Die kanon in die Middeleeue

Occasions make not a man fail, but they show what the man is – Thomas â Kempis

Die kanon in die Middeleeue

Vir meer as ‘n millennium dien die  Latynse Vulgaat as die amptelike  Bybel van die kerk. Nou vind daar egter twee ontwikkelinge plaas:

  1. Die Rooms-Katolieke kerk besit absolute gesag – selfs groter as dié van die Skrif. Die Rooms-Katolieke kerk kon dus die kanon bepaal. Omdat die Rooms-Katolieke kerk die kanon gedefinieer het, moet alle Christene die kanon aanvaar. Hierdie kanon bestaan uit die Ou Testament  met apokriewe en die Nuwe Testament.
  2. Die ontwikkeling van die humanisme. Ons moenie hierdie beweging verwar met die sekulêrevan die 20 en 21ste eeu nie – hierdie latere beweging  was grootliks anti-Christen. Die humanisme van die 14, 15 en 16de eeu was primêr ‘n kulturele en opvoedkundige  beweging wat veral welsprekendheid bevorder het. Dit is ‘n uitvloeisel van die Italiaanse Renaissance en het gou na die noorde van Europa versprei. Hierdie beweging was nie anti-Christen nie en is deur leiers van die kerk aanvaar. Hulle leuse was: ad fontes (= terug na die bronne). Vir die kerk beteken dit terug na die Hebreeuse Ou Testament,  die Griekse Nuwe Testament en die werk van die vroeë kerk. Dit lei tot verskeie ontwikkelings en vrae:
  • Die verskil tussen die Hebreeuse Bybel en die Latynse Vulgaat. Die vraag oor watter een as bron gebruik moet word, kom weer na vore.
  • Hieronimus se ou onderskeiding tussen kanoniek en apokrief kom na vore. Hy het geglo dat die apokriewe gebruik kan word vir geestelike opbou, maar nie vir die ontwikkeling van die kerk se leer nie. Augustinus het hierdie onderskeid verwerp. Daarom het die kerk sekere dinge geglo en gepraktiseer op gesag van die apokriewe. Voorbeelde hiervan is die vaevuur en bid vir die afgestorwenes waarvoor die primêre bron 1 Makkabeërs 12:38 – 45 was. Die vraag is gevra of die kerk nog hierdie leerstellings kan gebruik of mag slegs die kanonieke Skrif gebruik word.
  • Op sekere plekke blyk dit dat die Latynse Vulgaat ‘n swak vertaling van die oorspronklike Griekse Nuwe Testament was. Die probleem was dat sekere van die kerk se leerstellings op hierdie gedeeltes gebaseer was. Byvoorbeeld: die Vulgaat vertaal Matteus 4:17 met doen boete, want die koninkryk van die hemel het naby gekom. Dit is die Bybelse fondament vir die sakrament van boetedoening – ‘n manier om God se genade te ontvang nadat jy gesondig het deur te bid, vir die armes te gee, afstand te doen van sekere fisiese plesier, ens. Erasmus, ‘n leier onder die humaniste, sê egter dat die korrekte vertaling moet wees: Bekeer julle. Hierdie is ‘n oproep  vir ‘n innerlike hartsverandering en nie ‘n uitwendige praktyk wat deur die kerk afgedwing word nie. Vraag: Moet die kerk sy leer op die swak vertaalde Vulgaat of op die Griekse Nuwe Testament baseer.

Volgende keer kyk ons wat het tydens die Hervorming en daarna gebeur.




Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (13)

. —Augustus Strong

Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (13)

Dallas Willard, Professor aan die University of Southern Califonia se School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.

Ons kyk na ‘n paar spesifieke dissiplines van onthouding.

Afsondering  

 

Afsondering het ‘n groot rol in die lewe van Jesus Christus gespeel. Afsondering beteken dat ons ons doelbewus weerhou van interaksie met ander mense. Ons sluit onsself af. Hierdie is nie net vir rus en verfrissing nie – dit kan ook tot ons geestelike welstand bydra. Afsondering beteken dat ek kies om alleen te wees.

