Latere variasies in die Manuskripte. – Herman Grobler
In alle handgeskrewe kopieë kom daar variasies voor. Wanneer ons iets afskryf, maak ons toevallige foute. Toevallige variasies as gevolg van verkeerd sien, of verkeerd hoor in ‘n skriptorium, of iets wat herhaal of gewysig word vanuit die geheue van die kopieerder kom ook in die Nuwe Testamentiese manuskripte voor. Maar daar is ook doelbewuste veranderinge om as bevestiging te dien vir ‘n bepaalde kerklike gebruik of siening.
Soos wat baie van ons ook doen, het mense soms nota’s in die kantlyn van hul manuskripte geskryf. Wanneer ‘n kopieerder op ‘n latere stadium ‘n kopie van hierdie manuskrip maak, moes hy besluit of hierdie maar net ‘n toevallige nota is, of iets is wat per abuis uitgelaat was. Eerder as om iets verlore te laat gaan, is so ‘n nota dan op die gepaste plek in die teks geplaas. So ‘n invoeging noem ons ‘n glos.
Ons kyk na ‘n voorbeeld van ‘n glos.
Toe Desiderius Erasmus in 1516 die eerste Griekse teks van die Nuwe Testament laat druk het, het ‘n paar mense hom gekritiseer dat sy teks nie ooreenstem met die Latynse Vulgaat nie. Die woorde in donker gedruk ontbreek in 1 Johannes 5:7-8: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.” Erasmus kon nêrens ‘n Griekse manuskrip vind met die woorde in nie, maar het belowe om dit by te voeg sodra een gevind word. Vyf jaar later word ‘n splinternuwe manuskrip waarvan die ink seker nog nie droog was nie, aan hom oorhandig met hierdie woorde ingeskryf. Erasmus het woord gehou en sluit dit in sy derde uitgawe van 1622 in. Noudat ons feitlik alle manuskripte wat oor die wêreld versprei is, kan bestudeer, is gevind dat slegs een ander Griekse manuskrip, Nr.629 uit ongeveer 1350 n.C. wel hierdie uitbreiding oorspronklik in het. Maar dit is opmerklik dat dit ook nie voorkom in enige van die agt ou tale waarin die Nuwe Testament vertaal is nie. Dit kom net in Latynse manuskripte voor, die oudste ± 650 n.C. en dan verskeie eers ná 1100 n.C. Dit kom ook voor in ‘n laat uitgawe van die Vulgaat.
Die groot stryd om die verhouding tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees te verstaan en te beskrywe, openbaar ‘n verdere interessante feit. Athanasius, (†373 n.C.) ‘n ortodokse teoloog wat aan die voorpunt was van die stryd teen die Arianisme wat Jesus se Godheid ontken het, het nie hierdie uitbreiding geken nie. Hy sou sekerlik daarvan gebruik gemaak het! Selfs Basilius die Grote, (†379 n.C.) biskop van Sisarea in Kappadosië het dit ook nie geken nie. Hy was die teoloog wat die Drie-Eenheid geformuleer het as een Wese, maar Drie Persone!
Uit al hierdie gegewens is dit duidelik dat hierdie woorde beslis nie deel van die oorspronklike outografie was wat God deur Johannes laat opteken het nie. Een of ander iemand moes dit as ‘n kantaantekening in sy Latynse manuskrip ingeskryf het, en so beland dit in die Vulgaat, en vandaar via Erasmus ook in ons Ou Afrikaanse Bybel!
In hierdie reeks gaan ons kyk na die variasies en die gronde waarop ‘n keuse gemaak word. Ek nooi lesers uit om vrae en teksverse wat hulle hanteer wil hê, aan my deur te gee sodat ek die feite op die tafel kan plaas.
Ek persoonlik verkies om werklike feite te beoordeel, en nie uitgelewer te wees aan die propaganda vir die een of ander vertaling nie.
Kom ons vat hande en bestudeer die feite objektief sodat ons in eerlikheid kan sê dat ons die eer van God soek.
Wat keuse van vertalings betref, is dit die beste om soveel moontlik vertalings te gebruik. Elke vertaling kan ‘n bepaalde siening of interpretasie na vore bring. Maar as algemene reël kan aanvaar word dat wanneer bepaalde woorde in die moderne vertalings ontbreek, of die vertalings drasties afwyk, daar grondige redes daarvoor bestaan. Aan die ander kant help die ouer vertalings ons meer wanneer studie gedoen word om die gebruik van ‘n spesifieke woord in die Bybel te bestudeer, omdat die ouer vertalings woorde vertaal, al maak dit nie sin nie.
Skrywer: Herman Grobler