“Ek is” in die Johannes evangelie

 

“Ek is” in die Johannes evangelie

Sweet en Viola (Jesus: A Theography) sê dat Jesus se geboorteverhaal in die Johannes-evangelie gestruktureer is in die teken van sewe “Ek is” beelde. Johannes vertel in werklikheid nie ‘n storie nie – geen herberg, geen krip nie. In wese is dit meer filosofie as storie: In die begin was die Woord daar, en die woord was by God, en die Woord was self God … Die Woord het mens geword en onder ons kom woon Johannes 1:1, 14).

 

Elkeen van hierdie sewe  “Ek is” stellings oor Jesus in die evangelie kom ooreen met omstandighede in Jesus se geboorteverhaal:

  • Ek is die brood wat lewe gee (Johannes 6:35). Jesus is in Betlehem gebore. Betlehem beteken “huis van brood.”
  • Ek is die lig vir die wêreld (Johannes 8:12). Die sterrekykers uit die ooste word bewus van Jesus se geboorte, want hulle het ‘n ster gevolg – die ster van Betlehem.
  • Ek is die ingang vir die skape (Johannes 10:7). Die deure na die herberg was toe vir Josef en Maria, maar die deur na die stal was oop (Lukas 2:7).
  • Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape (Johannes 10:11). Die skaapwagters soek die baba Jesus wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.
  • Ek is die opstanding en die lewe (Johannes 11:25). Jesus oorleef Herodes se bevel dat alle seuntjies van twee jaar en jonger doodgemaak moet word (Matteus 2:16 – 18).
  • Ek is die weg en die waarheid en die lewe (Johannes 14:6). Die sterrekykers uit die ooste kry vir Jesus. Hulle besef onmiddellik wie Hy was:Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is … ons het gekom om aan Hom hulde te bring (Matteus 2:2). Hulle ignoreer Herodes se komplot en gaan met ‘n ander pad huis toe.
  • Ek is die ware wingerdstok (Johannes 15:1). Jesus is in Betlehem Effrata wat “vrugbaar” beteken gebore.

 Hierdie is ‘n interessante siening. Ek het nog nooit so daaraan gedink nie.




Jesus se geslagsregister

Little is large if God is in it – Leonard Sweet en Frank Viola

Jesus se geslagsregister

‘n Geslagsregister was ‘n belangrike regsdokument. Dit is dikwels so saamgestel dat dit maklik gememoriseer kan word. As ons na Jesus se geslagsregister in Lukas en Matteus kyk, sien ons dat God van die slegste voorbeelde in die geskiedenis gekies het om bloedfamilie van sy Seun te wees. Kom ons kyk na ‘n paar:

 

  • Juda – hy het gemeenskap met sy skoondogter gehad – hy het gedink sy is ‘n prostituut.
  • Tamar – ‘n heiden wat twee buite-egtelike kinders gehad het.
  • Ragab – ‘n Kanaänitiese prostituut.
  • Rut – ‘n Moabiet.
  • Dawid – ‘n koning wat owerspel gepleeg en ‘n man vermoor het om sy daad te probeer verdoesel.
  • Batseba – ‘n vrou wat owerspel gepleeg het

Is dit nie ‘n bietjie van ‘n verleentheid nie? Tog was dit die keuse van die soewereine God – Hy het gekies dat elkeen van hierdie mense bloedverwante van sy eie Seun moet wees. Nee. Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie (Hebreërs 2:11).

Hierdie is baie goeie nuus vir ons: Jesus was gewillig om uit hierdie nederige geslagslyn wat sy Vader vir Hom bepaal het, te kom. Hiermee wys Hy vir ons dat geen verlede so skandelik is dat God dit nie mooi kan maak nie. Maak nie saak wat jy in die verlede gedoen het nie, Jesus is nie skaam om jou sy broer/suster te noem nie.

Hy kom die wêreld binne op die nederigste plek denkbaar – ‘n krip. Dit was nie benede sy waardigheid nie. Hy kom in die wêreld sonder ‘n behoorlike bed of skuiling; geen koningsklede of koetse nie. Sy ouers was so arm dat hulle by sy besnydenis nie eers ‘n lam kon offer nie: ‘n paat tortelduiwe of twee jong duiwe (Lukas 2:24).

Jesus kom die wêreld binne op die mees onverwagte plek en deur die mees onverwagte mense. Die omstandighede van Jesus se geboorte wys vir ons dat niemand en geen plek benede sy waardigheid en buite sy bereik is nie. Sy teenwoordigheid heilig alle plekke en alle mense.




‘n Vrou met gesinsprobleme!

The hallmark of logical inconsistency clings to all genuine pronouncements of faith – Emil Brunner

 ‘n Vrou met gesinsprobleme!

