Hoofletters wanneer na Jesus verwys word,of nie?

Hoofletters wanneer na Jesus verwys word,of nie? – Herman Grobler

Wanneer ‘n Bybelvertaler besig is om die Bybel te vertaal, word hy telkens gekonfronteer met vrae wat op die oog af maklik vanuit ons gevoel beantwoord kan word. Maar wanneer ons ‘n bietjie dieper dink is dit nie so eenvoudig nie. Wanneer moet hy hoofletters gebruik, en wanneer nie?

Om hierdie vraag te antwoord moet ons die beginsel daaragter verstaan. Ek verduidelik dit met ‘n kontemporêre voorbeeld:

‘n Joernalis voer ‘n gesprek met iemand wat hy nie ken nie. Hier is wat gebeur het:

Eers ‘n ent in die gesprek in, besef die joernalis dat hy met ‘n predikant praat. “Ekskuus, dominee, ek het nie besef u is ‘n dominee nie, en ek het u sommer ‘gejy’ en ‘gejou’! Vergewe my asseblief.”

As ‘n verslaggewer nou ‘n berig oor hierdie gesprek moes voorberei, moet hy skryf: “Die joernalis vra die dominee toe: ‘meneer, waar het jy toe jou opleiding ontvang?’” Of moet die verslaggewer skryf: “Die joernalis vra die dominee toe: ‘Dominee, waar het u toe u opleiding ontvang?’”

Moet die verslaggewer die woorde van die joernalis aan die dominee by latere kennis terugskouend aanpas, of by die direkte werklike woorde bly wat gebruik was? Dit is die kern van ‘n belangrike probleem by die verstaan en vertaal van die Bybel.

Moet die vertaler die direkte woorde wat iemand sou gebruik het, aanpas omdat ons vandag besef met wie of van wie gepraat is?

Kyk na die vrou by die put. Aan die begin kon sy nie besef het wie Jesus was nie. Daarom sou sy Hom “gemeneer”, en “gejy” en “gejou” het. Maar terugskouend weet òns Wie dit is met Wie sy gepraat het! Moet ons haar woorde aanpas, of by die woorde bly wat sy werklik sou gebruik het?

Die Griekse woord “Hoe sou jy dit vertaal het?

 

Skrywer: Herman Grobler

 




Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (18)

 

The bitterest tears shed over graves are for words left unsaid and deeds left undone. -Harriet Beecher Stowe

Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens  (18)

Dallas Willard, Professor aan die University of Southern Califonia se School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines

 

Gemeenskap

As gemeenskap  neem ons deel aan gesamentlike aktiwiteite soos aanbidding, studie, gebed, feesviering en diens – saam met ander dissipels. God se vuur brand hoër as ons almal saam is en nie verspreide individue nie.

Die dele van die liggaam moet saam wees as hulle mekaar wil ondersteun. Bekering is nie ‘n individuele ding nie. Elke individu het ‘n unieke en direkte verhouding met God. Maar dié lewe vereis gereelde bymekaarkom met ander wat hierdie lewe deel.

‘n Verskeidenheid gawes van die Gees is versprei tussen lede van die liggaam van Christus – die kerk. Eenheid van die liggaam wat reg funksioneer, word gewaarborg deur mense wat wedersyds diens verrig en behoeftes van mekaar hanteer. Dit is hoe dinge in die nuwe lewe werk. Elke mens ontvang ‘n gawe van Gees wat hy tot voordeel van almal moet gebruik.

Belydenis

Belydenis is ‘n dissipline wat binne die gemeenskap funksioneer. Ons laat mense wat ons vertrou ons diepste swakhede en mislukkings hoor. Ons laat sekere medegelowiges hoor wie ons werklik is – niks belangrik word weggesteek nie – absolute deursigtigheid. Ons lê die las van voorgee wie ons is, af. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word (Jakobus 5:16). Sonde wat nie bely word nie, is ‘n las – belydenis verwyder hierdie las.

Belydenis help ook om sonde te vermy. Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang (Spreuke 28:13)  – belydenis help met  hierdie afsien. Openbaring van my siel aan ‘n volwasse medegelowige laat vriende toe om te bid vir spesifieke probleme en om te doen wat die een wat bely het, sal help. Belydenis maak diep gemeenskap moontlik – geen belydenis lei tot oppervlakkigheid wat vandag baie algemeen in kerk is nie. Wat maak belydenis moontlik? Gemeenskap.

Belydenis in ‘n geslote gemeenskap lei tot herstel. Dit is moeilik om die verkeerde nie reg te stel as dit bely word nie. Ons integriteit vereis herstel. Dit is ongemaklik, maar versterk ons wil om die regte ding te doen. Belydenis is ‘n kragtige dissipline vir die geestelike lewe.

Daar is natuurlik baie ander dissiplines wat bespreek kan word. maar ek glo ons het die belangrikstes hanteer.




Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (17)

God rarely seems to use a man who pampers himself with luxury. —Kenneth Prior

Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens  (17)

Dallas Willard, Professor aan die University of Southern Califonia se School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.

Diens  

Nou gebruik ons goedere en krag vir die bevordering van goed vir ander en die bevordering van God se agenda op aarde. Ek kan ander dien as liefdesdaad sonder om te dink hoe dit my  vermoë om God te volg, sal verbeter. Daar is niks hiermee verkeerd nie, en dit mag my selfs geestelik versterk. Ek mag ander dien om my te leer om trots, besitlikheid, jaloesie, haatdraendheid, gierigheid te beheer. Nou is my diens ‘n geestelike dissipline.

