Alle Paaie lei na Jesus: Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge (2) – – Adrio König

11.2.2 Israel (hoofstuk 8)

Daar is nogal ooreenkoms tussen Israel en die mens. Beide loop vas. Nie een van die twee bereik God se doel met hulle nie. En net soos met die mens kom Jesus dan vir Israel ’n nuwe begin gee. God se doel met hulle het nie gewerk deur Abraham se eerste nakomeling, Isak, en sy nageslag nie. Nou kom daar ’n nuwe nakomeling, Jesus (Gal 3:16).

En weer net soos met die mens, los Jesus dan nie vir Israel langs die pad en vervang hom nie, maar gee hom ’n nuwe vorm. Aan die kruis maak Hy die verbond met Abraham oop vir alle mense (Gal 3:14), sodat van toe af “Israel” bestaan uit alle mense wat deur die doop en die geloof aan Jesus verbind is. Die stam van die olyfboom is nog dieselfde: die ware Godsvolk van die Ou Testament. Maar die takke het verander. Die ongelowige Jode is die takke wat afgebreek is, en toe is daar wilde takke op die mak boom geënt, die heidene wat tot geloof gekom het in Jesus as die Here (Rom 11).

 

Dit beteken dat Jesus ’n duidelike onderskeid maak tussen blote afstammelinge/nageslag van Abraham en kinders van Abraham (Joh 8:34-39; Rom 9:6-7). Maar hierdie onderskeid het altyd bestaan, sedert Sara en Hagar, en Isak en Ismael (Gal 4:21-31). Paulus verwys dan ook met hierdie soort onderskeid terug na die Ou Testament (Rom 2:25-29).

 

God se doel met Israel was om deur hulle die heidene nader te trek omdat die God van Israel ook die God van alle nasies is. Maar dit het nie gebeur nie. Inteendeel, Israel was so aanhoudend ontrou en ongehoorsaam aan die Here dat Hy hulle so moes straf dat die nasies later die spot met die Here gedryf het oor dit so sleg met sy volk gaan (Eseg 36:16-32).

 

Toe het Jesus gekom as God se laaste profeet om hulle tot bekering te roep. En toe hulle uiteindelik ook vir Hom verwerp, is hulle uit die besondere posisie verwerp wat hulle gehad het in God se heilsplan (Matt 21:43; 22:8; 23:37-39).

 

Na Jesus se opstanding kom dan die radikale omkeer en as ’t ware die herstrukturering van God se heilsplan en van Israel as die volk van God. Van toe af is die gelowige heidene op presies dieselfde vlak as die gelowige Jode in die verbond. Hulle is saam die ware Israel (Ef 2:6). En terwyl Israel in die Ou Testament net getrou aan die Here moes wees en dan so geseën sou word dat die heidene na Jerusalem sou stroom om saam met hulle die ware God te kom dien, moet die nuwe vorm van Israel, die kerk, nou uitgaan na die heidene toe en hulle tot geloof in Jesus oproep. En die Jode wat Jesus as Messias verwerp het, toe en nou? Die heidene wat tot geloof gekom het en nou die kerkbanke volsit, moet die Jode jaloers maak op hulle Messias. So kan hulle nog altyd deel in die heil en weer deel word van die ware Israel. Dit beteken dat die huidige Joodse volk nie meer deel van God se heilsplan is nie, en dat hulle land en geskiedenis nie meer in ’n besondere verhouding tot die Here staan nie.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König




Die Dissipel vir wie Jesus baie lief was. Vraag

Die Dissipel vir wie Jesus baie lief was – Francois Malan

Japie vra:

Volgens Johannes 13:23 en 19:26 word gepraat van die dissipel wie Jesus baie lief gehad het. Wie was dit? Baie dankie.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die skrywer praat in die laaste deel van die Evangelie van ‘die dissipel vir wie Jesus liefgehad het: in 13:23-26 lê hy op die bors van Jesus, in 19:25-27 gee Jesus sy moeder oor in die sorg van die dissipel, in 20:1-10 hardloop hy en Petrus graf toe, in 21:1-14 is dit hy wat die opgestane Jesus aan die strand herken, in 21:20-24 sê die skrywers van die Evangelie dat hulle sy getuienis oor Jesus gehoor het en dat hy van die dinge opgeteken het wat hulle in die Evangelie geskryf het.

Hy is moontlik ook ‘die ander dissipel’ vir wie die hoëpriester geken het, en wat vir Petrus toegang tot die binnehof verkry het (18:15-16). Dit is onwaarskynlik dat die ongeleerde Johannes uit Galilea (vgl. Hand 4:13) bekend was by die hoëpriester in Jerusalem.

Daar is ook ‘n moontlikheid dat dit die geliefde dissipel was wat saam met Andreas vir Jesus opgesoek het nadat Johannes die Doper vir Jesus as die Lam van God aangewys het (Jn 1:35-40), omdat die skrywer hom nie identifiseer nie.

Die naam van Johannes (die seun van Sebedeus en dissipel van Jesus, volgens die ander Evangelies) word nie in hierdie Evangelie genoem nie, behalwe die verwysing in 21:2 na die seuns van Sebedeus wat ná Jesus se opstanding saam met Petrus en ander gaan visvang het, waar die lieflingsdissipel in 21:7 ook genoem word.

In die Evangelie word nie gesê dat Johannes dit geskryf het nie. Die slot van die Evangelie veronderstel dat volgelinge van die ‘geliefde dissipel’ sy herinneringe en die betekenis daarvan opgeteken het in die Evangelie. Of die ‘geliefde dissipel’ die dissipel Johannes was, word betwyfel, maar is ‘n moontlikheid, wat in die vroeë kerk aanvaar is..

