Dissipelskap: Net vir super-Christene? (2)

Every human being’s essential nature is perfect and faultless, but after years of immersion in the world we easily forget our roots and take on a counterfeit nature. -Lao-Tzu, filosoof

Dissipelskap: Net vir super-Christene? (2)

In die plek van God se plan plaas ons: “Maak bekeerlinge vir ‘n spesifieke denominasie en doop hulle as kerklidmate.”  Daar is duidelik ‘n paar aspekte wat ons ignoreer:

  • Ons maak nie meer mense Christus se dissipels nie. Jesus sê dat alles hiervoor moet wag, maar ons ignoreer dit al is dit Jesus se eerste opdrag in sy Groot Opdrag.
  • Ons leer ook nie meer bekeerlinge om alles te onderhou wat Ek hulle beveel het nie.

Omdat ons nie die bekeerlinge dissipels gemaak het nie, is dit onmoontlik om hulle te onderrig om te leef soos Christus geleef het. As ons mense met die voorbeeld en onderrig van Christus konfronteer is die reaksie nie een van opstand en verwerping nie, maar een van verwondering: Wat het dit nou met ons te doen?

Maar wat is hierdie dissipelskap waarvan ons praat? Toe Jesus op aarde rondgeloop het, was daar ‘n sekere eenvoud aan dissipelskap. Primêr beteken dit dat jy saam met Hom geloop het met ‘n gesindheid van leer, gehoorsaamheid en nabootsing. Die mense het geweet wat dit beteken en wat dit kos. Petrus sê: Kyk, ons het alles verlaat en ons volg U (Markus 10:28). Familie en beroepe is vir lang periodes verlaat om saam met Jesus van plek tot plek te loop. Dissipels moes by Hom gewees het om te leer hoe om te doen wat Hy gedoen het.

Sê nou net ons moes dit vandag ook doen. Hoe sal jou familielede en werkgewers hierop reageer? Hulle sou waarskynlik gedink het dat ons nie veel vir hulle omgee nie. Miskien is dit wat Sebedeus gedink het toe sy twee seuns hom net daar in die skuit gelos het om Jesus te volg (Markus 1:20). In Lukas 14 praat Jesus oor die eise van dissipelskap. Hy begin deur te sê niemand kan sy dissipel wees tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe nie.

Dissipelskap in die verlede het ‘n duidelike betekenis gehad. Vandag is dit anders. Ons kan nie meer letterlik by Hom wees nie. Maar die prioriteite en gesindhede is nog steeds dieselfde. In die hart van die dissipel is daar ‘n begeerte en daar is ‘n besluit. Nadat ons verstaan wat dit beteken – en die koste bereken het – begeer die dissipel van Christus om soos Hy te wees. ‘n Leerling moet tevrede wees as dit met hom gaan soos met sy leermeester (Matteus 10:25). Iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees (Lukas 6:40).

 As ons die begeerte het, is daar nog ‘n besluit om te neem: om my daaraan toe te wy om soos Christus te word. Dit beteken dat jy sistematies jou sake herrangskik om meer soos Christus te word. Deur hierdie optrede skryf jy in vir Christus se opleiding en word jy sy dissipel. Daar is geen ander weg nie.

Die nie-dissipels – binne en buite die kerk – het iets belangriker om te doen as om soos Jesus te word. Kyk maar na die gelykenis van die groot maaltyd (Lukas 14) en die flou verskonings wat die mense aanbied om weg te bly. Ons doen nog steeds dieselfde.

Ons kan nie vandag ons families verlaat om saam met Jesus te loop nie, maar ons kan nog steeds ons dissipelskap konkreet maak deur ons vyande lief te hê, diegene wat ons vervloek te seën, om die tweede kilometer saam met die onderdrukker te loop. Hierdie optrede maak dissipelskap nie minder tasbaar  nie.

Ons het gekyk na die koste van dissipelskap. Kos nie-dissipelskap iets? Daarna kyk ons volgende keer.




Dissipelskap: Net vir super-Christene? (1)

“The desperate need today is not for a greater number of intelligent people, or gifted people, but for deep people.” Richard Foster said,

Dissipelskap: Net vir super-Christene? (1)

Ons kry die woord dissipel 269 keer in die Nuwe Testament en die woord Christen drie maal. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem (Handelinge 11:26). Die Nuwe Testament is ‘n boek oor dissipels deur dissipels en vir dissipels van Jesus Christus.

 

Dit gaan nie net oor woorde nie. As ons kyk na die soort lewe in die vroeë kerk sien ons dit is die lewe van ‘n spesiale soort persoon. Al die versekerings en voordele waarvan ons in die evangelies lees, veronderstel so ‘n soort lewe. Die dissipel van Christus is nie die deluxe model Christen nie. In die Nuwe Testament is hy die eerste vlak in die koninkryk van God

Gemeentes vereis nie meer dissipelskap as voorwaarde om ‘n Christen te wees nie. Jy kan ‘n Christen wees sonder enige tekens van vooruitgang na dissipelskap. Gemeentes vereis nie meer dat lidmate Christus se voorbeeld moet navolg nie. Dissipelskap is opsioneel. Na ‘n leeftyd in die gemeente hoef jy nie ‘n dissipel te wees nie.

