Is jy ‘n kraai?

We are chosen as an afflicted people and not as a prosperous people, chosen not in the palace but in the furnace. —C.H. Spurgeon

 

Is jy ‘n kraai?

Baie mense bid met huiwering in hulle harte. Voetjie vir voetjie nader hulle God se genadetroon, want hulle is bang hulle ontstel Hom. Hulle het geen vertroue en moed nie. Maar dan kom die Hebreërskrywer en sê: Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word (4:16).

 

Hoe is dit moontlik om God met vrymoedigheid te nader? Ons het ‘n groot Hoëpriester wat medelye met ons swakhede het – Hy ken ons gedagtes, ons seerkry, ons vrese en ons behoeftes (4:14 – 15). Hierdie vrymoedigheid is nie net as gevolg van wat God gedoen het nie, maar ook wie ons is as gevolg van wat God in ons gedoen het. Die psalmis sê: Hy gee aan die diere hulle weiding en versorg die jong kraaie wat om kos skreeu (Psalm 147:9). Is dit wat Jesus in gedagte gehad het toe Hy gesê het: Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle werd as die voëls! (Lukas 12:24 – OAV).

Die kraai is slegs ‘n voël. Geen kraai word ooit verlos nie. Hoe kan God dan die skreeu van die kraai hoor, maar nie ons roep nie? Geen kraai is ooit na die beeld van God gemaak nie. Dit is interessant dat Jesus na ‘n kraai verwys – nie die mooiste van voëls nie. As God dan in die kraaie se behoeftes kan voorsien, sal Hy tog met blydskap in ons behoeftes voorsien. Daarom kan ons sy genadetroon met vrymoedigheid nader.




Die reuse bamboesboom

Never approach a goat from the front, a horse from behind, and a fool from either side.” ~ Joodse Spreekwoord

 Die reuse bamboesboom

John L. Mason (An Enemy Called Average) vertel van die reuse bamboesboom van Asië. Gedurende die eerste vier jaar gee hulle die plant water en bemesting met oënskynlik geen resultate nie. Die vyfde jaar gee hulle weer water en bemesting en binne vyf weke groei die boom 30 meter in hoogte.

Vraag: Het hierdie bamboes 30 meter in vyf weke of in vyf jaar gegroei. Antwoord= vyf jaar. As hulle op enige stadium nie meer water en bemesting gegee het nie, sou dit doodgegaan het.

Hierdie herinner ons aan Markus 4:26 – 27: Met die koninkryk van God gaan dit so: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hoe weet hy self nie. Wat beteken dit?  God is die God van die oes nie ek nie. Dit beteken Hy is die God van die resultate; Hy het die tydtafel; niks is vir Hom onmoontlik nie; Hy werk wanneer ek dit nie sien nie. soms sien ons nie eers dat Hy werk nie en dan skielik groei ons dertig meter in vyf weke!




Die volksmoord van die Amalekiete

Our best works before we are justified are little better than splendid sins. —J.C. Ryle

 

Die volksmoord van die Amalekiete

Gaan verslaan nou vir Amalek. Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring. Jy mag jou oor Hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigeling, bees en skaap, kameel en donkie (1 Samuel 15:3).

Die sogenaamde nuwe ateïste sê dat God gewelddadig, wreed en kleinlik is. Hulle is dan baie lief om hierdie vers te gebruik om hulle argument te ondersteun. Ook gelowiges sukkel met verse soos hierdie.

Hoekom het die Here hierdie opdrag deur Samuel aan Saul gestuur? Ek het nie vergeet wat  Amalek Israel aangedoen het nie, hoe hy Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte getrek het. Beveel God hier volksmoord aan? Hoe beïnvloed dit ons verstaan van God as ‘n God van liefde?

 

Party mense beweer dit is ‘n onakkurate verslag van hierdie gebeurtenis. Ander sê dat hierdie Samuel se woorde en nie die van God was nie. Maar nou lees ons dat Saul nie Samuel se opdrag uitvoer nie – koning Agag en van die diere word nie doodgemaak nie. Die gevolg is dat God ontsteld is en Saul as koning verwerp.

 

God beveel ‘n volksmoord, maar tog is Hy goed en liefdevol. Hoe op aarde verklaar ons dit? Die standaard antwoord is dat ons hier met God se oppermag en die sonde van die Amalekiete te doen het. Natuurlik kan God beveel wat Hy wil; natuurlik verdien almal van ons dieselfde lot as die Amalekiete as gevolg van ons sonde.