In afsondering vind ons die sielkundige afstand, die perspektief van waar ons die dinge wat ons vasvang, bekommer en onderdruk, kan sien. Maar afsondering, soos al die geestelike dissiplines, dra ‘n risiko. Afsondering breek die dop van ons oppervlakkige sekuriteit. Ons kan afsondering alleen oorleef as ons daar aan Christus vashou. Dit wat ons daar van Hom ondervind stel ons in staat om na die samelewing terug te keer as vry mense.

Aan die begin van ons geestelike lewe is hierdie waarskynlik dié fundamentele dissipline – en soos ons geestelike lewe vorder moet ons weer en weer daarna terugkeer. Probeer net om te vas, bid, dien, gee of feesvier sonder die voorbereiding wat met afsondering gepaard gaan. Dit werk nie. Die woestyn is die primêre kragbron vir beginners – soos Jesus en Paulus . As ons alleen is, is dit inderdaad moontlik om stil te wees: Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde (Psalm 46:11). Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie, hy is gerus, hy vertrou op die Heer. Hy voel hom veilig, hy is nie bevrees nie: hy sal die nederlaag van sy vyande aanskou (Psalm 112:7 – 8)

Kuisheid

Seksualiteit is ‘n kragtige en subtiele krag van die menslike natuur. Elkeen van julle moet weet  dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe (1 Tessalonisense 4:4). ‘n Groot deel van hierdie weet is om te leer om nie deur seksuele gevoelens en begeertes  beheer te word nie.

Ons is seksuele wesens. God het ons man en vrou gemaak (Genesis 1:27). Iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam (1 Korintiërs 6:18). Om kuisheid te beoefen, moet ons eers liefde beoefen – soek die beste vir die teenoorgestelde geslag met wie ons in aanraking kom

Volgende keer gaan ons verder met die dissiplines van onthouding.




Die ontwikkeling van die kanon

Every word of the God-breathed character of Scripture is meaningless if Holy Scripture is not understoord as the witness concerning Christ – G. C. Berkouwer

 

Die ontwikkeling van die kanon

Daar is heelwat op die webblad geskryf oor hoe die kanon tot stand gekom het. Maar nou sien ons dat die kanon van die Rooms-Katolieke Kerk en die Protestantse Kerk verskil. Hoe het dit gebeur?

Ons glo dat die lidmate van die vroeë kerk, soos ons, elkeen ‘n geskrewe Bybel gehad het. Dit was nie die geval nie. Daar was geen drukpers nie en boeke moes met die hand gekopieer word. Die gevolg was dat die kerk staatgemaak het op mondelinge oordrag van een geslag na die volgende.

Hierdie geskrewe rekords (die Ou Testament) en die ongeskrewe tradisie (die Nuwe Testament) is deur die vroeë kerk as twee dele van ‘n verenigde geheel gesien. Die ontvangers en oordraers van hierdie tradisie was veral die biskoppe – die opvolgers van die apostels. Hulle was die leiers in die kerk en die waarborg dat wat in die kerke geglo en gepraktiseer is in ooreenstemming  met die apostels se leringe was. Hierdie biskoppe was nie ‘n bron van nuwe openbarings van die waarheid nie – hulle het alleenlik oorgedra wat die apostels gesê het. Mettertyd is van hierdie apostoliese tradisie neergeskryf.

Die kanon van die Nuwe Testament is onveranderd sedert die laaste deel van die 4de eeu, maar dit was nie die geval met die Ou Testament nie. In die 3de eeu vC is begin met die Griekse vertaling van die Hebreeuse Bybel – die Ou Testament.  Hierdie Griekse vertaling staan as die Septuagint (sewentig) bekend. (Ook bekend as die LXX.) Hierdie Bybel word wyd versprei onder Griekssprekende Jode en ook onder nie-Jode soos die kerk in die heidense gebiede versprei het. Die Septuagint bevat ook die apokriewe. Die skrywers van die Nuwe Testament het die Septuagint geken en van hulle aanhalings kom hieruit.

