Ongehoorsaam in die ewigheid

Ongehoorsaam in die ewigheid – Francois Malan

Johan vra:

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

‘Steeds ‘n vrye wil’? – die mens het geen vrye wil nie! In Romeine 7:15 sê Paulus: Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. In Rom 7:19 sê hy: die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.’

God het die mens geskep om Hom vrywillig (uit vrye wil) te dien uit dankbaarheid en in liefde met sy hele hart en lewe (Gen 1:26-27 as sy verteenwoordiger, as beeld van God, wat liefde is, (1 Joh 4:8). En toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het en dit was baie goed (Gen. 1:31).

Die werk van die Heilige Gees is om ons te verander om al meer aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Kor 3:18). Hy wat in alles aan sy Vader gehoorsaam was, wat Homself verloën het en sy lewe gegee het as ‘n liefdesoffer vir ander. Daarom het Jesus gesê: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor sal dit terugkry (Matteus 16:24-25).

Die mens behou ‘n vrye wil slegs deur God se wil te doen. Die mens kan slegs ‘n slaaf wees van of die sonde of van God (Romeine 6:16). Jesus het ons kom vry maak om weer vir God te kies en in gehoorsaamheid aan Hom te leef. Iemand wat deur die proses is, sal weet dat om teen God te kies die dood beteken. Om vir Hom te kies beteken die lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Laat sy liefde jou lei: Het jy al gesê: “Stuur my.”?

Laat sy liefde jou lei: Het jy al gesê: “Stuur my.”? – Milanie Vosloo

Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek met ‘n boodskap stuur? Wie sal vir ons gaan?” Ek het geantwoord: “Here, ek sal gaan! Stuur my!” Jesaja 6:8

Indien jy wel gehoorsaam aan sy roepstem was, sou jy waarskynlik ervaar het hoe Hy dit absoluut vir jou moontlik maak om daardie taak te doen, hoe Hy woorde in jou mond lê en hoe Hy jou uit jou skoene uit seёn. Hopenlik het daardie eerste ervaring van gehoorsaamheid jou aangemoedig om elke dag in sy diens te staan en beleef jy keer op keer hoe Hy jou toerus vir sy opdragte.

Die wonder van ons Here is dat Hy gewone, maar gewillige, mense in sy diens gebruik. Meer nog, dat Hy al die nodige wysheid, krag, lewensmiddele en toerusting gee wat ons vir die taak nodig het.

Weet vandag: God roep jou wél. Hy het immers vir elkeen van ons baie spesifieke roepings. Weet ook dat, wanneer jy “ja” sê, Hy jou op ‘n duisend maniere vir jou gehoorsaamheid sal vergoed.

Ja Here, ek wil en sal doen wat U my vra. Gebruik my waar U my nodig het.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens (4:1-42)

Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens (4:1-42) – Francois Malan

Die kontraste in hoofstukke 2 en 3 word uitgebrei in hierdie gesprek:

 

Jesus se optrede word verplaas van die Jode in Judea (hfs 3) na die Samaritane, ‘n volk buite die Jodedom

4:1 Die Fariseërs, wat die wet nougeset wil uitlewe en waak teen godsdienstige afwykings, wil Jesus ook kom ondersoek, soos vir Johannes die Doper (1:19-25). Hulle hoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes – nog meer mense wat afdwaal van die tradisionele leermeesters, die Fariseërs.

moet – gewoonlik ‘n aanduiding dat God dit so bepaal. In Samaria moet Jesus ‘n opdrag van God gaan vervul; die koninkryk van God is vir alle mense van alle volke bedoel. Jode wat haastig was, het deur Samaria na Galilea gestap op ‘n drie dae tog. Maar indien hulle nie haastig was nie, het hulle Samaria vermy en oorkant die Jordaan deur Perea na Galilea gegaan, soos gewoonlik met die feestye. Herodes Antipas het oor beide Galilea en Perea regeer. Die vyandskap tussen die Jode en Samaritane gaan vér terug na die jaar 536 v.C. toe die Jode uit die ballingskap in Babel teruggekom het en die tempel begin herbou het. Toe het hulle geweier dat die Samaritane saam met hulle aan die tempel bou (Esra 4:2) en die Samaritane het die Jode by die koning aangekla om die bou te verhinder (Esra 4:10,11). Die Samaritane het die diens van die Here met dié van ander gode vermeng sedert 720 v.C. (2 Kon 17:33,34).  

