Wat is ‘’n Messiaanse prediker?

Wat is ”n Messiaanse prediker? – Francois Malan

‘n Leser vra:
Wat is ‘n Messiaanse Prediker?

Antwoord
Prof. Francois Malan antwoord:

Die Hebreeuse woord Messias beteken Gesalfde. Die Griekse woord vir Gesalfde is Christus. Die verwys na die drie ampte waar persone gesalf word wanneer hulle deur die Here in diens gestel word. Veral die konings van die Ou Testament is gesalf. Vgl bv. Saul en Dawid wat deur die profeet Samuel gesalf is tot koning (1 Samuel 10:1; 16:12-13). Priesters is ook gesalf (Eksodus 28:41). So moes Elia vir Elisa salf as profeet om hom op te volg (1 Konings 19:16).

Jesus Christus was nie met olie gesalf nie, maar met die Heilige Gees (Handelinge 10:38) as die Koning wat met liefde regeer in God se Koninkryk (Johannes 18:36-37), as die profeet wat God se Woord is en God se woord vir ons gebring het (Johannes 1:1; 12:49), en as die groot hoëpriester wat Homself vir ons sondes geoffer het deur te sterwe aan die kruis en opgestaan het uit die dood (Hebreërs 8).

Mense wat in Jesus glo as die Here oor hulle lewe en hulle Verlosser, is ook gesalfdes, deur die Heilige Gees gesalf om te glo in Jesus en van Hom te getuig, om hulle te lei in hulle daaglikse lewe en hulle met God se liefdeskrag te vul (2 Korintiërs 1:21-22 God het ons vir Hom afgesonder – letterlik ‘gesalf’). 1 Petrus 2:9 noem die gelowiges: ”n koninklike priesterdom wat die wonderdae van God verkondig’,

Volgens die Bybel is ‘n Messiaanse Prediker dus ‘n iemand wat deur die Heilige Gees gesalf is deurdat hy in staat gestel is om in Jesus te glo en om die woord van Christus (die Gesalfde) te verkondig deur ‘n liefdevolle lewenswyse en woorde. Die salwing vind nie plaas met salf nie, maar deurdat die Heilige Gees ‘n mens deur die woord van God oortuig van sonde en dat Jesus ons verhouding met God reggemaak het, sodat ons saam met Jesus, die Seun van God, kan lewe as kinders van God (vgl. Johannes 16:7-11 en Romeine 8 9-17).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Is Paulus ’n vals apostel – Vraag

Is Paulus ‘n vals apostel? – Francois Malan

Cobus vra:

Ek het n dokument op truthseekers.co.za gekry wat vir Paulus heeltemal verwerp en sê dat hy n valse apostel was wat homself aangestel het. Die dokument se naam is The shocking truth en is by hulle download gedeelte. Sulke dinge verwar mens partykeer baie en ek sal graag julle opinie oor dit wil hoor.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Ek het by die truthseekers se 32 bladsye artikel ‘Paul: Apostle of the Stumbling Block’ uitgekom, waar hulle probeer bewys dat Paulus darem koring ook tussen sy kaf gesaai het en deur die geskiedenis die hoofstroom Christendom laat struikel het met sy leer, wat teen die wet van die Here is, en vir die vryheid van die gelowige, vry van die wet. In die artikel word gewys na die afgod wat Paulus sou volg en op ‘n aantal leuens wat Paulus sou verkondig, en Paulus se stryd met die twaalf apostels wat deur Jesus (Yahushua the Anointed Son) aangestel is.

Die hele artikel spreek van ‘n verdraaide kennis van die Bybel en van die geskiedenis, ‘n vooropgesette idee wat bewys wil word, en ‘n swak interpretasie van die Skrif. Die skrywer verwys na die probleme wat groepe ook met Paulus se anti-wet leer het, nl. die messiaanse Jodedom, die Sewendedagse Adventiste en die World Wide Church of God.

