Is Jesus meer bekommerd oor wat ons doen of oor wat ons glo?

“It is not possible to have Christ apart from the church. We try. We would very much like to have Christ apart from the contradictions and distractionsn of the other persons who believe in him, or say they do.” –Eugene Peterson, 

 Is Jesus meer bekommerd oor wat ons doen of oor wat ons glo?

Peter Enns het ‘n baie interessante blog oor hierdie onderwerp geskryf. Hierdie is nie ‘n nuwe vraag nie, maar tog steeds ‘n belangrike vraag. Baie mense glo dat hierdie nie ‘n of die een of die ander antwoord moet wees nie – beide is belangrik. In werklikheid is hulle net die twee kante van dieselfde muntstuk. Die probleem is dat in die praktyk dit nie so werk nie.

 

 As ons uitstap in die alledaagse lewe is wat ek glo belangriker as wat ek doen? Sien ons die liefde van Christus in ons lewens? Miskien moet ons die vraag anders stel: Wat sou Jesus meer plesier verskaf;

  • Om diegene van wie ons verskil, ons vyande, vreemdelinge, ongemaklike mense wat ons lewenspad kruis lief te hê al is daar aspekte van ons geloof, die Bybel, God, die mens, ens waaroor ons onseker is, of
  • Ons fokus ons energie op suiwer leer tot so ‘n mate dat ons nie tyd het om aan liefde vir ander te dink nie.

 Hierdie is nie ‘n vals dilemma of teoretiese vraag nie. Ons staan elke dag voor hierdie keuse. Enns glo dat Jesus meer besorg is oor wat ons doen as oor wat ons dink.




Ons gemeente groei nie. Hoekom nie?

To die for an idea; it is unquestionably noble. But how much nobler it would be if men died for ideas that were true. -H.L. Mencken  (1880-1956)

Ons gemeente groei nie. Hoekom nie?

Rick Warren sê dat faktor wat ons meestal nie raaksien as ons gemeente nie groei nie, is eenvoudig: Ons moet ongelowiges liefhê soos Jesus Christus hulle liefgehad het. As ons nie ‘n passie vir ongelowiges het  nie, sal ons nie die opofferings wat nodig is om hulle te bereik, maak nie.

 

Jesus het sulke mense liefgehad. Hy het tyd met hulle spandeer; Hy het saam met hulle geëet; Hy het sy tyd saam met hulle meer geniet as sy tyd met die godsdiensleiers. Geen wonder hulle sê: Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars (Lukas 7:34).

 Jesus het daarvan gehou om by mense te wees en hulle het dit aangevoel. Selfs klein kindertjies wou by Jesus wees. Kinders soek mense wat liefdevol is en hulle aanvaar. Dit het Jesus by uitstek gedoen.

Hoekom het baie gemeentes nie meer lidmate nie? As ons eerlik moet wees … omdat hulle nie meer wil hê nie. Ongelowiges gaan ons gemaklike roetine omverwerp. Selfsugtigheid verhoed dat baie gemeentes groei. Die opdrag om lief te hê, is die opdrag wat die meeste in die Nuwe Testament herhaal word – ten minste 55 keer. As ons nie mense liefhet nie, is niks anders belangrik nie: Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde (1 Johannes 4:8).

Vra vir mense wat hulle na die gemeente aangetrek het. Niemand sê ooit dit is die pragtige geboue of julle vol programme of selfs julle teologie nie. Die algemeenste antwoord is: Ek het ‘n ongelooflike liefde vir my gevoel en dit het my getrek.

Baie gemeentes is vol lidmate wat vir mekaar liefhet, maar die gemeente groei nie. In sommige klein gemeentes is dit so sterk dat ‘n buitestander net nie kan inbreek nie. ‘n Wonderlike liefde tussen lidmate , maar geen liefde vir ongelowiges nie. Die grootte van die gemeente  het niks met liefde en vriendelikheid te doen nie.

Mense gaan na waar daar liefde is; liefde trek mense soos ‘n magneet. ‘n Gebrek aan liefde dryf mense weg.

 




Johannes 1:9-13 Reaksies op die Woord van God in die wêreld

Johannes 1:9-13 Reaksies op die Woord van God in die wêreld – Francois Malan

Die himne oor die Woord wat die Lig is, word voortgesit na die onderbreking oor die getuie. 

1:9 ‘Die ware lig…was aan kom in die wêreld.’ Dit verwys na twee sake: volgens verse10-11 verwys dit na die menswording van die Woord en die hele aardse bediening van Jesus; volgens vv12-13 gaan dit om dié mense deur die eeue na wie toe die Woord aan die kom was en is. Die Ou Testament verwys na die woord van die Here, of dat die Here gesê het. Dit is telkens dié Woord van God wat mens kom word het in Jesus.

            ‘Die ware Lig’ verlig die mens se denke, openbaar God aan die mens, en die pad van die ware lewe voor God. ‘Wêreld’ verwys na die ganse mensdom, ook van die Ou Testament, maar veral van die Nuwe. (Ligkom  16 maal voor; wêreld 74 maal, soms as geskape wêreld, meesal as mensewêreld, ook as sondige wêreld).