Ons is vandag nie meer seker wie hierdie Evangelie geskryf het, waar dit geskryf is of wanneer nie. Die opskrifte van die vier Evangelies wat hulle aan bepaalde persone verbind, is later bygevoeg.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Kategismus: Waarom moet die Verlosser waarlik God wees?

 

 

Kategismus: Waarom moet die Verlosser waarlik God wees?

 

 

 

Vraag:

 Waarom moet die Verlosser waarlik God wees?

 

Antwoord:

As gevolg van sy Goddelike natuur sal sy gehoorsaamheid en lyding volmaak en doeltreffend wees; ook sal Hy in staat wees om die regverdige toorn van God teenoor sonde te verdra en tog die dood oorwin. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

 

Skrifgedeelte:

Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou (Handelinge 2:24)

 

Kommentaar:

Laat niemand oor sy ongeregtighede huil nie, want vergifnis het uit die graf geskyn. Laat niemand die dood vrees nie, want die Verlosser se dood het ons vrygestel. Hy het die dood vernietig. Daarom sê Jesaja dat die hel kwaad was toe hy Christus ontmoet het … die hel was kwaad, want dit was afgeskaf. Die hel was kwaad, want dit is bespot. Dit was kwaad, want dit is verslaan. Dit was kwaad, want dit is in boeie vasgebind. O dood waar is jou angel? O hel waar is jou oorwinning. Christus het opgestaan en die hel is oorwin. Christus het opgestaan en die duiwels het geval. Christus het opgestaan en die engele verbly hulle. Christus het opgestaan en die lewe regeer.

 

Hierdie kommentaar is deur Johannes Chrissostomus (347 – 408) geskryf. Hy was die aartsbiskop van Konstantinopel. Hy is in Antiogië gebore. Hy kry later die titel Chrisostomus wat “goue mond” beteken, want hy was so ‘n goeie prediker. Hy word deur beide die Oosters-Ortodokse en Rooms-Katolieke kerke as heilige erken. Hy is bekend vir sy Divine Liturgy of St. John Chrysostom, en sy groot aantal preke – insluitend 67 preke oor Genesis, 90 oor die Matteus-evangelie en 88 oor die Johannes-evangelie.

Hierdie kommentaar kom uit sy preek:  “Easter Sermon by John Chrysostom” in Service Book of the Holy Orthodox-Catholic Apostolic (Greco-Russian) Church vertaal deur Isabel Florence Hapgood (New York: Riverside Press, 1906), 235–236.

 

Verdere leesstof

“Incarnation” en “Two Natures” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

Gebed

Ek kan niks meer doen as om vir jou te bid nie … ek vra dat God Hom oor jou sal ontferm, en jou versorg en vir jou die beste vir jou siel voorsien; dat God self sal onderneem om jou hemelse Vader te wees en die magtige Verlosser van onsterflike siele. Moenie nalaat om vir julleself te bid nie … Bid voortdurend vir God in die geheim en onthou van daardie groot dag wat jy voor God se oordeelstroon sal verskyn. Amen

Hierdie gebed is deurJonathan Edwards (1703–1758) geskryf. Hy was ‘n koloniale Amerikaanse prediker en filosoof. In 1726 word hy die pastor van ‘n gemeente in Northampton, Massachusetts. Hy is veral bekend vir sy beroemde preek:  “Sinners in the Hands of an Angry God” sowel as vir die baie boeke wat hy geskryf het – insluitend The End For Which God Created the World en A Treatise Concerning Religious Affections. Hy sterf as gevolg van ‘n inenting teen pokke kort nadat hy die president van die College of New Jersey (later Princeton Universiteit) geword het.

Hierdie gebed kom uit: “Farewell Sermon: Memoirs of Jonathan Edwards” in The Works of Jonathan Edwards, Volume 1 (London: William Ball, 1839), ccxlviii.

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove




Alle Paaie lei na Jesus: Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge (1) – Adrio König

11.2 Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge

Maar daar is temas wat ons na Jesus lei juis omdat hulle vasgeval het en nie hulle doel bereik het nie. Die opvallende voorbeelde is die mens en die volk Israel, en dan die skepping self.

11.2.1 Die mens (hoofstuk 5)

Ons is bedoel om God se beeld te wees, om mense aan Hom te herinner en na Hom te lok. Maar dit het nie gewerk nie, of liewer ons het nie in ons doel geslaag nie. Dit is die herhaalde storie van die Ou Testament: Adam, Noag, Israel. Ons het deur ons sonde van ontrou en ongehoorsaamheid eerder mense se uitsig op God verdof en verdraai. En daarom het God ’n nuwe voorbeeld aan ons gegee van wat Hy met ons bedoel het: die Mens Jesus. Hy is die beeld van God (2 Kor 4:4; Kol 1:15; Heb 1:3). In Hom kan ons dus sien hoe God lyk.

 

Maar Jesus het ons nie opsy geskuif en vervang en in ons plek gekom soos die tempelkultus nie. Hy is nie eksklusief die beeld van God nie. Hy kom ons wys wat God met ons bedoel het. En dan kom verander Hy ons vasgeloopte lewe sodat ons inderdaad God se doel met ons kan bereik – deur Hom. Dit beteken dat ons onherroeplik aan Jesus vasgekoppel is. Ons word met Hom verenig deur die doop en die geloof, soveel so dat Paulus kan skryf “Christus is ons lewe,” en weer: “Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Kol 3:4; Gal 2:19-20).

 

Daarom is daar soveel oproepe in die Nuwe Testament dat ons “soos Jesus” moet wees. Hy los ons dus nie eenkant nie, Hy vat ons saam. Saam met Hom kan ons inderdaad God se wil vir ons lewe bereik.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König