Die kerk: Die regte soort leiers

It is my ambition to say in ten sentences what others say in a whole book – Friedrich Nietzsche

 

Die kerk: Die regte soort leiers

Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar vrywillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toewyding; ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ‘n voorbeeld vir die kudde te wees (1 Petrus 5:2 – 3).

Hieruit kan ons aflei dat die persoon wat ambisieus is om te lei, gediskwalifiseer is. Die kerk is nie die plek vir die opsweper of kleinlike godsdienstige diktator nie.

Die ware leier  het geen begeerte om baas te speel oor God se kudde nie. Nee, hy is nederig, bereid vir selfopoffering en net so bereid om te volg as wat hy is om te lei – veral as die Gees dit vir hom duidelik maak dat daar ‘n wyser en begaafder man beskikbaar is.

Daar is nie ‘n tekort aan leiers in die kerk nie, maar wel ‘n tekort aan die regte soort leiers. Die verkeerde soort leiers is waarskynlik nog erger as geen leiers nie. Dit is beter om stil te staan as om ‘n blinde man oor die afgrond te volg. Die geskiedenis wys dat die kerk vooruitgegaan het as daar sterk leiers was. Die skape gaan nie verder as die herder nie.

Here, gee aan my die hart van ‘n dienaar sodat ek die regte soort leier mag wees. U vra nederige dienaars. Maak my u dienaar vandag. Ek bid in die Naam van Jesus. Amen




Die geskiedenis van die Kerk – Is dit belangrik

Build your own dreams, or someone else will hire you to build theirs – Farrah Gray

 

Die geskiedenis van die Kerk – Is dit belangrik

As ons praat oor kerkgeskiedenis is gelowiges geneig om twee foute te maak:

  • Ons ignoreer dit, want ons dink dit is nie belangrik nie. Wat ons vergeet, is dat die Heilige Gees in die kerk oor baie eeue gewerk het. Hy het gawes aan die kerk gegee, onder andere, apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus (Efesiërs 4:11 – 12). Ons moet kyk wat hierdie mense deur die eeue gesê het. Daar is nog baie wat ons by hulle kan leer – of dit nou Augustinus of Luther is.
  • Ons hanteer dit asof dit ‘n afgod is. Daar is Christene wat glo dat daar iewers in die verlede “’n goue eeu” was waar  mense die Christelike leer verstaan het. Ons taak is om terug te gaan na daardie tyd van verstaan. Wat ons egter vergeet is dat die enigste ware bron van die leer van die Christendom die Bybel is – en niemand het nog ooit die Bybel volmaak verstaan nie

 

Deur die eeue het Christus in die kerk gewerk: Mans julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik (Efesiërs 5:25 – 27).

 

Die kerk het deur die eeue geleidelik gegroei in verstaan van die Christelike leer. Geleidelik vorder die kerk na sy doel: Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer … Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof (Efesiërs 4:14 – 15).

 

Die geskiedenis van die kerk is belangrik – ons mag dit nie ignoreer nie. Ons moet egter altyd in gedagte hou dat die verlede nie volmaak was nie.




Die Fariseër en die tollenaar

I would rather die of passion than of boredom – Vincent van Gogh

 

Die Fariseër en die tollenaar

In Lukas 18:9 – 14 lees ons die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar. Emil Brunner (Sowing and Reaping, Epworth 1964, p23) skryf soos volg:

Beteken dit dat ons voortdurend voor God moet kom met die volgende woorde op ons lippe: “O, God, wees my, sondaar, genadig.” Ja, dit word geïmpliseer. 

Selfs meer. Slegs met hierdie nederigheid staan ons voor God in gebed. Ons sien om voor God te staan as ‘n groot geheimenis. Dit is nie genoeg om die woorde van hierdie gebed te sê nie. Ons staan voor God op die oomblik wanneer die gedagte ons tref: Ek is ‘n sondaar; God wees my genadig. Sodra hierdie gedagte, hierdie insig uit ons harte verdwyn, verdwyn ons uit God se teenwoordigheid al bid ons nog vir ure.

 

In die Ons Vader gebed  sê ons elke keer as ons dit bid: Vergeef ons ons oortredings. Dit herinner ons dat ons in alle nederigheid voor God moet staan.




Jongmense wat nie die kerk verlaat nie

It is never too late to be what you might have been.”  George Eliot

 

Jongmense wat nie die kerk verlaat nie

Daar word baie geskryf oor die groot aantal jongmense wat die kerk verlaat. Die statistieke is inderdaad skrikwekkend. Jon Nielson het gaan kyk na die jongmense wat in die kerk gebly het en aktief deelneem aan die aktiwiteite in hulle gemeentes. Hoekom het hulle gebly? Hy identifiseer veral drie redes.

 

  • Hulle was bekeer.

Paulus sukkel nou nie met woorde soos ‘nominale Christen’  of ‘’n goeie kind’ nie. Hy laat baie min beweegruimte as hy van bekering praat: Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Korintiërs 5:17). Ons moet ophou tevrede wees as jongmense jeuggroepe bywoon. Ons moet bid dat die Heilige Gees in hierdie jongmense se harte werk. Ons moet weer op bekering fokus. Dit is bekeerde jongmense wat aanhou om vir Jesus Christus lief te hê en die gemeente te dien.

 

  • Hulle is toegerus, nie vermaak nie

Vermaak is nie verkeerd nie, maar mense wat met jongmense werk, moet gereeld die woorde van Efesiërs 4:11 – 12 herhaal. Daar sê Paulus hoekom die Here sekere werkers vir die kerk gegee het:  Sy doel daarmee was om gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. Christus gee leermeesters vir die gemeente nie om jongmense te vermaak nie, maar om hulle toe te rus.

 

  • Hulle ouers het die evangelie aan hulle verduidelik

Jeugleiers sukkel om jong mense toe te rus as hierdie toerusting nie in die jongmense se ouerhuis versterk word nie. Een ding wat jongmense wat nie die kerk verlaat nie, onderskei, is ‘n ouerhuis waar die evangelie sentraal gestaan het en nie op die periferie nie. Hulle moes eredienste bywoon; hulle is aanspreeklik gehou vir wat hulle doen; hulle ouers het huisgodsdiens gehou.

 

Hierdie is nie ‘n absolute formule nie. Kinders uit Godvresende gesinne verlaat die kerk; kinders uit gebroke gesinne vind Jesus Christus. Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie (Spreuke 22:6). Dit werk nie 100% so nie, maar dit is ‘n beginsel wat deel is van God se plan vir ons.