Aan die begin van die 2de eeu (na Christus) is daar met ‘n Latynse vertaling van die Bybel begin. Dit is omdat Latyn die taal van die Romeinse Ryk was. Omdat die Septuagint aanvanklik as basis vir hierdie vertaling gebruik is, het die Latynse weergawe die apokriewe ingesluit. In 382 nC vra die biskop van Rome vir Hieronimus om ‘n nuwe Latynse vertaling te doen. Hieronimus besef gou dat ‘n goeie vertaling  die oorspronklike Hebreeuse Bybel as bron moet gebruik.

Hieronimus vertaal eerste vir Samuel en Konings. In sy voorwoord vir hierdie boeke gee hy ‘n lys van kanonieke boeke – die apokriewe verskyn nie op sy lys nie. Hulle het nou sekondêre status. Hy sê dat die apokriewe vir geestelike opbou gebruik kan word, maar  die kerk kan dit nie as gesag vir sy leer gebruik nie. Hierdie vertaling staan later as die Latynse Vulgaat bekend.

Augustinus glo dat dieselfde Gees wat deur die skrywers van die Hebreeuse Bybel gewerk het ook deur die vertalers van die Septuagint gewerk het – die Gees se inspirasie was in beide aktief. Die Ou Testament met die apokriewe en die Nuwe Testament word nou die Skrif van die kerk. Hierdie siening word nie ernstig uitgedaag voor die Hervorming nie.

Volgende keer gaan ons verder met die geskiedenis van die kanon.




Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (12)

To read without reflecting is like eating without digesting. -Edmund Burke, staatsman en skrywer (1729-1797)

Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (12)

Dallas Willard, Professor aan die University of Southern Califonia se School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.

Ons het in die vorige blog gewys dat die geestelike dissiplines in twee kategorieë verdeel kan word. Ons begin vandag met die eerste kategorie: Die Dissiplines van onthouding. Daarom dring ek by julle daarop  aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie (1 Petrus 2:11).

 

Die dissiplines van onthouding moet deur almal beoefen word. Dit moet lei tot ‘n sobere en matige gebruik van al God se gawes. As ons voel dat enige gewoonte, al is dit skadeloos, ons van God weghou; as ons voel dat dit wat ander met straffeloosheid doen ons verlei – dan is onthouding ons enigste keuse. Ons moet ontslae raak van alles wat tussen onsself en God kom.

In hierdie dissiplines bly ons weg van wat ons gewoonlik as normale en wettige begeertes beskou. Dit is dinge wat ons basies motiveer – kos, slaap, liggaamsaktiwiteite, vriendskappe  en seks. Ons begeertes vir gemak, materiële sekuriteit, reputasie en roem en verskeidenheid val ook onder hierdie groep. Meeste hiervan moet tot ‘n sekere mate vervul word vir menslike lewe en gesondheid. Onthou daar is nie noodwendig iets inherent verkeerd met hierdie begeertes nie. Ongelukkig laat ons toe dat hierdie begeertes soms hand uit ruk. Uiteindelik is dit ‘n bron van sonde.

Die sewe dodelike sondes wat dwarsdeur die geskiedenis van die kerk erken is, is: trots, jaloesie,  woede, luiheid, hebsug, gulsigheid  en wellus. Elkeen, tot ‘n meerdere of mindere mate,  is wettige begeertes wat skeefgeloop het. Deur ons omstandighede en gedrag aan te pas, kan ons hierdie basiese begeertes in hulle regte plek plaas.

Volgende keer begin ons met spesifieke dissiplines van onthouding. Ek gaan my beperk tot die meer algemene dissiplines.