“As long as we think we own anything,that thing owns us. As soon as we know that we own nothing,then God owns us” — AW Tozer
Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Nie bo jou kragte nie
Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.
Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan (1 Korintiërs 10:13)
As die pad moeilik word, is ons geneig om hierdie vers as bemoediging te gebruik. Soms vind ons dat hierdie vertroosting nie werk nie. Paulus se lewe was nie maklik nie. As sendeling moes hy dikwels deur gevaarlike terrein reis. Lees net 2 Korintiërs 6:4 – 10 om van al sy ontberings te hoor. Het dit vir Paulus oorval? Vroeër in die brief skryf hy: Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is (2 Korintiërs 1:8 – 9). Dit lyk asof God vir Paulus hier meer gegee het as wat hy kan hanteer. Hoekom het God dit gedoen? Lees net vers 9 klaar: Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.
God gee ons soms meer as wat ons kan hanteer, sodat, wanneer ons aan die einde van ons kragte kom, ons besef dat ons lewe en krag van God kom. Sonder My kan julle niks doen nie (Johannes 15:5).
Paulus praat nie hier oor die swaarkry van die lewe nie – hy praat spesifiek oor versoeking. Hy is besig om die gelowiges in Korinte te waarsku teen trots en ‘n oormaat vertroue in hulle vermoë om versoeking te weerstaan. Voor hulle tot geloof in Christus gekom het, het hulle afgode aanbid. Hulle het gereeld feeste in die heidense tempels bygewoon; hulle was deel van die onsedelikheid wat in Korinte geheers het. Nou dat hulle Christene is, het hulle nie meer afgode aanbid nie, maar wou nog die feeste bygewoon het – hulle wou steeds deel van die sosiale lewe gewees het. Solank as wat hulle die regte perspektief op afgode gehad het, was hulle vry om aan al die sosiale aktiwiteite deel te neem – hulle moes net nie aan versoeking toegee nie. Nou speel hulle met vuur en Paulus besef dit. 1 Korintiërs 8 – 10 was Paulus se antwoord op hulle “vryheid in Christus.”
Paulus begin met ‘n ernstige waarskuwing: hulle mag inderdaad vryheid in Christus hê, maar hulle moet versigtig wees om dit nie so te gebruik dat ander in sonde verval nie. Dit is nie goed om hierdie vryheid uit te oefen in die teenwoordigheid van ander Christene wat swakker was en nie die versoeking so kon weerstaan nie. Daarom vra Paulus hulle om hulle vryheid in te perk. Dan gebruik hy sy eie lewe as voorbeeld. Hy het ook soms sy eie regte en voorregte ingeperk (9:14). Maar die Korintiërs was trots en wou hulle vryheid se perke tot die uiterste druk – hulle glo dat hulle volwasse genoeg is om die versoeking te weerstaan. Paulus gebruik sekere Ou Testamentiese voorbeelde van hoe Israel voortdurend aan die versoeking toegegee het. Daarna waarsku hy die Korintiërs dat te veel vertroue tot hulle ondergang kan lei: Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie (10:12)
Daarna praat Paulus oor versoeking in die algemeen. Hy waarsku en volg dit met woorde van aanmoediging en insig op. Dit is nou ons vers. Hy het begin deur te sê dat niemand versoeking vryspring nie. Die goeie nuus: ons hoef nie toe te gee nie. Niemand mag ooit sê dat hy geen keuse gehad het nie en moes toegee. God gee aan ons die vermoë om te weerstaan – ons moet net na God opkyk. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Hebreërs 2:18).
Ons het ‘n advokaat en helper in Jesus Christus. As ons na Jesus se eie versoeking in die woestyn kyk, is die beste wapen teen versoeking God se woord. Elke keer as Satan vir Jesus versoek het, gaan Jesus na die woord vir ‘n antwoord. Dit is die riglyn wat ons moet volg as ons versoek word.
Volgende keer kyk ons na Spreuke 22:6.