Wat die evangelie nie is nie!

– Nelson Mandela

 

Wat die evangelie nie is nie!

Ek het onlangs baie oor die evangelie geskryf. Mark Dever het ‘n kort boekie – The Gospel as Personal Evangelism –  geskryf. Vir hom is die evangelie die verlossingsboodskap van Jesus Christus. Omdat dit in die vorm van woorde kom, kan die maklik misverstaan en verdraai word. Daarom moet elke geslag Christene weer beklemtoon wat die evangelie is … en wat dit nie is nie. Hy identifiseer  vier algemene foute wat die evangelie bedreig.

 

  • Die evangelie is nie ‘n terapie vir ‘n menslike kwaal nie. Baie terapeutiese evangelies beklemtoon die waarde van die mens, bied geestelike vertroosting en herinner ons aan God se liefde – alles goed en reg. Hulle hanteer egter nie die boosheid van ons sondes, die werklikheid van die wêreld se boosheid en lyding nie en die feit dat God heerliker is as enige van sy gawes. Die ware evangelie is ‘n boodskap van vertroosting en liefde, maar die basis hiervoor is die Skrif en nie een of ander vorm van pop sielkunde nie.
  • Die evangelie is nie die universele wegneem van alle oordeel nie. Sommige mense glo dat alle mense hemel toe gaan – ‘n evangelie sonder enige oordeel. Mense doen nog sonde, maar sonde is ‘n ongelukkige menslike probleem of ‘n reeks eerlike foute. Hierdie evangelie verwerp God se heilige karakter en sy ywer vir geregtigheid. Die ware evangelie bevestig die heilige toorn van God
  • Die evangelie is nie ‘n morele revolusie of ‘n besluit om beter te doen nie. Die probleem van moraliteit is dat dit op uitwendige gedrag fokus. Jesus het nie die kruisdood deurgegaan  om ‘n groepie “goeie mense” bymekaar te maak nie. Hy het die sondeskuld van sondaars betaal; Hy maak sondaars ‘n nuwe skepping. Persoonlike en politieke moraliteit is nie die evangelie nie; vertroue in die dood en opstanding van Jesus Christus is.
  • Die evangelie is nie ‘n dosis geestelike inspirasie nie.  Vir baie mense is Jesus ‘n pragtige model van die lewe, liefde en lig. Jesus is nou iemand wat ons inspireer – iemand soos Helen Keller of Churchill.

 

Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is (Matteus7:21). Wees versigtig vir hierdie foute in die evangelie.




Staan op, staan op vir Jesus

. —D.L Moody

 Staan op, staan op vir Jesus

In die lente van 1858 vind daar ‘n herlewing in die Amerikaanse stad van Philadelphia plaas. Die beweging het uit gebedsbyeenkomste, gekoördineer deur die Young Men’s Christian Association (YMCA), gevloei.  Eerwaarde Dudley A. Tyng, ‘n jong Episkopale leraar, word erken as die leier. Daar was geskille oor sy prediking teen slawerny, maar hy was bekend en geliefd vir sy ywer vir die werk van God. Van die leiers van ander denominasies wat om hom vergader het, was onder andere George Duffield, Jr, ‘n Presbiteriaanse leraar.

 

 Op Dinsdag 13 April 1858 was Tyng besig om by sy huis in die platteland te studeer. Hy gaan na die skuur om te sien of alles reg was – sy muil was besig om ‘n masjien  wat mielies gedors het, te trek. Toe hy die dier op sy boud klop, word Tyng se jas in die ratte van die masjien vasgevang.  Sy arm was ernstig beseer en moes later geamputeer word. Sepsis volg en binne ‘n week in Tyng dood. Voor sy dood vra sy vriende of daar ‘n boodskap is wat hy vir sy medewerkers aan die herlewingswerk wil gee.

Tyng se antwoord: “Sê vir hulle: Laat ons almal opstaan vir Jesus.”

 Mense het hierdie woorde van Tyng gereeld herhaal in die dae na sy dood. Toe George Duffield, Jr,  die volgende week in sy eie gemeente preek, gebruik hy Efesiërs 6:13 as teksvers: Staan dan vas, julle lende met die waarheid omgord (OAV). Hy sluit sy preek af met ‘n lied wat hy geskryf het: “Staan op, staan op vir Jesus.” Baie gou word dit ‘n gevestigde lied in baie denominasies.

 Net soos “Voorwaarts Christenstryders” was dit ‘n baie gewilde lied by soldate wat aan die Amerikaanse Vryheidsoorlog deelgeneem het – moontlik weens die militêre taal en beelde wat Duffield gebruik het. Die verband met wêreldse oorloë was glad nie Duffield se bedoeling nie – dit gaan oor geestelike oorloë.

 

As kind was dit ‘n lied wat ons uit volle bors gesing het. Hier is die lied:

 

1. Staan op, staan op vir Jesus,    O helde van die kruis!

   verhoog sy krygsbaniere    deur al die strydgedruis!

   deur stryd lei tot oorwinning    die Heiland keer op keer,

   tot hy oor elke vyand   vir ewig heers as Heer.

2. Staan op, staan op vir Jesus!    Die krygsgeroep weergalm;

   begeef u in die strydperk,    volg hom met vreugdepsalm!

   kom, stryders, wees dan moedig,    weerstaan met al u mag;

   die bose moet terugval,    want Jesus gee u krag!

