Laat sy liefde jou lei: Om geloofsséker te wees

Laat sy liefde jou lei: Om geloofsséker te wees – Milanie Vosloo

Glo jy met oortuiging dat jy deur die verlossende bloed van Jesus Christus gered is? Of gebeur dit soms dat die debatte in die media en ander mense se sieninge jou aan kindskap laat twyfel?

1 Johannes 5:1-11 gee ‘n duidelike antwoord op hierdie tipiese twyfelvrae wanneer Johannes sê dat daar drie is wat getuienis aflê oor ons geloof: die Gees, die water en die bloed en al drie is dit eens. (5:7). Jy kán dus seker wees oor jou redding deur die volgende te onthou:

  • Jy is met water gedoop. Daardeur het God bevestig dat Hy jou in sy reddende genade wil insluit en dat Hy die sonde waarin jy gebore is, volkome wil weg was.
  • Christus se bloed het vir jóú gevloei. Die dag toe Hy uitgeroep het: “Dit is nou afgehandel!” (Joh 19:30b), het sy bloed bevestig dat Hy alles vir jou redding gedoen het.
  • Die Gees is in jou. As jy Christus as jou Saligmaker gekies het, is die Gees van Waarheid in jou hart. Hy self sal dan in jou die sekerheid plaas dat jy vir altyd sy kind is.
  • Dankie vir die absolute sekerheid dat ek u geliefde kind is, Vader!

     

     

    Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

     

    milanie_boeke_advertensie

     

     Skrywer: Milanie Vosloo

     




    Die derde gesprek: Jesus die Seun van God (5:19-47)

    Die derde gesprek: Jesus die Seun van God (5:19-47) – Francois Malan

    Hierdie gesprek is die sleutel om die hele Evangelie van Johannes mee te verstaan en te verklaar. Hierin verduidelik Jesus wat Hy in vers 17 bedoel het. Dit gaan oor die unieke verhouding tussen die Vader en die Seun, wat gestuur is as die instrument van God se finale doel met die mensheid en die skepping.

    Die verhouding tussen die Vader en die Seun (5:19-24)

    5:23 Die Jode moet goed begryp dat hulle nie die Seun as godslasteraar kan uitwerp en tog meen dat hulle God daarmee eer nie. Wie die Seun nou reeds eer, eer ook die Vader. Die Seun is die volle selfopenbaring van God teenoor die mens (vgl. 14:7-11).

     

    Skrywer: Prof Francois Malan

     




    IS DAAR FOUTE IN DIE BYBEL (2)

    “There is no one concept of God which dominates the theology of Paul more than [the fatherhood of God].” – Gerald F. Hawthorne, Ralph P. Martin en Daniel G. Reid, Dictionary of Paul and His Letters

    Is daar foute in die Bybel (2)

    Vir die vroeë kerk was die Skrif sonder foute – geen teenstrydighede nie. Later, tydens die Middeleeue, bevestig die kerk steeds oorweldigend dat daar geen foute in die Skrif is nie. Tydens die Hervorming stry Protestante en Katolieke oor baie dinge, maar hulle stem saam dat daar geen foute in die Skrif is nie. Luther sê dat die Skrif nog nooit gefouteer het nie en ook nooit kan fouteer nie. Wat bedoel hy daarmee?

     

    • Alles in die Skrif stem ooreen met die werklikheid – dit is hoe dinge was en gebeur het.
    • Geen deel van die Skrif kan ‘n ander deel weerspreek nie.

    Hoekom is Luther so seker dat daar geen foute in die Skrif is nie?

    • Dit is God se mond wat daar praat – dit is wat God oor Homself gesê het; God jok nie, sy woord jok nie. Omdat God die waarheid is, moet sy woord ook die waarheid wees.
    • Skrywers kon nie fouteer nie – God wat nie kan jok nie gee hierdie openbarings aan menslike skrywers wat nie foute kon maak nie. God is betroubaar al klink wat Hy in sy woord sê vir ons rede en denke onduidelik.
    • Luther skryf foute wat wel voorkom toe aan swak kopiering –die Skrif is nie die probleem nie, maar wel swak manuskripte en verkeerde interpretasies.