Hoofstuk een handel oor: wie was die Magtige (Mighty One) vir wie Paulus gedien het? In Paulus se optrede in Atene vind die skrywer die sleutel, nl. die Onbekende God waarby Paulus aangesluit het in Hand 17:22-23. Die Onbekende God word dan geïdentifiseer as die valse ‘mighty one’ Ares, die Grieke se god van oorlog (deur die Romeine Mars genoem). Maar die skrywer verwar dan die Griekse Ares (Mars in Latyn) met die Latynse woord aries vir ‘n ram (arnion in Grieks), en beweer dat vandag word Ares as die sterrebeeld Aries (die ram) vereer waarby die hele konstellasie (zodiac) bygesleep word vir sterrewiggelary (horoscope).

in die middel van die Areopagus gestaan, wat waarskynlik verwys na die Raad van Atene wat die naam Areopagus vir hulle Raad aangeneem het.

Hoofstuk twee wil bewys dat Paulus geen apostel is nie. Oor Handelinge se drie berigte oor Paulus se bekering sê die skrywer dat volgens Hand. 26 het die Gesalfde Seun aan Paulus sy opdragte gegee, terwyl volgens Hand.9 en 22 aan Paulus gesê is hy moet na Jerusalem toe gaan en daar opdragte kry (van die ander apostels). Die verband van Hand.9:6 wys egter na Damaskus as die stad waar vir hom gesê sal word wat hy moet doen (dit word deur Ananias gedoen), en in Hand 22:10 word dit duidelik uitgespel dat hy na Damaskus toe moet gaan en daar sal alles vir hom gesê word wat God bepaal het wat hy moet doen (dit word deur Ananias gedoen). Die skrywer sien ‘n verskil tussen Lukas se berigte oor Paulus se bekering en Paulus se eie weergawe in Galasiërs 1:13-2:9 waar Paulus van ‘n drie jaar periode in Arabië praat voordat hy Jerusalem toe is. Die skrywer beskou dit as bewys dat Paulus seniel was toe hy Galasiërs as ‘n ou man geskryf het (terwyl Galasiërs een van Paulus se eerste briewe na sy briewe aan die Tessalonisense of selfs voor hulle geskryf is). Volgens Hand 9:23 het daar ‘n lang (hikanos) tyd verloop voordat die Jode begin saamspan het (met die goewerneur, vgl. 2 Kor 11:32,33) om Paulus in Damaskus dood te maak voordat hy in die nag oor die muur ontsnap het na Jerusalem.

Hoofstuk 3 plaas Paulus se wet/onderwysing (Torah), wat eintlik ’n anti-wet is, teenoor die ware wet/onderwysing (Torah). Daar word na die leuens van Paulus verwys:

Eerste leuen: slegs die vrou was verlei (1 Tim 2:14) – die teks sê nie dat slegs die vrou verlei is nie, maar, soos v13, verwys na Adam wat eerste gemaak is, Eva daarna, is dit ook nie Adam wat (eerste) verlei is nie, dit is die vrou wat haar (eerste) laat verlei het en die gebod oortree het. Die argument van 1 Tim 2:8-3:13 gaan oor leierskap in die gemeente, en die rol van man en vrou in die gemeente van Efese waar vroue in die gemeente rondgegaan het en oor allerlei verkeerde dinge gepraat het (5:13).

Derde leuen – Paulus se idee hoe ons regverdig is (Rom 3:21-22). Die skrywer verkwalik Paulus wat verklaar dat regverdigheid los van die wet staan. Die skrywer en sy mense glo dat daar geen geregtigheid bestaan los van die wet nie, omdat die Gesalfde vir ons oortredings van die wet gesterf het. Daarom is die wet vir hom deel van ons geregtigheid. Hy verwys na Jer 31:31-33 se nuwe ‘verbond’ wat ‘n valse vertaling van berit sou wees. Volgens hom moet dit met ‘eed’ vertaal word. Die Hebreeuse woord berit beteken ‘ooreenkoms’ of ‘verbond’ terwyl die Hebreeuse woord vir ’n ‘eed’ sjebu‘ah is soos Jeremia dit in Jer.11:5 gebruik. Vir Paulus is die nuwe verbond wat God met ons maak dat Christus die verhouding tussen ons en God reggemaak het, en dat God ons aangeneem het as sy kinders. Dit spel Paulus uit in Romeine 8, en kom daarmee ooreen met Johannes 1:12.

Vierde leuen – God het jou lief of haat jou nog voor jy gebore is (Rom 9:12-13). Sy eintlike beswaar is teen God se genadige verkiesing, wat in Romeine 9-11 bespreek word.

