Ek cope nie meer nie: “Ek cope nie,” sê my liggaam – Jan van der Watt

Die tekens dat iemand sukkel om te cope steek op baie plekke kop uit. ’n Bestuurder van ’n besigheid begin skielik sukkel om besluite te neem en kies soms die verkeerde opsies. Dan blameer hy som­­mer maklik ander. Hy wil nie meer sosialiseer of saam met kollegas tee drink of eet nie. Hy begin ook kla van hoof­pyne, benoudheid en dat hy nie meer goed slaap nie. Hy kan selfs van krampe op sy maag en pyne in die bors kla. Dit is ’n aanduiding dat die pasiënt wel ’n probleem met stres of spanning het. Soms wonder kinders hoekom ’n pa skielik onsensitief geword het, meer rook en drink, en glad nie ander mense in ag neem wanneer hy motor bestuur nie. Die persoon se gedrag, sy emosionele toestand, sy verhoudings met ander, sy liggaam, ja, net mooi álles, word geraak.

In die vorige hoofstuk het ons gesien dat stres en die gevoel dat ’n mens nie cope nie, veral na vore kom op emosionele en siel­kundige vlak. Ons het gesien hoe dit ons emosies en gedrag beïn­vloed. Maar daar is meer. Ons word ook liggaamlik geraak. Die fisieke effekte van stres kom nou in fokus.

My liggaam sê vir my ek cope nie

As ’n mens begin stres en bang begin word omdat jy die gevoel kry dat jy nie meer cope nie, vind daar baie abnormale bio­che­­miese reaksies in jou liggaam plaas. Die senuweesisteem wat jou ingewande asook jou interne organe beheer, word oor­matig gestimuleer. Daar word ook hormone en chemiese stowwe vrygestel, soos adrenalien, noradrenalien, groei­hor­mone en kortisol. Hierdie hormone asook die aktivering van ons interne senuweesisteem sorg daarvoor dat al die funksies van ons liggaam geaktiveer en betrek word by hierdie reaksie. Nor­a­­drenalien en die aktivering van die senuwees wat die in­ge­wande beheer, sorg dat die bloeddruk styg. Die hart trek kragtig saam en die polstempo versnel. Die hart word ge­stimu­leer en bloed word verplaas vanaf die vel en die spysverterings­ka­­naal na ons spiere. Die sweetkliere word geaffekteer en daar­om is gespanne mense dikwels bleek en sweterig. Hulle bloed­druk spring rond en die pols is vinnig. Die adrenalien beïnvloed ook die spiere en verhoog die spanning in die spiere, wat selfs mag lei tot ’n onwillekeurige sametrekking van die spiere. Die interne senuweesisteem wat geaktiveer word, veroorsaak ’n droë mond. Die hoë konsentrasie kortisol wat vrygestel word, verhoog die bloedsuikervlak sodat meer energie be­skik­baar is vir die spiere. As hierdie kortisol langdurig verhoog bly, kan dit lei tot onderdrukking van die immuunsisteem. Die im­muun­­sisteem se doel is om die liggaam te verdedig teen infeksies en daarom neig angstige mense makliker tot infeksie.

Van die algemeenste simptome is  moeg­heid, slaapsteurnis-se en eetlusversteurings. Die moegheid het ook spesifieke eien­­skappe. Dit duur lank en aanhoudend en voel dikwels soos ’n spesiale soort moeg­heid. In die oggend, as so ’n persoon op­staan, is hy moeg, kragte­loos en sonder energie. Teen elf­uur voel hy uit­ge­put en wil sommer gaan lê. Hierdie moeg­heid ont­staan omdat aanhou­dende spanning die persoon uit­brand. Slaap­steurnisse kan ook verskillende vorme aanneem. Som­mige mense kan net nie lekker aan die slaap raak nie, terwyl ander weer rusteloos lê en rondrol of vroeg in die oggend wak­­­ker word. Die slaaploosheid kan later self ’n probleem word omdat die mense bang word om te gaan slaap. Hulle vrees die nag, want hulle weet hulle gaan wakker lê en luister hoe die horlosie die kwartiere aftik. ’n Ander effek mag wees dat eetpatrone verander. Een mag nooit genoeg kry nie. Hy eet gedurig en te veel. Dit is of die honger net nie wil weggaan nie. ’n Ander se eetlus verdwyn weer in die niet. Die persoon verloor gewig en teer selfs uit.

Party mense sal meer hart- en ander meer spys­vertering­verwante simptome kry. ’n Ander kan weer van hoof­pyn, be­noud­­heid of slaaploosheid kla. ’n Persoon hoef dus nie afwy­k­ings in al sy verskillende sisteme te ervaar nie. As van die afwykings wel voorkom, is dit die liggaam se manier om te sê dat dinge verkeerd begin loop. Dit is die liggaam se rooi lig vir jou. Jy sal moet begin rem aanslaan.