    Calvyn is selfs meer uitgesproke: die betroubaarheid van die woord van God is duidelik vir almal en hoef nie bewys te word deur enige eksterne bron nie. Die probleem is dat God die mens moet akkommodeer. In Genesis 1 moes Moses hom by die mense aanpas – hy skryf sodat hulle dit kan verstaan, en daarom vermy Moses ‘n tegnies-wetenskaplike verslag. Dit beteken nie dat hy gefouteer het nie. As skrywers van die Nuwe Testament die Ou Testament aanhaal, haal hulle nie woord vir woord aan nie – dikwels haal hulle uit hulle geheue aan. Dit is nie foute nie. Die volledige waarheid van die Woord berus op die inspirasie van sy skrywers deur die Heilige Gees.

    Ons sien dat tot na die Hervorming die kerk aanvaar het dat daar geen foute in die Bybel is nie. Wat daar staan het werklik gebeur. Luther gee toe dat daar soms foute mag wees, maar dat dit die gevolg van swak kopiering van manuskripte was. Calvyn beklemtoon dat die Bybel geskryf is vir mense wat in ‘n ander kultuur geleef het. Ons kan dus nie die Bybel met ons moderne tegnies-wetenskaplike kennis beoordeel nie.

    Verklaar dit nou alle probleemareas in die Bybel nie? Volgende keer kyk ons verder hierna.




    DIE GESAG VAN DIE KERK

    The voice of conscience is so delicate that it is easy to stifle it; but it is also so clear that it is impossible to mistake it. -Madame De Stael  (1766-1817)

    Die gesag van die kerk

    Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly (Matteus 18:18)

    Hierdie gedeelte begin met Jesus se riglyne aan die dissipels oor hoe jy moet optree teen ‘n broer wat teenoor jou verkeerd opgetree het. Die laaste riglyn, as die ander nie slaag nie, is om dit vir die gemeente te sê. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ‘n heiden en tollenaar behandel. Onmiddellik daarna volg die vers hierbo.

     

    Vandag het respek vir die gesag van die kerk feitlik verdwyn. Baie Christene glo dat hulle “private lewens” niks met die kerk te doen het nie. Uitbanning uit die gemeente word nie as ‘n groot probleem gesien nie – jy sluit maar net by ‘n ander gemeente aan en niemand vra vrae nie.

    Hoe verklaar ons hierdie treurige werklikheid?

    • Die fragmentasie van die kerk maak dit baie maklik om van die een denominasie na die ander te beweeg.
    • Baie kerkleiers se top prioriteit is getallegroei. Hulle vra nie vrae van die mense wat in die banke sit nie – dalk leer hulle iets wat iemand se lidmaatskap in gevaar stel.
    • Individualisme en die manier waarop die kultuur waarin ons leef ons private en persoonlike lewens verdeel, maak dit baie moeilik om die gesag van die kerk te eer.

    Tog is ons “private sondes” die kerk se besigheid. Die kerk se oordeel, as dit aan die voorwaardes aan die Skrif voldoen, het goddelike gesag. Ons sien dit in Matteus 18:18 – 19 waar Jesus primêr aan sy dissipels, maar afgelei aan die kerk, die sleutels van die koninkryk gee. Hierdie sleutels van die koninkryk van God is eerstens aan Petrus gegee (Matteus 16:18 – 19). Matthew Henry stel dit so: “If the censures of the church duly follow the institution of Christ, his judgments will follow the censures of the church, for Christ will not allow his own ordinances to be trampled on.”

    Besluite oor kerkdissipline dra slegs gewig as hulle met God se woord ooreenstem. Die sleutels behoort eerstens aan die dissipels – hulle skrywes is bepalend, want dit is deur God geïnspireer. Die vloek wat daar op die godlose priesters en profete wat hulle mag misbruik en God se woord ontken het,rus (Jeremia 23:9 – 15), waarsku die kerk om besluite wat ooreenstem met die voorskrifte in die Skrif te neem. Augustinus sê dat die kerk mense met reg en geregtigheid moet bind anders is dit van geen waarde nie.

    Die veiligste is om sulke besluite korporatief te neem. Sonder oorwoë leiding val ‘n volk; die redding lê in baie raadgewers (Spreuke 11:14). Jesus sê: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle (Matteus 18:19 – 20).

     

    Dit is tyd dat ons weer die gesag van die kerk erken.