Waarom Bybels verskil

Waarom Bybels verskil – Herman Grobler

Vir mense vanuit die Gereformeerde tradisie is die “Sola Scriptura”, alleenlik die Skrif, ‘n beginsel van groot belang. Die volle Woord, niks bygevoeg nie, maar ook niks weggelaat nie!

Wanneer ons egter na die Bybel kyk, sien ons soms ingrypende verskille tussen ouer vertalings van die Bybelgenootskap, soos die 1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling, teenoor moderne vertalings soos die 1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling en die Bybel vir Almal. Ons kan dieselfde verwag met die komende 2016 Die Bybel: ‘n direkte vertaling (BDV).

Onafhanklike vertalings soos die Nuwe Lewende Vertaling, die Interliniêre Bybel en die Boodskap toon dieselfde tendens. Meeste van hierdie verskille kom ook in ander tale voor. Die Bybelvertalers self is hoog bekwame en edel kinders van die Here. Daarom is die verskille nie toevallig nie, maar het ‘n logiese verklaring.

In hierdie reeks artikels gaan ons kyk hoe hierdie verskille in die Nuwe Testament kon ontstaan het, en hoe ons die bewoording van die oorspronklike manuskripte kan vasstel. Ek het reeds sowat 100 verskille intensief bestudeer. Na my opinie kan ons die oorsake onder die volgende kategorieë indeel:

1. Taalontwikkeling. Die 1933-Ou Afrikaanse Vertaling is ‘n skamele 5 jaar na die erkenning van Afrikaans gepubliseer. Daarin word sekere woorde gebruik wat ons nie in die algemene spreektaal gebruik nie. Vir mense wat gereeld die Ou Vertaling gebruik, klink dit bekend maar oor die presiese betekenis is daar onsekerheid. Het jy al ooit “goedertierenheid” in ‘n gewone gesprek gebruik, of iemand anders dit hoor gebruik? Wat sou dit beteken? Uit die 154 verse in die Ou Afrikaanse Vertaling waar dit voorkom, haal ek Ps.5:7 aan: “Maar ek, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan…” Die 1983 vertaling het dit vertaal met “groot liefde”. Op ander plekke vind ons in plaas van “goedertierenheid”, troue liefde, My trou, getrouheid, goedheid en so meer.

In ander gevalle het die Ou Vertaling sinsnedes wat vir my onverstaanbaar is. Kyk na die donker gedeelte in 2 Kor.2:17: “Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.” Ek verstaan hierdie sin werklik nie. God wil tog ondubbelsinnig met ons kommunikeer, sonder dat ons hoef te twyfel oor wat Hy bedoel, of iemand hoef by te roep om dit vir ons te kom verduidelik, nie waar nie?

2. Vertalingsbenadering. Omdat tale verskil, en grammatika nie dieselfde is nie, is ‘n absoluut woord vir woord vertaling onmoontlik. Kyk gerus in die Interliniêre Bybel na Joh. 3:16 en mens besef dat ‘n woord vir woord vertaling onverstaanbaar is. Ek haal aan: “So want Hy het liefgehad die God die wêreld…”. Aan die ander kant het woorde ook nie altyd dieselfde betekenis inhoud nie. So sal woorde soos priester, predikant, dominee, pastoor en leraar nie in alle gevalle met dieselfde woord in Engels gebruik kan word nie. Daar is dikwels ‘n mate van beskrywing nodig. Alle vertalings moet gevolglik op ‘n lyn tussen ‘n direkte woord-vir-woord vertaling en ‘n vrye vertaling of parafrase geplaas word. Die 1983-vertaling benut die “dinamies ekwivalente” benadering waar eerder gedagte vir gedagte vertaal word. In Openbaring 2-3 word die briewe aan die sewe gemeentes elk aan die “angellos” van die gemeente gerig. Die bedoeling in Openbaring is duidelik nie ‘n hemelse wese wat daagliks in God se teenwoordigheid kom nie, maar die menslike voorganger of leier van die gemeente. Daarom vertaal die 1983 eerder met “leraar” as die direkte vertaling “engel”.

