God roep my: Wat beteken dit?

The more we get what we now call ‘ourselves’ out of the way and let Him take us over, the more truly ourselves we become – C. S. Lewis

God roep my: Wat beteken dit?

Kyk ons na die Bybel sien ons dat die woord verskillende betekenisse het.

  • Roeping het ‘n eenvoudige betekenis – God roep en ek antwoord. Ongelukkig het baie mense dit ‘n ingewikkelde teologiese begrip probeer maak.
  • In die Ou Testament beteken roep ook om ‘n naam te gee. So roep God vir Israel om sy volk te wees. Roep beteken dus nie net wees en doen wat ons reeds is nie. Dit beteken ook ons word wat ons nog nie is nie – Israel word God se volk.
  • In die Nuwe Testament kry die woord nog ‘n addisionele betekenis – amper sinoniem met verlossing. God roep mense na Homself om volgelinge van Jesus Christus te wees; Jesus Christus roep sy dissipels.
  • God roep mense na Homself. Hy is egter so ontsagwekkend en sy oproep so gebiedend dat net een reaksie toepaslik is. As Jesus Christus sy dissipels roep, roep Hy hulle na Homself, maar ook na ander dinge – vrede, gemeenskap, die ewige lewe, lyding, diens, ens. Hy roep ons na ‘n nog dieper dissipelskap.

Roeping is ‘n sentrale tema in die Bybel en word ‘n metafoor vir ‘n lewe van geloof. ‘n Dissipel is iemand wat geroep is en bewandel dan die Weg. (Die vroeë Christene het onder andere as mense van die Weg bekend gestaan.)

Ons word primêr na Iemand en nie na iets of iewers geroep nie. Sekondêr kan ek as geneesheer of onderwyser of boer geroep word. Natuurlik is hierdie sekondêre roeping belangrik, maar is altyd ondergeskik aan ons primêre roeping. Primêre en sekondêre roeping hoort bymekaar. Ons moet altyd seker maak dat die orde reg bly.

Alle volgelinge van Jesus Christus leef oral en in alles volgens hulle roeping. Die groot gevaar is dat ons in hierdie proses die geestelike en sekulêre aspekte van ons lewe skei. Ons glo dan dat roeping tot monnikke, priesters, sendelinge, ens beperk is. Al die ander mense het nie ‘n roeping nie, maar net ‘n werk. Maar alles wat ons in geloof en tot verheerliking van God doen, is deel van ons roeping. Die onderwyser en fabriekswerker kan God se werk doen net soos die sendeling dit doen. Luther het gesê dat God glimlag as Hy sien dat ‘n man ‘n baba se doek omruil. Jesus was ‘n timmerman; baie van die apostels was vissermanne; Paulus was ‘n tentmaker. God se roeping kom na gewone, eenvoudige mense wat alledaagse take verrig.

There is not one square inch of the entire creation about which Jesus Christ does not cry out, ‘This is mine! This belongs to me!’ (Abraham Kuyper). Roeping beteken dus dat Christus die Here oor elke deel van my lewe is.




Verantwoordelik vir, verantwoordelik aan

Either these are not the Gospels, or we are not Christians – Thomas Linacre nadat hy die vier evangelies gelees het.

 Verantwoordelik vir, verantwoordelik aan

Vandag is daar ‘n soeke na morele verantwoordelikheid. Ons hoor die wêreld verkeer in ‘n morele krisis wat reggestel moet word. Tot die 19de eeu was verantwoordelikheid nie ‘n deug nie – dit was die fondament waarop die ander deugde gebou was. Vandag is dit saam met deugde soos verdraagsaamheid van die enkele deugde wat nog oor is. Die probleem is dat ons verantwoordelikheid van sy wortels losgemaak het. Sonder wortels kan verantwoordelikheid net kwyn en mettertyd sterf.

 

Moderne verantwoordelikheid plaas ‘n swaar las op ons – ons is verantwoordelik vir onsself, ons persoonlikheid, ons toekoms, ons familie, ons omgewing … Hierdie verantwoordelikhede word elke jaar groter en minder bereikbaar. Ons word moedeloos. Nog erger: ons word nie gesê aan wie ons verantwoordelik is nie. Hierdie kombinasie van verantwoordelikheid wat te groot word en verantwoordelikheid aan niemand beteken dat alle verantwoordelikheid in duie stort.

Ons roeping gee ‘n vaste basis vir verantwoordelikheid. Die mens is verantwoordelik, want hy kan reageer – ons kan op God se woord aan ons reageer. Maar, ons word nie gedwing om ja te sê nie. All the shrewdness of ‘man’ seeks one thing: to be able to live without responsibility (Kierkegaard). Jesus het dikwels gesê dat mense wat ore het, moet luister. Natuurlik het almal wat dit gehoor het ore gehad, maar nie almal het geluister nie. Vir ‘n Christen is versoeking ‘n ander woord vir gehoorsaamheid.