Sesde leuen – dat mans nie iets op die kop mag dra of lang hare hê nie (1 Kor 11). Daarvoor verwys die skrywer na die engele wat hulle gesigte bedek met hulle vlerke, Elia wat sy gesig bedek het in die teenwoordigheid van God, die nasireërs wat hulle hare laat groei het (Num.6:2-5), Absalom se lang hare, en Mat 6:6 se gebed in die binnekamer (Grieks: tameion). Hy meen die woord tameion verwys na ‘n gebedsmantel, ‘n betekenis wat die Griekse woord duidelik nie het nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 32

The less we read the Word of God, the less we desire to read it, and the less we pray, the less we desire to pray. —George Muller

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 32

Vraag:

Wat beteken versoening en heiligmaking?

 

Antwoord:

Versoening beteken dat ons as gevolg van Jesus Christus se dood en opstanding regverdig voor God verklaar word. Heiligmaking beteken ons geleidelike,groeiende regverdigheid moontlik gemaak deur die Heilige Gees.

Teksgedeelte

Aan die uitverkorenes van God … Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy hulle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees! (1 Petrus 1:1 – 2)

 

Kommentaar:

Versoening en heiligmaking is beide genadegawes. Al kan hulle nie geskei word nie is hulle tog afsonderlike optredes van God. In verskillende aspekte is daar ‘n groot verskil tussen hulle. Ons kan die onderskeiding so beskryf – versoening respekteer die mens in ‘n wetlike sin, is ‘n enkele optrede in genade en eindig in ‘n relatiewe verandering; dit is die vryheid van straf en ‘n reg op lewe.  Heiligmaking sien die mens in ‘n fisiese sin, ‘n voortdurende werk van genade en eindig met ‘n werklike verandering ten opsigte van gewoontes en optrede. Versoening gaan vooraf as oorsaak; heiligmaking is die gevolg. Versoening is deur Christus as priester; heiligmaking  is deur Hom as Koning en verwys na sy heerskappy. Versoening is onmiddellik en volledig; heiligmaking is progressief deur grade.

 

Hierdie kommentaar is deur Abraham Booth (1734 – 1806) geskryf. Hy was ‘n Engelse Baptiste leraar wat as pastor van Prescot Street Church in Whitechapel, Londen, vir 35 jaar gedien het. Hy was ook die stigter van wat vandag as Regents Park College vir die opleiding van predikante in Oxford bekend staan.  Sy bekendste werk wasThe Reign of Grace(waaruit hierdie aanhaling kom).

Uit:The Reign of Grace: From its Rise to its Consummation (Glasgow: Collins, 1827), 247–248.

 

Verdere leesstof:

 “Justification” and “Sanctification” in Concise Theology, by J. I. Packer.

 

Gebed:

Almagtige God, gee aan ons soos ons besig is met oorlogvoering in hierdie wêreld, en omdat dit u wil is om ons met baie stryd te toets – gee dat ons nooit bang sal wees nie, maak nie saak hoe erg die beproewings wat ons moet verduur is nie: omdat U ons met so ‘n groot eer begunstig het om ons bouers van U geestelike tempel te maak, mag elkeen van ons ons aanbied en toewy volledig aan U … sodat U voortdurend deur ons aanbid sal word en mag elkeen van ons homself volledig as ‘n geestelike offer aan U offer, sodat ons uiteindelik in u beeld vernuwe sal word. en mag deelneem van die heerlikheid wat vir ons verkry is deur die bloed van u enigste Seun. Amen.

 

Hierdie gebed is deur Johannes Calvyn (1509 – 1564) geskryf. Gebore in Frankryk as kind in ‘n streng Rooms-Katolieke familie was hy ‘n teoloog, administreerder en pastor. Vir die grootste deel van sy lewe het hy in Geneve gewerk en die Gereformeerde Kerk georganiseer Hy skryf  The Institutes of the Christian Religion, die Geneva Catechism, sowel as baie kommentare op die Skrif.

Hierdie gebed kom uit: Calvin’s Bible Commentaries: Habakkuk, Zephaniah, and Haggai, vertaal deur John King (Forgotten Books, 1847), 251.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.




