Wat is die tekens van ‘n dwaalleraar?

Depend on it, my hearer, you never will go to heaven unless you are prepared to worship Jesus Christ as God. —C.H. Spurgeon

Wat is die tekens van ‘n dwaalleraar?

Dwaalleraars was teenwoordig in elke tydvak van die geskiedenis. Omstandighede mag verander, maar hulle metodes bly dieselfde. Hier is ‘n paar tekens van vals leraars:

  • Hulle plesier mense. Wat hulle leer is bedoel om mense tevrede te stel Hulle vlei mense. Dit is in teenstelling met die ware leermeester: Nee, God het ons gekeur en die evangelie aan ons toevertrou, en so verkondig ons dit dan ook. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets (1 Tessalonisense 2:4).
  • Dwaalleraars se sterkste kritiek is teen God se getrouste dienaars. Hulle kritiseer diegene wat aan die waarheid vashou. Ons sien dit in die aanvalle op Moses en Paulus, maar veral in die aanvalle van die godsdiensleiers op Jesus. He that willingly takes from my good name, unwillingly adds to my reward (Augustinus).
  • Dwaalleraars onderrig hulle eie wysheid en visie. Dit was sekerlik waar in die tyd van Jeremia: Die Here het vir my gesê: Die profete gee voor dat hulle in my Naam optree, maar Ek het hulle nie gestuur of beveel nie, Ek het nie met hulle gepraat nie. Dit is gesigte wat nie bestaan nie, nuttelose waarsêery, dit is bedrog wat hulle versin wat hulle vir julle aanbied as woorde van profete (14:14). Paulus waarsku ook hierteen: Daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor (2 Timoteus 4:3).
  • Dwaalleraars fokus op die klein besonderhede en nie op dit wat werklik belangrik is nie. Paulus waarsku Timoteus teen mense wat verwaand is: Hy het ‘n sieklike beheptheid met twisvrae en met stryery oor woorde. Daaruit ontstaan afguns, twis, beledigings, gemene verdagmakery, voortdurende rusie van mense wat verstandelik verward en van die waarheid beroof is (1 Timoteus 6:4 – 5). Jesus het natuurlik die Fariseërs ook hiervan beskuldig (Matteus 23:23).
  • Dwaalleraars versteek hulle vals leerstellings agter welsprekendheid en wat beskou word as indrukwekkende logika. Dit lyk mooi, maar is dodelik.
  • Dwaalleraars stel belang om ander van hulle menings te oortuig – nie om hulle te help nie. Hulle stel nie belang in die verbetering van lewens of die verlossing van mense nie, maar om mense te oortuig en volgelinge te wen.
  • Dwaalleraars buit hulle volgelinge uit. Petrus waarsku hierteen: Maar daar was ook vals profete onder die volk, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën. So sal hulle hulleself baie gou in die verderf stort … In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit (2 Petrus 2:1 – 3).

As ons om ons kyk, sien ons nie van hierdie tekens om ons nie?




Klein gemeente denke

The man who dies rich dies disgraced. -Andrew Carnegie (1835-1919)

Klein gemeente denke

Bill Tenny-Brittain het ‘n interessante blog oor hierdie onderwerp geskryf. Die verskille tussen ‘n klein gemeente wat vasgehaak het en ‘n gemeente wat groei (enige grootte) word onder andere bepaal deur die manier waarop lidmate dink. In klein gemeentes wat vasgehaak het, glo die lidmate en gedra hulle hulleself asof hulle behoeftes, begeertes en voorkeure voorkeur moet geniet as enige besluit geneem word. Om die waarheid te sê, hulle raak ontsteld as ‘n besluit geneem word sonder dat hulle gekonsulteer word.

  Hierdie denke verseker dat met enige besluit, groot of klein,  die meerderheid heers. Hierdie soort denke is klein gemeente denke, want hierdie soort denke verseker dat die gemeente geen betekenisvolle en volhoubare groei sal ervaar nie. En gemeentes wat nie groei nie, gaan dood. Eenvoudig.

