‘n Vrou in owerspel betrap (7:53-8:11)

‘n Vrou in owerspel betrap (7:53-8:11) – Francois Malan

Hierdie verhaal is in die vroeë kerk mondelings oorgelewer en eers in die 4e eeu n.C. in sommige manuskripte opgeneem, wat dit op verskillende plekke ingesit het, soms met ‘n aantekening dat dit nie oorspronklik van Johannes af kom nie. Die plasing na Johannes 7:52 suggereer dat die episode tydens die vrolike Loofhuttefees gebeur het. Dit is ook ‘n goeie voorbeeld van wat Jesus in Johannes 8:15 sê.

7:53-8:2  Jesus bly die nag op die Olyfberg (vgl. Mt 8:20; Lk 21:37). Die rabbi’s het gewoonlik gesit wanneer hulle hulle leerlinge geleer het. Jesus sit ook rustig terwyl Hy die volk leer. Sy krag lê in sy persoon en die krag van sy woord. 

 

8:3 Skrifgeleerdes en Fariseërs ‘bring’ die vrou na Jesus toe – die werkwoord suggereer dat dit met geweld geskied, en die werkwoord ‘betrap’  veronderstel ‘n arrestasie, dat hulle haar gegryp het. Die werkwoord vir ‘egbreuk’ veronderstel dat die vrou getroud is. Van die man wat betrokke was, sê hulle niks nie, hoewel die wet dit vereis (Deutr. 22:22). Dat hulle haar in die openbaar voor Jesus sleep, toon hulle nydige en gemene optrede, en dat hulle haar op ‘n slinkse manier betrap het.

 

8:4-6 Hulle saak is waterdig want sy is op heterdaad betrap. Om Hom te vlei spreek die skrifgeleerdes Jesus aan as ‘Leermeester’ (Rabbi), met gesag om die wet te vertolk, soos die Skrifgeleerdes (anders as in 7:15). Hulle verwys na die wet van Moses, na wie Jesus in 7:19-23 verwys het, maar haal hom nie heeltemal reg aan nie. In Lev 20:10 en Deutr. 22:22 word gesê dat die getroude man en getroude vrou altwee doodgemaak moet word oor hulle egbreuk. Hulle wil ‘n strik vir Jesus stel om sy gewildheid onder die mense te knou: As Hy saamstem met die wet van Moses, weerspreek Hy sy optrede teenoor armes en sondaars, en sy ongeërgdheid teenoor die rituele wette. As Hy nie met Moses saamstem nie, bewys Hy Homself as ‘n wettelose persoon wat die volk mislei, teen wie hulle ‘n klag by die Joodse Raad kan inbring.

            Jesus antwoord nie dadelik nie, maar soos Hy sit, begin Hy op die grond skrywe met sy vinger. Wat Hy geskryf het en waarom Hy geskryf het, bly onbekend. 

 

8:7-8 Die aanklaers dring aan op ‘n antwoord. Jesus se opdrag aan hulle kom uit die wet, dat so ‘n vrou gestenig moet word, en Deutr. 13:9-10; 17:7 bepaal dat die getuies die eerste klippe moet gooi. Daarmee bewys Hy dat Hy die wet van Moses ken en gehoorsaam.  Maar Jesus stel ‘n voorwaarde wat op twee maniere verstaan kan word: (i) met die betekenis ‘sonder skuld’ word die klaers gevra of hulle nie ook skuldig is aan owerspel nie; (ii) met die betekenis ‘sonder sonde’ verwys dit wyer, na enige sonde, in denke, woorde en dade voor God. Daarmee word die bordjies in hierdie onoffisiële hofsitting verhang. Die aanklaers word persoonlik in die geding betrek en voor die konsekwensie van hulle woorde gestel. Hierdie is nie ‘n offisiële hofsitting wat op regsgronde argumenteer, en waar hulle die regters is nie. Jesus laat morele oorwegings inspeel op die aanklaers se optrede en hulle verlede. Selfs die aanklaers se motief  is verdag, nl. om iets te kry om Jesus te kan aankla (18:6). Na rustige oorweging verpletter Jesus met sy eis die heerlike gevoel van hulle selfgeregtigheid, en gaan ongestoord voort om op die grond te skryf. Daarmee gee Hy aan die klaers die geleentheid om na te dink oor sy woorde.