 Wat gebeur fisiek as ons nie cope nie?

Laat ons nou, na die algemene opmerkings, ’n bietjie meer in detail kyk wat met ons gebeur as die stres in ons opbou. Die verskillende sisteme wat geaffekteer word, word nou van nader bekyk.

Die senuweesisteem

Hoofpyne is een van die uitstaande simptome wat gepaard- gaan met stres en die gevoel dat ’n mens nie meer cope nie. Die soort hoofpyne kan ’n mens uitken, want dit het spesifieke eienskappe. Dit voel soos ’n stywe band of ’n gewig bo-op jou kop. Dit duur gewoonlik vir dae aanmekaar en mense gaan slaap met die hoofpyn en staan daarmee op. Dikwels voel die nekspiere styf en die oogkaste geswel.

Daar is ’n Afrikaanse spreekwoord wat sê: “Hy het hom lam geskrik.” ’n Gevoel van lamheid in jou arms en bene kan ook ’n teken wees dat jy te gespanne begin raak. Dit kan ook ge­­paardgaan met ’n gevoel van prikkeling in jou hande en voete. Omdat baie adrenalien vrygestel word, veroorsaak die aan­­houdende spanning dat jy begin bewe. Dit is moeilik om ’n koppie stil te hou of ’n garing deur ’n naald te steek. Dikwels be­gin ’n mens ook oormatig sweet en jy kry baie warmer as die mense om jou.

Dikwels voel mens ook wollerig en lig in die kop. As die span­ning en stres ernstig begin raak, lei dit dikwels tot dis­oriëntasie en ’n gevoel van verwydering van jouself. Dit is of die wêreld by jou verbysweef en jou konsentrasie is nie meer wat dit moet wees nie. Jy begin dinge vergeet wat jy voorheen maklik kon onthou. Dit laat sulke mense maklik bekommerd raak. Hulle sien al hoe hulle met Alzheimer se siekte in die hospitaal gaan land. Dit lei natuurlik tot meer spanning en angs. Gelukkig kan ons mense gerusstel dat die meeste gevalle van swak geheue, vergeetagtigheid of ’n gebrek aan konsentrasie eerder te wyte is aan spanning of depressie as aan iets ernstigers. Moet dus nie te gou skrik nie.

Die asemhalingsisteem: hiperventilasie en benoudheid

Die spanning wat oplaai as jy voel jy cope nie, tas jou longe dik­wels op verskillende maniere aan. Die algemeenste manier is benoudheid. Omdat jou asemhalingspiere gespanne raak, begin jy benoud voel. Dit voel of jy nie genoeg lug in jou longe kan kry nie. Dit is byna of iets jou bors vasdruk. Jy kry nie meer daardie lekker versadigingsgevoel as jy diep asemhaal nie en dit help ook nie om die gevoel van benoudheid te verlig nie. Dit veroorsaak natuurlik dat jy jou al hoe meer begin bekommer en stres opbou.

Met spanning en stres gaan daar dikwels ook iets baie spesifieks saam, naamlik die sogenaamde hiperventilasie-aanval. Soos die naam tereg aandui, oorventileer so ’n persoon, met ander woorde, hy haal te vinnig en te diep asem. So ’n persoon probeer die benoudheid in sy bors oorkom deur meer en dieper asem te haal. Maar daar is ’n vangplek: hoe meer hy asemhaal, hoe benouder raak hy.

Kom ons kyk wat presies gebeur binne-in jou wat veroor­saak dat jy benouder word. Omdat die persoon so baie en woes asemhaal, was hy die koolsuurgas uit sy sisteem uit. Dit lei daartoe dat die bloed neig om alkalies te word, aangesien die koolsuurgas in die bloed die funksie van ’n suur vertolk. Hierdie biochemiese verandering wat in die bloed plaasvind, lei daartoe dat bloedkalsium aan die proteïene bind. Dit lei tot ’n relatiewe verlaging van die bloedkalsiumvlak, met die gevolg dat jou spiere geneig is om te kramp en saam te trek. Dit laat jou swaarder asemhaal en maak jou dus benouder.

Die koolsuurgasvlak in die bloed beheer ook die bloedvloei oor die brein: hoe laer die vlakke, hoe minder is die bloed­vloei. Dit lei daartoe dat ’n mens baie duiselig word en selfs jou bewussyn kan verloor. Hiperventilasie-aanvalle gaan ook gepaard met ’n gevoel van swaarheid en lamheid in jou arms en bene, asook met ’n prikkeling in die vingers. Sulke aanvalle laat dikwels mense by dokters opdaag met die vrees dat hy ’n hartaanval het. Indien so ’n persoon egter ge­kalmeer word en mooi stadig asemhaal, herstel hulle sonder enige permanente skade. ’n Beproefde manier om so ’n aanval te breek is byvoorbeeld om die persoon in ’n papiersak te laat asemhaal. Dit lei tot ophoping van koolsuurgas in die papiersak en as hy die koolsuurgas weer en weer inasem, verhoog dit die koolsuurgasvlak in die bloed, wat die wanbalans herstel. Die liggaam keer dan weer tot normaal terug.

