskerp. Die verhaal wat die gemeenskap van die gemeente vertel, is dikwels die negatiewe ondervindings wat hulle beleef het. Ons moet altyd onthou dat alles wat ons in die gemeente doen, is kommunikasie.
  • Die gemeente moet die “vyand” se swakhede ken. Ons sien dat mense vir plesier, geld en sukses leef – dit is Satan se strategie. Wat ons vergeet, is dat aan die einde van hierdie vrugtelose soektog mense honger en dors is vir ware antwoorde. Dan moet ons reg wees om Jesus as die antwoord voor te stel. Op een of ander stadium besef mense dat hulle verkeerd gelewe het. Dan moet ons hulle help om te ontdek dat Jesus die enigste Verlosser is.
  • Die gemeente moet redelike risiko’s aanvaar. As ons die potensiële koste van sukses bepaal het, moet die gemeente besluit of dit die moeite werd is. Aan die een kant moet ons nie sommer blindweg besluite neem nie; aan die ander kant moet ons die leiding van die Heilige Gees vertrou.

Ons glo dat die gemeente deel van die omliggende gemeenskap moet wees. Hier is ‘n paar goeie riglyne oor hoe ons dit kan aanpak.