RUS MEER

The New Testament preaches a Christ who was dead and is alive, not a Christ who was alive and is dead. —James Denney

Rus meer

Soms voel dit vir ons dat ons nie aan God se verwagtinge voldoen nie. Die gevolg: ons werk harder en wy ons meer volledig aan God toe. Maar nou sê die Bybel dat die antwoord nie is om harder te werk nie, maar om beter te rus. Eers as ons leer om in Jesus te rus, sal ons die krag hê om vorentoe toe te gaan.

 

Maar nou leef ons in ‘n kultuur wat chronies oorwerk is. Ons weet dit is nie goed vir ons nie, maar ons voel ons moet die vinnige pas volhou. Werk is immers hoe ons kos op die tafel sit. Nog belangriker: werk is ons bron van identiteit. Daarom probeer ons gedurig om onsself te bewys – ons waarde word deur ons werk bepaal. Gelukkig kom Hebreërs 4 met ‘n belofte van rus vir dié wat glo. Net Christus kan daardie innerlike rus voorsien – sonder Christus sal ons werk al rus ons; met Christus rus ons al werk ons.

  • Christus is ons geregtigheid. Ons probeer ons lewe lank om onsself te regverdig – om ons foute te verminder en ons deugde te oordryf. Ons voel onbelangrik, naak en blootgestel. Daarom is titels en prestasies so belangrik vir ons. Die evangelie vernietig hierdie vals regverdiging wat ons gebruik om onsself te bedek; die evangelie bied Christus se geregtigheid as gawe vir ons aan. Geklee in sy geregtigheid kry ons die liefde en aanvaarding wat ons nog altyd wou hê. As gevolg van sy geregtigheid is daar niks wat ons kan doen om te verseker dat God ons meer – of minder – liefhet nie.
  • Christus is ons identiteit. Ons kan nooit rus as ons identiteit in ons werk kry nie. Dan moet ons voortdurend veg om ons waarde te bewys. Ons baklei om te bewys ons is iemand, want ons probeer desperaat om ons identiteit te vestig. Ons hele lewe lank probeer ons onsself bewys en dit is uitputtend. Maar die evangelie sê iets anders: as God met ons is wie gee dan om vir die res van die wêreld. Ons kan rus in Christus, want ons het ‘n nuwe, permanente identiteit as God se geliefdes.
  • Christus is ons sekerheid. Dit is moeilik vir ons om te aanvaar dat ons nie alles kan beheer nie – ons kan nie vir elke moontlikheid voorsien nie. Nou is ons gespanne, want ons dra ‘n las wat God nie bedoel het ons moet dra nie. Die gevolg is geen afdae en geen vakansies nie. Omdat ons absolute sekerheid wil hê, kan ons nooit ontspan nie. As ons verstaan dat die Here die huis bou en die stad beskerm hoef ons nie vroeg op te staan nie – die Here gee dit in ons slaap (Psalm 127:1 – 3)
  • Christus is ons prioriteit. ‘n GPS is ‘n interessante sisteem. Die stem weet altyd waarheen ek op pad is en sê wanneer ekmoet draai. As ek verkeerd ry, pas sy die roete aan. Maar die GPS werk net as ek ‘n duidelike bestemming het – alles wat die GPS doen, is gerig op daardie bestemming. Die lewe is net so. Dit is verbasend dat ons so selde vra waarheen ons op pad is. So dikwels het ons geen prioriteit in ons lewens nie. Nou moet ons by elke vurk in die pad alle keuses oorweeg – en ons is nooit seker dat ons die regte besluit geneem het nie. As Christus ons prioriteit is, het ons ‘n kompas vir ons besluite. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee (Matteus 6:33). Nou hoef ons ons nie oor al hierdie ander dinge soos geld, verhouding, ons werk te bekommer nie. Ons fokus net op trou aan Hom. As Christus eerste in ons lewens is, kry ons alles wat ons nodig het.

 

Christus bied vir ons innerlike rus aan. Hy sal ons geregtigheid, identiteit, sekerheid en prioriteit wees as ons net sy blye boodskap glo en aanvaar.




IS DAAR FOUTE IN DIE BYBEL (1)

Hope based on the experiential knowledge of God the Father is the climax and glorification of all hope.” – E.Y. Mullins, The Christian Religion in Its Doctrinal Expression

Is daar foute in die Bybel (1)

Die kerk het histories erken dat die oorspronklike manuskripte korrek geïnterpreteer, waar en sonder foute is in alles wat dit bevestig het – of dit nou leerstellings, morele optrede of sake van geskiedenis, kosmologie, geografie, ens is. Hierdie siening is vir die eerste keer ernstig in die 17de eeu uitgedaag. Dit het begin met die vraag of Moses werklik die outeur van die Pentateug was. Nou vier eeue later het min van die Skrif nog nie deurgeloop onder aanvalle dat dit nie betroubaar is nie.

Sommige beweer dat die Skrif gesagvol is as dit etiese en teologiese sake hanteer, maar nie as wetenskap en geografie hanteer word nie. Daarom word dikwels van onfeilbaarheid gepraat – dit beperk die omvang van ‘n foutlose Skrif tot sake van geloof en praktyk.