Hart en bloedvate wat aangetas word

Soos ons so pas met die hiperventilasie-aanvalle gesien het, loop die hart- en bloedvatsisteem maklik deur as ons gespanne begin raak. Weens die hoë adrenalien- en noradrenalienvlak word die hart- en bloedvatsisteem oormatig gestimuleer. Die pols­­tempo versnel. Gespanne en angstige mense se bloeddruk wis­sel dus kwaai en hulle sukkel dikwels met hoë bloeddruk. Die vrees dat hulle dalk beroerte van die hoë bloeddruk kan kry, laat hulle nog meer bekommerd. Die arme bloeddruk kry ook dikwels die skuld omdat hulle sleg voel. Die werklike pro­­bleem is egter die spanning, angs en stres wat hulle laat sleg voel. Die bloeddruk wat rondspring, is maar net ’n simp­toom van die stres. Indien die stres en angs effektief beheer word, keer bloeddruk gewoonlik terug na normaal.

Die adrenalien wat vrygestel word, lei ook tot stimulasie van die hart. Sterk, vinnige hartkloppings is ’n belangrike simp­toom van angstigheid. As jy jou hand op jou bors sit, voel jou hart soos ’n tamboer wat slaan. Dit voel of jou hart in jou keel klop. Die woeste hartklop maak jou bang en kan selfs ver­oor­saak dat jy ’n paniekaanval kry.

Angs en spanning kan ook tot borskaspyne lei. Die pyn kry ’n mens gewoonlik aan die linkerkant van jou bors. Dit kan som­mer enige tyd voorkom en kan lang rukke duur. Weer vind die tipiese kringloop plaas. Die pyn in die bors vererger dikwels weer die angs en spanning; juis dié dinge wat die bors­­­kas­­pyn veroorsaak het. Dit is egter nie nodig om daaroor so gespanne te raak nie, want die pyn is nie ’n hartaanval nie en sal ook nie ’n hartaanval veroorsaak nie.

Die urineweg

Spanning beïnvloed ook ’n mens se waterwerke. Dit maak die blaas prikkelbaar en gevoelig. Kort-kort moet mens opstaan om die blaas te ledig. Sodra jy sit, voel dit weer vol en moet jy weer opstaan om ’n klein bietjie urine te passeer. Die spanning laat die blaas in spasmas gaan.

Die dermkanaal

Spanning affekteer die dermkanaal op baie verskillende manie­re. Die speekselkliere droog op met die gevolg dat ’n angstige per­soon dikwels ’n droë mond het. Naarheid en krampe op die maag is baie algemeen. Sommige mense verloor hulle eetlus. Die spysvertering kan ook aangetas word. Die buik kan opswel en winderig wees. Mense kry gewoonlik die beken­de dermtoestand, naamlik ’n prikkelbare kolon, vanweë oor­matige stres en angs. Dit is as ’n mens die gevoel van ’n on­volledige lediging van die dermpunt ervaar. ’n Mens sukkel dik­wels met maagkrampe, winderigheid en passeer ’n paar los stoel­gange in die oggend.

Dit is dus duidelik dat spanning en angs wat gepaardgaan met die gevoel dat jy nie cope nie, ’n mens van bo tot onder, lig­gaam, siel en gees raak. Dit is dus nie iets wat ’n mens kan ig­no­reer nie. Ter wille van jouself moet jy daaraan aandag gee.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Onberispelik – Hermie van Zyl

Bertie vra:

Wat beteken die woord “onberispelik” regtig? Is dit moontlik om so te leef? Ek glo nie, tog word die woord baie gebruik. Byvoorbeeld, dis ’n voorwaarde om ouderling te kan/mag wees.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die woord “onberispelik” word ’n hele paar plekke in die 1983-Afrikaanse Vertaling (1983-AV) van die Bybel gebruik om die status van mense voor die aangesig van God, of hulle reputasie in die samelewing te beskryf. Dit is nodig om die bedoeling hiervan reg te verstaan sodat daar nie misverstande ontstaan nie. Want soos die vraagsteller tereg sê, wie van ons ís of lééf so dat niemand ’n vinger na ons kan wys nie.

Vooraf moet net eers genoem word dat hoewel die Afrikaanse woord “onberispelik” ’n hele paar keer as vertaalekwivalent in die 1983-AV gebruik word, dit nie altyd dieselfde Griekse woord in die grondteks is wat met “onberispelik” vertaal word nie. Ons moet dus hiermee rekening hou wanneer oor die verskillende tekste waar “onberispelik’ voorkom, gehandel word.

