Ek word alreeds as drankoffer uitgegiet.

. —George Grant

Ek word alreeds as drankoffer uitgegiet.

Marcellus was ‘n hoofman oor honderd in die Romeinse  Ryk. Hy was pas bekeerd – ‘n jong gelowige. In 298 nC staan hy voor ‘n keuse: Moet hy as Christen die keiser se verjaardag vier? So ‘n verjaardagviering het ingesluit aanbidding van die keiser en die bring van offers aan die gode. Hy besluit dat hy dit nie gaan doen nie, want “ek dien Jesus Christus die ewige Koning.” Hy word in die tronk gegooi en later tereggestel.

 

 

Volgens tradisie is Paulus ook vir sy geloof gemartel. Hy skryf sy tweede brief aan Timoteus vanuit ‘n Romeinse tronk. Hy besef dat hy nie meer lank het om te lewe nie: “Wat my betref, ek word alreeds as dankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur” (2 Timoteus 4:6). In vers 6 – 7 gebruik hy drie beelde om sy lewe in perspektief te plaas:

  • Ø‘n Drakoffer. Tipies was dit ongeveer ‘n liter wyn wat langs die hoofoffer uitgegiet is. Dit is hoe Paulus sy lewe gesien het: ‘n lewe van aanbidding, ‘n lewende offer uitgegiet langs die eenmalige offer van sy Verlosser.
  • Ø‘n Stryd. Hy het hierdie stryd gestry, maar nou is dit amper verby.
  • Ø‘n Wedloop. Hy het die wenstreep bereik – die wedloop was klaar.

Saam is hierdie beelde van aanbidding, trou, toewyding, uithouvermoë en volharding.

Maar Paulus plaas ook sy toekoms in perspektief (vers 8). Die dood was nie die einde nie – net die vertrekpunt. Hy sê dat die oorwinnaarskroon vir hom beteken die lewe by God. Hy gaan nie alleen ‘n oorwinnaarskroon ontvang nie – die kroon is vir almal wat met verlange uitsien na sy wederkoms.

Paulus is eensaam. Probeer so gou moontlik na my toe kom, skryf hy vir Timoteus. Hy vra ook dat God diegene wat hom tydens sy eerste verhoor verlaat het, sal vergewe.

Ons kan dink dat hierdie Paulus se grafskrif is – woorde wat probeer opsom waaroor sy lewe gegaan het. Watter grafskrif sou jy graag vir jouself wou skryf?  Watter keuses maak jy om daar uit te kom?

 




Rick Warren en selfmoord

 

Don’t judge men’s wealth or godliness by their Sunday appearance. -Benjamin Franklin.

Rick Warren en selfmoord

Op 5 April 2013 pleeg Rick Warren se seun na ‘n jarelange stryd met depressie selfmoord. Op 27 Julie 2013 keer Rick Warren vir die eerste keer terug om te preek. Bygestaan deur sy vrou bring hy ‘n boodskap: How to get through what you’re going through.

 

Hy deel drie dinge wat aan hom en sy vrou stabiliteit gegee het tydens hierdie tydperk van rou:

  • Die lewe maak nie altyd sin nie, maar ons het vrede, want God is met ons en het ons lief.
  • Alles op aarde is stukkend, maar ons kan vreugde ervaar, want ons weet dat God ‘n groter plan het.
  • Ons weet dat die lewe ‘n stryd is, maar ons kan hoop, want ons weet daar is meer aan die storie.

Hy sê dat hy vir 27 jaar elke dag gebid het dat God sy seun se geestesongesteldheid sal genees. Hy kon nie verstaan waarom God nie sy gebed geantwoord het nie. Hy sê dat as ons deur ‘n moeilike tyd gaan ons outomaties probeer om ‘n antwoord te kry. Verduidelikings vertroos nie. Jy het nie verduidelikings nodig nie … jy het die teenwoordigheid van God nodig.

Kay Warren het in 2012 ‘n boek geskryf: “Choose Joy.” Sy sê dat as jou hoop nie is soos wat jy gehoop het dit sal wees nie, het jy net een opsie: Herbou jou hoop. 

Warren het sy preek afgesluit deur te sê dat hy alles moontlik gaan doen om die stigma verbonde aan geestesongesteldhede te verwyder. “Enige deel van jou liggaam kan seerkry en nie reg werk nie, en daar is geen skaamte aan verbonde nie. Maar as jou brein nie reg werk nie, word daar ‘n stigma aan jou gekoppel. Dit is tog net ‘n ander orgaan in jou liggaam … As jy sukkel met ‘n gebreekte brein, hoef jy nie meer skaam te wees as wanneer jy jou arm breek nie. Dit is nie ‘n sonde om medikasie te gebruik nie; dit is nie sonde om hulp te doek nie; dit is nie ‘n rede om skaam te wees nie.”

Ons moet alles in ons vermoë doen om die stigma wat so dikwels aan geestesongesteldhede gekoppel word, te verwyder.




Kry die gemeenskap betrokke

Laws too gentle are seldom obeyed; too severe, seldom executed. -Benjamin Franklin

Kry die gemeenskap betrokke

Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy prediking geluister … Daar was groot blydskap in daardie stad (Handelinge 8:6 – 8).

Is daar groot blydskap in ons stede as gevolg van die kerk se teenwoordigheid daar? As ons baie eerlik wil wees, sal ons moet sê: Nee. Hoe kan ons gemeentes ons stede seën? Hoe kan ons God se liefde vir hulle demonstreer? Hoe kan ons genesing bring na waar dit die meeste benodig word?