 

8:9 Aanskoulik word die toneel geskilder hoe hulle een vir een wegstap. Die oudstes loop eerste. Hulle was die ervare leiers van die jongeres. As die vrou wederregtelik gestenig word, sou hulle die verantwoordelikheid daarvoor dra. Die woorde van Jesus brand in hulle gewete, en hulle weet hulle het geen verweer daarteen nie. Hulle eie sonde het nou meer aktueel geword as die oortreding van die vrou (vgl. Mt 7:1-5). Wanneer almal weg is, bly net die vrou oor, voor Jesus, waar die kring aanklaers  om haar gestaan het. Aangrypend word die nuwe situasie in enkele woorde geskilder: ‘en Hy was alleen agtergelaat, en die vrou wat in die middel is.’ Nou is die hele fokus op hulle twee. Hy, die sondelose, sou haar kon stenig.   

 

8:10,11 Op Jesus se vraag of niemand haar veroordeel het nie, antwoord sy slegs: Niemand nie Here. Die vrou beleef Jesus as die bevryder uit die kloue van haar aanklaers wat haar na die tempelplein toe gesleep het. Hoe sy die aanspreekvorm ‘here’ bedoel het. word nie gesê nie. Maar sy het voor Jesus bly staan en wag op haar Regter se uitspraak.

            Jesus spreek die verlossende woord: Ek veroordeel jou ook nie – Hy het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word  (3:17; 12:47). Maar Hy vermaan haar: ‘Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie.’ Hy het haar van die vreeslike straf van steniging bewaar, nie omdat Hy haar oortreding nie so ernstig opgeneem het soos die Joodse streng wetstoepassers nie, maar omdat Hy haar lewe op ‘n nuwe grondslag wou stel: ‘van nou af’ – vir die Samaritaanse vrou het Jesus gesê: daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid..’ (4:23). Daar moet by haar ‘n radikale lewensvernuwing intree, nie voortgaan in sonde nie – nie teen die wil en wet van God leef nie. Wie genade van God ontvang, word geroep tot ‘n nuwe lewe volgens die wil van God.

 

Die verhaal is ‘n uitbeelding van Joh. 3:17-21. Vergifnis beteken bevryding vir ‘n nuwe soort lewe. Genade is altyd onverdiend. Hierdie mooi aanskoulike toneeltjie is opgeneem in die Evangelie om vir ons bewaar te bly as ‘n riglyn vir ons lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




My roeping en tydsberekening

Iemand vra vir John D. Rockefeller Sr hoeveel geld nodig is om ‘n mens gelukkig te maak. Sy antwoord: Just a little bit more.

My roeping en tydsberekening

As jy iets wil bereik, is tydsberekening baie belangrik. As  jy die regte ding op die regte tyd doen, is die moontlikheid van ‘n positiewe effek net soveel groter. Daar is ‘n paar temas in Jesus Christus se onderrig  wat belangrik is vir ons tydsberekening:

 

  • Roeping beteken ek het vertroue in God – ek glo in Hom en ek is nie bang nie. Hoekom? Want Hy weet wat ek nodig het. Ons het net nie die kennis en wysheid om onder alle omstandighede die tye reg te lees nie. Dit is belangrik om daarop te let dat sy tydsberekening dikwels van ons tydsberekening verskil. As dit kom by tydsberekening moet ons toelaat dat God besluit.
  • Roeping beteken ek is gereed. Ons moet te alle tye waaksaam wees. Ons weet dat Jesus gesê het dat ons die tyd van sy wederkoms nie weet nie. Gereedheid beteken gehoorsaamheid; beteken my oë is altyd op Hom gerig.
  • Ek kan nie my hand op die ploeg hou en aanmekaar omkyk nie. Roeping is ‘n besluit om God onvoorwaardelik te gehoorsaam. Ek moet gereed wees vir die taak – geen voorwaardes nie.
  • Geen taak is bokant my vermoëns nie. Die Here het immers belowe dat as Hy my roep Hy vir my die krag wat ek vir die taak nodig sal hê, sal gee.

A stateman’s main task is to listen until he hears the rustle of God’s robe, then leap up and grab the hem of the garment – Bismarck.