Kom ons begin met die gedagte dat “onberispelik” ’n persoon se sosiale reputasie beskryf. Dit word veral as vereiste gestel vir iemand wat graag ouderling wil wees (vgl 1 Timoteus 3:2; Titus 1:6-7). “Onberispelik” is die vertaalwoord in hierdie tekste vir twee verskillende Griekse woorde (onderskeidelik anepilēmptos en anengklētos), maar beide verwys na dieselfde gedagte, naamlik dat so ’n persoon se karakter en gedrag in die samelewing onbesproke, bo verdenking moet wees. Dit gaan glad nie daaroor dat die persoon sonder sonde is nie, maar dat hy so ’n onkreukbare karakter het dat niemand iets negatief of sleg oor hom kan sê, of ’n beskuldiging van een of ander aard teen hom kan inbring nie. Dis vergelykbaar met wat Jesus van Nikodemus gesê het, dat hy ’n Israeliet sonder bedrog is (Johannes 1:47); ’n man uit een stuk, sou ons vandag sê.

Wat die Skrifgedeeltes uit 1 Timoteus en Titus betref, moet ons die antieke agtergrond ook in aanmerking neem. In die tyd toe hierdie boeke tot stand gekom het (waarskynlik in die tagtiger jare van die eerste eeu nC), was dit belangrik om die karakter en optrede van Christene in die samelewing as bo verdenking te stel. Daar was naamlik beskuldigings uit die breë samelewing dat die Christene spelbrekers is; hulle hou hulle eenkant en voldoen nie aan die standaarde en norme van die samelewing nie. Daar is beweer dat die Christene ’n odium humani generis – letterlik: “ ’n haat vir die menslike geslag” – openbaar. Christene is deur die heiden-samelewing daarvan beskuldig dat hulle ander mense haat omdat hulle nie deelneem aan die afgodsfeeste of die keiserverering nie. Alle goeie burgers was veronderstel om dit by te woon. Maar, is gesê, Christene hou hulle eenkant, hulle meng nie met die gewone bevolking nie. Hierteenoor wil die skrywer van 1 Timoteus en Titus aantoon dat Christene alles behalwe haters van mense is; inteendeel, hulle leiers (ouderlinge/opsieners) is voortreflike en diensbare mense. Aan hierdie leiers word byvoorbeeld dieselfde vereistes gestel as wat aan die bekleërs van hoë poste in die destydse samelewing gestel is: hulle moet onbesproke van karakter en optrede wees; hulle moet hulle kant bring as geëerde lede van die samelewing; hulle moet aan dieselfde standaarde voldoen as wat van enige “sekulêre” openbare figuur vereis word. Die kerk en sy leiers is daarom nie mense wat die samelewing wil destabiliseer nie, maar is onkreukbaar van karakter en in hulle sosiale omgang. Niemand kan ’n vinger na hulle wys nie.

Hierdie vereistes het ook alles te make met die destydse sendingtaak van die kerk. As die kerk draers wil wees van die evangelie in die wêreld en mense na Christus toe wil trek, moet daar nie struikelblokke in die pad wees nie, allermins die sosiale reputasie van hulle leiers. En so is dit vandag ook: as die kerk werklik ’n impak op die omgewing en wêreld wil maak, word dit nog steeds van gelowiges en in die besonder van sy leiers verwag om mense van goeie inbors en hoë morele waardes te wees. Indien dit nie so is nie, verloor die kerk sy geloofwaardigheid en doen dit afbreuk aan die verkondiging van die evangelie in die wêreld. Anders gestel: die kerk moet “practise” wat hy “preach”. Natuurlik is en bly ook kerkleiers sondige mense; hulle is nie volmaak nie, hulle maak foute en moet steeds by God en mense om vergifnis vra. Maar sodra daar growwe morele slordigheid in gelowiges en kerkleiers se lewe na vore tree, werk dit nadelig in op die boodskap van die evangelie. Na alles word ons telkens in die Bybel opgeroep om inderdaad te wéés wat ons in Christus ís: geredde sondaars wat ons nie laat beheers deur sondige begeertes nie maar wat ons ganse lewens in diens van God stel om heilig (= aan God toegewy) te lewe (Romeine 6). Ons is nie meer slawe van die sonde nie, maar opgewek uit die dood om vir God te lewe. Dit is veral hierdie aspek wat ter sprake is wanneer die woord “onberispelik” as vereiste vir kerkleiers in 1 Timoteus en Titus gestel word.

