“This sense of being made in God’s image calls us all constantly to look for it in others and to do what we can to help them acknowledge it and to realize it by joining in worship. We thereby carry to others the answer to their inmost longing, a yearning for union with the Trinity, a thirst to respond with adoration to the God who made them.” – Marva Dawn
Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (8)
Dallas Willard, Professor aan die University of SouthernCalifonia se School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.
Die aanname oor die noodsaaklikheid van dissiplinering van jou begeertes en gevoelens word bewys deur Paulus en ander kerkleiers se praktyke. Ook is die voorbeelde van Johannes die Doper en Jesus gedurig vir jong gelowiges voorgehou. Oral waar hierdie vroeë Christene gekyk het, sien hulle voorbeelde van die praktyke van afsondering, vas, gebed, bestudering van die Skrifte, aanbidding, diens en gee.
Hierdie vroeë Christene het hulle lewens anders as hulle nie-Christen tydgenote georganiseer – ook anders as die oorgrote meerderheid van mense wat hulle vandag Christene noem. Ons praat van hulle alledaagse lewenswyse.
Kyk hoe het Jesus en sy oorspronklike volgelinge van afsondering gebruik gemaak. Die lewe wat in pas met God is, word gevoed deur tye wat ons alleen deurbring. Johannes die Doper was dikwels alleen in die afgesonderde dele van sy land. Jesus soek voortdurend tye van afsondering – vanaf sy doop tot by die tuin van Getsemane. Hy los selfs die drie dissipels om alleen te wees. Dit is net afsondering wat die moontlikheid van ‘n radikale verhouding met God wat alle eksterne gebeure kan weerstaan, open.
Vandag beskou ons afsondering van die samelewing as ‘n swakheid – ons vlug weg van die wêreld. Lees net weer Jesus se versoeking in Matteus 4: Die Gees lei Hom in die woestyn in om daar deur die duiwel versoek te word; 40 dae en nagte eet Hy niks nie – is Hy nie nou swak en kwesbaar nie? Maar die woestyn, die plek van afsondering, was in werklikheid die plek van sterkte en versterking vir Jesus Christus – die Heilige Gees lei Hom soontoe om te verseker dat Hy in die bes moontlik toestand vir sy versoeking was. Eers na Jesus Christus afgesonder was en gevas het, word die Satan toegelaat om Hom met sy slinkse voorstelle te nader. Die woestyn was sy vesting. Dwarsdeur sy lewe soek Hy plekke van afsondering op (Markus 1:35; 3:13; 6:31, 46). Al sy volgelinge was bewus van hierdie praktyk van Hom en het dit nageboots
Voor hy Jesus Christus begin volg het, was Paulus waarskynlik ‘n man met groot selfbeheer en dissipline. Dit verdwyn nie met sy bekering nie, maar dit kry wel nuwe betekenis. Selfbeheer word net bereik deur oefening. Lees net Titus 1 en 2. Dink aan Paulus se ontmoeting met Jesus Christus. Onmiddellik daarna eet en drink hy niks vir drie dae nie en bid (Handelinge 9:9 en 11). Kort daarna vlug hy na die Arabiese woestyn waar hy totaal afgesonder was totdat hy gereed was om na Damaskus, Jerusalem en Tarsus terug te keer.
Paulus en Barnabas is op reis. Hulle besoek ‘n hele aantal plekke en stig daar gemeentes. In elke gemeente het hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het (Handelinge 14:23) Paulus se doeltreffendheid is ondenkbaar sonder sy gereelde gebruik van vas, afsondering en gebed.
Die probleem is dat ons as Christene ‘n negatiewe gesindheid teen hierdie dissiplines het. Hoekom?