 

1:10 ‘Hy was in die wêreld’ – van die begin af, en waar God gepraat het, was dit die Woord van God. ‘Die wêreld het deur Hom  ontstaan’ (soos 1:3 sê) – by die skepping en voortgang deur die eeue; ook by die ontstaan van elke mens.  ‘En die wêreld het Hom nie geken (of erken) nie’ –  die mense het die lig nie geken en waardeer  vir wat Hy is nie, en die Lig nie aanvaar of in Hom geglo nie. Aanvaar is ‘n wilsbesluit vir of téén Hom. ‘Hom ken’ verwys na ‘n persoonlike verhouding van mense met die Lig.

 

1:11 ‘sy eiendom’ – volgens Johannes 1:3 is Hy die Skepper van alles en daarom die Eienaar daarvan. Hier verwys ‘sy eiendom’ in die eerste plek na die Jode (Deutr. 7:6; Ps 135:4), maar ook na die mense van die wêreld (Ps 24:1). Jode en nie-Jode het die Woord deur die eeue nie aangeneem nie. Die woord vir aangeneem, parelabon, beteken ook ‘om in jou huis te ontvang/verwelkom, om vriendelik te ontvang’. Jesus was soos iemand wat uit sy eie huis uitgesluit was. Hy, die Heer en Eienaar van die wêreld en die mensdom, staan buite en klop aan die deur (Openb 3:20).  So begin die Evangelie met die lyding en verwerping van Jesus.

 

1:12 Maar die werk van die Woord van God was en is  nie sonder vrug nie. Aan almal wat Hom in geloof aangeneem het, het die Woord die voorreg gegee om kinders van God te word. Hoe die ‘aanneming’ geskied word in Jn 1:13 verduidelik met die begrip ‘wedergeboorte’, wat in 3:1-21 verder uitgewerk word. ‘Kinders van God’ druk die besondere liefdesband met God en afstamming van God uit (1:13). Ons word kinders van God slegs deurdat Jesus Christus ons  begenadig. Die geloof in die Naam van Jesus kom slegs in Johannes en 1 Johannes voor. Dit impliseer dat ons Jesus as God erken en Hom in kinderlike vertroue aanneem in die volle omvang van sy openbaring, om volgens sy woord en voorbeeld te lewe.

 

1:13 Om ‘kinders van God’ te word is geheel en al God se werking. Mans en vrouens is nie in staat om kinders van God te verwek nie. Letterlik: ‘wat nie uit bloeddruppels of uit die wil van die vlees nie, of uit die wil van ‘n man nie’ –  ‘bloeddruppels’ word figuurlik gebruik vir afstamming (NAV ‘van nature’); die ‘wil van die vlees’ verwys na seksuele omgang, die ‘wil van ‘n man’  verwys na menslike inisiatief; ‘maar  uit God gebore is’ – dit word verder uitgewerk in 3:3-5. Die diepste grond vir die kindskap van God is die werk van God deur die Heilige Gees, wat die mens oortuig sodat hy/sy glo dat Jesus God is wat vir ons sonde gesterf het, en dat die Heilige Gees ons aan Christus se dood en opstanding verbind. Die oortuigingswerk van die Heilige Gees word in hoofstukke 14 en 16 verder uitgewerk.  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die getuienis van Johannes die Doper oor die Woord van God (Johannes 1:6-8)

Die getuienis van Johannes die Doper oor die Woord van God (Johannes 1:6-8) – Francois Malan

 

Die Evangelis onderbreek sy himne oor die Woord wat die Lig is en in die duisternis skyn, om Johannes Doper se getuienis oor die Lig in prosa aan te bied. Sy getuienis gaan oor die Woord wat mens geword het in Jesus. Die optrede van Johannes die Doper was in opdrag van  God.

Hy moes getuig van die enigste Lig van Verlossing, die Verlosser van God se mense.  Dit was die hoogtepunt van Johannes se prediking en doop. Deur sy sending moes almal (vgl. v 4 Lig vir die mense), nie net Jode nie, in Jesus glo. Met ‘almal’ wil die Johannes-Evangelie aandui dat God  deur die getuienis van ‘n mens ander mense tot die lewe wil lei, ook vandag se mense. 

Dit gaan nie om Johannes nie. Hy was net die aankondiger van die goeie nuus. Daar was blykbaar ‘n misverstand deurdat sommige mense geglo het Johannes is die Lig (vgl. bv. Johannes 3:22-30; en Handelinge.19:1-7. Jesus noem Johannes  ‘die lamp’ Jn 5:35).  

Johannes die Doper se sending word hier in die overture tot die Evangelie opgesom. Daar word op sy getuienis uitgebrei in 1:19-34 en 3:22-30.  (Markus begin sy Evangelie met Johannes die Doper se optrede; Mk 1:1-8). Twee belangrike woorde in die Johannes-Evangelie word reeds hier genoem ‘getuienis’ en ‘glo’ (om te getuig word 31 maal in die Evangelie genoem, getuienis 14 maal; om te glo 88 maal)

 

Skrywer: Prof Francois Malan