Daar is nog ’n betekenis waarin die woord “onberispelik” in die Bybel voorkom, en dit is dat die gelowige se posisie voor God en ten opsigte die wet blaamloos is. In Lukas 1:6 word van Sagaria en Elisabet gesê dat hulle al die gebooie en voorskrifte van die wet van God onberispelik onderhou het. Efesiërs 1:4 bevat weer die gedagte dat God ons in Christus uitverkies het – voor die wêreld tot stand gekom het – om onberispelik voor Hom te wees (vir soortgelyke gedagtes kyk ook Efesiërs 5:27; Kolossense 1:22; 1 Tessalonisense 3:13 en 2 Petrus 3:14). Die Griekse woorde wat in hierdie gevalle deur “onberispelik” weergegee word, is amemptos, amōmētos en amōmos, en bevat almal die gedagte dat iemand vlekkeloos of blaamloos voor God is. Dit beskryf die gelowige se religieuse status en karakter voor God en sy wet as ten volle in ooreenstemming met God se vereistes. Ons moet egter mooi verstaan wat hiermee bedoel word. Weer eens het dit niks te make met die inherente sondeloosheid van die gelowige nie. Nee, dit gaan daaroor dat die gelowige in die regte verhouding tot God staan. In al hierdie verse is die uitgesproke of onuitgesproke veronderstelling telkens dat die gelowige in Christus in verhouding tot God staan. En omdat Christus se vlekkelose status as die Seun van God en verlossingswerk die gelowige toegereken word (vgl 1 Petrus 1:19-21), kan die gelowige ook aanspraak maak op ’n onberispelike status voor God. Nog meer, die gelowige se status voor God is nie net in Christus blaamloos nie, maar hy/sy is ook ten volle geskik vir diens aan God en die wêreld. Net soos die offerdiere in die Ou Testament sonder gebrek moes wees (blaamloos), so is die kinders van God sonder gebrek en blaamloos voor God om as offers en priesters sy werk in die wêreld uit te voer. Dit beteken ons is volledig geskik vir diens in God se koninkryk; ons kan die diens verrig waartoe Hy ons in Christus gereinig, afgesonder en geroep het.

Bostaande uiteensetting behoort duidelik te maak dat ’n mens nooit op die klank af betekenisse aan woorde moet toedig nie, maar altyd moet seker maak wat die betekenis en bedoeling daarvan in die Bybelteks self is. ’n Mens sou daarom die betekenis van “onberispelik” vir vandag kortliks so kon opsom: Om deur Christus in die regte verhouding te staan tot God, en om toegewyd te lewe teenoor God en mense, ooreenkoms God se wil.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




Ek cope nie meer nie: Ek dink ek maak dit nie, maar hoe weet ek regtig? – Jan van der Watt

“Ek cope nie,” is sommer’n hele mond vol

Wanneer jy sê dat jy nie cope nie, kan jy van ’n hele klomp din­ge tegelyk praat. Om nie te cope nie beteken jy voel dat jy nie meer beheer oor jou lewe het nie. Dinge glip uit jou hand uit en dit begin jou bangmaak. Dit voel of ’n donker hand jou begin vasdruk. Jy probeer, maar dit is of dinge nie wil beter gaan nie. Daar is ’n ongemaklike gevoel wat jou nie wil los nie en jy begin stres. Jy raak al meer gespanne en voel ook depressief. Later begin jou bors toetrek, jy kry hartkloppings en slaan in koue  sweet uit. Jy begin ’n angsaanval kry wat jou nog meer laat voel asof jy beheer verloor.

Voor ek verder gaan, moet hier net ’n belangrike onderskeid gemaak word. Daar is ’n verskil tussen die vrees, stres of angs dat jy nie meer so goed cope nie en ’n angsversteuring. Met angsversteuring word verwys na ’n siektetoestand. In angsversteurings is die angs en vrees buite beheer, baie intens en duur vir lang tydperke. Angsversteurings beïnvloed die betrokke persone se lewe baie nadelig. Daar is verskillende vorms van angsversteurings wat in hoofstuk 6 bespreek word. Dit sluit toestande in soos paniekversteurings, algemene angs­versteurings, sosiale fobie, gewone fobie, obsessief-kom­pul­sie­we versteurings en post-traumaties stres-versteurings.  Hier­die verskillende toestande het almal spesiale eienskappe en moet deur ’n geneesheer hanteer word. Gelukkig is daar goeie behandeling vir hierdie toestande en is die geneesheer in staat om hierdie mense effektief te help.

Om te sê jy cope nie, beteken dus om van ’n klomp dinge te praat wat oorvleuel, soos stres en angs, depressie en ver­slawing en so aan. Dit beïnvloed jou in jou totaliteit.

Depressie

Kom ons kyk na depressie. Seker 50% mense wat voel dat hulle dit nie maak nie en dus nie cope nie, ontwikkel  (reak­tiewe) depressie. Dit mag selfs wees dat die depressie maak dat hulle nie cope nie. Dié bose spiraal kan ’n mens insluk. Mense met depressie voel leeg en sonder hoop. Hulle is neer­slagtig en niks is meer regtig vir hulle lekker nie. Die lewe is sonder plesier. Hulle voel hulle is ’n mislukking en hulle dink selfs aan selfmoord.