Lees weer die verhaal van Josef en Potifar se vrou in Genesis 39. Sy het dag vir dag by Josef aangehou, maar hy het bly weier om by haar te gaan slaap. Hier was niemand wat Josef dopgehou het nie – geen menslik gehoor nie, maar wel ‘n gehoor van Een. Hierdie is roeping in aksie.

Die soeke van verantwoordelikheid vir kan net opgelos word deur vas te stel aan wie ons verantwoordelik moet wees. Die antwoord is verantwoordelik vir plus verantwoordelikheid aan.




My roeping en lewensdoel (3)

God uses men who are weak and feeble enough to lean on him. —Hudson Taylor

My roeping en lewensdoel (3)

Die groot probleem in ons soeke na ‘n lewensdoel is die afstand tussen Skepper en skepsel. Maak nie saak hoe briljant of toegewyd ons is nie, ons kan nie daardie afstand oorbrug nie. Ons kan nie vir God vind sonder God nie; ons kan nie vir God bereik sonder God nie. Ons soeke na ons lewensdoel is tevergeefs tensy God se genade die soeke inisieer en tensy God se roeping ons na Hom toe trek nie.

God kan hierdie Skepper-skepsel afstand oorbrug. Ons soek tevergeefs – alles is genade. Die geheim is nie dat ons na God toe opklim nie, maar dat Hy na ons toe afbuig.

 Jesus se genesing van die blinde Bartimeus help ons baie (Markus 10:46 – 52). Jesus kom in Jerigo aan. ‘n Skare drom om Hom saam. Toe Bartimeus hoor dat dit Jesus is, roep hy na Jesus. Die mense probeer hom stilmaak, maar Jesus sê vir hulle: Roep hom nader.  Let op sy reaksie  toe hy hoor dat Jesus hom roep: Hy het sy bokleed net daar gelos en opgespring en na Jesus toe gegaan. Onmiddellik spring hy op en gaan na Jesus. Hy is so haastig dat hy sommer van sy klere daar los. En dan Jesus se afskeidswoord aan hom: Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.

 Hoe reageer ons as God roep? Onmiddellik of traag?




Waar is ons helde?

The omnipotent, in one instant, made himself breakable. He who had been spirit became pierceable. He who was larger than the universe became an embryo – Mac Lucado

 Waar is ons helde?

Helde het skaars geword in die moderne samelewing. Nietzche, Marx en Freud kan as die meesters van wantroue beskryf word. Die gevolg is dat ons sogenaamde helde onmiddellik wantrou. Ons soek outomaties na die voete van klei; ons soek nie na ‘n voorbeeld om na te volg nie, maar vir onderliggende siniese motiewe.

 

Vroeër het ons iemand wat iets bereik het geëer. Ongelukkig het die media vandag ‘n kortpad geneem na roem: onmiddellik, sonder sweet en toewyding. Wat vandag van belang is, is blootstelling in die media en nie karakter nie. Hoekom het dit gebeur? Omdat God se roeping nie meer in ons samelewing gehoor word nie.

Die sleutel tot groei, is om jou roeping te volg. Hoe gebeur dit?

  • God se roeping is ‘n uitdaging om te groei tot ons volle potensiaal. In die Ou Testament het ons gelees dat mense plat op die grond val as God hulle roep. Esegiël het dit ook gedoen. God beveel hom egter om op sy voete te staan en dan sal Hy met hom praat. Daar is meer aan God se roeping as net uitstuur – dit eindig by uitstuur. Dit begin as God ons uitsonder – as Hy ons by name roep. Dan laat Hy ons opstaan. Dit beteken nie net fisies staan nie, maar ons moet opstaan om die mense te wees wat Hy weet ons kan wees. God se roeping lei ons tot nuwe hoogtes.
  • God se roeping is ‘n uitdaging om tot ons volle potensiaal te groei, want dit sluit ‘n element van nabootsing in. ‘n Held is tog iemand op wie ons ons lewe modelleer. Dit stel ons in staat om groter te groei as wat andersins die geval sou wees. Die probleem is dat menslike helde feilbaar is en ons teleurstel. Hulle moet ook met ander helde vir ons lojaliteit kompeteer. Jesus Christus is die een volmaakte held waarop ons ons lewe kan modelleer.

Na ons roeping hardloop ons die resies van geloof met ons oë gevestig op Jesus Christus. What is God’s Word without an example (Fyodor Dostoevsky). Modelleer beteken ek hou dop en kopieer. Dit is hoe Jesus se dissipels geleer het – deur saam met Hom te wees. Ons diepste kennis word nie uitgedruk in woorde – boeke, lesings, preke – nie, maar deur direk van Jesus Christus te leer.

Die hart en siel van dissipelskap is om saam met Jesus Christus te wees; ons groei deur wat Hy gedoen het, te kopieer. Ons kan nie deur woorde alleen groei nie. As God ons roep, stel hy ons in staat om Jesus Christus na te volg.