Die boek 1  Samuel begin met ‘n vrou met moeilike gesinsprobleme en ‘n desperate begeerte vir ‘n kindjie. In die geskiedenis gebruik  God dikwels vroue op ‘n betekenisvolle manier. Vroue kan en behoort ‘n belangrike rol in die uitbreiding van die koninkryk van God te speel.

 

  • God gee om vir diegene wat deur ander verag word

Hanna was kinderloos. Dan het die ander vrou haar  baie gespot en verneder. Haar man verstaan ook nie mooi haar begeerte nie: Hanna, waarom huil jy? Waarom eet jy nie en waarom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?  Om haar nog verder te beledig vra Eli vir haar: Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter!  Ander mense kan soms ongelooflik wreed en onsensitief wees. Mans verstaan nie dat probleme soms nie so maklik is om op te los en dat meer deernis nodig is nie. Ek dink nie Elkana, Hanna se man, was so onbehulpsaam as wat hy oorkom nie.

  • Dringende gebede lyk soms snaaks

Hanna word daarvan beskuldig dat sy dronk is – en dit nogal deur die priester. Hoekom? Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil … Eli kon nie haar stem hoor nie en daarom het hy gedink sy is dronk. Maak nie saak of ons dink dit is snaaks nie, maar ons mag nooit iemand wat dringend bid veroordeel nie.

  • Desperate gebede trek God se aandag

Hanna moes desperaat gewees het as sy bereid was om haar seun aan God terug te gee: Wanneer die seun gespeen is, sal ek hom wegbring dat hy voor die Here verskyn en altyd daar bly. Is enige van ons so desperaat en dankbaar teenoor God soos Hanna was?

Uit die verhaal van Hanna Kan ons baie lesse leer. Hier het ons na drie gekyk.




Wanneer moet ons in die Ou Testament met hoofletters aandui dat ‘n profesie ook na Jesus verwys?

Wanneer moet ons in die Ou Testament met hoofletters aandui dat ‘n profesie ook na Jesus verwys? – Herman Grobler

Vir baie van ons is hierdie ‘n sensitiewe saak, maar watter implikasies kan dit inhou? Hoe moet ons daaroor oordeel?

Wanneer ons in die Ou Testament met Skrifgedeeltes te doen het wat in Christus vervul word, is daar ‘n belangrike oorweging wat in ag geneem moet word. Die Ou Testament bestaan uit boeke wat in die eerste plek in sy tyd ‘n rol en vervulling gehad het. Ek verkies om daarna te verwys as die grondvlak waarop dit staan. In Jesaja 7:10-13 het ons ‘n duidelike gesprek tussen Jesaja en koning Agas waarin die Here vir Agas opdrag gee en as’t ware uitdaag om ‘n teken te vra wat die oorwinning oor die Arameërs sou bevestig. God het dit immers belowe! Wanneer Agas nie die moed het om ‘n teken te vra nie, gee die Here self aan hom ‘n teken, in vers 14-16. Die teken is dat ‘n jong vrou wat nog nooit gebaar het nie, haar eerste seuntjie sal hê. Die profesie was dat Aram en Efraim vernietig sou word nog voordat hierdie seuntjie groot genoeg is om tussen goed en kwaad te onderskei. Wie presies hierdie seuntjie was, weet ons nie met sekerheid nie, maar dit was ‘n werklike gewone seuntjie wat gebore is, groot geword het en gesterwe het. Voordat hy so vyf of ses was, het die Here die Arameërs verslaan en is hierdie belofte vervul. As dit nie destyds gebeur het nie, het die Here mos deur Jesaja aan Agas ‘n valse belofte gegee.

Vanuit die Nuwe Testament kom iets anders na vore. Matteus haal hierdie selfde teken aan as ‘n profesie wat hy op Jesus se geboorte toepas. Dit is die dieper vlak van die oorspronklike profesie wat aan Agas gegee is. Matteus wys daarop dat ‘n jongvrou wat nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie, ‘n kind sal hê. Die lewe wat in haar verwek word, is uit die Heilige Gees. Hy is ons Verlosser, Jesus die Seun van God.

Die vraag is nou hoe ons die Ou Testament moet sien en vertaal. Hierdie profesie is immers op ‘n dieper vlak in Jesus vervul. Moet ons dit nét as ‘n profesie oor Jesus sien? Of moet die profesie in Jesaja steeds sy oorspronklike historiese betekenis behou? Dit was tog ‘n direkte belofte wat werklik in Agas se tyd vervul is. Indien ons die woorde wat na die seuntjie verwys, in Jesaja met hoofletters skryf, skakel ons óf daardie seuntjie en belofte uit, óf maak ons van hóm een of ander Goddelike wese, wat tog nie kan nie.

Moet ons alle verwysings in die Ou Testament wat óók na Jesus verwys, of profesieë wat op ‘n dieper vlak óók in Jesus vervul word, met hoofletters skryf?

Wat sou jy doen as dit jou taak was om die nuwe Bybel te vertaal?

 

Skrywer: Herman Grobler