Wat is die evangelie? (3)

. —Thomas Brooks

Wat is die evangelie? (3)

Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte (1 Korintiërs 15:3 – 4).

 

N. T Wright voel dat Paulus hier  uit ‘n baie vroeë Christelike geloofsbelydenis aanhaal. Wat baie opvallend is, is dat Paulus baie spesifiek oor die goeie nuus is. Die goeie nuus gaan nie oor God in die algemeen of hoe ons ‘n verhouding met Hom kan bou nie. Dit gaan spesifiek oor Christus. Christus word nie hier voorgestel as ‘n uitstaande leermeester  of Iemand wat morele duidelikheid bring nie; Hy word nie voorgestel as ‘n gids wat ons deur probleemtye kan lei nie. Hy is nie, soos populêre boeke sê, chicken soup fot the soul  nie.

Nee: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte.  Dit is wat die evangelie is – gesentreer op Christus en die kruis. Die goeie nuus gaan oor ‘n gebeurtenis wat te doen het met die persoon van Christus. Hierdie gebeurtenis sluit ‘n woord in die verlede tyd in: gesterf. Hier het ons nie met ‘n beginsel of ‘n spreuk te doen nie – dit is ‘n geskiedkundige aanspraak. Maar Paulus gaan verder: Christus het vir ons sondes gesterf. Hier ontdek ons dat die evangelie soos gesien deur die vroeë Christene, nie ‘n vorm van terapie of ‘n plan vir sosiale geregtigheid was nie; dit is nie ‘n versameling van gesegdes van ‘n wyse leermeester nie. Nee, die evangelie was ‘n spesifieke geskiedkundige aanspraak wat verband hou met die dood van Christus plus ‘n verduideliking van hierdie gebeurtenis se geweldige betekenis.

Die evangelie sentreer ook op die Skrif: volgens die Skrifte. Watter Skrifte? Daar is baie Ou Testamentiese tekste wat hier ter sprake mag wees. (Dink aan Daniël 9:24 – 27; Jesaja 53; Sagaria 12.) Dit mag ook verwys na die skaduwees van Christus wat ons in die tora kry. (Jesus is die paaslam as voorbeeld.)

Maar die evangelie gaan verder: Hy is begrawe en op die derde dag opgewek. Ook Christus se opwekking  geskied volgens die Skrifte. Na watter Skifte verwys Paulus as hy praat van Christus se opstanding op die derde dag. Hierna kyk ons volgende keer.




Wat is die evangelie? (2)

. —Matthew Henry

Wat is die evangelie? (2)

Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het, en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan (1 Korintiërs 15:1)

Paulus herinner sy dissipels in Korinte aan die basiese boustene van die evangelie. Omdat hy hulle herinner aan iets wat hulle reeds ontvang het, moet ons vra: Wanneer het Paulus die evangelie aan hulle verkondig? Hierdie brief is geskryf terwyl Paulus iewers tussen 53 en 55  in Efese was. Hy het hierdie evangelieboodskap in 51 aan hulle verkondig.

 

Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het (15:3). Let op die woorde: die belangrikste. Die Bybel is God se woord, maar daar is tog dinge in die Bybel wat belangriker is as ander dinge. Jesus self het by geleentheid vir die Fariseërs gesê dat hulle so behep is met dinge soos tiendes dat hulle belangriker dinge soos geregtigheid, genade en trou vergeet het. Wat is hierdie belangrikste ding wat Paulus aan hulle oorgelewer het? Hy het dit reeds in vers 1 gesê: die evangelie?

Paulus sê ook dat hierdie belangrikste ding wat hy aan hulle oorgelewer het, het hy ontvang. Dit is nie iets wat hy opgemaak het nie. Wat het hy ontvang? Wat was die essensie van Paulus se evangelieboodskap? Daarna kyk ons volgende keer.