 

Kom ons kyk na ‘n paar sleutelaspekte:

  • Wie was die Amalekiete? Hoekom was hulle so sleg? Hulle was die nakomelinge van Esau. Hulle staan dus buite die verbond wat God met Israel aangegaan het en wat God se mense gedefinieer het. Israel was nie ‘n bedreiging vir hulle nie. Op pad na die beloofde land  vra Israel toestemming om deur hulle land te trek: Ons sal nie deur die lande of wingerde trek nie en ons sal ook nie water uit die putte drink nie (Numeri 20:17). Die koning weier hulle versoek. Maar reeds voor hulle by Sinai aangekom het, kort na hulle uit Egipte weg is en baie kwesbaar was,  het die Amalekiete hulle aangeval. Die Israeliete het hulle verslaan. Daar sê die Here vir Moses: Skryf hierdie woorde op in ‘n boek as ‘n blywende herinnering en lees dit vir Josua voor: Ek wil die Amalekiete heeltemal van die aarde af verdelg. Moses het ‘n altaar gebou en dit genoem: “Die Here gee my die oorwinning.” Verder het Moses gesê: “Dit is die gedenkteken vir die oorwinning wat die Here gee. Die Here voer oorlog teen Amalek van geslag tot geslag.” (Eksodus 17:17 – 18). Die Amalekiete het Israel gereeld aangeval en hulle oeste  vernietig en hulle vee doodgemaak (Sien as voorbeeld Rigters 6:3 – 4). Haman, van wie ons in die boek Ester lees, was waarskynlik ook ‘n Amalekiet. Hulle, meer as enige ander nasie, het Israel probeer vernietig. Hierdie was ‘n konflik wat die Israeliete nie begin het nie en een wat nie deur onderhandeling besleg gaan word nie. Hierdie agtergrond verduidelik nie God se opdrag nie.
  • Die Amalekiete en die verlossingsgeskiedenis. Israel was God se uitverkore volk. Hulle was nie gekies sodat God hulle kon seën en al die ander nasies vervloek nie. God se belofte sluit onder andere in: In jou sal al die volke van die aarde geseën wees (Genesis 12:3). Met hulle teenstand teen Israel  verwerp hulle die manier waarop God hulle wou seën. God moet Israel beskerm, want Israel is die instrument wat Hy gebruik om al die volke van die aarde te seën.
  • Ons kan verstaan waarom God wil hê dat die Israeliete teen die Amalekiet moet veg, maar wat van die kinders. Die Amalekiete  was berug daarvoor dat hulle die vroue en kinders  van die nasies wat hulle verslaan het, doodgemaak het (1 Samuel 15:33). Dit is nie ‘n goeie antwoord nie. Ook die argument dat dit die manier is waarop oorlog gemaak is in die antieke Midde-Ooste is ook nie ‘n aanvaarbare verduideliking nie – God word tog nie beperk deur die moraliteit van  daardie tyd nie.‘n Beter antwoord kry ons in Eksodus 17:16: Die Here voer oorlog teen Amalek van geslag tot geslag. God het geweet dat die Amalekiete altyd Israel se vyande sou wees. God het die Amalekiete geken; Hy besef dat hulle alles in hulle vermoë sou doen om sy plan te dwarsboom. As hulle nie een en vir altyd verslaan word nie, sou hulle elke keer net terugkom.

 

Kon God nie maar genade aan hulle bewys het nie? Ons sien dat Saul  by die woonplek van die Amalekiete aangekom het. Hy val nie dadelik aan nie – hy stuur ‘n boodskap na die Keniete wat tussen die Amalekiete gewoon het om weg te trek. Hy wou hulle nie uitwis nie, want hulle het die Israeliete goed behandel (1 Samuel 15:5 – 6). Daar is niks wat verhoed het dat ‘n Amalekiet wat wou oorleef het, gesê het dat hy ‘n Keniet was nie. Hulle moes net hulle identiteit as Amalekiete ontken het. Maar hulle identiteit het onder ander daaruit bestaan dat hulle teen Israel en teen God se plan om die nasies te seën was.

 

Kom ons kyk na hierdie verhaal deur die lens van die kruis. God se belofte om al die nasies  te seën word in Jesus Christus vervul. Jesus is die Een na wie die nasies kom; in Jesus openbaar God Hom volkome. Die evangelies beskryf Jesus as die ware Israel. God stel Jesus aan as regter oor al die nasies. Soos die Amalekiete probeer elkeen van ons God se planne dwarsboom – ons wil nie deel van sy plan wees nie.

 

Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel, sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Korintiërs 5:21). Hy moes sterf sodat God die hele wêreld kon seën. Hy het dit vir ons wat Hom verwerp het, gedoen, sodat ons deel van God se mense kon word.




‘n Ongelooflike verhaal

Achievements are good things until they become our gods. – Kyle Idleman

 

‘n Ongelooflike verhaal

Greg Lucas vertel hierdie verhaal.

Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê. As almal saam net een lid was, hoe sou daar ‘n liggaam kon wees? Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam … Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakstes voorkom, is juis noodsaaklik, en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. So word ons minder aansienlike dele besonder mooi gemaak (1 Korintiërs 12:18 – 23).

