‘n Nuwe Kategismus: Vraag 25

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 25

Vraag:

Beteken Christus se dood dat al ons sondes vergewe kan word?

 

 

Antwoord:

Ja. Omdat Christus se dood ten volle die straf vir ons sondes betaal het, reken God in sy genade Christus se geregtigheid aan ons toe asof dit ons eie is. Hy sal nie meer ons sondes onthou nie. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

Teksgedeelte:

Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Korintiërs 5:21)

 

Kommentaar:

Alhoewel een sonde voldoende vir verdoeming is, lei die vrye gawe van God se genade in Christus dat baie oortredings vrygespreek word. Hiervan kan ons seker wees, want die geregtigheid van Christus is God se geregtigheid en God sal dit verheerlik. Dit sal vas staan vir diegene wat in geloof dit op hulle daaglikse sondes toepas totdat hulle eendag ophou lewe. Vir hierdie rede is die seun van God tot sondaar gemaak – sodat ons van die sonde vrygestel kan word. As al ons sondes op Christus gelê nie God se liefde vir Hom kon wegneem nie, sal hulle ook nie God se liefde vir ons kan wegneem nie, omdat deur Christus se bloed ons siele van sonde gereinig is. O genade van alle genade dat Hy waarborg dat Hy ons syne sal maak op so ‘n manier. Al die engele in die hemel staan verwonderd hieroor; selfs sy Seun, wat nie alleen ons natuur en slegte toestand aanvaar het nie, maar ook ons sondes op Hom geneem het, staan verwonderd.  Omdat ons sondes weggeneem is deur Christus het God ons as sy eie aanvaar. Christus is nou in die hemel waar Hy vir ons verskyn. Totdat Hy ons huis toe bring – na Homself toe – en ons aan die Vader voorlê as syne vir altyd.

 

Hierdie kommentaar is deur Richard Sibbes (1577 – 1635), ‘n Engelse Puriteinse teoloog, geskrywe. In die vroeë 17de eeu staan hy in Londen bekend as the Heavenly Doctor Sibbes. Hy was die leraar by Gray’ Inn in Londen en Hoof van Catherine Hall in Cambridge. Sy bekendste werk was The Bruised Reed and Smoking Flax.

Hierdie kommentaar kom uit sy preek  Of Confirming this Trust in God in The Soul’s Conflict and Victory over Itself by Faith (London: Pickering, 1837), 325–326.

 

Verdere leesstof

 “Sinlessness” in Concise Theology, by J. I. Packer.

 

Gebed

O, Here, ek verdien nie eers ‘n vlugtige blik op die hemel nie, en ek kan nie deur my werke myself verlos van my sonde, die dood … en hel nie. Nogtans het U u Seun, Jesus Christus, aan my gegee wat kosbaarder as die hemel is en sterker as sonde en die dood … en die hel is. Daarom verheug ek my in U en prys en dank U, o God. Sonder dat dit my iets kos en uit genade het U aan my u ontelbare seëninge in u Seun gegee. Deur Hom neem U sonde, die dood … en die hel weg van my en gee aan my alles wat aan Hom behoort. Amens.

 

Hierdie gebed is deur Martin Luther (1483 – 1546) geskryf. Hy was ‘n Duitse Protestantse pastoor en Professor van Teologie. Hy was die seun van ‘n mynfamilie. Hy was veronderstel om ‘n prokureur te word, maar sluit aan by ‘n klooster. Op 31 Oktober 1517 spyker hy sy 95 stellings aan die deur van die kerk in Wittenberg. Dit lei tot die Hervorming. Sy weiering om sy skrywe in opdrag van Pous Leo X en Keiser Karel V  terug te trek, lei tot sy uitbanning. Luther het baie werke geskryf, insluitend sy klein en groot kategismusse. Hy preek honderde preke in kerke en by universiteite.

Hierdie gebed kom uit Luther’s Prayers, geredigeer deur by Herbert F. Brokering, uit die vertaling deur Charles E. Kistler (Minneapolis: Augsburg Books, 1967), 15–16.

 

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.

 

 




Alle Paaie lei na Jesus: Jesus verryk ons siening van bepaalde dinge (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus verryk ons siening van bepaalde dinge (3) – Adrio König

11.3.3 Ons siening van die heil (hoofstuk 2)

Daar is geen manier om oor die heil te dink los van Jesus nie. Vroeër het sekere groepe Hom graag “Heiland” genoem. Die benaming kom nog uit die tyd van die eerste vertalings in die volkstale soos die King James Version (Saviour) en die Statenvertaling (Heiland). Deesdae word dit gewoonlik met Redder vertaal. Dit het meestal in die Ou Testament voorgekom en verwys na die Here wat mense uit nood red.

Jesus verdien vir ons die heil: vergifnis, regverdiging, redding, en hoeveel ander woorde kan ons gebruik. Hierdie woorde veronderstel dat die ou verhouding herstel word. Ons sondeskuld word weggeneem, ons word regverdig verklaar, ons word uit die gevaarposisie bevry, ons kom terug in die regte verhouding met die Here.