‘n Bybel sonder foute is ‘n filosofiese veronderstelling en nie ‘n empiries bewysbare feit nie. Dit is tog onmoontlik om elke geskiedkundige feit in die Bybel te bewys. Ons het nie genoeg data om dit te doen nie. Ons kan dan redeneer dat omdat God volmaak is sy selfopenbaring ook volmaak moet wees. Die basis vir ‘n foutlose Bybel is dan die wese van God. 

Die vroeë kerk

Die vroeë kerk aanvaar die betroubaarheid van die Skrif ten volle – soos die Jode voor hulle. Dat daar foute in Bybel mag wees, was ondenkbaar. Daar is niks vals in wat die Here sê nie. Sy woorde is soos silwer wat oor en oor in ‘n oond gesuiwer is (Psalm 12:7); Jesus erken aan sy Vader: U woord is die waarheid (Johannes 17:17). Vroeë Christene bevestig hierdie leer. Irenaeus sê dat die Skrif inderdaad volmaak is.

Wat beteken dit as ons sê dat die Skrif betroubaar is?

  1. 1.Die Skrif stem ooreen met die werklikheid – die Bybel vertel verhale van mense wat werklik geleef het; gebeure wat werklik plaasgevind het; werke van God soos dit gebeur het, ens. Stellings in die Skrif is nooit teenstrydig met die waarheid nie. Die Skrif vertel altyd die waarheid al is die verhale nie mooi nie.
  2. 2.Die Skrif weerspreek nie die Skrif nie – geen disharmonie in die SkrifIrenaeus sê dat die dele wat duidelik is die dele wat nie so duidelik is nie, verduidelik.

Hoekom het die vroeë kerk geglo dat die Skrif waar is? God praat die waarheid en kan nie jok nie, daarom is die Bybel, wat die woord van God is, waar. Maar wat van die duidelike probleemareas in die Skrif? Hier moet ons onderskei tussen verskillende gedeeltes wat verskillende perspektiewe van dieselfde gebeurtenis of onderrig belig en teenstrydighede. Matteus en Lukas beide beskryf Jesus Christus se geslagsregister, maar hulle verskil, want hulle het verskillende doelwitte gehad toe hulle hulle evangelies geskryf het. Augustinus beweer dat een fout in die Skrif rampspoedige gevolge sou hê, want dan kan alle dele van die Skrif bevraagteken word. Dan sal menslike oordeel moet besluit wat is waar en wat is onwaar – ‘n uiters subjektiewe mening.

Vir die vroeë kerk was die Skrif sonder foute. Wat gebeur tydens die Middeleeue en die Hervorming en daarna? Daarna kyk ons volgende keer.




Wanneer is ‘n byeenkoms die “kerk”?

I can say from experience that 95% of knowing the will of God consists in being prepared to do it before you know what it is. —Donald Barnhouse

 Wanneer is ‘n byeenkoms die “kerk”?

As ek en my vriende bymekaarkom om koffie te drink, is dit kerk? As ek en vyf ander bymekaarkom en die Bybel lees, is dit kerk? As ek na ‘n preek luister en ‘n paar liedere sing, is dit kerk? Wanneer word ‘n byeenkoms ‘n kerk?

 

 Die Hervormers het geglo dat as die Woord gepreek word, die sakramente bedien word en as die kerk se dissipline die mense wat so bymekaar is, vorm, dan is dit kerk. Hier is baie min oor gemeentelike lewe. Die fokus is eintlik op wat die leraars doen en die gesag wat hulle uitoefen.

 Ron Heine (Classical Christian Doctrine) vind vyf aspekte in die vroeë kerk:

  • Geloof as vertroue in God maar ook as die inhoud van wat Christene glo. Hier verwys hy ook na die belydenisse in die Nuwe Testament. Die belangrikste hiervan is1 Korintiërs 15:3 – 5.
  • Die Heilige Gees – lewend, inwonend en ‘n werklikheid.
  • ‘n Besondere en aanvaarbare manier van lewe.
  • Die bediening van pastore, leermeesters, ens.
  • Die sakramente – die doop en die nagmaal.

 Daarna verwys hy ook  na die vier eienskappe wat ons in die Belydenis van Nicea kry: eenheid, heilig, algemeen en apostolies.

 Ek stem saam, maar ons moet nooit die waarde van daardie kleiner, informele byeenkomste onderskat nie.