Veral godsdiens maak dit dikwels vir hierdie mense swaar. Hulle besef hulle het ’n probleem. Hulle voel neerslagtig en tree ook so op. Hulle is kortaf en nors omdat hulle nie goed voel nie. Boonop voel hulle die Here is nie daarmee tevrede nie. Hulle maak beloftes aan Hom om beter te probeer leef, maar die depressie wil net nie weggaan nie. Môre moet hulle maar weer op hulle knieë gaan, want daar is net te veel dinge waaroor hulle voel hulle God om genade moet smeek. So bou allerhande skuldgevoelens op. Om alles te kroon begin hulle fisiek ook probleme optel. Hulle slaap nie meer so lekker nie. As hulle wakker is, lê hulle en rondrol met ’n neerdrukkende gevoel en baie negatiewe gedagtes en hulle kan dan nie weer aan die slaap raak nie. Net voor opstaantyd raak hulle tog aan die slaap, en is dan doodmoeg as hulle moet opstaan. Met ’n groot gesukkel kom hulle dan orent, maar het geen energie oor nie. By die ontbyttafel is hulle nie honger nie, want dikwels verdwyn hulle eetlus. Omdat hulle moeg is en nie so lekker voel nie, konsentreer hulle ook nie so goed nie. Daarom sukkel hulle om te onthou en besluite te neem. Dikwels is dit vir hulle nog moeiliker om die besluite uit te voer. Hulle kan heeldag besig bly, maar aan die einde van die dag voel of hulle net mooi niks gedoen het nie.

Die verband tussen depressie en die gevoel dat die lewe vir jou te veel raak en jy nie meer cope nie, is meer as duidelik. Dit is soos karperde. Geen wonder dat sulke persone mis­moedig en bang raak vir die lewe nie.

Gelukkig is daar vandag medikasie wat help vir de­­pressie en die vrees dat jy nie cope nie (oftewel angs), sodat beide toestande deur een soort medikasie behandel kan word. Die trisikliese anti­­­depressante soos amitriptileen (Tryptanol) kal­meer die ge­moed, terwyl dit ook die depressie verlig. Net so help sekere van die selektiewe serotonien-heropname-inhi­bit­ore soos paro­xetine (Aropax) beide vir angstigheid en depressie.

Stres

Stres is nie noodwendig altyd sleg vir ons nie. Stres is die aktivering van ons primitiewe veg- of vlugreaksie. In primitiewe diere speel hierdie reaksie ’n baie belangrike rol, want die reaksie help die diere om te oorleef. Sou gevaar dreig, word hier­die reaksie geaktiveer en adrenalien vrygestel. Dit sorg dat hulle vinniger kan reageer: hulle oë is skerper, reaksies sker­­per en spiere soos vere. Hulle kan dus vinniger beweeg, vinniger reageer en hulleself beter verdedig of vinniger vlug. Die­selfde geld die mens. Daardie hol kol op die maag voor­dat ons rugby speel of eksamen skryf, help ons om beter te pres­teer. Dit hou ons op ons tone en help ons om ons doel te be­­reik. In hierdie gevalle is stres dus tot ons voordeel.

Maar as die situasie van veg of vlug te lank aanhou, ontwikkel jy probleme en jou liggaam en gees word negatief aangetas. Dit gebeur veral as dinge nie loop soos jy wou hê dit moet nie. Jy voldoen nie aan jou eie eise en reëls nie en dit maak jou gespanne. Jy begin tam voel, jou spiere begin pyn en jou kop word seer. Jy begin humeurig word en jou konsentrasie gaan agteruit. Jy begin voel jy verloor beheer en cope nie meer nie. Jou gedrag ly ook daaronder, want jy raak kortaf, vergeet dinge, en kry nie gedoen wat jy moet nie. Jy raak bang en onseker. Jy weet jy moet cope, maar jy kry dit nie so goed reg nie. As die stres buite beheer raak of onrealisties lank duur, kan jy van angs (vrees) praat. Jy voel magteloos en maar net ’n toeskouer van jou lot. Juis dit laat jou nog meer bang en on­­seker voel.

Alkohol en dwelms

Mense wat voel hulle verloor beheer oor die lewe neig nogal daarna om geluk in die bottel te gaan soek. Die alkohol mag aanvanklik help om hulle ’n bietjie te kalmeer en beter te laat voel, maar dit het op die lang termyn net katastrofiese gevolge. Dit hoef ons nie hier te bespreek nie. Dit is genoeg om te sê dat ’n oormaat alkohol ’n mens se lewe vernietig en jou verslae en alleen laat, om nie eers te praat van cope nie. Dit raak feitlik onmoontlik.