3. Die Griekse Bronteks. Die Bybelvertaler moet besluit watter Griekse teks hy sal gebruik om as basis te dien vir sy aanbieding van wat God laat neerskryf het. Soos in alle handgeskrewe kopieë bestaan daar letterlik duisende variasies van die Griekse tekste. Hoewel die kopieerders deur die eeue met groot versigtigheid hul kopieë gemaak het, het foute en variasies soms onbewus, maar soms doelbewus ontstaan. Sulke variasies word noodwendig in opvolgende manuskripte oorgedra.
Toe Desiderius Erasmus in 1516 die eerste gedrukte Griekse Nuwe Testament saamgestel en uitgegee het, kon hy slegs ses Laat Middeleeuse manuskripte in die hande kry. Drie wat die evangelies en Handelinge bevat het, vier met die briewe en slegs een onvolledige manuskrip vir Openbaring. Hy moes na goeddunke tussen die variasies kies en het selfs ‘n hele paar eie veranderinge aangebring wat in geen manuskrip hoegenaamd voorkom nie. Waar sy manuskrip op Openbaring onvolledig was, het hy uit die Latynse Vulgaat sy eie Griekse vertaling gemaak en selfs ‘n woord geskep wat nie in Grieks bestaan nie! Kort na die publisering van Erasmus se teks, is uitgewys dat dit talle foute en tekortkominge bevat, maar die voordeel van ‘n beskikbare teks teen bekostigbare prys het dit laat voortstu. ‘n Halwe eier is immers beter as ‘n leë dop! Sy gedrukte teks is later die Textus Receptus of “ontvangde teks” genoem. Vanweë die gerief van hierdie gedrukte Nuwe Testament, is dit algemeen vir vertalings gebruik. Ook ons 1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling het dit as grondteks gebruik.

Tans gebruik Bybelgenootskappe en meeste ander vertalers van die Nuwe Testament eerder die Nestle Aland Teks, of die United Bible Societies se teks. Hierdie tekste neem die ongeveer 5894 Griekse manuskripte in ag, asook meer as 18000 antieke vertalings en die aanhalings van meer as 200 ou kerkvaders. Die variasies word by elke vers onder aan die bladsy in hul tekskritiese apparaat geplaas sodat die vertaler ‘n oorsig het oor al die manuskripte tot ons beskikking. Nou is hy nie uitgelewer aan die lukraak keuse van iemand wat net insig in enkele manuskripte gehad het nie. Die gebruik van ‘n ander grondteks is die oorsaak vir die meeste ingrypende en ernstige verskille tussen ouer en moderne vertalings.

Om ‘n finale keuse tussen die variasies te maak, is ‘n uiters verantwoordelike maar ook delikate uitdaging. Ons wil immers by “Sola Scriptura” uitkom! Ons wil immers vasstel watter van die variasies die grootste moontlikheid bied om die oorspronklike bewoording van die Nuwe Testament te verteenwoordig.

In hierdie reeks gaan ons kyk na die variasies en die gronde waarop ‘n keuse gemaak word. Ek nooi lesers van hierdie blog uit om vrae en teksverse wat hulle hanteer wil hê, aan my deur te gee sodat ek die feite op die tafel kan plaas.
Dan is ons nie uitgelewer aan die propaganda vir die een of ander vertaling nie.
Kom ons vat hande en bestudeer die feite objektief.

Sola Scriptura! Soli Deo Gloria!

 

Skrywer: Herman Grobler




Die getuienis van Johannes die Doper (Johannes 1:19-34)

Die getuienis van Johannes die Doper (Johannes 1:19-34) – Francois Malan

1:19 Die afvaardiging bestaan uit priesters en Leviete (die enigste plek in dié Evangelie waar hulle saam genoem word), wat wys na ‘n opdrag van die Joodse Raad van 71 lede (die Sanhedrin). Johannes die Doper uit die priesterlike geslag (Lk 1:5) is bestem om self priester te word, maar tree  heeltemal afwykend op. Die Leviete was sangers en tempelwagte, lg. het skynbaar saam gekom om Johannes gevange te neem as dit nodig sou blyk. Die ondersoek volg op Johannes se optrede en die spekulasies oor hom.

 

‘Die Jode’ kom  in Johannes 71 maal voor as verwysing (i) na die Joodse volk (etnies en histories as die nageslag van Juda, (bv. 3:1,25; 4:9) wat die aansprake van Jesus verwerp (6:41; 7:11; 8:22), (ii) na die Joodse leiers, veral die Fariseërs, wat Jesus teenstaan (10:24,31; 18:14,31,36,38). ‘Die Jode’ verwys hier blykbaar na die Joodse Raad, soos in 18:12 waar ‘diensknegte van die Jode’ saam met die soldate Jesus arresteer.

            Hulle vra: ‘wie is jy?’ – sy naam, herkoms en werkkring is bekend,  maar hulle vra rekenskap oor sy optrede, waar kry hy die reg en gesag om ‘n beroering onder die volk te bring, om selfs Jode te doop asof hulle heidene is? Die Joodse Raad  het die gesag oor godsdienstige sake van die Jode.

