Elke dag ‘n dag van beslissing

The heart has its reasons that reason knows nothing of. -Blaise Pascal, filosoof en wiskundige (1623-1662)

Elke dag ‘n dag van beslissing

Vir diegene wat daarop aanspraak maak dat hulle God se kinders is, is elke dag ‘n dag van beslissing. Ons toewyding aan die Here moet elke dag hernu word. Die seëninge wat verband hou met die nuwe verbond kan nie sommer net aanvaar word nie; dit is nie outomatiese regte nie.

Die verbond wat Jesus Christus gevestig het, gaan oor ‘n spesiale verhouding wat ‘n voortdurende belegging van energie en toewyding vereis. Die opsies beskikbaar vir die Israeliete – seën en straf – is ook vir ons beskikbaar. Alles hang egter af van ons toewyding aan Christus wat deur gehoorsaamheid gekenmerk word.

Jesus maak dit duidelik met die beeld van die ware wingerdstok (Johannes 15). Iemand wat nie in God bly nie, word weggegooi, want hulle dra nie vrugte nie – hulle voer nie die Here se opdragte uit nie (15:10). Dié wat egter in die Here bly ondervind sy seën en dra baie vrugte. Dan volg seën: Vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry (15:7). Ons gehoorsaamheid verheerlik die Vader (15:8).




Van kliek na gemeenskap

The good news of Jesus Christ is intended to transform a person’s life –  Douglas Moo

Van kliek na gemeenskap

Ons ken almal daardie cooler than thou groepies in ons gemeentes. Almal in die kerk wil deel van daardie groepie wees; almal buite die kerk blameer daardie groepie as die oorsaak dat hulle uit die gemeente is. Vroeg in ons lewe word ons bewus van klieks. Antieke klieks sluit groepe soos Fariseërs, Sadduseërs en Helleniste  in – hulle veroordeel almal en geniet net mekaar se geselskap. Ons weet hoe wreed kinders kan wees, maar ons vergeet dat kerkleiers en lidmate net so eng kan wees.

 

Een van die fundamentele bates van die kerk is juis die vermoë om ‘n ander individue te bedien. Nie almal is geroep om ‘n leermeester of profeet te wees nie, maar almal is geroep om te dien en ander te bedien. Ons word daaraan in 1 Petrus 2:9 herinner: Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

Die probleem met kleingroepe in die kerk is dat hulle bang is om na nuwe mense uit te reik. Ons hou daarvan om in ons veilige, vriendelike reddingsboot te sit. Maar die reddingsboot is nie net vir ons nie, maar vir almal wat een nodig het. Ons is dikwels onwillig om ander op ons reddingsboot toe te laat, want dit mag inbreuk doen op ons klein gemeenskappie.

Ons kan nie net in ons reddingsbootjies sit nie. Ons het ‘n beter plan nodig. Kyk na Jesus se dissipels. Jare lank geniet hulle mekaar se vriendskap, maar hulle los dit en versprei tot op die verste uithoeke van die wêreld. Natuurlik mag dit ‘n risiko wees; natuurlik mag ons soms eensaam wees – maar dit is ons roeping. Daarom: bring vriende na jou kleingroepie, nooi vreemdelinge uit wat God op jou pad plaas.

Ons moet glo dat God ons sal help om vorentoe te beweeg na ‘n gemeenskap bestaande uit mense wat vroeër nie daar welkom was nie. Dit is Jesus se model. Dit is ons roeping.




Liefde: Wat is dit? (3)

If you can’t imagine it, you can’t do it – Einstein

Liefde: Wat is dit? (3)

Hierdie klink na ‘n dom vraag – ons weet tog almal wat liefde is. Op 15 September 2007 lewer Dallas Willard ‘n referaat by die American Association of Christian Counselors se konferensie. Sy onderwerp was: Getting Love Right. Dallas Willard was Professor aan die University of Southern California’s School of Philosophy. Hy was ‘n leraar in die Southern Baptist Church. Sy bekendste werke is In Search of Guidance en the Divine Conspiracy. Met sy sterk filosofiese en sielkundige agtergrond het hy ‘n baie interessante aanslag op die  onderwerp.  Kom ons kyk na ‘n paar gedagtes uit hierdie referaat.