 

Om met ons kind deur ‘n erediens te sit is nie maklik nie. Hy is 20 jaar oud en outisties. Hy het ‘n kognitiewe ouderdom van twee jaar. Hy kan nie praat nie, maar hy kan baie raas. Hy skop gedurig die stoel voor hom; hy klap hande as alles stil moet wees. Hy kan nie vir vyf minute stil wees nie. En tog is hy noodsaaklik vir die gemeente.

Mense met kinders met soortgelyke probleme woon gewoonlik nie eredienste by nie – hulle is te gespanne dat die kind almal se aandag sal aftrek. Dit is makliker om by die huis te bly. Maar nou sê bogenoemde gedeelte: Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakstes voorkom, is juis noodsaaklik.  Noodsaaklik beteken tog nodig/onmisbaar (HAT). Hoe kan die swakste lede nou noodsaaklik wees?

Dis Sondagoggend. Jake en sy ouers sit in die agterste ry – nie omdat hulle onbelangrik is nie, maar vir strategiese redes – soms moet hulle vinnig uitgaan. Sy ouers sit alkante van hom. Hulle vryf beurtelings sy arms om hom kalm te hou.

Hierdie diens is anders. Die leraar is aan die einde van ‘n reeks oor Romeine en lees Romeine 16:16: Groet mekaar met ‘n soen van Christelike broederskap. Al die gemeentes van Christus stuur vir julle groete. Jake luister aandagtig toe die leraar die teks begin toepas. Die leraar eindig met ‘n paar vrae: “Hoekom wys ons nie meer teerheid en liefde in die gemeente nie? Hoekom groet ons nie mekaar met drukkies nie? Hoekom is ons bang om aan mekaar te raak?” Jake knik instemmend. Sy ouers kyk vir mekaar – oppas hier gaan iets gebeur. Toe sluit die leraar sy preek af: “Ons gaan vandag iets nuuts probeer. As ons afgesluit het, draai na die persoon langs jou en gee hom/haar ‘n drukkie. Wys liefde vir mekaar.”

Jy kan sommer die ongemak in die kerk aanvoel. Is die leraar ernstig? Moet ons aan mekaar raak? Is die gewone toevallige handdruk nie goed genoeg nie? Mense kyk na hulle bure – diegene wat hulle binnekort moet druk … en na die naaste uitgang. Jake sit op die punt van die stoel. Toe die leraar “amen” sê, kyk die mense benoud na mekaar. Party probeer selfs by die deur uitkom. ‘n Paar getroude paartjies omhels mekaar. Dit is duidelik die gemeente weet nie hoe om te reageer op hierdie uitnodiging om mekaar ‘n drukkie te gee nie.

 

En toe gebeur dit. Jake spring op en voordat iemand kon keer, hardloop hy na ‘n ouer man wat ongemerk probeer uitsluip het – sonder dat iemand aan hom geraak het. Jake stamp hom amper van sy voete af en omhels hom. Nie saggies en kort nie … met mening. Sy pa moes letterlik vir Jake wegtrek van die man af. Die man is duidelik ontsteld. Sy privaatheid is daarmee heen. Maar terwyl Jake se pa hom probeer los maak en verskoning vra, sien hy trane in die ou man se oë. Hy glimlag so effens en met onseker arms druk hy vir Jake.

 

Hy was skaars los of daar gaan Jake en begin die mense ‘n drukkie gee – een na die ander. Hy lag; hy spring op en af;  hy druk die een persoon na die ander. Die gemeente kyk en kyk en ontdek wat noodsaaklik beteken. Meteens begin ander mekaar ook ‘n drukkie gee. Die langstaande grense om gemaksones en persoonlike trots verdwyn. Mense lag en huil en gee mekaar drukkies. En in die middel staan Jake.

 

Daardie Sondag begin iets nuuts vir Jake en vir die hele gemeente aangevuur deur Jake. Nou sit hy elke Sondag en wag vir die einde van die diens – nie om huis toe te gaan om TV te kyk of te gaan rus, Hierdie dinge is nie in sy gedagtes nie. Nee, hy wag om die boodskap toe te pas en God te eer en Christus te verheerlik met vreugde.

 

Elke Sondag na die preek begin die ware aanbidding. ‘n Outistiese seuntjie wat gestremd is en nie kan praat nie skyn soos ‘n helder soeklig van God se genade vir die lidmate om te sien en te verstaan: Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê. As almal saam net een lid was, hoe sou daar ‘n liggaam kon wees? Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam … Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakstes voorkom, is juis noodsaaklik, en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. So word ons minder aansienlike dele besonder mooi gemaak (1 Korintiërs 12:18 – 23).

Jake, die swakke, is noodsaaklik vir daardie gemeente.