 

J. D. Greear sê dat ons kan slaag. Hy som sy filosofie soos volg op. [‘n Skietlood is ‘n tou waaraan ‘n stukkie lood hang wat onder andere deur messelaars gebruik word om die loodregte rigting aan te dui; ‘n tou met ‘n gewig aan die een ent en merke om die diepte van die water te meet – HAT)

Skietloot #1: Almal is geroep

In Lukas 14:12 – 14 gee Jesus raad aan ‘n gasheer oor wie hy na sy feesmaal moet nooi – diegene wat jou nie kan terug betaal nie. Dit is wat Jesus gedoen het; dit is wat ons ook moet doen. Hierdie is nie ‘n opdrag aan ‘n uitgesoekte groepie nie – dit is die roeping van elke dissipel van Jesus. Dit is deel van Jesus se Volg My roeping. If we marginalize the poor in our community, God will marginalize us (Tim Keller)

Skietlood #2: Mense is die roeping

Uitreikprojekte help gelowiges om verhoudings aan te knoop met wie ons normaalweg nie in aanraking kom nie. Die grootste behoefte van mense in ons gemeenskappe is die evangelie van Jesus Christus. Om dissipels te maak is die kern van ons roeping. Ons dien nie mense om hulle te bekeer nie, maar soek geleenthede om hulle van die evangelie te vertel.

Skietlood #3: Die kerk is God se demonstrasie gemeenskap.

As die evangelie verkondig word, gaan dit met tekens gepaard. Soms is dit wondertekens, maar meer dikwels is dit tekens van liefde – Tabita wat klere vir die gemeenskap gemaak het. Toe sy sterf kom die hele gemeenskap bymekaar om te rou. Die tekens is nie die evangelie nie, maar dit wys in die rigting van die evangelie.  Francis Schaeffer sê: “The final apologetic that Jesus gives is the love in the church.”

Skietlood #4: Die kerk is nie ‘n groep mense wat om ‘n leier saamtrek nie – die kerk is ‘n leierskapsfabriek

Ons bou graag ons bedienings om ‘n paar begaafde mense. Dit is nie waar die ware krag van die kerk lê nie. In Handelinge word 40 wonderwerke beskryf – 39  gebeur buite die kerk. Jy meet nie die sukses van ‘n gemeente deur die aantal sitplekke nie, maar deur sy stuurkapasiteit. Die kerk is meer as die eredienste op ‘n Sondag.

Skietlood #5: Die beste bedieningsidees kry jy in die gemeente

Identifiseer lidmate met idees en bemagtig hulle om dit te implementeer. Luister na die lidmate.

Skietlood #6: Die evangelie is nie net die duikplank nie – dit is die hele swembad

As ons leer hoe ver God bereid was om te gaan om ons te verlos,hoe groter is ons passie om uit te reik na ongelowiges om ons. Die evangelie skep nie net passie nie, maar ook visie. Die evangelie wys vir ons die verlorenheid van die samelewing om ons en God se bereidwilligheid om na hulle uit te reik. Mense wat met die evangelie versadig is, skep ‘n kultuur van diens.

Is ons gemeentes genoeg betrokke by die samelewings om ons? Beslis nie. Ons moet en kan dit regstel.




Die smoorpunt

Talking to men for God is a great thing, but talking to God for men is greater still. —E.M. Bounds

Die smoorpunt

IN MILITÊRE STRATEGIE IS ‘N SMOORPUNT (CHOKEPOINT) ‘N GEOGRAFIESE EIENSKAP SOOS ‘N VALLEI OF BRUG OF POORT WAARDEUR ‘N LEËR MOET GAAN. DIT IS GEWOONLIK NOU EN DAAROM KAN ‘N KLEIN VERDEDIGINGSMAG DIT TEEN ‘N GROTER AANVALSMAG BESKERM. IN 480 VC KOM 300 SOLDATE VAN SPARTA TE STAAN DEUR ‘N OORMAG SOLDATE UIT PERSIË. TERMOPYLAE WAS ‘N KLEIN BERGPAS IN DIE OOSTE VAN GRIEKELAND. LEËRS WAT HIERDIE DEEL VAN GRIEKELAND WOU INVAL, MOES HIERDIE PAS GEBRUIK. DIE SPARTANE WEET DAT KONING XERXES EN SY LEËR DEUR HIERDIE PAS MOES TREK OM GRIEKELAND TE VEROWER.

Wat het dit met dissipelskap te doen? As jy dissipels wil maak wat op hulle beurt dissipels maak, is daar ook so ‘n smoorpunt. Jesus gee ‘n laaste opdrag aan sy dissipels: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (Matteus 28:19). Wat is hierdie smoorpunt? Evangelisasie. As jy nie ‘n bekeerling het nie, kan jy nie ‘n dissipel hê nie.

In die middel van hierdie smoorpunt staan dikwels nie 300 dapper soldate nie, maar 300 verskonings wat oor en oor gebruik word. (Ek het nie die gawe van evangelisasie nie; Evangelisasie werk nie in ‘n postmoderne kultuur nie … ) Hoeveel gelowiges kan die goeie nuus natuurlik aan ‘n ongelowige oordra; kan die evangelie verduidelik sodat ‘n ongelowige dit verstaan. Nie baie nie.

Die gevolg is dat ons in ons gemeentes ‘n kultuur geskep het wat praat van die vermeerdering van dissipels, maar wat eindig met ‘n groepie gelowiges wat weekliks bymekaarkom om oor dinge van die Bybel te praat – vergaderinggedrewe en ingeteel. Dissipelskap dwing ons om betrokke te raak by ons buurman, die motorwerktuigkundige wat ons motor regmaak, die kelner wat ons in die restaurant bedien … Ons is deur die smoorpunt en nou moet ons wyd en diep gaan.

As jy dissipels wil vermeerder moet jy leer om die evangelie oor te dra. Jy moet verby die smoorpunt kom.