Daar was al baie pogings om ‘n voldoende konsep van liefde te ontwikkel. So ‘n konsep moet liefde van begeerte onderskei. Begeerte en gevoel speel ‘n rol in liefde, maar dit staan nie sentraal nie. 

Liefde is nie optrede nie, maar ‘n bron vir optrede. Dit is ‘n toestand waaruit  optrede van ‘n sekere aard voortspruit.

Hierdie soort liefde is holisties – nie iets wat ons aan- of afskakel vir die of daardie persoon nie – liefde se oriëntering is na die lewe as ‘n geheel. Liefde word gevoed deur die goeie, die regte en die mooi. Daarom kan Paulus vanuit die tronk vir sy vriende in Filippi skryf: Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deur of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig 4:8). So het Paulus geleer om tevrede te wees, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Daarom kon hy sê: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (4:13).

Paulus verstaan die dwaasheid van diegene wat sê: “Ek kan net nie vir … liefhê nie.” Hulle moenie probeer om daardie persoon lief te hê nie – hulle moet probeer om die soort mens te word wat daardie persoon sal liefhê. Dan word liefde ‘n werklikheid. Ons doel is nie om die of daardie persoon lief te hê of onder sekere omstandighede lief te hê nie. Ons moet ‘n mens wees wat deur liefde besit word – maak nie saak wat aan die gang is nie. Ek kom nie na my vyand en probeer dan om hom lief te hê nie – ek kom na hom as ‘n liefdevolle persoon. Liefde is nie ‘n kraan wat ek kan oop- en toedraai soos ek wil nie. God het ons nie net lief nie – Hy is liefde. Daarom het Hy ons lief al stel ons Hom teleur.

Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het (Efesiërs 5:1 – 2). Ons word opgeroep en in staat gestel om soos God lief te hê.




Bewaak jou hart

The words a father speaks to his children in the privacy of the home are not overheard at the time, but, as in whispering galleries, they will be clearly heard at the end and by posterity. –Jean Paul Richter, skrywer (1763-1825)

Bewaak jou hart

Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorsprong van die lewe (Spreuke 4:23 – OAV).

Hoeveel ouers het nie al hierdie teks gebruik om hulle kinders te waarsku nie – veral as hulle die eerste keer met ‘n vriend uitgaan. Natuurlik roep die Skrif ons op om ons teen die bose te beskerm: Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers (Spreuke 4:25).

 

C. S. Lewis in The Four Lives waarsku teen die gevaar van jou hart te styf vas te hou:

Om lief te hê, is om kwesbaar te wees. As jy iets liefhet, kan jou hart seerkry en selfs gebreek word. As jy wil seker maak jou hart bly heel, moet jy dit vir niemand gee nie – selfs nie eers ‘n dier nie. Draai dit versigtig toe met stokperdjies en klein luukshede; vermy klein verstrikkings. Sluit dit dig op in die lykskis van jou selfsugtigheid. Maar in daardie kis, veilig, donker, onbeweeglik, sonder  lug sal dit verander. Dit sal nie gebreek word nie; dit word onbreekbaar, ondeurdringbaar, verlore. Om lief te hê, is om kwesbaar te wees.

As ons bang is dat ander mense ons dalk mag seermaak, verbeur ons dikwels die vermoë om lief te hê. Ons isoleer onsself van die wêreld. Bewaak jou hart word nou ‘n manier om ons teen moontlike seerkry te beskerm.

Wat moet ons dan doen? Gee jou breekbare hart aan God oor. As ons die verantwoordelikheid om ons harte te bewaak self oorneem, mag ons hulle toesluit sodat hulle nooit deur deernis vir ander gebreek kan word nie.