In The Lost Art of  Discipleship word die Christelike lewe op drie moontlike vlakke beskryf: die bekeerling, die dissipel en die werker. Evangelisasie produseer bekeerlinge; opvolg produseer dissipels; toerusting produseer werkers. Net werkers kan dissipels maak. Hierdie stem ooreen met die algemene praktyk in ons kerke. Die probleem: dit maak dissipelskap opsioneel. Geen wonder baie bekeerlinge oefen die keuse uit om nie dissipels van Christus te word nie. Die probleme in vandag se gemeentes is dat lidmate nog nie besluit het om Christus te volg nie.

Maar in die Groot Opdrag wat Jesus vir sy kerk gelaat het, kry ons ‘n ander model. Die eerste doelwit wat Hy vir sy kerk stel, is: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (Matteus 28:19). Daarna word hierdie dissipels  in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees gedoop. Met hierdie tweevoudige voorbereiding word hulle geleer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.  Hierdie was die vroeë kerk se plan vir kerkgroei. Met hulle resultate kan jy nie stry nie.

Maar wat het ons met hierdie opdrag van Jesus gedoen? Daarna kyk ons volgende keer.




Geen handvatsel aan die buitekant nie

. —John Calvin

Geen handvatsel aan die buitekant nie

Holman Hunt het ‘n beroemde skildery The Light of the World geskilder. Christus staan met ‘n lamp in sy een hand en klop aan ‘n deur. Die deur het geen handvatsel aan die buitekant nie. Al wat jy sien, is onkruid en rankplante wat die deur toegroei. Die interpretasie kry ons onderaan die skildery in die Sint Paulus Katedraal: “Aan die linkerkant van die skildery sien ons die deur van die menslike siel. Die balke is in plek (gesluit); die spykers is geroes; klimoppe groei van die deur na sy pilare om te wys dat dit nog nooit oopgemaak is nie.”

 

Hierdie skildery is ‘n uitbeelding van Openbaring 3:20: Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My. As ons hierdie gedeelte mooi lees, sien ons dat hierdie die deur van ‘n gemeente is … en Christus staan buite.

God roep na die mense van die gemeente en wat Hy aanbied is ‘n spesiale verhouding. Christus is alreeds buite in die wêreld. Het ons die moed om Hom daar te volg? As ons die deur oopmaak, sal Hy inkom en met ons deel. Maar Hy sal vind dat ons gemeente, wat so belangrik vir ons is, te klein en beperkend vir Hom is.

Hier is ‘n groot mate van waarheid in hierdie inskripsie. Ons het nog nooit die weg van God en God se koninkryk probeer as ‘n manier om menslike sake te hanteer nie.




Christene en polemiek

It costs a man just as much or even more to go to hell than to come to heaven (Soren Kierkegaard).

Christene en polemiek

[Polemiek = stryd tussen voor- en teenstanders van ‘n meestal aktuele saak – HAT.]

Is dit ‘n onchristelike aktiwiteit? Christene  het nog altyd geargumenteer – vir ‘n goeie rede. Baie van die groot geeste in die kerkgeskiedenis was polemici – dink aan Augustinus, Acquino, Luther, Calvyn en baie ander. Hulle was groot omdat hulle kon argumenteer.

 

Ons moet egter nadink oor ons basiese gesindheid en benadering tot polemiek Vra jouself voortdurend af: “Stem my woorde ooreen met Jesus se opdrag dat ek my vyand moet liefhê?” Hier is drie gesindhede wat my benadering tot elke bespreking moet kenmerk:

  • Humor. Daar moet ‘n mate van humor is ons besprekings wees. Dit beteken nie dat ons besprekings nie ernstig is as ons betekenisvolle sake hanteer nie. Dit sê net dat ons argumente nie deur vrees of trots gedryf word nie. Dit is nie ‘n teken van ‘n gebrek aan respek of neerbuigendheid nie. As jou hart deur God gevul is, kan jy met humor en genade praat, want wat ook al die uitkoms van die argument is, is jy veilig in die arms van God. So dikwels argumenteer Christene vanuit hulle onsekerhede wat beteken hulle is sonder humor en wil net vergeld. Niemand wil met so ‘n persoon argumenteer nie. aan die een kant respekteer jy die ander persoon en aan die ander kant is jy nie te ernstig oor jouself nie.
  • Passie gewortel in die waarheid van die evangelie en ‘n liefde vir mense. Lees Paulus se briewe. Hy is passievol vir die saak van die evangelie. Hy stel sy saak kragtig – hy wil die erns van die saak duidelik kommunikeer. Sy brief aan die Galasiërs is ‘n goeie voorbeeld. As die mense die passie in jou stem hoor, besef hulle die erns van die saak. Paulus se brief kommunikeer nie net die waarheid nie, maar ook ‘n dringendheid. Ons wil graag hê dat mense van ons hou. Passievolle betrokkenheid met ander mense oor die waarheid kan intimiderend wees. Ons is so bang ons gee aanstoot of kom liefdeloos oor. Ons mag nooit argumenteer net om te argumenteer nie. So dikwels word ons in onsinnige argumente vasgevang en dit oor dinge waaroor niemand opgewonde moet raak nie. apatie en die onwilligheid om ‘n moeilike gesprek met iemand te voer, is nie die pad van liefde nie. Die waarheid is iets waaroor ons met reg passievol kan wees.
  • Beginselvas. Ons moet eerlik wees; ons moet onaanvaarbare karikature van ander vermy. Ons moet dié wat van ons verskil respekteer Moenie altyd die slegste interpretasie van wat hulle sê, maak nie. Daar is geen rede vir ‘n gebrek aan integriteit in ons kommunikasie nie – selfs met diegene van wie ons ernstig verskil

 

Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot volle kennis van God … Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing (Kolossense 3:8 – 10, 16).