Paasfees in Galilea: Jesus die brood van die lewe (6:1-71)
Paasfees in Galilea: Jesus die brood van die lewe (6:1-71) – Francois Malan
In hierdie hoofstuk word twee natuurwondertekens vermeld, daarna twee gesprekke, dan ‘n lering oor die Brood van die Lewe, en weer twee gesprekke. Dit begin by die see van Galilea en eindig in Kapernaum. Waar die sabbat die aanknopingspunt van die gesprek oor die gesag van die Seun in hoofstuk 5 was, is die Paasfees, wat Israel se bevryding uit Egipte en behoud van hulle eersgeborenes herdenk, die aanleiding tot die gesprek oor die redding uit die mag van die dood, van die Seun wat gekom het om die weg tot die ewige lewe te open in hoofstuk 6. Die vermeerdering van die brood wek die verwagting van ‘n nuwe eksodus met lewende brood uit die hemel, en van die offerdood van die Lam van God, wie se liggaam geëet en sy bloed gedrink moet word (Johannes vertel nie van die instelling van die nagmaal nie).