27:39 Toe dit begin dag word het hulle (die matrose) die land gesien waarvan hulle deur die nag gehoor het hoe die branders daarop breek (27:27). Hulle het egter nie die land herken nie, want hulle gewone roete het nie by die eiland Malta aangedoen nie. Hulle het met besorgdheid gewaar dat daar ’n baai was met ’n strand (aigialós wat nie noodwendig ’n ámmos ’n sandstrand is nie) want hulle het nie geweet of dit ’n sandstrand of ’n rotsagtige strand is nie. Hulle wou die skip daarop laat strand (eksōthéō ’n skeepsterm om ‘n skip op die land te laat grondvat) indien dit moontlik was (die optatiewe vorm van die werkwoord dúnamai dui onsekerheid aan). Die huidige St Paulus-baai aan die noord-westelike kus van Malta is rotsagtig en het geen goeie sandstrand nie. Vir die stranding tref hulle drie maatsreëls:
27:40 Eerste maatreël: Die matrose kap die toue af om die sleepankers in die see te los, wat hulle by Cauda laat sak het om hulle spoed te probeer verminder (27:17), sodat die skip vryelik deur die wind gedryf, vinniger en verder op die land kan vorder. Tweedens: terselfdertyd het hulle die bande losgemaak wat die twee roere aan die agterkant van die skip aan mekaar gebind het om tydens hulle vaart te help rem. Losgemaak kan hulle gebruik word om die skip tot ’n mate te stuur. Derdens: hys hulle die voorseil sodat die wind die skip vinniger kan dryf om verder uit die see op land in te kom en hulle tot ’n mate die skip op die strand af kan stuur.
27:41 Die wind het die skip egter op ’n klipbank laat strand (epikéllō ’n tegniese skeepsvaarterm vir strand) met see aan weerskante van die skip. Die boeg van die skip (prōira voorkant van die skip) het op die rots vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe van die skip (prúmna) is in stukke geslaan deur die geweld van die golwe, wat van weerskante teen die skip afgestorm het. Met die see weerskante van die skip sorg die Here dat die mense nie op die rotse moet afspring nie. Die stukke van die agterstewe voorsien ook planke waarop die mense land toe kon dryf.
27:42 Die matrose het reeds probeer om soos rotte die sinkende skip te verlaat en hulle poging is deur Paulus gefnuik (27:30-32). Nou is dit die soldate wat ’n probleem het met die gevangenes wat kan ontsnap as hulle van die skip af sou kon wegswem tot op die eiland. As ‘n gevangene ook nog met ’n ketting aan ’n soldaat gebind was, was die uitswem vir albei lewensgevaarlik. Met ’n ontsnapping is die soldate se lewe in gevaar omdat hulle hulle plig sou versuim het en daarvoor met hulle lewens sou moes boet, volgens die Romeinse gebruik (vgl. 12:18-19; 16:27). Daarom wou hulle die gevangenes doodmaak. Dit is ’n nuwe bedreiging vir Paulus se lewe in aangesig van die redding vir die hele skip se bemanning en passasiers (27:24).
27:43-44 Die kommandant het hulle egter gekeer omdat hy Paulus se lewe wou spaar. Hy was immers verantwoordelik vir Paulus se lewe. Die kommandant neem die leiding en gee toe opdrag dat die mense wat kan swem eerste oorboord moes spring en uitswem land toe en daarna moet die res, wat nie kan swem nie, op los planke of op enigiets van die skip land toe gedryf word deur die wind en die seestroom. Die gevangenes is duidelik nie geboei nie.
En so het die wonder gebeur wat die Here aan Paulus gesê het dat al 276 mense voltallig uit die gevaar van die geweldige veertiendae lange storm, die skipbreuk en die swem of dryf tot op die land, gered is – 275 mense word deur die Here gered ter wille van die Here se dienskneg Paulus en die verlossingsplan van die Here om hom voor die keiser in Rome te laat getuig oor Jesus, die Seun van God (27:24-25).
Skrywer: Prof Francois Malan