 

 

            Die verwagting van ‘n profeet soos Moses, wat alles sal sê wat die Here hom beveel, gaan terug na die belofte in Deutr. 18:15,18. Die verwagting was dat hy wonders sal doen en die volk verlos. Johannes ontken dat hy die heilsprofeet is.

 

‘maak die pad vir die Here reguit,’ roep hulle op, om hulle harte vir die Here oop te maak (vgl. Jer. 32:39; Eseg. 36:26-27), sy woord te gehoorsaam, en gereed te wees om Hom  te ontvang.

 

Die twee groot partye in die Joodse Raad was die Sadduseërs en die Fariseërs. Die Sadduseërs was die priesterparty wat net die vyf boeke van Moses aanvaar het, maar nie die profete nie. Die Fariseërs, wat die wet en die profete aanvaar het, wou die volk se lewe reël tot in die fynste besonderheid van die wet volgens hulle uitleg daarvan. Toe Johannes uit Jesaja aanhaal, is hulle vraag: waarom doop jy, as jy nie die Christus of Elia of die profeet is nie?

            Die Jode het twee vorms van doop gehad: herhaalde  rituele reinigings en die eenmalige doop van ‘n proseliet wat die Joodse geloof aangeneem het, as simbool van afwassing van hulle heidense onreinheid. Johannes eis nou dat alle bekeerlinge, veral onder die Jode, gedoop word as teken van die afwassing van hulle sonde. Daarmee word die Jood gelykgestel met ‘n heiden wat van sy onreinheid afstand moet doen. Hulle kon dink die Messias sou mense doop (Eseg 36:25; 37:23-24; Sag 13:1), maar Johannes ontken ten sterkste dat hy die Messias is.          

 

 

Betanië word hier aangedui as ‘oorkant die Jordaan’ om dit te onderskei van Betanië op die berg by Jerusalem. [Betabara (huis van voorbereiding) is deur Origenes ingevoer omdat dit so mooi pas by Johannes se doop as voorbereiding. So het die naam in die 1933-vertaling ingekom, terwyl die oudste manuskripte Betanië lees, soos in die 1983-vertaling].

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Liefde: Wat is dit? (5)

The problems of the world couldn’t be resolved by the same kind of thinking that created them in the first place – Albert Einstein

Liefde: Wat is dit? (5)

Hierdie klink na ‘n dom vraag – ons weet tog almal wat liefde is. Op 15 September 2007 lewer Dallas Willard ‘n referaat by die American Association of Christian Counselors se konferensie. Sy onderwerp was: Getting Love Right. Dallas Willard was Professor aan die University of Southern California’s School of Philosophy. Hy was ‘n leraar in die Southern Baptist Church. Sy bekendste werke is In Search of Guidance en the Divine Conspiracy. Met sy sterk filosofiese en sielkundige agtergrond het hy ‘n baie interessante aanslag op die  onderwerp.  Kom ons kyk na ‘n paar gedagtes uit hierdie referaat.

As ons dit alles verstaan, is liefde nie meer ‘n intimiderende en onpraktiese ideaal nie, maar iets waarin ons elke dag vordering kan sien. Dit is iets wat ons in ons leer kan integreer; ons kan ons praktyk in ons gemeentes hierom organiseer.

Ons kan die hindernisse vir liefde in die verskillende dimensies van onsself verwyder. Die basis van al die weerstand teen liefde is die wil. – ons wil ons eie wil doen, ander beheer en verheerlik word. Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld (1 Johannes 2:16). Hierdie mense is sekerlik op pad na ‘n lewe van teleurstelling. Om uit so ‘n lewe te ontsnap moet hulle hulle wil oorgee – daardie begeerte om jou eie wil te doen. Hulle moet hulle wil aan God en die goeie onderwerp. Hulle moet leer om te soek dit wat goed vir ander en hulleself is. Hierdie beginsel kom mooi in Johannes 12:24 na vore: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe bring hy ‘n groot oes in (Johannes 12:24).