Die koste van dissipelskap

The tragedy of modern man is not that he knows less and less about the meaning of his own life, but that it bothers him less and less – Vaclav Havel

Die koste van dissipelskap

As Jesus Christus my roep om ‘n dissipel van Hom te wees, staan ek voor ‘n groot uitdaging: ek moet myself versaak en my met Jesus Christus se lyding, verwerping en dood identifiseer. Die probleem is dat ons dikwels God se wysheid as dwaasheid beskou.

Baie van die profete se optrede kom vir ons dwaas voor:

 

  • Jesaja loop vir drie jaar lank naak en kaalvoet rond.
  • Jeremia dra ‘n swaar houtjuk om sy nek.
  • Esegiël moes in die openbaar ontlasting eet.
  • Hosea moes met ‘n prostituut trou.

Hoekom word Christene as dwaas beskou?

  • Die ideaal van die wêreld is om in beheer te wees. Die Christelike geloof beteken dat ek my beheer afstaan en totaal van die Here afhanklik word – ek gee myself op om sy kruis op te neem; dit is die begrafnis van my eie afhanklikheid. Om lyding te aanvaar is nie normaal nie – om die waarheid te sê ons doen alles in ons vermoë om lyding te vermy of ten minste te verlig. Enigeen wat vrywillig pyn kies, word gesien as dwaas. Die evangelies is egter baie duidelik dat dissipelskap met koste gepaard gaan. As Jesus Christus my roep duld Hy geen mededingers nie. Die bekende Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer, wat deur Hitler tereggestel is, het gesê: When Christ calls a man, he bids him come and die.
  • Die oomblik as jy ‘n dissipel van Jesus Christus word, posisioneer jy jou as teen die bestaande kultuur van die wêreld. Dit is nie so maklik nie, want almal, ook die kerk, wil graag relevant wees.
  • Die manier waarop ‘n dissipel op swaarkry reageer. Die normale reaksie is om so gou as moontlik van die swaarkry ontslae te raak. Die Christen, daarenteen, besef dat hy God se agenda moet uitleef. Hierdie agenda sluit dinge in wat die wêreld as dwaas beskou: Jy moet jou vyande liefhê; jy moet diegene wat jou vervloek seën … Dit is ‘n siening wat die wêreld verwerp.

Volgelinge van Jesus Christus sal baie name genoem word – meeste afbrekend. Maar ons identiteit word nie bepaal deur die name wat die mense vir ons geen nie, maar ons identiteit kry ons van die Here.




Roeping moet tot dankbaarheid lei

Imagination governs Mankind – Benjamin Disraeli

Roeping moet tot dankbaarheid lei

Roeping vir die volgelinge van die Here is ‘n herinnering dat ons niks as vanselfsprekend mag aanvaar nie. Alles in die lewe moet ons met dankbaarheid ontvang. Maar ons is trots en spog dat ons onafhanklik is. Hoe dikwels hoor ons nie: Ek is ‘n selfgemaakte man. Ons moderne mense glo dat ons God nie meer nodig het nie – ons het nie meer ‘n sin vir dankbaarheid nie.

 

Daar is twee dinge nodig vir dankbaarheid:

  • ‘n Besef van totale afhanklikheid. Vandag glo ons ons kan ons lewens op ons rede, tegnologie, ens bou – ons het God nie meer nodig nie.
  • ‘n Besef dat ons moreel skuldig is. Hierdie skuldbesef  het verander in ‘n aanspraak op ons regte – dit waarop ons glo ons geregtig is.

Wat het ons wat ons nie ontvang het nie? Soos Dante in sy Paradise sê: No one thinks of how much blood it costs. Die oomblik as jy dit besef, kan jy net in verwondering gaan stilstaan. Dan word ons onafhanklikheid vervang met wonder en dankbaarheid; dan word ons bewus van God se genade en sy soewereine inisiatief.

Wat leer ons hieruit?

  • Omdat ons soveel genade ontvang het en steeds ontvang, moet ons gewers van genade wees. I have never met the man I could despair  of after discerning what lies in me apart from the grace of God (Oswald Chambers).
  • Hierdie verband tussen roeping en genade moet ons daaraan herinner dat dankbaarheid ons eerste reaksie moet wees. You have given so much to mee. Give me ons thing more – a greatful heart (George Herbert).

Die feit dat God ons geroep het, moet lei tot ‘n besef van afhanklikheid van Hom en ‘n gevoel van diepe dankbaarheid.