IS DAAR FOUTE IN DIE BYBEL (3)

“What is a Christian? The question can be answered in many ways, but the richest answer I know is that a Christian is one who has God as Father.” – J.I. Packer, Knowing God

Is daar foute in die Bybel (3)

Tot en met die Hervorming het die kerk aanvaar dat daar geen foute in die Bybel was nie. Die oënskynlike foute wat daar wel was, kon maklik verduidelik word. Daar is egter twee tipe foute wat nie so maklik verduidelik kan word nie:

 

  1. 1.Bybelse rekords van historiese gebeure, geslagsregisters, beskrywings van natuurgebeure, ens is problematies. Wat hier nodig is, is versigtige interpretasie van die probleemgedeeltes. Die Skrif beskryf dikwels natuurlike gebeure soos dit vir ons voorkom. Moses se beskrywing van die maan as ‘n groot lig gebruik die taal van waarneming – hoe lyk dit vir menslike waarnemers. Die Skrif beskryf nie hierdie gebeure uit ‘n wetenskaplik-tegniese hoek nie.
  2. 2.Teenstrydighede in Skrif self. Spesifieke problematiese gedeeltes is hanteer, maar dikwels was daar verskillende oplossings voorgestel. Matteus 27:9 – 10 verwys na Jeremia, maar dit is waarskynlik ‘n aanhaling van Sagaria 11:12 – 13. Hier word nie minder as agt moontlike verklarings hiervoor gelys nie – soos byvoorbeeld dat Matteus hier uit Sagaria aanhaal, maar ook uit Jeremia 32:7 – 9. ‘n Ander probleem: Hoeveel blinde mense het Jesus in Jerigo genees. Matteus sê twee; Markus noem net vir Bartimeus; Lukas noem een. So sê sommige Matteus se verhaal is vollediger; ander sê dat die een man beter bekend was as die ander en daarom word nie na die onbekende man verwys nie. Nog ander oplossings word aangebied.

Wat duidelik is, is dat daar erken word dat daar sommige baie moeilike probleme is. Tog was hulle gelukkig dat daar geen foute in die Skrif was nie.

Maar toe kom ons by die moderne tydperk. Aan die begin van die 17de eeu begin hierdie konsensus dat die Skrif geen foute bevat nie ontrafel. Ons staan nou midde in ‘n wetenskaplike revolusie. Die antieke teorie dat die aarde sentraal in die heelal staan, word nou verplaas deur Kopernikus se teorie dat die son sentraal staan. Die impak was groot. Die Bybel plaas die mens by die toppunt van die skepping. As dit so is, moet die aarde met sy mense tog die middelpunt van die heelal wees. Mense geskep na die beeld van God is nou skielik nie meer die toppunt nie.

In hierdie verwarde wêreld kom Bybelse kritiek. Een voorbeeld hiervan is Isaac La Peyrére se pre-Adam teorie:

  1. 1.Adam was nie die eerste mens op aarde nie. Daar was mense wat 50 000 vC al geleef het. Onthou dit was destyds aanvaar dat die wêreld ongeveer 5 000 jaar oud was. Volgens hom was die aarde heelwat ouer.
  2. 2.Moses beskryf nie die ontstaan van die mens in die algemeen nie, maar net die begin van die Joodse volk.

Ander glo dat God net ‘n deel van die Skrif aan die skrywers geopenbaar het (bv die profesieë) en dat ander dele nie geopenbaar is nie (bv geskiedkundige verhale). Hierdie gedeeltes was die resultaat van navorsing. Daar is selfs geglo dat God Hom by die kultuur en heersende wêreldsiening van die skrywers aangepas het. Daar is dus sekere menslike gedeeltes wat foute bevat.

Spinoza verklaar dat die Bybel uit primêre en sekondêre sake van minderwaardige status, bestaan. Hy glo ook die menslike rede staan bo die Skrif en kan dus die Skrif oordeel. Die mens kan dink (Ek dink,daarom is ek – Descartes) en is daarom die beginpunt van alle menslike kennis. In soeke na ware kennis geniet rede prioriteit. Die rede word toegepas op die Skrif en sou dan dié kriterium vir die waarheid van die Bybel wees. Die Bybel moet soos enige ander boek geïnterpreteer word. Baie voel dat alle aansprake wat van bonatuurlike oorsprong is, verwerp moet word. Algaande word die Bybel slegs as ‘n kode vir etiese gedrag gesien.

Die outeurskap van die Pentateug word ‘n ongemaklike twispunt. Volgens die dokumentêre hipotese was Moses nie die outeur van die Pentateug nie – die Pentateug is ‘n seleksie van verskeie geskrewe dokumente geskryf deur verskillende outeurs – geskryf oor tydperk van 5 eeue. Geen moontlikheid dat Moses die outeur was nie. Terselfdertyd publiseer Darwin sy  Origen of Species (1859) – die basis vir die evolusieteorie. Dit ondermyn die mens se siening van die waarheid van die Bybel – veral die skeppingsverhaal.

Daar word dus nou ‘n onderskeid gemaak tussen ‘n Bybel sonder foute en die onfeilbaarheid van die Bybel. Daar word nie meer aanvaar dat die Bybel geen foute – geskiedkundig, geografies, numeries, ens – bevat nie. Meeste mense aanvaar wel dat die Bybel onfeilbaar is – die Bybel maak geen vals  of misleidende stellings oor enige saak van geloof en praktyk nie – niks wat enige impak op verlossing en ‘n heilige lewe het nie. Daar kan wel foute wees wanneer die Bybel sake soos geskiedenis, geografie, kosmologie, ens bespreek. Die debat is egter ver van oor.