Die eenheid en diversiteit van die Bybel

 There are worse crimes than burning books. One of them is not reading them.” — Joseph Brodsky

Die eenheid en diversiteit van die Bybel

Is die Bybel een boek of 66 losstaande boeke? Iets wat ons gewoonlik van die Bybel verwonder, is sy ingewikkeldheid aan die een kant en sy eenvoud aan die ander kant. Teoloë kan hulle hele lewe spandeer aan die studie van ‘n spesifieke aspek in die Bybel; kinders kan die basiese boodskap verstaan. Hierdie kombinasie van ingewikkeldheid en eenvoud hou verband met die eenheid en diversiteit van die Bybel. Die Bybel is ‘n eenheid, want die hele Bybel is deur God geïnspireer en vertel een verhaal – God se verhouding met mense. Sentraal staan die verhaal van Jesus Christus.

 

Die raamwerk van die verhaal is eenvoudig; die besonderhede en die manier waarop die verhaal aangebied kan word, kan ingewikkeld wees. Die verhaal self gee aan die Bybel sy eenheid; die ingewikkelde manier waarop die verhaal ontvou, gee aan die Bybel sy diversiteit.

Eenheid in die Bybel

Daar is ‘n paar aspekte wat die eenheid van die Bybel bevestig:

  • Die sentrale verhaal wat dwarsdeur die Bybel loop, verenig al die verskillende dele in ‘n samehangende geheel. Daar is selfs geen onderbreking in die verhaal as ons van die Ou na die Nuwe Testament blaai nie: Jesus kom as die vervulling van die belofte wat reeds in Genesis begin het.
  • Die karakter van God bly onveranderd deur die hele Bybel – God in die Ou Testament verskil nie van die God van die Nuwe Testament nie. So sal ons dwarsdeur die Ou Testament tekste kry wat van God se liefde en deernis praat. Die Nuwe Testament skram ook nie weg van die toorn en oordeel van God nie. In Openbaring 9:15 word ‘n derde van alle mense op aarde doodgemaak. Beide testamente  vertel vir ons van ‘n God wat gekenmerk word deur beide liefde en geregtigheid, verlossing en oordeel.
  • Daar is ook heelwat belangrike teologiese temas wat in beide Testamente teenwoordig is. Die spanning tussen die wet en genade wat Paulus in Romeine en Galasiërs bespreek, is reeds duidelik in die skrywes van die Ou Testamentiese profete. Paulus verduidelik hierdie spanning deur die verbond met Moses (wet) en die verbond met Abraham (genade) te bespreek – iets wat ons ook in die Ou Testament kry.

Diversiteit in die Bybel

God gebruik ‘n groot verskeidenheid van literêre style in die Bybel om sy verhaal aan ons oor te dra. Ons kry onder andere verhale, gedigte, briewe, apokaliptiese literatuur, liedere, gelykenisse, visioene, klaagliedere, geslagsregisters, spreuke, ens. Hulle verskil in die wyse waarop hulle God se boodskap aan ons oordra. Die psalms verskil tog van die Brief aan die Romeine. Die temas wat hanteer word en die historiese konteks tussen die twee verskil ook. Kry ons in Psalms ‘n ander verstaan van God as in Romeine? Beslis nie.

Die Ou Testament is die inleiding en vroeë deel van die verhaal en die Nuwe Testament die hoogtepunt en vervulling van die hele verhaal. Die Nuwe Testament, in sekere aspekte, is ‘n duideliker en vollediger openbaring. Dit beteken nie dat die Ou Testament verkeerd was nie, maar net dat sekere waarhede in die Ou Testament nog beperk en onvolledig was. In die Ou Testament kry ons nie ‘n duidelike onderrig oor die Drie-eenheid nie. Nadat ons die Drie-eenheid vanuit die Nuwe Testamentiese perspektief gesien het, kan ons na die Ou Testament  teruggaan en wel die Drie-eenheid sien – maar nie so duidelik soos in die Nuwe Testament nie. Veral die interaksie tussen Vader, Seun en Heilige Gees word duideliker in die Nuwe Testament  geopenbaar.

In die Ou Testament is die land baie belangrik. In die Nuwe Testament word die klem op die land deur klem op die koninkryk van God vervang. Die Ou Testament fokus op seëninge hier en nou; die Nuwe Testament kyk meer na geestelike seëninge en die ewige lewe en fokus veral op die opstanding van die dooies – iets waarvan die Ou Testament min sê.

Gevolgtrekking

Die Bybel is ryk, ingewikkeld en onuitputlik diep, maar dit is ‘n eenheid met ‘n sentrale verhaal wat maklik begryp en geglo kan word.