Belofte of Werklikheid

I have met the enemy and he is us – Walt Kelly.

Belofte of Werklikheid

G. Campbell Morgan preek in ‘n aftreeoord. Sy teks was Matteus 28:18 – 20: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

 

Hy staan so ‘n oomblik stil en sê toe: “Ek is altyd by julle – is dit nie ‘n wonderlike belofte nie?”

In die voorste ry sit ‘n ou dame: “Nee, dit is nie ‘n wonderlike belofte nie.”

Doodse stilte. Morgan is vir ‘n oomblik uit die veld geslaan. Dan gaan die ou dame voort: “Dit is nie ‘n wonderlike belofte nie … dit is ‘n wonderlike werklikheid.”

Hierdie dame verstaan dat God belowe het dat Hy by haar teenwoordig sal wees, maar sy verstaan ook dat Hy op daardie stadium by haar teenwoordig is.

 Dit is wonderlik as ons God se beloftes oor sy teenwoordigheid nie net wegbêre nie, maar as dit ‘n werklikheid in ons lewens word.




Is kennis belangrik?

There can be nothing in the universe that fails to express, to incarnate the revelation of the thought of God – Abraham Kuyper.

Is kennis belangrik?

Ons kry nogal ‘n hele paar verse in die Bybel wat die waarde van kennis bevraagteken. Hier is ‘n paar voorbeelde:

  • Baie wysheid stel hoë eise, wie kennis versamel, versamel smart (Prediker 1:18).
  • Jou wysheid en jou kennis het jou mislei (Jesaja 47:10).
  • Want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan tog geskrywe: :Hy vang die slimmes met hulle eie slinkse planne (1 Korintiërs 3:190.

Beteken dit nou dat die Bybel geen respek vir kennis het nie?

 Dieselfde Prediker wat ek daarbo aangehaal het, sê ook: Kennis en wysheid verryk die lewe van hom wat dit besit (7:12). Hoe nou gemaak? Kry ons teenstrydige uitsprake oor kennis in die Bybel? Nee. Paulus in sy skrywe aan sy jong leerling los ons probleem op: Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die “kennis”, soos die verkeerdelik genoem word (1 Timoteus 6:20). Is die Bybel teen kennis? Nee. Wat die Bybel wel doen, is om tussen ware en vals kennis te onderskei. Ons moet altyd hierdie onderskeid in gedagte hou.

 Opsommend:

  • Die Bybel inspireer respek vir ware kennis.
  • Die Bybel waarsku ons teen vals kennis.

Hoe kan ons tussen ware en vals kennis onderskei? Kennis begin met die dien van die Here (Spreuke 1:7).




Selfbeheer is nie self beheer nie

We should never be afraid to trust an unkown to a known God – Corrie Ten Boom

Selfbeheer is nie self beheer nie

Selfbeheer is ‘n Bybelse konsep. Diegene sonder selfbeheer pas Paulus se beskrywing: Die goeie wat ek wil doen, doen ek  nie,maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek (Romeine 7:19). Uit ‘n Bybelse perspektief kan ons onsself nie beheer nie. Dit is wat Paulus in Romeine 7 sê: Ons wil doen wat ons weet ons behoort te doen, maar doen dit nie. Daarom roep hy uit: Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Die self moet beheer word, maar ons moet elders kyk hiervoor.

 

Petrus sê dat ons alles in die stryd moet werp om ons geloof met selfbeheersing te versterk (2 Petrus 1:5 – 7). Selfbeheersing is ook ‘n vrug van die Gees (Galasiërs 5:22 – 23). Hier sit ons nou met ‘n dilemma: God verwag selfbeheersing van ons, maar ons kan nie onsself beheer nie. Dit is immers wat ons in Romeine 7 lees.

Die antwoord vir hierdie dilemma kry ons in Romeine 8. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, ons wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees (Romeine 8:4). Wat ons nie self kan regkry nie, word nou moontlik gemaak deur die Gees. Selfbeheersing is nie iets wat ons met groot moeite self regkry nie – dit is ‘n vrug van die Gees.

God vereis selfbeheersing van ons en dit is moontlik, maar nie as ons dink selfbeheer is self beheer nie. Dit is selfbeheer eers as ons self onder beheer van die Gees gebring is. As jy sukkel met selfbeheer en jouself wil regruk, lees Romeine 7. Onmiddellik sal jy besef dit is ‘n onmoontlike taak. Lees dan Romeine 8 en kyk na die krag wat vir ons in die Heilige Gees beskikbaar is. Word bemagtig deur die Heilige Gees en kry die self in selfbeheer.




Laat sy liefde jou lei: Om die “onaangenames“ te seën

Laat sy liefde jou lei: Om die “onaangenames” te seën – Milanie Vosloo

Spreek die Here se seën uit oor elkeen wat julle vloek. Moenie iets terugsê nie. Bid vir almal wat julle beledig. Lukas 6:28

Ek is seker jy het met die lees van die vorige stukkie ‘n paar mense voor jou geestesoog opgeroep wat jy régtig nie kan liefhê nie. Party van hulle is dalk spoke uit jou verlede, ander onlangse ontmoetings of dalk is ván hulle mense wat intens déél van jou lewe is. Miskien het jy baie hard probeer om vir hulle te bid en ondervind dat die negatiewe beeld wat jy van hulle het, telkemale jou gebede versmoor. Hopenlik het jy tóg ’n sweempie verandering in jou hart gevoel toe jy hulle aan die Vader opgedra het.

Ongeag wat jou hart se reaksie op jou gebede was, moet jy aanhou probeer om voort te gaan om vir daardie mense te bid van wie jy nie hou nie. Bid ook dat die Gees van God jou in jou swakheid sal bystaan en jou in staat sal stel om dinge te doen wat menslik gesproke onmoontlik is. Ja, dat Hy jou hart radikaal sal verander!

Bly bid en gló dat Hy jou menslike hart sal omskep in ’n hart soos dié van Jesus: ’n Hart wat tot aan die kruisdood in staat was om vir sy vyande te bid. Gló dat Hy reeds begin het om dit te doen en gaan leef daarvolgens,

Gees van God, ek kan nie self liefhê nie, maar dankie dat ek deur U wel my vyande met liefde kan seën.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo