My roeping: Wie is my gehoor?

[Tell my foes that] If they care to read and refute me, not to try to do it without the help of the truly sacred Scriptures. … If not, I shall not care a straw for all their croakings. -Huldrych Zwingli

My roeping: Wie is my gehoor?

As ons ons planne bespreek, dink ons onmiddellik aan doelwitte, teikendatums, evaluering, ens. Selde kyk ons na ons gehoor. Die vraag is nie of ons ‘n gehoor het nie, maar eerder: Wie is ons gehoor? As ek ‘n lewe leef deur na God se roeping te luister, leef ek voor ‘n gehoor wat alle ander gehore oortref – ‘n gehoor van Een.

 

Agter die stem van God staan die oog van God; agter die oog van God staan die gesig van God; agter die gesig van God staan die hart van God. God weet en Hy sien. Hy sien die swaeltjie. Ons wil so graag ons deugde ten toonstel om deur ander erken te word. Jesus sê dat ons die goeie dade in die geheim moet doen, want dan sal die Vader wat alles sien ons beloon.

Om voor ‘n gehoor van Een te lewe, maak ‘n groot verskil Ons hoef nou niks voor ander te bewys nie.




God roep my met woorde

Knowledge comes, but wisdom lingers. -Alfred, Lord Tennyson, digter (1809-1892)

God roep my met woorde

Woorde is die manier waarop God Hom aan ons openbaar. Dit geld ook vir my roeping. Dit is deur na Hom te luister, op Hom te vertrou, Hom te gehoorsaam as Hy my roep dat ek toelaat dat God God in al sy majesteit is. God se roeping bestaan uit ‘n oproep en ‘n uitnodiging. Die elemente is dikwels afwesig in die “roeping” van vandag se Christene. Dit lei tot ‘n ongeërgdheid in ons geloof – ons gedrag toon geen teken dat ons geluister het toe Hy ons geroep het nie.

 

In die Ou Testament lees ons dat as God geroep het, het die mense voor Hom platgeval. Hulle kon Hom nie sien nie, maar het Hom gehoor. Lees net weer Markus 1 waar hy Jesus se roeping van sy eerste dissipels beskryf word. Hy roep vir Simon en Andreas waar hulle besig was om hulle nette in die see uit te gooi: Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg. ‘n Entjie verder kry hy vir Jakobus en Johannes waar hulle besig was om hulle nette reg te maak. Jesus roep hulle: Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan. Hierdie vier vissers kon net nie Jesus se roeping weier nie. Hulle het nie eers al hulle opsies oorweeg en toe besluit om Hom te volg nie. Hulle hoor en gehoorsaam onmiddellik. Daar is net een manier om Christus te volg: Los alles en volg Hom.

Wat ons vandag in meeste van ons kerke hoor, is ‘n sagte roeping ingestel op genade. Jesus se roeping gaan nie met toegewings gepaard nie. Maar ons vertrou op die gawes van die moderne lewe – ons het God nie meer nodig nie. Die kerk het sy gesag in die wêreld verloor. Hoe probeer ons hierdie gesag terug wen? Versterk instellings; sterker leierskap; duideliker formulering van wat ons glo … In ‘n wêreld so dinamies en individualisties is daar geen terugkeer na die gesag van die geloof sonder dat elke gelowige sy roeping verstaan nie.

Luther is geroep om voor die keiser te verskyn. My gewete is ‘n gevangene van die woord van God. Ek kan nie en sal nie iets terugtrek nie, want om teen my gewete te gaan is nie reg of veilig nie. God help my. Amen. Geloof in God sal net sy gesag herwin as gelowiges God meer vrees as wat ons die mag en gunste van die moderne lewe najaag. Ons moet weer ons roeping hoor en daardeur vasgevang word. Ons moet saam met Luther sê: Hier staan ek; ek kan nie anders nie. (Dit is onseker of Luther dit werklik gesê het.)




My roeping: Sekulêr teenoor geestelik

The ability to simplify means to eliminate the unnecessary so that the necessary may speak. -Hans Hofmann, skilder (1880-1966)

My roeping: Sekulêr teenoor geestelik

Ek kan nie my roeping van my werk onderskei tensy daar Iemand is wat my roep nie. Sonder my roeping het my werk geen sin nie. Anders is ek soos die werkolis wat sin vir die lewe uit sy werk probeer kry – tevergeefs.

 

Vandag word roeping dikwels as ‘n sinoniem vir werk gesien. Die doelpale het geskuif – roeping word nie meer deur God gedryf nie, maar deur ons pligte en rolle in die samelewing. Werk word nou vir ons heilig. The man who builds a factory build a temple. The man who works there worships there (President Coolidge van die VSA). Henry Ford gaan selfs verder: Work is the salvation of the human race, morally, physically, socially.  Roeping word ook gebruik vir werkers wat te min betaal word vir wat hulle doen – soos verpleegsters en sendelinge. Duur genade word nou goedkoop genade – sonder dissipelskap.

Hoe kom ons nou uit hierdie dilemma?

  • Oppas vir woordspeletjies wat voorgee dat roeping sonder Iemand wat roep aanvaarbaar is. Geen Roeper beteken geen roeping beteken dit is werk en nie ‘n roeping nie.
  • Ons moet primêre roeping tot sy ereplek herstel. My toewyding aan Jesus Christus is die hart van my roeping.
  • Roeping is nie om iets te doen of om iets te wees nie … ons word na Iemand geroep.

The greatest competitor of devotion to Jesus is service to Him … The one aim of the call of God is the satisfaction of God, not the call to do something for Him (Oswald Chambers).




Sekularisasie en ons lewe

The tragedy of modern man is not that he knows less and less about the meaning of his own life, but that it bothers him less and less – Vaclav Havel

Sekularisasie en ons lewe

Ons hoor so baie oor sekularisasie, maar wat is dit nou werklik? Dit is die proses waardeur die beslissende idees en instellings van godsdiens geneutraliseer word – godsdienstige idees is van min belang en godsdienstige instellings word gemarginaliseer. Ons moderne manier van dink, word tot ons vyf sintuie beperk.

 

Tradisioneel is ons lewens in ‘n huis met vensters geleef. Hierdie vensters was soms vuil of stukkend, maar dit was vensters na ander wêrelde. Die moderne lewe word in ‘n huis sonder vensters geleef. Minder en minder van ons lewens word aan God oorgelaat; meer en meer word ons lewens beheer deur ons gebruik van die rede – wetenskap en tegnologie. Die moderne wêreld kom sonder God klaar.

Wat is die invloed van my roeping deur God op sekularisasie?

  • Jesus Christus roep ons om Hom te volg. Terselfdertyd wys Hy vir ons op die belang van geestelike dissiplines in ons lewens. Vir Jesus beteken ‘n geestelike lewe nie net ‘n lewe van nadenke nie – dit is ook ‘n lewe van optrede en dien. Ons kan nie net op die pieke leef nie – ons moet afkom na die vallei van die alledaagse lewe waarheen ons roeping ons neem.
  • Jesus Christus roep ons na daardie spesifieke geestelike dissiplines wat noodsaaklik is om ons roeping te vervul.