3. Staan op, staan op vir Jesus!    Steun enkel op sy krag;

   u eie arm is hulp’loos,    hoe dikwels u ook trag.

   neem aan Gods wapenrusting,    en waak en bid en stry;

   roep plig u in gevare,    weet, Jesus staan u by!

4. Staan op, staan op vir Jesus,    al is die stryd hoe bang!

   na al die stryd op aarde    volg eens die segesang.

   aan stryders, trou en moedig,    gee Jesus dan ‘n kroon;

   hul heers daar ewig met hom,    rondom sy glorietroon.




Die “hiper-genade” gemeentes

Sometimes when we get overwhelmed we forget how big God is. — AW Tozer 

Die “hiper-genade” gemeentes

Joseph Mattera sê dat daar ‘n dramatiese afname in Bybelse prediking oor die afgelope aantal dekades was. Prediking het verander van teologie na terapie na motiveringstoesprake. Gemeentes verdraai die evangelie met wat hy ‘n “hiper-genade” benadering noem.

 

  Baie predikers en gemeentes weier om ‘n standpunt teen sonde in te neem; die noodsaaklikheid van berou word nooit vermeld nie; onderwerpe soos die hel en oordeel word vermy. Paulus het sterk hierteen gewaarsku: Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe (Romeine 6:1 – 2). Die eerste ding wat Judas in sy brief sê, is dat goddelose mense ongemerk julle geledere binnegedring het … Hulle misbruik die genade van ons God. Hoe sal ons so ‘n gemeente uitken?

  • Die predikers praat nooit teen sonde nie. Sonde word slegs genoem in die konteks van vergifnis van sonde, maar nooit as ‘n standpunt inneem teen sonde nie. Die uitsondering is as hulle die sonde van die Fariseërs verdoem.
  • Predikers neem nooit ‘n standpunt vir geregtigheid in nie – hulle is so bang hulle gee aanstoot.
    • Die Ou Testament word feitlik totaal geïgnoreer – dit het geen waarde vir ons lewenswyse nie.
    • Mense wat onsedelik leef, word toegelaat om te onderrig en bedienings te lei. Hoekom gebeur dit? Daar is geen aanspreeklikheid nie.
    • Die leiers praat dikwels teen die kerk as instelling. Die kerk is volgens hulle siening “konserwatief.”
    • Slegs positiewe motiveringspreke is aanvaarbaar. Dit gaan oor gesondheid, voorspoed, God se liefde en vergifnis en hoe om ‘n sukses van jou lewe te maak. Natuurlik moet ons oor hierdie onderwerpe preek, maar ons moet die balans behou.

Natuurlik kan ons meer byvoeg. Hierdie is ‘n gevaarlike neiging wat ons gemeentes ingedring het.

 




Selfbeheersing en oefening

 After climbing a great hill one only finds there are many more hills to climb – Nelson Mandela

 

Selfbeheersing en oefening

‘n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter, ‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ‘n stad inneem (Spreuke 16:32)

Novak Djokovic is al lank een van die wêreld se beste tennisspelers. In 2011 word hy met seliak siekte gediagnoseer. Hierdie siekte maak dit vir die mens onmoontlik om gluten te verdra. Hy moes sy dieet aanpas – geen pizza, pasta of brood nie. Daarna verbeter sy tennis verder. Hy sê dit is omdat sy beweging op die baan skerper is.

 

 Paulus gebruik hierdie analogie van fisiese wedywering om die belang van selfbeheer in die lewe van die Christen te beklemtoon. Hy praat van ‘n wedloop en ‘n boksgeveg (1 Korintiërs 9:24 ev). Sy inspirasie was die Istmiese Spele, ‘n atletiekfees, wat elke twee jaar in Korinte gehou is. Hy merk op dat diegene wat goed wil doen in die Spele ontsê hulleself allerlei dinge. Hy gaan verder: Ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.

 Vir die hardlopers beteken dit waarskynlik baie kilometers op die pad, spoedtoetse. ‘n gesonde dieet en genoeg slaap. Dit is hulle mededingende gees  wat hierdie  oefenprogram dryf – hulle wil die prys wen. In die geval van die Istmiese Spele was die prys ‘n lourierkrans. As hierdie krans so baie vir die deelnemers aan die Istmiese Spele beteken het, dink net wat dit vir ons as Christene beteken om ‘n ewige krans te ontvang.

 

Selfbeheer is altyd moeilik – dit is nie maklik om nee te sê vir tydelike plesier nie. Atlete doen dit die hele tyd. Hulle sê nee vir dinge soos kitskos en rustige dae van op die bank lê en net TV kyk. Hulle liggame moet in top kondisie wees as die wedloop kom. Net so moet Christene selfbeheersing beoefen om hulle roeping te vervul. Paulus sê dat hy sy liggaam streng oefen as verkondiger van die evangelie van God; hy wil kwalifiseer vir die stryd.

Ons vra dikwels die vraag: “Mag ek dit doen?” Is ons optrede toelaatbaar? Dan druk ons die grense van wat toelaatbaar is so ver as moontlik. As ons Paulus se siening van selfbeheer lees, is die eintlike vraag wat ons moet vra: “Is dit voordelig? Sal dit my help om my roeping te vervul?