 

Diens paradoksaal is die pad om ons vry te maak van ander mense. Ons is nou nie meer mensplesierders nie, maar vrees die Here. Moenie net werk om deur hulle raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met ‘n opregte hart uit eerbied vir die Here. Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan (Kolossense 3:22 – 24).

Diens is veral belangrik vir mense wat hulle in posisies van invloed, mag en leierskap bevind. Om as dienaar te leef terwyl jy ‘n sosiaal belangrike rol vervul, is uitdaging. Ongelukkig gee die kerk min leiding aan hierdie mense – soos die wêreld glo ons dat hulle dit gemaak het. Mense sien hierdie suksesvolle mense as gesaghebbendes op geestelike gebied as gevolg van hulle sukses in die lewe.

Jesus het baie gesê oor wyse waarop leiers moet leef. Matteus 20:25 – 28 is ‘n stelling oor hoe die wat groot is hulle moet gedra. Om groot te wees en soos ‘n dienaar te leef is moeilik. Dit is die voorbeeld waarvoor hierdie stukkende wêreld wag. Die gedrag kry jy deur die dissipline van diens in die krag van God. Daarom het Jesus vir sy dissipels gesê om mekaar se voete te was en self voorbeeld gestel het (Johannes 13:14).

Diens aan ander in die gees van Jesus laat ons toe om te wees wie ons is – ‘n dienaar van God wat nou hier is en met die vermoë om hierdie goeie en nodige dinge te doen vir iemand anders.

Gebed

Gebed is kommunikasie met God – ‘n gesprek met God. As ons bid, praat ons met God. Gesonde gebed gaan meestal gepaard met ander dissiplines – leer, nadenke, aanbidding en soms afsondering en vas. Gebed kan ‘n doeltreffende dissipline wees. Jesus se raad aan sy dissipels in die tuin van Getsemane – waak en bid. Gebed het ‘n geestelik versterkende effek op alle aspekte van ons persoonlikheid. Daardie gesprekke met God maak ‘n onuitwisbare indruk op ons denke en ons bewustheid van Hom.

Hoe meer ons bid, hoe meer wil ons bid. As ons die resultate van gebed  – die reaksie van ons Vader op ons gebede – sien,  spoel ons vertroue in God se mag na ander gebiede van ons lewens.

Gebed as dissipline versterk ons geestelike lewe net as ons leer om gereeld te bid (1 Tessalonisense 5:17). Ons moet leer om God  se teenwoordigheid in alles wat ons doen, aan te roep. God sal ons in liefde ontmoet, liefde sal ons gedagtes op Hom fokus. Ons hele lewe moet in die teenwoordigheid van God gebaai word.

Gebed sal net in ons lewens gevestig word as ons ander dissiplines ook beoefen – soos afsondering en vas. Bybelstudie en gebed alleen nie voldoende nie – ons lewens as geheel moet verander word deur ook van ander dissiplines gebruik te maak.




Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (16)

Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens  (16)

Dallas Willard, Professor aan die University of Southern Califonia se School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.

Die dissiplines van betrokkenheid

Die dissiplines van onthouding moet met die dissiplines van betrokkenheid gebalanseer en aangevul word. Ons het dissiplines uit beide kategorieë nodig.

Onthouding maak plek vir betrokkenheid.

Aanbidding  

Aanbidding beteken ons is betrokke met, en druk God se grootheid, goedheid, skoonheid uit deur gebruik te maak van woorde, rituele en simbole. Om te aanbid beteken ons sien God as waardig. Ons doen dit alleen of in gemeenskap met ander gelowiges. Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep (Openbaring 4:11); Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang … Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid (Openbaring  5:12 – 13).

In aanbidding word ons deur God self ontmoet – Hy is by ons teenwoordig. Dit lei tot verandering in ons lewens. Dit het met Jesaja gebeur. Jesaja het die Here gesien: Hy het op ‘n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul By Hom was daar serafs om Hom te dien —  die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid (6:1 – 3).

Aanbidding sentreer op Jesus Christus en gaan deur Hom na God. As ons aanbid vul ons ons harte en gedagtes met verwondering oor Hom – sy lewe, dood, opstanding en sy werk as intreder by God.

Feesviering

Hierdie dissipline word dikwels vergeet of misverstaan. Dit gaan oor die grootheid van God en sy goedheid aan ons. Tipies kom ons met ander wat God ken, saam om te eet, drink, sing, dans en stories van God se optrede in ons lewens te vertel. Miriam (Eksodus 15:20), Debora (Rigters 5) , Dawid (2 Samuel 6:12 – 16) is enkele Bybelse voorbeelde. Dit geld ook vir Jesus se eerste wonder in Kana (Johannes 2).

Blydskap en vreugde is ‘n teenmiddel vir wanhoop en ‘n bron van opregte dankbaarheid. Kyk na Deuteronomium 14:26 – 27: Daar moet jy met die geld koop net wat jy wil: bees, skaap, wyn, bier of enigiets anders wat jy wil hê. Dan moet jy en jou familie dit daar in die teenwoordigheid van die Here jou God eet en bly wees. Hoekom? Sodat jy kan leer om die Here jou God altyddeur te eer  (14:23). Geloof in God kan nie gebou of in stand gehou word sonder viering van sy grootheid en goedheid aan ons te midde van swaarkry nie. Kyk na die seënuitsprake in Matteus 5:3 – 12 – selfs diegene wat ons gedink het geruïneer is, word geseën –  diegene wat treur, honger en dors het en dié wat vervolg word.

Feesviering laat ons sorge en ontbering klein lyk soos ons krag kry om God se wil te doen, want sy goedheid word vir ons werklikheid.