 

Maar Jesus herstel nie net wat verbreek is nie. Hy doen meer. Hy verryk ook ons siening van die heil. Hy plaas ons toekoms op ’n ander vlak as die oorspronklike. Daar was altyd mense wat net aan ons redding gedink het as ’n herstel van wat ons verloor het, as “paradise lost, paradise regained”. Maar die begrip “verheerliking” bring ’n nuwe dimensie van die heil na vore. Jesus is nie net ’n herhaling van die eerste Adam nie, Hy is ’n verheerlikte mens. Die eerste Adam was ’n “lewende wese”, maar die tweede Adam is ’n “lewendmakende Gees” (1 Kor 15:45). Dis nogal moeilik om ’n goeie vertaling te kry vir die Grieks, maar wat dit ook al presies beteken, dit is veel meer as net ’n lewende wese.

 

En ons deel in hierdie plus. Ons word ook verheerlik (Rom 8:30). Ons sterf as ’n “natuurlike liggaam”, maar ons sal opstaan as ’n “geestelike liggaam” (1 Kor 15:44). In 2.3.3 het ons na die betekenis van “geestelike liggaam” gekyk. Die “ewige lewe” hou dieselfde gedagte in (2.3.4). Ons kry nie net die lewe van die eerste Adam terug nie, ons kry ’n aandeel in Jesus se lewe, sy opstandingslewe wat die dood finaal agter Hom het. Dit beteken dat “ewige lewe” nie net ons gewone lewe is wat ewig sal aanhou nie, maar lewe op ’n ander vlak, ’n ander kwaliteit lewe. Dit kom mooi na vore in Openbaring 21, 22 waar ons inderdaad iets kry van ’n herhaling van die tuin in Genesis 2 (Op 22:1-3), maar óók ’n radikale oortreffing daarvan met die veilige en heerlike stad en God en die Lam wat Self die lig is sodat die son nie eens meer nodig is nie.

 

Dit is teen hierdie tyd seker eintlik meer as net duidelik dat Jesus dus nie die passiewe eindpunt is waarheen elke groot tema in die Bybel ons lei nie. Hy is die groot “Veranderaar, Vernuwer, Verheerliker”.

  • Hy beëindig en vervang wat nie regtig werk nie.
  • Hy bereik God se doel met die dinge wat langs die pad vasgeloop het.
  • Hy verryk ons siening van sentrale sake in die Bybel oneindig.

 

Dit beteken die titel van hierdie boek sou ook iets soos die volgende kon gewees het:

Jesus lei alle temas in die Bybel na die punt waar God hulle wil hê.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Jesus verryk ons siening van bepaalde dinge (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus verryk ons siening van bepaalde dinge (2) – Adrio König

11.3.2 Ons verstaan van die Ou Testament (hoofstuk 6)

Die manier waarop ons die Ou Testament lees en verstaan, is ook verryk deur Jesus. Die wyse waarop die vroeë Christene en veral die skrywers van die Nuwe Testament die Ou Testament gebruik het, het ons geleer om nie die Ou Testament “plat” te lees nie, maar bepaalde dinge daarin te soek (hoofstuk 6). Daar is trouens ’n sin waarin hulle eintlik net vir Jesus daarin gesoek het. Wat hulle ons geleer het, was juis dat alle paaie na Jesus lei.

 

 

Hulle het ons geleer dat daar nie eintlik net bepaalde profesieë in Jesus vervul is nie, maar dat Hy soos ’n prisma die hele Ou Testament op Homself saamgetrek het. Al die groot figure wat in die toekoms verwag is, profeet, Messias, dienaar, Seun van die mens, is in Hom vervul. Maar veel, veel meer. Hy het ’n nuwe gestalte en betekenis gegee aan al drie die ampte wat bepalend was vir die lewe van die volk, profeet, priester, koning.

 

Deur dit alles het ons geleer dat daar struktuur is in die Ou Testament, dat dinge onderling met mekaar in verband staan. Dit help ons om samehangend te lees selfs as dit nie oor “voorlopers” van Jesus gaan nie. Om maar net een voorbeeld te gebruik. As ons oor God se skeppingswerk dink, lees ons nie net een hoofstuk, byvoorbeeld Genesis 1, en bou ons hele siening daarop nie. Ons lees alles oor die skepping, en dan kyk ons of daar dinge is wat duidelik na vore kom en ander wat terloops is. Ons soek tendense en verabsoluteer nie ’n paar dinge wat ons siening van sake ondersteun nie (hoofstuk 4).

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König




Wat is die evangelie? (8)

 “When you are troubled by your thoughts, drive them away in any way you can—if not with some argument, then at least by conversation about something you find delight in.” Martin Luther

Wat is die evangelie? (8)