Die begin van die tekens: water word wyn (2:1-12)

Die begin van die tekens: water word wyn (2:1-12) – Francois Malan

 

Jesus en sy dissipels was ook genooi. Of dit deur Maria of Natanael se verbinding met die egpaar was, word nie gesê nie.

 

 

Jesus sê vir haar: (letterlik: wat vir my en vir jou, vrou? My uur het nog nie gekom nie) NAV gee dit mooi weer: Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie. Die aanspreekvorm ‘vrou’ vir jou ma is ongewoon, maar is ‘n aanduiding dat Jesus voortaan onafhanklik van sy moeder moet optree om die Middelaarswerk volgens die wil van sy Vader te doen. Daar kan sy moeder nie indring nie. Maar die ‘nog nie’ laat tog vir sy moeder die opening om iets te doen. Sy tyd/uur – Jesus neem self die beslissings in gehoorsaamheid aan die wil van sy Vader.

 

Maria het duidelik gesag in die kombuis en sê vir die dienaars om te doen netsoos Jesus hulle beveel. Sy het volle vertroue dat Jesus iets sal doen op sy tyd en op sy manier, en sy tref daarvoor voorsorg.

 

 

 

 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die openbaring van die nuwe orde in Jesus (Johannes 2:1-4:42)

Die openbaring van die nuwe orde in Jesus (Johannes 2:1-4:42) – Francois Malan

Die drie hoofstukke vorm ‘n eenheid in die groter verhaal hoofstukke 2-12. Die eerste vervulling van die belofte in 1:51 is die wonderteken van die water wat in wyn verander in Galilea tydens ‘n familiefees (2:1-12). Daarop volg die reiniging van die tempel  in Jerusalem tydens Paasfees (2:13-22).

Die twee is ‘n simboliese voorspel van Jesus se Messiaanse optrede, wat die mag van sy persoonlikheid bekendstel, en van die betekenis wat Galilea en Jerusalem in die plan van God. Jesus kom die Paasfees en die lewe van die gemeenskap met ‘n nuwe inhoud vul. Die Sinoptiese Evangelies plaas die reiniging van die tempel in die  laaste week voor Jesus sterwe. Johannes plaas die twee optredes aan die begin van sy Evangelie as ‘n sleutel vir die verstaan van Jesus se bediening: sy dood, as Paaslam, en opstanding  vir die verlossing van die mens. Die reiniging van die tempel is ‘n inleiding tot die nuwe manier om God te dien (4:23-24). Die drie hoofstukke wys na die vervanging van die ou reinigingsgebruike (2:6) deur die goeie wyn van die koninkryk van God (2:10; vgl. 15:1), en die reiniging van die tempel wat deur die liggaam van Jesus vervang word (2:19,21), van die nuwe geboorte vir die nuwe skepping (3:3), ‘n kontras tussen die water van die ou put van Jakob (4:6) met die lewende water van die Christus (4:14,25,26), en die aanbidding in Jerusalem en Gerisim word vervang met die aanbidding van God in Gees en in waarheid (4:24). In 4:43-54 is Jesus weer in Kana met die tweede wonderteken wat uitloop op die vernuwing van die huisgesin van die regeringsamptenaar. Dit vorm die skakel met die volgende gedeelte.  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Amos

 

What lies behind us and what lies before us are tiny matters compared to what lies within us – Ralph Waldo Emerson

 Amos

Wanneer laas het jy ‘n preek uit Amos gehoor? John C. Holbert wil weet waarom leraars nie graag oor Amos preek nie. Amos is reguit; Amos sê dinge wat sy tydgenote nie wou hoor nie … en ons ook nie.

Amos word in die middel van die 8ste eeu vC deur die Here as profeet geroep. Wat egter meer belangrik is as die datum is die soort gemeenskap waarna Amos geroep word. Sy primêre bekommernis is geregtigheid

‘n Paar ryk mense het ryk geword ten koste van ‘n toenemende getal armes. Hy beklemtoon hierdie probleem herhaaldelik: Julle haat dié wat vir die reg opkom in die howe, julle verafsku dié wat die waarheid praat. Omdat julle die arm mens vertrap en van hom koring afpers, sal julle nie woon in die huise van gekapte klip wat julle bou nie en julle sal nie die wyn drink van die pragtige wingerde wat julle plant nie. Ek weet hoe baie julle oortredings is, hoe groot julle sondes is, julle wat die vyand is van dié wat reg doen, julle wat julle laat omkoop en nie aan die armes reg laat geskied nie (5:10 – 12). Hy gaan verder: Maar laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom, laat dit aanrol soos watergolwe, soos ‘n standhoudende stroom (5:24). Reg en geregtigheid eerder as feeste, offers, gesang en harpmusiek.