Soms vlug jongmense tussen twaalf en sewentien ook na dwelm­middels om hulle te help om te cope, veral as hulle dinge soos aanvaarding en liefde by die skool of huis mis. Eers moet dit hulle net help om die dag deur te sien, maar later raak hulle afhanklik daarvan. Dit vererger en kompliseer natuurlik alles. Daar is sekere veranderinge in kinders se gedrag wat as verklikkers kan dien dat hulle moontlik betrokke is by dwelmmisbruik, byvoorbeeld skielike slordigheid, of gebrek aan belangstelling in dinge wat hy vroeër lief voor was. Hierdie kinders kan ook neig om hulle te onttrek aan gesins­aktiwiteite. Hulle wissel vinnig van vriende en raak alleen­lopers. Hulle skoolprestasie wissel en soms is daar sterk wis­seling in hulle gemoedstoestand. Dit maak dit natuurlik nog moei­liker vir hulle om te cope. Boonop plaas dit ook dikwels buiten­gewone druk op die gesin.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Uitverkiesing – Hermie van Zyl

Willem vra:

Hoe verduidelik mens die Bybelse uitsprake oor uitverkiesing (bv Rom 8:28-30) aan iemand wat dit as ’n onderdrukking van die mens se vryheid van keuse beskou. Die persoon verklaar dat hy nie aan so ’n onregverdige God kan glo nie. Ek het die emeritaatrede van prof Dirkie Smit oor die goeie boodskap van die uitverkiesing gelees.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In my antwoord gaan ek nie op alle aspekte van die uitverkiesing in nie, maar slegs op die vraag of uitverkiesing teenoor persoonlike keuse staan – die kwessie wat ons vraagsteller aanroer. (Daar is reeds uitstekende bydraes op die Bybelkennis-webblad oor die uitverkiesing; die vraagsteller kan net “uitverkiesing” by die soekfunksie intik en so al die artikels vind.)

Wanneer uitverkiesing as ’n teoretiese konsep hanteer word, los van hoe die saak in die bladsye van die Bybel voorkom, word dit inderdaad ’n probleemkwessie en word allerlei besware daarteen opgewerp, soos wat ons vraagsteller aan die orde stel. Dit word dan maklik so voorgestel asof uitverkiesing alle menslike keuse en verantwoordelikheid by voorbaat uitskakel, asof God ons soos pionne op ’n skaakbord rondstoot sonder dat ons enige sê het. Maar laat ek dit onomwonde stel: Goddelike uitverkiesing onderdruk nie menslike vryheid van keuse nie, maar roep dit juis op. Laat ek verduidelik.

Een van die klassieke tekste in die Nuwe Testament wat oor die uitverkiesing handel, is Efesiërs 1:3-14. In v4 word gesê dat God voordat die wêreld geskep is, ons uitverkies het. Hierdie woorde word soms so verstaan asof God eensydig besluit het wie Hy uitkies om aan Hom te behoort en dat die mens nie ’n keuse daarin het nie. So voorgestel, maak dit inderdaad van die uitverkiesing ’n saak van Goddelike willekeur en menslike onmag. Die mens moet maar eenvoudig aanvaar wat God in sy almag besluit het: is jy uitverkies, is jy een van die gelukkiges; is jy nie uitverkies nie, het jy dit ongelukkig sleg getref. Maar as mens so redeneer, gebeur presies waarteen ek hierbo gewaarsku het, dat van die uitverkiesing ’n teoretiese konsep gemaak word, los van die uitleg en bedoeling van die Bybelteks. En met Bybelteks word altyd bedoel dat mens nie woorde en uitdrukkings op die klank af uit hulle verband haal en dan ’n hele teorie daar rondom bou nie. Nee, mens moet noukeurig lees om die bedoeling van die teks self te peil en te verstaan. Kom ons pas dit toe op Efesiërs 1. Dan ontvou ’n heel ander verstaan van die uitverkiesing. Ons kyk na drie sake.

1   Daar word telkens in hierdie verse gesê dat God ons in Christus uitverkies het. Soos ’n refrein loop dit deur v3-14: in Christus het God ons uitverkies (v4), God skenk sy genade vrylik in die Geliefde (v6), deur die bloed van sy Seun is ons verlos (v7), God het die geheimenis van sy wil deur Christus tot uitvoering gebring (v10), dit was God se doel om alles op aarde onder een hoof, Christus, te verenig (v10), deur Christus het ons deel geword van die volk van God (v11,13), in Christus het die Heilige Gees ons tot God se eiendom beseël (v13), en ons het ons hoop op Christus gestel (v12). Die punt is: die uitverkiesing is nie ’n onbekende besluit van God wat in groot duisternis gehul is en waaroor mense maar net in onsekerheid kan wonder nie. Nee, God se ewige uitverkiesing van mense vind in en deur Christus plaas. God het voor die grondlegging van die wêreld reeds besluit dat Hy mense in Christus na Hom toe sal trek. En hierdie besluit het God in die geskiedenis van Israel waar gemaak. Hy het sy redding, wat vir die hele wêreld beskikbaar is, deur die kruis en opstanding van Christus kant en klaar voorberei. Wanneer jy nou in Christus glo en deur die Heilige Gees beseël is, is die doel van God se uitverkiesing voltrek en weet jy vir seker dat jy deel van sy volk, sy gemeenskap van gelowiges op aarde is. Daar is dus nie ’n uitverkiesing wat skuilgaan agter en buite Christus om en wat ons in groot onsekerheid laat oor ons ewige heil nie. Die heil wat deur die bloed van Christus beskikbaar is, is die onteenseglik sigbare bewys van God se ewige verkiesing. Niemand hoef dus te wonder hoe God se uitverkiesing werk nie; dit werk wanneer jy in Christus glo. Dan is jy deel van die heil wat God beskikbaar stel op aarde. En wáár is dit beskikbaar? Dit bring ons by die volgende punt.