Wat is die evangelie? (1)

. —George Swinnock

Daar word vandag baie boeke oor die evangelie geskryf. Die algemene tema is dat die kerk en gelowiges weer na die evangelie as dié brondokument moet terugkeer. Ongelukkig is daar verskillende menings oor wat die evangelie is.

 

Priests in the Middle Ages spoke of nothing but the other life; they hardly took any trouble to prove that a sincere Christian might be happy here below. But preachers in America are continually coming down to earth. Indeed they find it difficult to take their eyes off it. The better to touch their hearers, they are forever pointing out how religious beliefs favor freedom and public order, and it is often difficult to be sure when listening to them whether the main object of religion is to procure eternal felicity in the next world or prosperity in this.

Hierdie beklemtoning is steeds by ons. Kerke moet relevant en prakties wees; hulle moet mense ontmoet net daar waar hulle is. Maar waar is ons? In ‘n wêreld waar almal verbruikers is en waar vermaak belangrik is. ‘n Evangelie oor my – ek –  en voorspoed sal altyd  in sulke omgewings relevant wees. Maar kerke wat op iets buite myself fokus – en veral kerke wat groot woorde gebruik – lyk dan asof hulle nie relevant is nie.

Paulus help ons baie, want in 1 Korintiërs 15 gee hy vir ons ‘n baie goeie definisie van wat die evangelie is. Ons moet onthou dat voor Paulus tot bekering gekom het, was hy ‘n uitgesproke teenstander van hierdie vreemde Joodse “sekte.” Hy het die Christene vervolg en doodgemaak. Paulus was ‘n streng Fariseër; hulle het vas geglo dat daar net een God is.  Hoe kan hy dan die Goddelikheid van Jesus aanvaar het?

Gelukkig hoef ons nie te spekuleer nie – ons het sy geskrifte. Ons moet net weer sy geskrifte lees. Hiervoor is 1 Korintiërs 15 een van die belangrikste bronne. In die volgende blog gaan ons na Paulus se argumente kyk om beter te verstaan wat die evangelie is en hoekom ons dit moet glo.




Die gevaar van sukses

. —William Gouge

Die gevaar van sukses

In die tweede helfte van Deuteronomium praat Moses met die volk en waarsku hulle oor die gevare van sukses. Sukses is soms gevaarliker as mislukking. Hoekom? Want in ons najaag van sukses is dit baie maklik om van die Here te vergeet – ons dink ons het alles op ons eie reggekry.

 

As ons kyk wat ons bereik het en as ons kyk na ons besige skedules sê ons ook soms: My krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf (Deuteronomium 8:17). Die groot gevaar van sukses is trots. Ons vergeet so maklik dat dit God se genade is wat al hierdie dinge moontlik maak.

God toets ons vandag op verskillende maniere – bevordering, wen van belangrike pryse, suksesvolle beleggings op die aandelebeurs, ens. God toets ons – gaan ons Hom loof vir die verstand en vaardighede wat Hy aan ons gegee het? Of gaan ons sê: My krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf (Deuteronomium 8:17). Ons dink so dikwels dat God ons net in moeilike tye toets. Verkeerd. Ons word ook getoets as alles volgens plan verloop en ons suksesvol is. Hoe meer suksesvol ons is, hoe moeiliker is die toets en hoe meer rede het ons om God te dank.

Hierdie vers word gevolg deur ‘n waarskuwing: Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf.  As ons lewens deur die waardes van die wêreld beheer word, haal ons vir onsself die toorn van die Here op die hals. Baie glo dat as ons figuurlik deur die Rooisee getrek het, die sondaar se gebed opgesê het en gedoop is alles tussen ons en God reg is – vir ewig. God is nou verplig om vir ons voorspoed te gee. Intussen vergeet ons van die God wat ons verlos het en aan ons die gawes en vaardighede gegee het – en die geleenthede om te slaag. As ons God nie eer as ons suksesvol is nie, is ons soos die Kanaäniete in Moses se verhaal. Niks ontlok God se toorn soos ondankbaarheid vir sy genade nie.