Algemene foute wat ons maak (3)

Half-truth = whole lie.” ~ Joodse Spreekwoord

Algemene foute wat ons maak (3)

Ek gaan onder andere van Dave Craft se Mistakes Leaders Make (2012) gebruik maak.

Die gras aan die ander kant van die draad lyk altyd groener. Nou begin ons resultate, grootte, salaris, karre, huise, verantwoordelikhede, deurbrake, oorwinnings ens vergelyk. Hierdie vergelykings is skadelik, gevaarlik en onbybels. Terwyl daar bitter naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie … waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade (Jakobus 3:14 – 16).

 

Baie mense kry hulle selfwaarde en selfidentiteit deur hulleself met ander te vergelyk. Ongelukkig lei dit dikwels tot terneergedruktheid en ontmoediging. Hierdie is baie selde die gevolg van ‘n enkele gebeurtenis, maar  is die gevolg van ons gesindheid  en denke wat oor jare gevorm is. Wat moet ons is so ‘n geval doen? Wees tevrede met wie jy is, waar jy is, wat jy doen en wat God deur jou doen.

Ek moet eerder vergelyk wat in en deur my gebeur met wat potensieel kan gebeur; vergelyk met waar ek is in geestelike groei en doeltreffendheid met waar ek moontlik deur God se genade kon gewees het. Ek moenie my met ander vergelyk nie – hulle het ander gawes, roepings, vermoëns en persoonlikhede: Nou ja, ek sal dit nie waag om my te vergelyk met daardie mense wat nou by julle preek en wat so baie oor hulle prestasies spog nie. Hulle dink geloof is ‘n geestelike kompetisie. Daarom vergelyk hulle hulle gedurig met mekaar om te kyk wie is die beste gelowiges. Dit is dom (2 Korintiërs 10:12 – Die Boodskap).

Hoekom moet ek my nie met ander vergelyk nie? Want God het elkeen van ons uniek gemaak: U het my gevorm, my inmekaargeweef in de skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering (Psalm 139:13 – 14).

Ek kan nie probeer om soos iemand anders te wees nie. Ek gaan anders as ander wees, want God het elkeen van ons uniek gemaak. Ek moet probeer om die beste te wees wat ek kan wees.

 

The more you are like yourself, the less you are like anybody else and that’s what makes you unique  – WaltDisney

Volgende keer gaan ons verder met die probleem as vergelyking met ander my tevredenheid vervang.




Algemene foute wat ons maak (2)

How can we learn to pray? Instruction helps, but example is the key. —Dennis Johnson

Algemene foute wat ons maak (2)

Ek gaan onder andere van Dave Craft se Mistakes Leaders Make (2012) gebruik maak. Die eerste fout waarna ons gaan kyk, is: ons laat toe dat bediening Jesus verplaas

Die mens se aard, om dit so te stel, is ‘n voortdurende fabriek vir afgode (Johannes Calvyn).

Die grootste fout wat ons kan maak, is om nie aan Jesus Christus sy regmatige plek in ons lewens en bediening te gee nie. Alles wat ons in Jesus se plek stel, is per definisie ‘n afgod. Ons begin dikwels goed, maar die lof van mense word mettertyd baie belangrik vir ons – die respek van ons vriende word belangriker as Jesus Christus.

Luister na Jakobus: Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie (Jakobus 3:14). Hierdie is ‘n resep vir ‘n ramp. Ons identiteit in en intimiteit met Jesus verdwyn stadig – met verloop van tyd staan bediening sentraal in ons tyd en fokus. Van hier spiraal alles na onder.

As bediening Jesus Christus  vervang, maak ons ‘n Pandora-kis oop. Bediening word nou ‘n afgod – Jesus Christus  beklee nie meer sy regmatige eerste plek in ons liefde nie. Die fokus is nie meer op Jesus Christus nie, maar op ons en wat ons bereik. Ons sê dat alles wat ons doen vir die Here is – ons glo ons motiewe is suiwer. Maar, bediening mag nooit Jesus Christus se plek in jou hart inneem nie: Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af  (1 Johannes 5:21).

Bediening vervul nou ons diepste lewensbehoeftes. Petrus waarsku: Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind (1 Petrus 5:8)

Wat moet ons doen?

  1. Besef dit is ‘n probleem – moenie verskonings maak of rasionaliseer nie. Bid soos Dawid: Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë (Psalm 51:6) Ons het hier met ‘n gesindheid te doen – dit begin met die manier waarop ons na dinge kyk en die manier waarop ons dink. Kolossense 3:4: Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel. Jesus Christus is my lewe – nie my bediening nie. Want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins (Filippense 1:21) Lees gereeld sleutelverse soos hierdie; dink na oor hulle; bid oor hulle.
  2. .As die Here dit duidelik maak dat ek begin wegdryf, aanvaar dit onmiddellik, bely dit, toon berou en vra sy hulp
  3. Ek het mense om my nodig wat nie bang is om my tereg te wys nie. In die boodskap aan die gemeente in Efese lees ons: Maar dit het Ek teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie (Openbaring 2:4).

Die eerste groot fout wat ons maak, is om Jesus Christus sy regmatige plek in ons lewens te ontneem.