Gemeentes wat groei dink anders.

  • Die gemeente en leiers weet dit gaan nie oor hulle nie. Hulle besef dat die gemeente daar is om die hande, voete en getuies van Jesus Christus te wees – om te dien en nie gedien te word nie. Wat hulle wil hê, oorheers nie die agenda nie.
  • Die lidmate vertrou dat hulle leiers goeie besluite sal neem oor die roeping en sending van die gemeente. Die lidmate is nie betrokke en wil nie betrokke wees in nie-kritiese besluite nie. Hulle stel nie belang in die kleur van die matte of verf of tyd van die erediens nie. Die lidmate is te besig om bediening te doen dat hulle nie tyd het om betrokke te raak by die daaglikse werking van die gemeente nie. Dit laat hulle oor aan die leiers. Hulle hou egter hulle leiers aanspreeklik dat die sending en roeping van die kerk bereik word.

Hoe dink jy in jou gemeente?




Versoeking: Is ons beskerm?

What is to give light must endure burning. -Viktor Frankl, skrywer, neuroloog en psigiater (1905-1997)

Versoeking: Is ons beskerm?

Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte  versoek word nie; as versoeking kom, sal Hy die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan (1 Korintiërs 10:13)

 

In Lukas 22:31 – 32 lees ons: “Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” Dink aan Petrus. Hy sit naby Jesus; Jesus draai na hom en kyk hom in die oë; Jesus roep hom op sy naam; Jesus sê vir hom dat die Satan hom uit God se sorg en beskerming wil neem. As Jesus Christus so iets vir enigeen van ons sou sê, sou ons baie bekommerd wees.

Petrus was so belangrik dat Satan self hom wou kry. Miskien het Jesus vir hom gesê: “Die Satan is agter jou. Maar Ek het vir jou goeie nuus – ek het vir jou gebid.”  Wat moet ons doen as die Satan aan ons deur klop? Ons moet sê: “Here, sal U omgee om dit te hanteer, asseblief?” Ons kan nie op ons eie  teen die Satan staande bly nie. Maar ons het ‘n baie sterk bondgenoot. Satan is en bly ‘n geskape wese en beslis nie so sterk soos God wat nog altyd daar was nie. Maar ons moenie met die Satan sukkel nie; ons wil agter God, ons Beskermer, staan.

Ten spyte van die Satan se mag en bose agenda, moet hy eers toestemming vra voor hy een van God se kinders aanval, want God het ‘n muur van beskerming om ons geplaas. Dit moet ons altyd onthou.




Ek is bekommerd: Is dit sonde?

. —Thomas Brooks

Ek is bekommerd: Is dit sonde?

As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? (Matteus 6:30).

Dit is snaaks dat ons as gelowiges vrywillig  ons ewigheidsbestemming in Christus se hande plaas, maar soms weier om te glo dat Hy sal voorsien – wat ons gaan eet, drink en aantrek. Geloof moet tog ook vir die alledaagse en nie net die buitengewone geld nie.

 

Bekommernis is nie ‘n nietige sonde nie, want dit bevraagteken God se liefde en integriteit. Bekommernis sê dat ons hemelse Vader onbetroubaar is – ons glo nie sy Woord of sy beloftes nie. Bekommernis is ‘n teken dat ons deur ons omstandighede beheer word – deur ons eie beperkte perspektiewe en verstaan van dinge – en nie deur God se Woord nie.

Bekommernis is afbrekend en vernietigend, dit bevraagteken en beswadder God se Woord. As die gelowige nie elke dag tyd spandeer in God se Woord nie, vul die Satan die leemte en plant bekommernis in ons. En bekommernis druk God selfs verder in die periferie. Luister na Paulus se raad aan die Efesiërs: Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo (1:18 – 19).

Watter stelling maak jy as jy toelaat dat bekommernis jou reaksie op die onsekerhede van die lewe is? Besef jy wat die basis vir angs en bekommernis is? As jy dit weet, hoe sal dit jou bekommernisse beïnvloed?