4:5,6 Sigar lê naby die stuk grond wat Jakob aan Josef gegee het (Gen 48:22). Die ‘fontein van Jakob’ is ‘n diep put, wat deur onderaardse water gevoed word. Jakob het die put blykbaar gegrawe nadat hy die stuk grond van die Sigemiete gekoop het (Gen 33:18,19). Die gebied is geleë in die dal tussen die berge Ebal en Gerisim.


 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (5)

. —C.H. Spurgeon

Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (5)

Dallas Willard, Professor aan die University of Southern Califonia’s School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.

Kan ons nuwe lewe in die ou dissiplines blaas? Vas, nadenke, gebed, ‘n eenvoudige leefwyse en onderwerping aan ‘n geestelike oorsiener word toenemend gewilder. Hierdie onderwerpe word wyd bestudeer. Daar word toenemend na hulle gekyk as ‘n betroubare bron van groei na volwassenheid in Christus.

Die grootste belemmernis vir geestelike groei is nie onwilligheid nie, maar ‘n gebrek aan onderrig en verstaan en praktiese rigtinggewing. Iewers het ons iets verloor wat ons weer moet kry. Meeste kerke het ‘n ingeboude antagonisme teen die sogenaamde “asketiese” praktyke – vas, afsondering en stilte. Hoekom?  Hulle sien dit as ‘n manier om vergifnis te verwerf of om ‘n gunstige reaksie van God te ontlok.

Hoekom die nuwe belangstelling?  Mense sien dat geestelike groei en lewenskragtigheid die gevolg is van wat ons met ons lewens doen – die gewoontes wat ons vorm en van die karakter wat daarop volg. Ons tasbare behoefte en honger vir die geestelike dissiplines maak egter nie duidelik waarom ons hulle nodig het en hoe hulle by God se verlossingsoptrede inpas nie. Dit verduidelik ook nie hoe hulle inpas by die groot waarheid – ons word deur genade deur geloof gered – nie. Verwarring op hierdie punt lei tot misbruike in die gebruik van die dissiplines – soos in die verlede gebeur het. Daarom vermy baie Protestante die dissiplines.

In die verlede is dissiplines soos vas, diens en gee verwar met goeie werke – die belang van eie verdienste. Dit lei tot die begrip van “goedkoop genade.” Wat ons nodig het, is ‘n teologie van die dissiplines vir die geestelike lewe – ‘n fondament en prakties werkbare teologie. Ons moet verstaan hoekom die dissiplines ‘n integrale deel uitmaak van ‘n betekenisvolle lewe in Christus. Ons moet die noodsaaklike deel wat hulle in die doeltreffende verkondiging van die evangelie en die waarheid van die lewe in die koninkryk van God speel, verstaan.

Ons is bang vir “teologie” – dikwels met reg, maar dit is deel van ons lewens. Teologie moet in diens van die gewone lewens van gewone mense staan. Dan sal dit ‘n baie positiewe impak hê. Elke Christen moet dinge oor God glo wat die werklikhede en ondervindings van sy lewe getrou weerspieël. Elkeen moet weet hoe om doeltreffend voor Hom in hierdie wêreld te leef.

Uitgangspunt: Volle deelname aan die lewe in God se koninkryk en gemeenskap met Christus kom na ons gewoonlik net deur die toepaslike beoefening van die geestelike dissiplines.

Is alles waarvan ons praat geestelik of speel ons liggame ook ‘n rol? Hierna kyk ons volgende keer.