Die tweede groot fout wat ons maak, is dat ons toelaat dat vergelyking met ander ons tevredenheid vervang.




Die Bybel: Ek kies wat ek wil lees en glo?

There is a loftier ambition than merely to stand high in the world. It is to stoop down and lift mankind a little higher. -Henry van Dyke, digter (1852-1933)

Die Bybel: Ek kies wat ek wil lees en glo?

As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos. Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld (Jakobus 1:26 – 27)

Duidelike taal. Ons weet waarvan Jakobus praat, maar ons het ‘n probleem daarmee. Ons meet tog nie geestelike volwassenheid deur te kyk of jy jou tong in toom kan hou nie.

Hy sê dan niks van die bywoning van eredienste, Bybelstudie, getuienis, ens nie. Dit is tog die dinge wat vandag tel in ons gemeentes.

Nee, vir Jakobus was ‘n ware Christen, die een wat God goedkeur, iemand wat deernis teenoor weduwees en weeskinders bewys en die besmetting van die wêreld (= sonde) vermy. Om die besetting deur sonde te vermy kan ons nog aanvaar, maar om te sê dat die versorging van weeskinders en weduwees ‘n kriterium vir egte en suiwer godsdiens is, sluk ons maar moeilik. Egte en suiwer godsdiens beteken tog dat daar sekere dinge is wat ek moet doen – kerk bywoon, Bybel lees, bid, getuig – en sekere dinge is wat ek nie moet doen nie.

Wat is hier aan die gang? Alle gelowiges aanvaar die Bybel, maar terselfdertyd pas ons die Bybel by ons kultuur aan. Ons kies wat ons wil lees en glo. Jy glo dit nie? Kom ons kyk na net twee voorbeelde:

  • Was mekaar se voete. Nadat Jesus sy dissipels se voete gewas het, sê Hy vir hulle:  As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was (Johannes 13:14). In 1 Timoteus 5:10 lees ons dat ‘n weduwee op die lys van dienende weduwees kan kom as sy sekere goeie dade doen, Een van hierdie dade was om die voete van die gelowiges te was. Augustinus, 350 jaar later, skryf dat Christene die voete van diegene wat pas gedoop is, gewas het. Sien ons nog gelowiges wat mekaar se voete was?
  • Charismatiese gawes. Christene in Paulus se gemeentes het geprofeteer. Ons hoor vandag baie selde profesieë.  Dan verduidelik ons dit weg: “Onthou dit was toe, maar dit is nou.” Beteken dit nou dat God sekere dinge gesê het wat nou nie meer geld nie?

Onmiddellik kom die vraag na vore: Maar hoe moet ons die Bybel vandag uitleef? Dit is gou duidelik dat nie alle mense die Bybel op dieselfde manier lees nie. Maar mense wil nie hoor dat hulle keuses maak oor hoe om die Bybel te lees nie.

Hoe nou gemaak? Daarna kyk ons volgende keer.




Algemene foute wat ons maak (1)

Obedience rendered without delight in rendering it is only half obedience. —C.H. Spurgeon

Algemene foute wat ons maak (1)

Ek gaan onder andere van Dave Craft se Mistakes Leaders Make (2012) gebruik maak.

Vir ons is dit net so belangrik om te weet wat om nie te doen nie as wat om wel te doen. Daar is egter ‘n basiese les wat ons nie mag vergeet nie:  Wys vir my die man wat nog nooit ‘n fout gemaak het nie, en ek wys vir jou ‘n man wat nog nooit iets gedoen het nie.

 

Baie van die foute wat ons maak, sien ons dadelik raak, erken ons het gefouteer, stel die fout reg en beweeg vorentoe. Daar is egter foute wat meer subtiel is: ons sien hulle nie raak nie en daarom kan ons niks aan hulle doen nie. Hierdie foute is dikwels ernstig en kan ons lewens ontspoor.

Dawid, die grootste koning in die geskiedenis van Israel, was nie ‘n man sonder foute nie – groot foute. Wat egter opvallend is, is sy bereidwilligheid om sy sondes te erken. Lees net weer Psalm 51: Wees my genadig, o God, in u troue liefde wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid … Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig. Ook Psalm 32 is van groot waarde:  Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het. U hand het dag en nag swaar op my gedruk, my krag het opgedroog, soos water in somerhitte. Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê “Voor die Here bely ek my opstandigheid, en U het my skuld vergewe.”

Soms het ons ‘n geestelike broer/suster nodig om hierdie foute vir ons uit te wys; soms kry ons insig uit ‘n boek, seminaar, konferensie, preek; dikwels kry ons insig as ons die Bybel lees en bid. Die belangrike ding is dat ons hierdie foute moet raaksien, erken en hanteer voor hulle skade berokken het.

In 1 Korintiërs 9:24 – 27 gebruik Paulus die beeld van ‘n wedloop. Baie atlete neem deel, maar net een ontvang die prys. Daar is sekere foute/sondes wat ons sal diskwalifiseer: Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie. In hierdie reeks wil ons na ‘n aantal van hierdie foute kyk wat ons van die wedloop sal diskwalifiseer. Soos die psalmis moet ons bid: Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad ( Psalm 139:23 – 24).

In die volgende blog gaan ons na die eerste van hierdie foute kyk: Ons laat toe dat bediening vir Jesus verplaas.