Kyk na ‘n eenvoudige opdrag van Jesus: Seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan (Lukas 6:28 – 29). As dit deel word van die mens wat liefde leef, word dit dinge wat ons kan leer om in die praktyk te beoefen – en vind dit is beter vir ons en ander mense as die manier van die wêreld. Ons moet leer presies wat hierdie praktyke (seën diegene wat jou vervloek) behels en hoekom hulle goed en moontlik is. Die gewoontes en sosiale patrone wat gevorm is om te vervloek as jy vervloek word, moet hervorm word deur doelbewus teenoorgestelde, liefdevolle reaksies te beoefen

As jy eers weet wat hierdie liefde is, kan jy daarin begin beweeg as ‘n praktiese en realistiese lewensopsie – en kan ander daarin lei. Liefde is nou nie meer die hopelose taak om liefdevolle dinge te doen nie. Dit berus in die liefde van God vir ons – ons gee ons laste aan Hom en Hy versorg ons. Dit beteken dat ons – die kinders van Jesus en God –  diegene wat na Hom toe kom, kan leer hoe om in liefde te lewe.

Do all the good you can, by all the means you can, in all the ways you can, in all the places you can, at all the times you can, to all the people you can, as long as you ever can (John Wesley).




Liefde: Wat is dit? (4)

The two greatest failures of leaders are indecisiveness in times of urgent need for action and dead certainty that they are right in times of complexity – Michael Fullan

Liefde: Wat is dit? (4)

Hierdie klink na ‘n dom vraag – ons weet tog almal wat liefde is. Op 15 September 2007 lewer Dallas Willard ‘n referaat by die American Association of Christian Counselors se konferensie. Sy onderwerp was: Getting Love Right. Dallas Willard was Professor aan die University of Southern California’s School of Philosophy. Hy was ‘n leraar in die Southern Baptist Church. Sy bekendste werke is In Search of Guidance en the Divine Conspiracy. Met sy sterk filosofiese en sielkundige agtergrond het hy ‘n baie interessante aanslag op die  onderwerp.  Kom ons kyk na ‘n paar gedagtes uit hierdie referaat.

Kom ons kyk nou weer na van Paulus se stellings waarna ons vantevore gekyk het:

 

  • 1 Timoteus 1:5: Die doel van hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit ‘n rein hart, ‘n goeie gewete en ‘n opregte geloof kom. Liefde kom uit ‘n rein hart en nie uit fantasieë van sedeloosheid of kwaadwilligheid nie. Liefde kom uit ‘n goeie gewete nie ‘n gewete belas met skuldgevoelens as gevolg van die onvermoë om te doen wat goed en reg is nie. Liefde kom uit ‘n opregte geloof – absolute vertroue in God en dat Hy vir ons sal sorg. Niks sal ons van sy liefde kan skei nie. Ons kry dus nie agape liefde deur ‘n direkte poging van ons kant af nie. Wat ons moet doen is om die omstandighede waaruit liefde ontstaan in plek te plaas.
  • Romeine 13:10: Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet. Die wet is gerig op optrede wat goed en reg is. Liefde is ook gerig op wat reg of en goed is. Ons optrede word nie gefnuik deur konflik in onsself nie; ons wil die goeie doen, maar al wat ek doen is die slegte (Romeine 7:21).Galasiërs 5:14: Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Paulus sê dat om in ooreenstemming met die wet te leef nie ‘n doelwit is nie, maar ‘n neweproduk van die liefde is.
  • 1 Korintiërs 12:31 – 14:1: Veral hierdie gedeelte is van belang: die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie. Hierdie kenmerke is die gevolg van ons ingesteldheid op liefde, want dit is gerig op wat goed en reg voor God is en nie die bevrediging van begeertes en emosies nie. Let wel: Paulus sê nie ons moet geduldig, vriendelik, ens wees nie. Hy sê liefde is geduldig, vriendelik, ens. Wat hy sê is dat ons liefde moet najaag en al hierdie ander dinge sal vir hulleself sorg.

Liefde val in die domein van keuse. Keuse oorweeg alternatiewe en weeg op wat die beste is; dit vind wat goed en reg is. Liefde soek wat die beste is – vir onsself en almal wat betrokke is. Daarom weerhou dit die mens daarvan om sy vyand te haat – iets wat hy waarskynlik graag sou wou doen. Dit beteken nie dat jy sommer aan jou vyande toegee nie – dit mag dalk die slegste ding wees wat jy vir hulle kan doen.

Liefde is ‘n wilstoestand ingebed in al die fundamentele dimensies van die menslike persoonlikheid. Dit is nie iets wat jy kies om te doen nie – dit is iets wat jy kies om te wees. Die wil is die uitvoerende sentrum van jou self – die hart of die menslike gees. Dit rig alle dimensies van jouself, nie deur direkte en eksplisiete toesig nie, maar indirek met God. Hierdie fundamentele dimensies is die wil, die denke (met sy gevoelens, begeertes en emosies), die liggaam, sosiale interaksies en die siel.