In Amos 7:7 – 17 praat Amos oor die verhouding tussen kerk en staat. In verse 7 – 10 gebruik hy die beeld van ‘n skietlood:  Ek (die Here) gaan ‘n skietlood aanlê in my volk Israel. Ek gaan hom nie meer spaar nie. Die Here gaan nou die hoogtes van Isak verwoes  en die heilidomme van Israel  in puin lê. Omdat hulle reg en geregtigheid geïgnoreer het, omdat hulle die armes uitgebuit het, gaan die Here hulle verwerp.

Dit word gevolg deur ‘n toneel waarin Amasia, die priester van Bet-El ‘n groot rol speel. Amasia het gehoor van Amos se prediking en waarsku die koning: Amos is besig om hier in Israel ‘n komplot teen u te smee.  Die land kan nie uithou met alles wat hy sê nie.  Omdat Amasia vir Amos as ‘n bedreiging sien, konfronteer hy hom: Maak dat jy wegkom, siener,  gaan na Juda toe en verdien jou brood daar, tree daar as profeet op! In Bet-El mag jy nie meer as profeet optree nie, want dit is die  koninklike heiligdom, die staatstempel.

Amasia maak dit baie duidelik dat die heiligdom bitter min met die Here te doen het, maar alles met die koning. Die kerk het ‘n rubberstempel vir die staat geword. Amos antwoord:  Ek is nie so ‘n profeet nie en ek behoort nie tot die profetekring nie, ek boer met vee en kweek wildevye. Maar die Here het my agter die kleinvee weggevat en Hy het vir my gesê: Gaan tree as profeet op teen my volk Israel. Amos verwerp Amasia se aanklagte oor sy status. Dan volg ‘n persoonlike aanval op Amasia: Jou vrou sal ‘n prostituut word in die stad, jou seuns en jou dogters sal met die swaard afgemaai word, jou grond sal tussen ander verdeel word, jy sal in ‘n onrein land sterf. Vreeslike en wrede woorde.

 Hoekom is Amos so stil op ons preekstoele? Ons leef in ‘n tyd waarin ons graag wil hoor dat ‘n liefdevolle God ons liefhet en versorg. Amos pas glad nie hierby in nie. Maar ons moet vir hom plek maak. Sy onversetlik eis vir geregtigheid, sy onwilligheid om toe te laat dat leë aanbidding ons onwilligheid om vir die armes te sorg, bedek; sy aanhoudende oproep om na diegene in nood om te sien, sy verwerping van die vermenging van staat en kerk – alles temas wat steeds geldig is. Dit is temas wat ons moet hoor en waarop ons moet reageer. As ons hierdie temas ignoreer, verkondig ons nie die hele evangelie nie.




Is Geestelike groei ‘n intellektuele proses?

The best time to plant a tree was 20 years ago. The second best time is now – Chinese spreekwoord

Is Geestelike groei ‘n intellektuele proses?

Meeste jong Christene fokus op die verstaan van hulle geloof. Ons moet egter oppas dat ons “kennis” van die Christelike geloof nie droog en intellektueel word nie. Dikwels voel ons dat ons geloof geen diepte het nie – asof ons emosies nie geraak word deur dit wat ons glo nie. Iewers is iets nie lekker nie.

 

Alister MvGrath  sê dat ons ons geloof kan verdiep deur oper vir God te wees. Hoe doen ons dit? Hy gee drie beginsels wat hom gehelp het.

  • As ons ‘n Bybelse beeld hanteer, moet ons stil staan en toelaat dat die gedeelte ‘n prentjie in ons denke vorm. Ons moet in die wêreld van daardie beeld kom; ons moet onsself in die beeld projekteer en deel daarvan word; ons moet die rykdom en implikasies van die beeld ondervind.  Ons geloof stimuleer ons verbeelding en ons verstand. Rede en emosie is belangrik.
  • As ons ‘n evangelieverhaal hanteer, moet ons diep ingaan – ons moet langs  diegene staan wat  die Verlosser gesien het. Ons moet nadink oor hierdie verhale asof hulle nou besig is om plaas te vind.
  • As ons ‘n Bybelse idee of tema hanteer, is dit nie voldoende om dit te verstaan nie – ons moet dit in ons lewens toepas. Dit moet vir ons ‘n lewende werklikheid word en nie ‘n abstrakte, lewelose siening nie. Die Christelike geloof gaan nie net oor idees nie – dit gaan oor transformasie. Dit moet ‘n werklikheid in ons word.

Hierdie is natuurlik nie melkkos nie en gebeur nie vanself nie – ons moet hard daaraan werk.