2.   Wat treffend is in Efesiërs 1:3-14 is die “ons” en “julle” wat deurgaans voorkom. Dit is telkens ons wat in Christus uitverkies is en julle wat deel geword het van die volk van God. Hierdie meervoude is nie om dowe neute daar nie. Ons wil dikwels van die uitverkiesing ’n individualistiese saak maak, maar hierdie “ons” en “julle” verwys na Israel en die kerk wat as heilsinstansies uitverkies is om God se redding op aarde te verwesenlik, instansies waardeur God sy genade na almal op aarde laat vloei. Elkeen wat glo, word deel van hierdie uitverkore gelowige volk van God. Die uitverkiesing werk dus eintlik via die volk van God na elke individu toe; ’n mens kry deel aan die uitverkiesing wanneer jy ingelyf word by daardie instansie wat God uitverkies het om sy heil op aarde te vergestalt. Hierdie siening verlig ook die druk wat ons laat opbou rondom die uitverkiesing dat elke individu voor die grondlegging van die wêreld persoonlik deur God uitverkies is. In ’n sekere sin ís dit so, maar dis eintlik indirek so: jou uitverkiesing word in die geskiedenis ’n werklikheid wanneer jy die heil wat beskikbaar is in God se uitverkore voertuie – die volk Israel in die Ou Testament en die kerk in die Nuwe Testament – in die geloof aangryp en jou eie maak. Dan word jy opgeneem in hierdie stroom van genade wat God uitgekies het om sy heil op aarde te versprei.

3.  Hierbo het ons telkens van geloof gepraat. Dis nou nodig om dit duideliker uit te spel in terme van die uitverkiesing. Die uitverkiesing in Christus en die inskakeling by die kerk hou in dat dit mense se geloofskeuses oproep en insluit. Efesiërs 1:13 sê duidelik dat ons die uitverkiesing in Christus ’n werklikheid gemaak het deur die evangelie te hoor en tot geloof te kom. Verre sy dit dus daarvan dat die uitverkiesing ’n mens sonder die vryheid van keuse laat of menslike verantwoordelikheid uitskakel. God maak nie van ons stokke en blokke wat Hy na willekeur manipuleer nie. Die mens het nog steeds die verantwoordelikheid om gehoor te gee aan die heil wat God beskikbaar stel. Natuurlik, presies hoe Goddelike verkiesing en menslike geloof in mekaar pas, is nie deursigtig nie. As ’n mens kies om in Christus te glo, kan jy nie sê dis jou eie prestasie nie, want dan word geloof ’n goeie werk op grond waarvan God jou beloon. Nee, ook jou geloof is deel van God se misterievolle werking wat ons deur sy Gees van binne-af nuut maak deur die wedergeboorte (Joh 3:3-8). Daarom word die werk van die Heilige Gees ook spesifiek genoem in Efesiërs 1:13-14: Die Gees beseël ons as God se eiendom en is die waarborg dat ons alles sal ontvang wat God belowe het. Menslike keuses het egter ook ’n slegte keersy: ’n Mens kan ook nee sê vir God se heil; jy het die keuse om God se verkiesing in Christus te verwerp. Maar as jy hierdie heil verwerp, kan jy nie Gód die skuld gee daarvoor nie. Dit staan volledig op jóú rekening; dis jou keuse. God verwerp niemand van alle ewigheid af nie; Hy verwerp alleen dié wat Hóm volhardend verwerp, wat eintlik daarop neerkom dat God jou oorlaat aan jou keuse. God neem ons besluite dus baie ernstig – hetsy ons keuse van geloof, hetsy die keuse wanneer ons sy heil verwerp. Die verkiesing in Christus staan van alle ewigheid af vas. Wie dit in die geloof aangryp, maak daarmee God se verkiesing in Christus effektief en is seker van God wat red. Maar wie dit in eiesinnigheid verwerp, het slegs homself te blameer.

Uit bostaande oorsig oor Efesiërs 1:3-14 behoort dit duidelik te wees dat die uitverkiesing allermins beteken dat menslike keuses uitgeskakel word.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl